Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bly neutraal in ’n verdeelde wêreld

Bly neutraal in ’n verdeelde wêreld

“Betaal . . . aan God wat aan God behoort.”—MATTEUS 22:21.

LIEDERE: 33, 137

1. Hoe kan ons aan God sowel as aan menseregerings gehoorsaam wees?

DIE Bybel leer ons om aan menseregerings gehoorsaam te wees, maar dit sê ook dat ons altyd aan God gehoorsaam moet wees (Handelinge 5:29; Titus 3:1). Hoe kan ons dit doen? Jesus het ’n beginsel voorsien wat ons kan help om te besluit aan wie ons gehoorsaam moet wees. Hy het gesê: “Betaal . . . aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort” (Matteus 22:21). [1] (Sien eindnota.) Ons betaal “aan die keiser terug wat aan die keiser behoort” wanneer ons die regering se wette gehoorsaam, staatsamptenare met respek behandel en belasting betaal (Romeine 13:7). Maar as die regering ons beveel om iets te doen wat God nie wil hê ons moet doen nie, weier ons om dit te doen, maar altyd op ’n respekvolle wyse.

2. Hoe toon ons dat ons nie kant kies in die wêreld se politiek nie?

2 Een manier waarop ons “aan God [betaal] wat aan God behoort”, is om nie kant te kies in die politieke geskille van hierdie wêreld nie. Ons bly neutraal in hierdie sake (Jesaja 2:4). Aangesien Jehovah menseregerings toelaat om te regeer, staan ons hulle nie teë nie. Ons raak ook nie betrokke by enige patriotiese of nasionalistiese bedrywighede nie (Romeine 13:1, 2). Ons probeer nie om regerings te verander of politieke leiers te beïnvloed nie, en ons stem nie in politieke verkiesings en beklee nie politieke ampte nie.

3. Waarom moet ons neutraal bly?

3 Daar is baie redes waarom God vir ons sê om neutraal te bly. Een rede is dat ons Jesus navolg, wat “geen deel van die wêreld” was nie. Hy het nooit kant gekies in die politiek of in oorloë nie (Johannes 6:15; 17:16). Nog ’n rede is dat ons God se Koninkryk ondersteun. Omdat ons neutraal bly wat die politiek betref, het ons ’n skoon gewete wanneer ons verkondig dat net God se Koninkryk al die mensdom se probleme sal oplos. Valse godsdienste kies kant in die politiek, en dit verdeel mense. Maar omdat ons neutraal is, is ons verenig met ons broers en susters regoor die wêreld.—1 Petrus 2:17.

4. (a) Hoe weet ons dat dit al hoe moeiliker sal word om neutraal te bly? (b) Waarom moet ons nou voorberei om neutraal te bly?

4 Ons woon miskien op ’n plek waar mense nie van ons verwag om kant te kies in die politiek nie. Maar hoe nader ons aan die einde van Satan se stelsel kom, hoe moeiliker sal dit vir ons wees om neutraal te bly. Mense is nou al “nie bereid tot enige ooreenkoms nie” en “eiesinnig”, en hulle sal nog meer verdeeld raak (2 Timoteus 3:3, 4). Party van ons broers is al geraak deur skielike politieke veranderinge in hulle land. Daarom moet ons nou voorberei sodat ons selfs in ’n moeilike situasie neutraal kan bly. Kom ons bespreek vier dinge wat ons kan doen om ons voor te berei.

BESKOU MENSEREGERINGS SOOS JEHOVAH HULLE BESKOU

5. Hoe beskou Jehovah menseregerings?

5 Een manier waarop ons nou kan voorberei om neutraal te bly, is om menseregerings te beskou soos Jehovah hulle beskou. Toe Jehovah mense geskep het, het hy hulle nie die reg gegee om oor ander mense te regeer nie (Jeremia 10:23). Hy beskou die hele mensdom as een gesin. Maar menseregerings bevorder nasionalisme, wat die mensdom verdeel. Selfs die beste menseregerings kan nie alle probleme oplos nie. En hulle het vyande geword van God se Koninkryk, wat in 1914 begin heers het. Hierdie Koninkryk sal binnekort alle menseregerings verwyder.—Lees Psalm 2:2, 7-9.

Berei nou voor om selfs in ’n moeilike situasie neutraal te bly

6. Hoe moet ons diegene behandel wat ’n gesagsposisie in die regering het?

6 God laat menseregerings toe om te bestaan omdat hulle ’n mate van vrede en orde kan handhaaf. Dit help ons om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig (Romeine 13:3, 4). God sê selfs vir ons om te bid aangaande diegene in gesagsposisies sodat ons hom in vrede kan aanbid (1 Timoteus 2:1, 2). Wanneer ons nie regverdig behandel word nie, kan ons die regeringsowerhede vra om ons te help. Dit is wat Paulus gedoen het (Handelinge 25:11). Hoewel die Bybel sê dat Satan beheer uitoefen oor menseregerings, sê dit nooit dat hy elke persoon wat in ’n gesagsposisie is, beheer nie (Lukas 4:5, 6). Ons moet ander dus nooit die idee gee dat ’n sekere staatsamptenaar deur die Duiwel beheer word nie. Die Bybel sê dat ons ander nie moet beledig nie.—Titus 3:1, 2.

7. Watter denke moet ons vermy?

7 Ons gehoorsaam God deur nie in ons hart kant te kies en te dink dat een politieke leier of politieke groep beter is as ’n ander nie, selfs as hulle idees of menings ons tot voordeel kan strek. Dit is nie altyd maklik nie. Byvoorbeeld, gestel mense kom in opstand teen ’n regering wat baie lyding veroorsaak het, selfs vir Jehovah se Getuies. Jy sal natuurlik nie by die opstand aansluit nie, maar sal jy dink dat die rebelle reg is en hoop dat hulle suksesvol sal wees? (Efesiërs 2:2). As ons neutraal wil bly, moet ons nie voel dat een kant reg is of beter is as ’n ander nie. Ons woorde en dade sal duidelik toon hoe ons voel.

WEES “VERSIGTIG” EN TOG “ONSKULDIG”

8. Hoe kan ons “versigtig” en tog “onskuldig” wees wanneer dit moeilik is om neutraal te bly?

8 ’n Tweede manier om neutraal te bly, is om “versigtig soos slange en tog onskuldig soos duiwe” te wees. (Lees Matteus 10:16, 17.) Ons is “versigtig” wanneer ons vooruit dink aan probleme wat kan ontstaan. En ons bly “onskuldig” wanneer ons tydens daardie moeilike situasies neutraal bly. Kom ons bespreek party van hierdie situasies en wat ons kan doen om neutraal te bly.

9. Waarvoor moet ons versigtig wees in ons gesprekke?

9 Gesprekke. Ons moet baie versigtig wees wanneer mense oor politieke geskille begin praat. Wanneer ons byvoorbeeld met iemand oor God se Koninkryk praat, sal ons nie die idees of menings van ’n spesifieke politieke groep of leier voorstaan of kritiseer nie. Moenie bespreek hoe regerings die mensdom se probleme probeer oplos nie; toon eerder uit die Bybel hoe God se Koninkryk hierdie probleme permanent sal oplos. As mense oor iets wil stry, soos oor aborsie of huwelike tussen mense van dieselfde geslag, kan jy vir hulle wys wat God se Woord sê en verduidelik dat ons by God se standaarde bly. As iemand sê dat sekere wette afgeskaf of verander moet word, kies ons nie kant nie, en ons dring nie daarop aan dat die persoon sy mening verander nie.

Vergelyk die dinge wat jy hoor met “die patroon van gesonde woorde” in die Bybel

10. Hoe kan ons seker maak dat ons neutraal bly wanneer dit kom by die media?

10 Die media. Soms gee ’n nuusberig net een kant van ’n saak weer. Dit is veral die geval in lande waar die regering die nuusmedia beheer. As die media of verslaggewers kant kies, moet ons versigtig wees om nie soos hulle te begin dink nie. Vra jou byvoorbeeld af: ‘Geniet ek dit om na ’n sekere verslaggewer te luister omdat ek saamstem met wat hy oor die politiek sê?’ Om jou te help om neutraal te bly, moet jy sover as moontlik nuusberigte vermy waarin daar kant gekies word in politieke geskille. Probeer eerder berigte vind waarin daar nie kant gekies word nie. En vergelyk altyd die dinge wat jy hoor, met “die patroon van gesonde woorde” wat in die Bybel gevind word.—2 Timoteus 1:13.

11. Waarom kan dit vir ons moeilik wees om neutraal te bly as ons besittings vir ons baie belangrik is?

11 Materialisme. As geld en besittings vir ons baie belangrik is, kan dit vir ons moeilik wees om neutraal te bly. In die 1970’s moes baie Getuies in Malawi hulle besittings prysgee omdat hulle geweier het om by ’n politieke party aan te sluit. Ongelukkig wou party nie hulle gemaklike lewe opgee nie. ’n Suster met die naam Ruth vertel: “Party wat saam met ons uit die land gevlug het, het later by die politieke party aangesluit en teruggekeer huis toe omdat hulle nie kans gesien het vir die moeilike lewe in die vlugtelingkamp nie.” Maar die meeste van God se knegte tree nie so op nie. Hulle bly neutraal, al sou dit beteken dat hulle minder geld sal hê of al hulle besittings sal verloor.—Hebreërs 10:34.

12, 13. (a) Hoe beskou Jehovah die mensdom? (b) Hoe kan ons vasstel of ons te trots op ons land word?

12 Trots. Mense spog dikwels met hulle ras, stam, kultuur, stad of land. Maar Jehovah dink nie dat een persoon of groep mense beter is as ’n ander nie. Vir hom is almal gelyk. Jehovah het ons almal natuurlik anders gemaak, en ons kan hierdie verskeidenheid geniet en bewonder. Hy verwag nie dat ons ons kultuur moet opgee nie. Maar hy wil ook nie hê dat ons moet dink dat ons beter is as ander nie.—Romeine 10:12.

13 Ons moet nooit so trots op ons land of nasie wees dat ons dink dat dit beter is as enige ander nie. As ons so voel, kan dit vir ons baie moeilik word om neutraal te bly. Dit het in die eerste eeu gebeur. Party Hebreeuse broers het die Griekse weduwees onregverdig behandel (Handelinge 6:1). Hoe kan ons vasstel of ons hierdie soort trots begin ontwikkel? Gestel ’n broer of ’n suster wat van ’n ander plek kom, maak ’n voorstel. Dink jy onmiddellik: ‘Ons doen dinge beter hier’, en verwerp jy dan die voorstel? Indien wel, moet jy hierdie belangrike raad onthou: “Met ootmoed [moet julle] die ander hoër as julleself ag.”—Filippense 2:3.

JEHOVAH SAL JOU HELP

14. Hoe kan gebed ons help, en watter Bybelvoorbeeld bewys dit?

14 ’n Derde manier om neutraal te bly, is om op Jehovah te vertrou. Vra hom in gebed vir heilige gees, wat jou geduld en selfbeheersing kan gee. Hierdie eienskappe sal jou help as die regering iets doen wat oneerlik of onregverdig is. Vra Jehovah vir wysheid om situasies te identifiseer wat dit vir jou moeilik kan maak om neutraal te bly. Vra hom ook om jou te help om in so ’n situasie die regte ding te doen (Jakobus 1:5). Gestel jy beland in die tronk of word op ’n ander manier gestraf omdat jy lojaal aan Jehovah bly. Dan moet jy vir moed bid sodat jy vir ander kan verduidelik waarom jy neutraal is. Jy kan seker wees dat Jehovah jou sal help om te volhard.—Lees Handelinge 4:27-31.

Leer Bybelverse wat jou sal help om neutraal te bly en wat die nuwe wêreld beskryf

15. Hoe kan die Bybel ons help om neutraal te bly? (Sien ook die venster “ God se Woord het hulle meer vasbeslote gemaak om neutraal te bly”.)

15 Jehovah het ons die Bybel gegee om ons te versterk. Peins oor verse wat jou sal help om neutraal te bly. Probeer om hierdie verse te leer en te onthou, want dit sal jou help as jy eendag nie ’n Bybel by jou het nie. Die Bybel kan ook jou hoop versterk in God se beloftes vir die toekoms. Ons het hierdie hoop nodig om tydens vervolging te volhard (Romeine 8:25). Kies verse wat die dinge beskryf waarna jy veral in die nuwe wêreld uitsien, en stel jou voor dat jy daar is.

VIND BAAT BY DIE VOORBEELD VAN GETROUES

16, 17. Wat kan ons leer uit die voorbeeld van God se getroue knegte wat neutraal gebly het? (Sien prent aan begin van artikel.)

16 ’n Vierde manier waarop ons neutraal kan bly, is om na te dink oor die voorbeeld van getroue knegte van Jehovah. Baie in Bybeltye het moed gehad, en hulle het wyse besluite geneem wat hulle gehelp het om neutraal te bly. Dink aan Sadrag, Mesag en Abednego, wat geweier het om ’n beeld te aanbid wat die regering van Babilon voorgestel het. (Lees Daniël 3:16-18.) Vandag help hierdie Bybelverslag baie Getuies om moedig te wees en om te weier om die landsvlag te aanbid. Jesus het nie betrokke geraak by die politiek of ander geskille wat mense verdeel nie. Hy het geweet dat sy goeie voorbeeld sy dissipels sou help. Hy het gesê: “Skep moed! Ek het die wêreld oorwin.”—Johannes 16:33.

17 In ons tyd het baie Getuies neutraal gebly. Party is al gemartel, in die tronk gegooi en selfs doodgemaak omdat hulle aan Jehovah getrou gebly het. Hulle voorbeeld help ons om moed te hê. ’n Broer van Turkye het gesê: “Franz Reiter was ’n jong broer wat tereggestel is omdat hy geweier het om by Hitler se leër aan te sluit. Die brief wat hy die nag voor sy dood aan sy ma geskryf het, het van baie groot geloof en vertroue in Jehovah getuig, en ek wil sy voorbeeld volg as ek voor so ’n beproewing te staan kom.” [2]—Sien eindnota.

18, 19. (a) Hoe kan lede van jou gemeente jou help om neutraal te bly? (b) Wat is jy vasbeslote om te doen?

18 Die broers en susters in jou gemeente kan jou help om neutraal te bly. Praat met die ouer manne as jy jou in ’n moeilike situasie bevind. Hulle kan jou goeie raad uit die Bybel gee. En as lede van die gemeente weet wat jou situasie is, kan hulle jou aanmoedig. Vra hulle om vir jou te bid. Maar ons wil dieselfde vir ons broers doen en hulle ook ondersteun en vir hulle bid (Matteus 7:12). In die artikel “Jehovah se Getuies in die tronk weens hulle geloof—Volgens land” op jw.org/af is daar lyste name van broers en susters wat in die tronk is. Dit kan gevind word onder NUUS > REGSVERWIKKELINGE. Kies ’n paar name, en vra Jehovah om hierdie broers en susters te help om moedig te wees en om lojaal aan hom te bly.—Efesiërs 6:19, 20.

19 Namate ons die einde nader, kan ons verwag dat regerings al hoe meer druk op ons sal plaas om kant te kies. Daarom is dit belangrik dat ons nou voorberei om in hierdie verdeelde wêreld neutraal te bly!

^ [1] (paragraaf 1) Jesus het na die regering verwys toe hy van die keiser gepraat het. Destyds was die keiser die heerser en die hoogste menslike gesag.

^ [2] (paragraaf 17) Sien die boek Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk, bladsy 662, en die venster “Hy het tot eer van God gesterf” in hoofstuk 14 van die boek God se Koninkryk regeer!