Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is jou bediening soos die dou?

Is jou bediening soos die dou?

ONS bediening is belangrik en kosbaar. Maar nie almal vir wie ons preek, verstaan dit nie. Al stel mense belang in wat die Bybel sê, dink hulle nie altyd dat dit nodig is om God se Woord saam met ons te studeer nie.

Neem Gavin as voorbeeld. Hy het vergaderinge by die Koninkryksaal bygewoon, maar hy wou nie ’n Bybelstudie hê nie. Gavin verduidelik dat hy baie min omtrent die Bybel geweet het en nie wou hê dat ander dit moes weet nie. Hy was bang dat hy gevra sou word om by ’n godsdiens aan te sluit en hy wou nie om die bos gelei word nie. Wat dink jy? Was dit moontlik om Gavin te help? Dink aan die goeie uitwerking wat Bybelleringe op ’n persoon kan hê. Jehovah het vir die Israeliete gesê: “My woord sal vloei soos die dou, soos sagte reën op die gras” (Deuteronomium 31:19, 30; 32:2). Kom ons kyk wat ons oor dou kan leer en vergelyk ons bediening dan daarmee sodat ons “alle soorte mense” op ’n doeltreffende manier kan help.—1 Timoteus 2:3, 4.

HOE KAN ONS BEDIENING SOOS DOU WEES?

Dou is sag. Dou vorm geleidelik wanneer vog in die lug in klein druppeltjies water verander. Hoe het Jehovah se woorde ‘gevloei soos die dou’? Hy het op ’n sagmoedige en liefdevolle manier met sy volk gepraat. Ons volg hom na wanneer ons ander se oortuigings respekteer. Ons spoor hulle aan om self te redeneer en hulle eie besluite te neem. Wanneer ons sulke persoonlike belangstelling toon, sal mense meer bereid wees om te luister na wat ons sê, en ons bediening sal doeltreffender wees.

Dou is verkwikkend. Ons bediening sal ander verkwik as ons aan verskillende maniere dink om hulle te help om meer omtrent die waarheid te leer. ’n Broer met die naam Chris, wat aanvanklik vir Gavin ’n Bybelstudie aangebied het, het nie druk op hom uitgeoefen om dit te aanvaar nie. Hy het eerder verskillende maniere probeer vind om Gavin by Bybelbesprekings te betrek. Chris het vir Gavin gesê dat die Bybel ’n tema het en dat hy die vergaderinge beter sal verstaan as hy weet wat hierdie tema is. Later het Chris vir Gavin verduidelik dat Bybelprofesieë hom oortuig het dat die Bybel waar is. Gevolglik het hulle baie besprekings gehad oor hoe profesieë vervul is. Hierdie gesprekke het Gavin verkwik, en hy het uiteindelik ’n Bybelstudie aanvaar.

Dou is noodsaaklik vir lewe. Gedurende die warm, droë seisoen in Israel val daar soms maande lank geen reën nie. Sonder die vog wat dou voorsien, sal plante verdroog en doodgaan. Jehovah het voorspel dat daar in ons dag in geestelike sin ’n droogte sal wees, dat mense sal dors na “die woorde van Jehovah” (Amos 8:11). Hy het belowe dat die gesalfdes “soos dou van Jehovah” sal wees terwyl hulle die goeie nuus van die Koninkryk met die hulp van die “ander skape” verkondig (Miga 5:7; Johannes 10:16). Die boodskap wat ons verkondig, is deel van Jehovah se voorsiening om lewe te gee aan dié wat dors na die waarheid. Beskou ons hierdie boodskap as kosbaar?

Dou is ’n seën van Jehovah (Deuteronomium 33:13). Ons bediening kan ’n seën, of ’n gawe, wees vir dié wat daarna luister. ’n Bybelstudie was ’n seën vir Gavin, want dit het hom gehelp om antwoorde op al sy vrae te kry. Hy het vinnig vordering gemaak, is gedoop en geniet dit nou om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig saam met sy vrou, Joyce.

Jehovah se Getuies vul die aarde met die goeie nuus van die Koninkryk

BESKOU JOU BEDIENING AS KOSBAAR

Wanneer ons ons predikingswerk met dou vergelyk, help dit ons ook om te verstaan dat ons individuele pogings in die bediening kosbaar is. Hoe so? Enkele druppels water help nie baie nie, maar miljoene doudruppels kan die grond goed natmaak. Net so lyk dit dalk of ons individuele pogings in die bediening nie ’n groot verskil maak nie. Maar weens die gesamentlike pogings van miljoene knegte van Jehovah word ’n getuienis “vir al die nasies” gegee (Matteus 24:14). Sal ons bediening vir mense ’n seën van Jehovah wees? Ja, ons boodskap sal net soos die dou wees, dit wil sê sag, verkwikkend en noodsaaklik vir lewe!