Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die letsels van oorlog

Die letsels van oorlog

Die letsels van oorlog

“IN OORLOG is daar geen wenners nie”, het ’n gewese soldaat gesê wat in die Tweede Wêreldoorlog geveg het. “Daar is net verloorders.” Baie sou met hom saamstem. Oorloë eis ’n verskriklike tol; dié wat die stryd wen sowel as dié wat dit verloor, ly swaar daaronder. Selfs nadat die gewapende konflik geëindig het, duur die lyding van miljoene voort weens die aaklige letsels van oorlog.

Watter letsels? Oorlog kan ’n groot deel van ’n bevolking afmaai en baie weeskinders en weduwees agterlaat. Baie oorlewendes het verskriklike fisiese wonde, tesame met sielkundige letsels. Miljoene word dalk sonder heenkome gelaat of moet noodgedwonge vlugtelinge word. Kan ons ons die haat en droefheid voorstel wat diegene wat sulke konflikte oorleef, in hulle hart dra?

Baie diep letsels

Oorloë laat sulke diep letsels in mense se harte dat dit lank nadat ’n skietstaking uitgeroep is, die skietery opgehou het en die soldate huis toe gegaan het, nog daar is. Die volgende geslagte kan ’n diepgewortelde wrok teenoor mekaar koester. Op dié manier kan die letsels van een oorlog die grondoorsaak van die volgende oorlog wees.

Byvoorbeeld, die Verdrag van Versailles, wat in 1919 onderteken is om die Eerste Wêreldoorlog amptelik tot ’n einde te bring, het Duitsland voorwaardes opgelê wat in die oë van die burgers van die land wreed en wraaksugtig was. Volgens The Encyclopædia Britannica het die bepalings van die verdrag “gegriefdheid onder die Duitsers veroorsaak en gehelp om wraaksug aan te blaas”. Jare later “het gegriefdheid oor die vredesverdrag Hitler ’n afspringplek gegee” en was dit een van die faktore wat tot die Tweede Wêreldoorlog gelei het.

Die Tweede Wêreldoorlog het in Pole begin en versprei sodat dit die Balkan ingesluit het. Die letsels wat etniese groepe in dié streek mekaar in die 1940’s toegedien het, het gehelp om die weg te baan vir die oorlog in die Balkan in die 1990’s. “Die bose kringloop van haat en wraak het ’n spiraal geword, wat tot in ons tyd voortduur”, het die Duitse koerant Die Zeit gesê.

Die mensdom sal slegs in vrede kan lewe as die letsels van oorlog genees is. Hoe kan dit bereik word? Wat kan gedoen word om die haat en droefheid uit te wis? Wie kan die letsels van oorlog genees?

[Foto-erkenning op bladsy 2]

VOORBLAD: Fatmir Boshnjaku

[Foto-erkenning op bladsy 3]

U.S. Coast Guard photo; UN PHOTO 158297/J. Isaac