Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die letsels van oorlog word genees

Die letsels van oorlog word genees

Die letsels van oorlog word genees

ABRAHAM was 20 jaar lank in ’n guerrillaleër. a Maar hy het nou opgehou met veg en sal nooit weer aan oorlog deelneem nie. Trouens, mense wat voorheen sy vyande was, is nou sy beste vriende. Wat het hom laat verander? Die Bybel het. Dit het Abraham hoop en insig gegee en hom gehelp om menseaangeleenthede uit God se oogpunt te beskou. Die Bybel het sy begeerte om te veg, weggeneem, en sy smart, droefheid, haat en bitterheid het begin weggaan. Hy het gevind dat die Bybel ’n kragtige geneesmiddel vir die hart is.

Hoe help die Bybel om mense se emosionele letsels te genees? Dit kon nie verander wat met Abraham gebeur het nie. Maar deur God se Woord te lees en daaroor te peins, het hy sy denke in lyn met dié van die Skepper gebring. Hy het nou ’n hoop vir die toekoms, en hy het nuwe prioriteite. Wat vir God belangrik is, het ook vir hom belangrik geword. Toe dít eers begin gebeur het, het die letsels in sy hart begin genees. Dít is hoe Abraham gehelp is om te verander.

In burgeroorlog gedompel

Abraham is in die 1930’s in Afrika gebore. Ná die Tweede Wêreldoorlog is sy land deur ’n magtige buurland regeer, maar baie van Abraham se landgenote wou onafhanklikheid hê. In 1961 het Abraham by ’n vryheidsbeweging aangesluit wat ’n guerrillaoorlog teen die magtige buurland gevoer het.

“Hulle was ons vyande. Hulle was van plan om ons dood te maak, en daarom het ons gegaan om hulle dood te maak”, verduidelik Abraham.

Abraham se lewe was dikwels in gevaar; dus het hy in 1982, ná 20 jaar van gewapende konflikte, na Europa gevlug. Teen dié tyd was hy in sy laat veertigerjare, en omdat hy baie tyd gehad het, het hy sy lewe in oënskou geneem. Wat het van sy ideale geword? Wat het die toekoms ingehou? Abraham het ’n paar van Jehovah se Getuies ontmoet en hulle vergaderinge begin bywoon. Hy het onthou dat hy ’n paar jaar tevore in Afrika ’n traktaat gelees het wat ’n Getuie hom gegee het. Die traktaat het ’n komende paradys op aarde beskryf, asook ’n hemelse regering wat oor die mensdom sou heers. Kon dit werklik waar wees?

Abraham sê: “Ek het uit die Bybel geleer dat ek al daardie jare verkwis het deur oorlog te voer. Die enigste regering wat almal regverdig sal behandel, is God se Koninkryk.”

Kort nadat Abraham as ’n Getuie van Jehovah gedoop is, het ’n man met die naam Robert uit Afrika gevlug na die Europese stad waar Abraham woon. Robert en Abraham het in dieselfde oorlog geveg, maar aan teenoorgestelde kante. Robert het dikwels gewonder oor die werklike doel van die lewe. Hy was ’n godsdienstige man, en omdat hy al dele van die Bybel gelees het, het hy geweet dat God se naam Jehovah is. Toe die Getuies in dieselfde gemeente as Abraham aangebied het om Robert te help om die Bybel beter te verstaan, het hy geredelik ingestem.

Robert verduidelik: “Ek was uit die staanspoor beïndruk deur die manier waarop die Getuies die name Jehovah en Jesus gebruik, ’n bewys dat hulle hulle as twee afsonderlike persone beskou. Dit was in ooreenstemming met wat ek reeds uit die Bybel geleer het. Die Getuies is ook netjies geklee en goedhartig teenoor ander, ongeag wat hulle nasionaliteit is. Hierdie dinge het ’n groot indruk op my gemaak.”

Vyande word vriende

Robert en Abraham, wat voorheen vyande was, is nou hegte vriende. Hulle dien as voltydse evangeliedienaars in dieselfde gemeente van Jehovah se Getuies. “Gedurende die oorlog het ek dikwels gewonder hoe mense van buurlande—waarvan baie aan dieselfde godsdiens behoort het—mekaar kon haat”, verduidelik Abraham. “Ek en Robert het aan dieselfde kerk behoort, en tog het ons teen mekaar oorlog gevoer. Nou is ons albei Getuies van Jehovah, en ons geloof het ons verenig.”

“Dit is die verskil”, voeg Robert by. “Ons behoort nou aan ’n geloof wat ons deel maak van ’n ware broederskap. Ons sal nooit weer gaan oorlog voer nie.” Die Bybel het ’n kragtige invloed op die harte van hierdie voormalige vyande uitgeoefen. Haat en bitterheid het geleidelik plek gemaak vir vertroue en vriendskap.

Terwyl Abraham en Robert oorlog gevoer het, het twee ander jong mans aan weerskante van ’n ander konflik tussen twee buurlande gestaan. Die Bybel was weldra ook ’n baie kragtige geneesmiddel vir hulle harte. Hoe so?

Maak dood en sterf dan ’n marteldood

Gabriel, wat in ’n godsdienstige gesin grootgemaak is, is geleer dat sy geboorteland in ’n heilige oorlog gewikkel was. Hy het hom dus op 19-jarige ouderdom vrywillig vir militêre diens aangebied en gevra om na die gevegsfront gestuur te word. Hy het 13 maande lank aan die hewigste gevegte deelgeneem, soms net meer as ’n kilometer van die vyand af. “Ek onthou veral een geleentheid”, sê hy. “Ons bevelvoerder het vir ons gesê dat die vyand daardie aand sou aanval. Ons was so gespanne dat ons ons mortier die hele nag lank afgevuur het.” Hy het mense van die buurland beskou as sy vyande wat die dood verdien het. “My idee was om soveel van hulle as moontlik dood te maak. Dan wou ek, soos baie van my vriende, ’n marteldood sterf.”

Maar Gabriel het mettertyd ontnugter geword. Hy het na die berge gevlug, versigtig oor die grens na ’n neutrale land gegaan en toe na Europa gereis. Hy het God bly vra waarom die lewe so moeilik was en of probleme ’n straf van God af was. Hy het met Jehovah se Getuies in aanraking gekom, en hulle het vir hom uit die Bybel gewys waarom die lewe vandag so vol probleme is.—Matteus 24:3-14; 2 Timoteus 3:1-5.

Hoe meer Gabriel uit die Bybel geleer het, hoe meer het hy besef dat dit die waarheid bevat. “Ek het geleer dat ons vir ewig op ’n paradysaarde kan lewe. Vreemd genoeg, dit is iets waarna ek as kind gehunker het.” Die Bybel het Gabriel vertroos en die kwellinge in sy hart weggeneem. Sy diepste emosionele letsels het begin genees. Daarom het Gabriel glad nie meer haat gevoel teen die tyd dat hy Daniel, wat voorheen ’n vyand was, ontmoet het nie. Maar wat het Daniel Europa toe laat kom?

“As u werklik bestaan, help my asseblief!”

Daniel is as ’n Katoliek grootgemaak en is op 18-jarige ouderdom vir militêre diens opgeroep. Hy is gestuur om in dieselfde oorlog as Gabriel te veg, maar aan die teenoorgestelde kant. Daniel het na aan die gevegsfront in ’n tenk gery toe dit direk deur ’n missiel getref is. Sy vriende is dood, en hy is ernstig beseer en gevange geneem. Hy het maande in die hospitaal en in ’n kamp deurgebring voordat hy na ’n neutrale land gedeporteer is. Omdat hy alleen en sonder heenkome was, het hy selfmoord oorweeg. Daniel het tot God gebid: “As u werklik bestaan, help my asseblief!” Die volgende dag het Jehovah se Getuies hom besoek en kon hulle baie van sy vrae beantwoord. Uiteindelik het hy as ’n vlugteling na Europa gereis. Daniel het weer eens met die Getuies omgegaan en die Bybel bestudeer. Wat hy geleer het, het sy angs en bitterheid verlig.

Gabriel en Daniel is nou goeie vriende, verenig in ’n geestelike broederskap as gedoopte Getuies van Jehovah. “My liefde vir Jehovah en kennis van die Bybel het my gehelp om dinge te sien soos hy dit sien. Daniel is nie meer my vyand nie. Jare gelede sou ek hom met graagte doodgemaak het. Die Bybel het my heeltemal die teenoorgestelde geleer—om gewillig te wees om vir hom te sterf”, sê Gabriel.

“Ek het gesien hoe mense van verskillende godsdienste en nasionaliteite mekaar vermoor”, sê Daniel. “En daar was mense van dieselfde godsdiens aan teenoorgestelde kante van die oorlog wat mekaar doodgemaak het. Toe ek dit sien, het ek gevoel dat dit God se skuld is. Nou weet ek dat Satan agter alle oorloë sit. Ek en Gabriel is nou medegelowiges. Ons sal nooit weer veg nie!”

“Die woord van God is lewend en oefen krag uit”

Waarom het Abraham, Robert, Gabriel en Daniel sulke groot veranderinge aangebring? Hoe was hulle in staat om diepgewortelde haat en droefheid uit hulle hart te verwyder?

Elkeen van hierdie manne het die Bybel, wat ‘lewend is en krag uitoefen’, gelees, daaroor gepeins en die waarheid daaruit geleer (Hebreërs 4:12). Die Outeur van die Bybel is die Skepper van die mensdom, wat weet hoe om ’n goeie invloed uit te oefen op die hart van iemand wat bereid is om te luister en te leer. “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer.” Wanneer ’n leser hom deur die Bybel laat rig, neem hy ’n nuwe stel waardes en standaarde aan. Hy begin leer hoe Jehovah sake beskou. Hierdie proses het baie voordele, wat die genesing van die letsels van oorlog insluit.—2 Timoteus 3:16.

God se Woord verduidelik dat geen nasie, ras of etniese groep beter of slegter is as ’n ander nie. “God [is] nie partydig . . . nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen vir hom aanneemlik.” Die leser wat dit aanvaar, word geleidelik gehelp om gevoelens van rasse- of volkshaat te oorkom.—Handelinge 10:34, 35.

Bybelprofesieë toon dat God binnekort die huidige stelsel van menseheerskappy met sy Messiaanse Koninkryk gaan vervang. Deur middel van hierdie regering sal God “die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde”. Instellings wat oorloë bevorder en mense aanspoor om dit te voer, sal verwyder word. Slagoffers van oorloë sal opgewek word en die geleentheid gegee word om op ’n paradysaarde te lewe. Niemand sal hoef te vlug voor ’n aanvaller of onderdrukker nie.—Psalm 46:10; Daniël 2:44; Handelinge 24:15.

Die Bybel sê van mense wat gedurende daardie tyd sal lewe: “Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie . . . Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei of baar vir skielike ondergang nie.” Daar is geen skade of besering wat nie reggestel of genees sal word nie. As ’n mens geloof stel in hierdie hoop, verwyder dit geleidelik droefheid en smart uit jou hart.—Jesaja 65:21-23.

Die Bybel is inderdaad ’n kragtige geneesmiddel vir die hart. Die leerstellings daarin genees reeds die letsels van oorlog. Mense wat voorheen vyande was, word in een internasionale broederskap verenig. Hierdie genesingsproses sal in God se nuwe stelsel voortduur totdat daar glad nie meer haat en bitterheid, smart en droefheid in die harte van die mensdom is nie. Die Skepper belowe dat daar aan ‘die vorige dinge nie gedink sal word, en hulle sal in die hart nie opkom nie’.—Jesaja 65:17.

[Voetnoot]

a Van die name in hierdie artikel is verander.

[Lokteks op bladsy 4]

“Ek het uit die Bybel geleer dat ek al daardie jare verkwis het deur oorlog te voer”

[Lokteks op bladsy 5]

Die Bybel kan ’n kragtige invloed uitoefen op die harte van mense wat voorheen vyande was

[Lokteks op bladsy 6]

Haat en bitterheid het geleidelik plek gemaak vir vertroue en vriendskap

[Lokteks op bladsy 6]

Wanneer ’n leser hom deur die Bybel laat rig, neem hy ’n nuwe stel waardes en standaarde aan

[Prent op bladsy 7]

Mense wat voorheen vyande was, word nou verenig in ’n internasionale broederskap

[Foto-erkenning op bladsy 4]

Vlugtelingkamp: UN PHOTO 186811/J. Isaac