Ek dien met my hele siel ondanks beproewinge
Lewensverhaal
Ek dien met my hele siel ondanks beproewinge
SOOS VERTEL DEUR RODOLFO LOZANO
Ek is op 17 September 1917 in Mexiko, in die stad Gomez Palacio, in die staat Durango, gebore. Die Mexikaanse Revolusie was in volle gang. Hoewel die revolusie in 1920 geëindig het, het onrus in die gebied waar ons gewoon het nog jare daarna voortgeduur, en dit het die lewe baie moeilik gemaak.
EENKEER, toe my ma uitvind dat daar ’n konfrontasie tussen die rebellemagte en die leër sou wees, het sy my en my drie broers en twee susters ’n hele paar dae lank in die huis gehou. Ons het min gehad om te eet, en ek onthou hoe ek saam met my jonger suster onder die bed weggekruip het. Daarna het my ma besluit om ons kinders na die Verenigde State te neem, waar my pa later by ons sou aansluit.
Ons het in 1926 in Kalifornië aangekom, net voordat die Groot Depressie die Verenigde State getref het. Ons het van plek tot plek getrek na waar ons ook al werk kon kry, na plekke soos die San Joaquin-vallei, Santa Clara, Salinas en King City. Ons het geleer om op die landerye te werk en allerhande vrugte en groente te oes. Hoewel ek gedurende my jeug baie hard gewerk het, was dit ’n baie aangename tyd in my lewe.
Bybelwaarheid bereik ons
In Maart 1928 het ’n Bybelstudent, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, ons besoek. Hy was ’n bejaarde Spaanssprekende man met die naam Esteban Rivera. Die titel van die boekie wat hy by ons gelaat het, “Waar is die dode?”, sowel as die inhoud
daarvan, het ’n indruk op my gemaak. Hoewel ek jonk was, het ek die Bybel bestudeer en met die Bybelstudente omgegaan. Mettertyd het my ma en my suster, Aurora, ook ywerige lowers van Jehovah geword.In die middel-1930’s is ’n Koninkryksaal in San Jose vir die Engelssprekende gemeente gebou. Aangesien baie Spanjaarde op plase in die omgewing gewerk het, het ons vir hulle begin getuig en die Wagtoring-studie gehou. Ons het dit gedoen met die hulp van Spaanse Getuies van San Francisco, sowat 80 kilometer daarvandaan. Mettertyd was daar ongeveer 60 wat die Spaanse vergaderinge in die San Jose-Koninkryksaal bygewoon het.
Ek het uiteindelik op 28 Februarie 1940 my toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer by ’n byeenkoms in San Jose. Die volgende jaar is ek as ’n pionier, ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies, aangestel. Toe, in April 1943, is ek gevra om na Stockton, ’n stad omtrent 130 kilometer daarvandaan, te trek om ’n Spaanse gemeente daar te vorm. Op daardie stadium het ek as die presiderende opsiener van die Engelse gemeente in San Jose gedien, en ek het ook na die Spaanssprekende Getuies daar omgesien. Nadat ek gereël het dat ander na hierdie verantwoordelikhede omsien, het ek na Stockton getrek.
My onkreukbaarheid word op die proef gestel
Van 1940 af is ek herhaaldelik deur die dienspligraad opgeroep, maar my posisie as ’n gewetensbeswaarde is egter elke keer gerespekteer. Kort nadat die Verenigde State in Desember 1941 aan die Tweede Wêreldoorlog begin deelneem het, het druk van die dienspligraad toegeneem. Ek is eindelik in 1944 in die tronk gesit. Terwyl ek gewag het om gevonnis te word, is ek in ’n kelder saam met misdadigers aangehou. Toe hulle uitvind dat ek een van Jehovah se Getuies is, het baie van hulle vrae gevra oor hoe die misdade wat hulle gepleeg het, hulle posisie voor God sou raak.
Getuies in San Jose het my borgtog betaal sodat ek as ’n verhoorafwagtende vrygelaat kon word. ’n Regsgeleerde in Los Angeles wat verweerders in burgerregsake verteenwoordig het, was bereid om my saak kosteloos te verdedig. Die regter het besluit om my vry te laat op voorwaarde dat ek my pionierdiens opgee, sekulêre werk begin doen en my elke maand by die federale owerhede aanmeld. Ek het nie hierdie beslissing aanvaar nie, en daarom is ek
tot twee jaar tronkstraf in die McNeil-eilandgevangenis in die staat Washington gevonnis. Daar het ek my tyd vir intensiewe Bybelstudie gebruik. Ek het ook leer tik. In minder as twee jaar is ek vir goeie gedrag vrygelaat. Ek het onmiddellik reëlings getref om my pionierbediening voort te sit.Groter bedrywigheid
In die winter van 1947 het ek die toewysing ontvang om saam met ’n pioniermaat onder die Spaanssprekende mense van Colorado City, Texas, te werk. Maar dit was so koud dat ons na San Antonio gegaan het waar dit warmer was. Daar het dit egter so gereën dat ons deur-tot-deur-bediening ontwrig is. Ons geld het gou opgeraak. Ons het weke lank van luserntee en toebroodjies met rou kool daarop gelewe. My pioniermaat het teruggegaan huis toe, maar ek het gebly. Toe die Engelssprekende Getuies bewus word van my fisiese behoeftes, het hulle my begin help.
Die volgende lente het ek na my toewysing in Colorado City teruggekeer, en ’n klein Spaanse gemeente is uiteindelik gestig. Toe het ek na Sweetwater, Texas, getrek, waar ek gehelp het om nog ’n Spaanse gemeente te vorm. Terwyl ek in Sweetwater was, het ek ’n brief ontvang waarin ek na die 15de klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead genooi is vir opleiding as ’n sendeling vanaf 22 Februarie 1950. Nadat ons daardie somer by die internasionale byeenkoms in die stad New York se Yankee-stadion gegradueer het, het ek drie maande by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn gebly. Daar het ek opleiding ontvang vir my toewysing by die takkantoor in Mexiko.
Werk in Mexiko
Ek het op 20 Oktober 1950 in Mexikostad aangekom. Omtrent twee weke later is ek as takopsiener aangestel, ’n toewysing wat ek vier en ’n half jaar lank behartig het. Die ondervinding wat ek in die pionierdiens, in die tronk, by Gilead en in Brooklyn opgedoen het, was baie nuttig. Toe ek in Mexiko aangekom het, het ek gou besef dat die geestelikheid van ons Mexikaanse broers en susters opgebou moes word. Hulle moes veral gehelp word om by die hoë sedelike standaarde van God se Woord te bly.
In Latyns-Amerikaanse lande, insluitende Mexiko, is dit gebruiklik vir paartjies om saam te woon sonder dat hulle wettig getroud is. Die godsdienste van die Christendom, veral die Rooms-Katolieke Kerk, het toegelaat dat hierdie onskriftuurlike gebruik voortduur (Hebreërs 13:4). Party het dus lede van die gemeentes van Jehovah se Getuies geword, al was hulle nie wettig getroud nie. Toe is ’n reëling ingestel wat sulke persone ses maande gegee het om hulle sake in orde te kry. Anders sou hulle nie meer as Jehovah se Getuies erken word nie.
Vir baie was dit eenvoudig om hulle lewe in orde te bring. Hulle moes net hulle verhouding wettig deur te trou. Maar ander se situasies was meer ingewikkeld. Party was byvoorbeeld reeds twee keer, en selfs drie keer, getroud sonder dat hulle ooit ’n wettige egskeiding gekry het. Toe die huweliksituasies van Jehovah se volk uiteindelik in ooreenstemming met die leringe van God se Woord gebring is, het die gemeentes ryk geestelike seëninge geniet.—1 Korintiërs 6:9-11.
In daardie dae was die vlak van sekulêre opvoeding in Mexiko oor die algemeen laag. Selfs voordat ek in 1950 daar aangekom het, het die takkantoor lees- en skryfklasse in die gemeentes begin organiseer. Toe is hierdie klasse gereorganiseer, en reëlings is getref om dit by die regering te registreer. Sedert 1946, toe ’n rekord daarvan begin hou is, is meer as 143 000 mense in Mexiko geleer om te lees en skryf in klasse wat deur die Getuies gehou is!
Die wette in Mexiko was baie beperkend met betrekking tot godsdiens. Maar in onlangse jare was daar belangrike veranderinge in hierdie opsig. In 1992 is ’n nuwe wet in verband met godsdiensaangeleenthede aangeneem, en Jehovah se Getuies is dus in 1993 in Mexiko as ’n godsdiensorganisasie geregistreer.
Hierdie veranderinge was vir my ’n bron van groot vreugde, iets wat ek in vroeër tye gedink het onmoontlik sou wees. Deur die jare heen het ek staatskantore herhaaldelik besoek en met ’n redelik wantrouige gesindheid te kampe gehad. Maar dit is goed om te sien hoe hierdie sake deur die Regsafdeling in ons takkantoor behartig is, sodat ons nou betreklik min inmenging in die predikingswerk het.
’n Sendeling as huweliksmaat
Toe ek in Mexiko aangekom het, was daar reeds talle gegradueerdes van vroeër klasse van Gilead in die land. Een van hulle was Esther Vartanian, ’n Armeense Getuie wat in 1942 in Vallejo, Kalifornië, as pionier begin dien het. Ons is op 30 Julie 1955 getroud, en daarna het ons voortgegaan in ons toewysing in Mexiko. Esther het sendingwerk in Mexikostad bly doen, en ons het by die tak gewoon, waar ek bly dien het.
In 1947 het Esther in haar eerste sendingtoewysing in Monterrey, Nuevo Leon, Mexiko, aangekom. Daar was toe net een gemeente van 40 Getuies in Monterrey, maar teen die tyd dat sy in 1950 na Mexikostad gekom het, was daar vier gemeentes. Twee jongmense uit die families van dié met wie Esther die Bybel gestudeer het toe sy in Monterrey gedien het, dien tans by ons takkantoor naby Mexikostad.
In 1950 het die sendelinge in Mexikostad die grootste gedeelte van die stad met hulle predikingswerk gedek. Hulle het hulle toewysing te voet of in stokou, stampvol busse deurkruis. Toe ek laat in 1950 daar aangekom het, was daar sewe gemeentes. Nou is daar sowat 1 600 gemeentes, met ver oor die 90 000 Koninkryksverkondigers in Mexikostad, en verlede jaar het meer as 250 000 die herdenking van Christus se dood daar bygewoon! Deur die jare heen het ek en Esther die voorreg gehad om in baie van hierdie gemeentes te dien.
Wanneer ek en Esther ’n Bybelstudie begin,
probeer ons altyd die vader van die gesin se belangstelling wek, sodat die hele gesin betrokke raak. Sodoende het ons gesien hoe talle groot gesinne Jehovah begin dien. Ek glo dat een van die redes vir die vinnige uitbreiding van ware aanbidding in Mexiko die feit is dat hele gesinne dikwels saam aan ware aanbidding begin deelneem.Jehovah het die werk geseën
Sedert 1950 het die werk in Mexiko merkwaardige vooruitgang gemaak, wat vermeerderings sowel as organisatoriese veranderinge betref. Dit is werklik ’n plesier om ’n klein bydrae te kon lewer tot die vermeerdering en om saam met so ’n gasvrye en gelukkige volk te kan werk.
Karl Klein, wat as ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies dien, en sy vrou, Margaret, het ons ’n paar jaar gelede besoek terwyl hulle met vakansie was. Broer Klein wou sien hoe dit met die predikingswerk in ons Mexikaanse gebied gaan, en daarom het hy en Margaret die San Juan Tezontla-gemeente, naby Mexikostad, besoek, die gemeente waarin ons op daardie tydstip was. Ons saal was klein, ongeveer 4,5 meter breed en 5,5 meter lank. Toe ons daar aankom, was daar reeds sowat 70 mense, en daar was skaars enige plek oor om te staan. Ouer mense het op stoele gesit, jongeres op banke en klein kindertjies op bakstene of op die vloer.
Broer Klein was baie beïndruk deur die feit dat al die kinders hulle Bybels gereed gehad het en die Bybeltekste saam met die spreker nageslaan het. Ná die openbare toespraak het broer Klein oor Matteus 13:19-23 gepraat en gesê dat daar in Mexiko baie van die “goeie grond” was waarvan Jesus gepraat het. Op die oomblik werk sewe van die kinders wat daardie dag by die vergadering was, aan die groot projek om ons takfasiliteite naby Mexikostad uit te brei. Nog een dien by Bethel, en ’n hele paar van die ander is pioniers!
Toe ek na Mexikostad gekom het, was daar net 11 lede in ons takkantoor. Nou het ons meer as 1 350 wat hier werk, waarvan nagenoeg 250 help met bouwerk aan die nuwe takkantoorgeboue. Wanneer al hierdie werk klaar is, moontlik in 2002, sal ons sowat 1 300 mense in ons uitgebreide fasiliteite kan huisves. Om te dink dat ons in 1950 minder as 7 000 Koninkryksverkondigers in die hele land gehad het, maar nou het ons ver oor die 500 000! My hart loop oor van vreugde wanneer ek sien hoe Jehovah die pogings geseën het van ons nederige Mexikaanse broers, wat so hard werk om hom te loof.
Ek kom voor ’n groot uitdaging te staan
Een van my grootste uitdagings in die laaste tyd is siekte. Ek was oor die algemeen redelik gesond. Maar in November 1988 het ek ’n beroerte gehad wat my fisiese vermoëns grootliks aangetas het. Met Jehovah se hulp kon ek deur middel van oefening en ander terapieë in sekere mate herstel, maar sekere liggaamsdele reageer nie soos ek wil hê hulle moet nie. Ek ontvang nog steeds mediese behandeling om geweldige hoofpyne en ander gevolge van die beroerte te vermy.
Hoewel ek nie meer soveel kan doen as wat ek graag wil nie, put ek tevredenheid uit die wete dat ek baie mense kon help om van Jehovah se voornemens te leer en sy toegewyde knegte te word. Ek geniet dit ook om met soveel Christenbroers en -susters moontlik te gesels wanneer hulle ons tak besoek; ek voel dat ons wedersyds aangemoedig word.
Die wete dat Jehovah ons diens aan hom waardeer en dat dit wat ons gedoen het nie tevergeefs is nie, versterk my baie (1 Korintiërs 15:58). Ondanks my beperkings en siekte het ek die woorde van Kolossense 3:23, 24 ter harte geneem: “Wat julle ook al doen, doen dit met julle hele siel soos vir Jehovah en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van Jehovah die erfenis as die gepaste beloning sal ontvang.” In ooreenstemming met hierdie aansporing het ek geleer om Jehovah met my hele siel te dien ondanks beproewinge.
[Prent op bladsy 24]
In 1942 toe ek ’n pionier was
[Prent op bladsy 24]
My vrou se eerste sendingtoewysing in 1947 was Mexiko
[Prent op bladsy 24]
Saam met Esther vandag
[Prente op bladsy 26]
Links bo: Ons Bethelgesin in Mexiko in 1952, en ek sit voor
Bo: Meer as 109 000 het in hierdie stadion in Mexikostad byeengekom vir ’n streekbyeenkoms in 1999
Links onder: Ons nuwe takfasiliteite wat nou byna klaar is