“Hardloop só”
“Hardloop só”
STEL jou voor jy sit in ’n stadion wat stampvol opgewonde mense is. Die atlete stap op die veld. Die skare juig wanneer hulle helde verskyn. Daar is beoordelaars om toe te sien dat die reëls gehoorsaam word. Namate die sportitems plaasvind, word uitroepe van oorwinning teenoor uitroepe van teleurstelling gehoor. Die wenners word met oorverdowende applous toegejuig!
Jy is nie ’n toeskouer by ’n hedendaagse sportgebeurtenis nie, maar by een wat ongeveer 2 000 jaar gelede op die Ismus van Korinte gehou is. Hier is die welbekende Ismiese Spele elke tweede jaar vanaf die sesde eeu v.G.J. tot en met die vierde eeu G.J. gehou. Die spele het dae lank die belangstelling van almal in Griekeland gaande gehou. Die spele was nie net ’n atletiekwedstryd nie. Atlete was simbole van militêre paraatheid. Die wenners—wat as helde vereer is—het krone ontvang wat van boomblare gemaak is. Hulle is met geskenke oorlaai, en die stad het hulle ’n groot, lewenslange pensioen gegee.
Die apostel Paulus was bekend met die Ismiese Spele naby Korinte en het ’n Christen se lewenswandel met ’n atletiekwedstryd vergelyk. Deur na hardlopers, stoeiers en boksers te verwys, het hy die belonings vir strawwe oefening, doelgerigte pogings en volharding goed toegelig. Die Christene aan wie hy geskryf het, was natuurlik ook vertroud met die spele. Party was ongetwyfeld al onder die juigende skares by die stadion. Hulle sou Paulus se illustrasies dus maklik verstaan. Wat van ons vandag? Ons is ook in ’n wedloop—om die ewige lewe. Hoe kan ons baat vind by Paulus se verwysings na hierdie wedstryde?
Hoe om ‘volgens die reëls mee te ding’
Baie streng vereistes is neergelê om aan die eertydse spele deel te neem. ’n Aankondiger het elke atleet aan die toeskouers voorgestel en uitgeroep: ‘Is daar enigiemand wat hierdie man van enige misdaad kan beskuldig? Is hy ’n dief of goddeloos en verdorwe in sy lewenswyse en maniere?’ Volgens Archaeologia Graeca is “niemand toegelaat om deel te neem wat ’n berugte misdadiger of [na] verwant aan so iemand was nie”. En oortredings teen die spele se reëls is swaar gestraf deur die oortreders as deelnemers te skors.
Hierdie feit help ons om Paulus se stelling te verstaan: “Bowendien word iemand, ook as hy in die spele meeding, nie gekroon tensy hy volgens die reëls meegeding het nie” (2 Timoteus 2:5). As ons in die wedloop om die lewe wil hardloop, moet ons eweneens aan Jehovah se vereistes voldoen en sy verhewe sedelike standaarde volg, soos dit in die Bybel uiteengesit word. Maar die Bybel waarsku ons: “Die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af” (Genesis 8:21). Daarom moet ons, selfs nadat ons aan die wedloop begin deelneem het, seker maak dat ons voortdurend volgens die reëls meeding sodat ons altyd Jehovah se goedkeuring kan wegdra en die ewige lewe kan beërf.
Die grootste hulpmiddel om dit te kan doen, is liefde vir God (Markus 12:29-31). Sulke liefde sal in ons die begeerte wek om Jehovah te behaag en volgens sy wil op te tree.—1 Johannes 5:3.
‘Lê elke gewig af’
In die eertydse spele het hardlopers hulle nie met baie klere of toerusting belas nie. “Met wedlope . . . was die deelnemers gewoonlik naak”, sê die boek The Life of the Greeks and Romans. Sonder klere kon die atlete rats, maklik en vinnig beweeg. Geen energie is vermors deur onnodige gewig saam te dra nie. Paulus het dít waarskynlik in gedagte gehad toe hy aan die Hebreeuse Christene geskryf het: “Laat ons ook elke gewig aflê . . . , en laat ons die wedloop wat voor ons gestel is met volharding hardloop.”—Hebreërs 12:1.
Watter soort gewigte kan hindernisse in ons wedloop om die lewe wees? Een hiervan is die begeerte om onnodige materiële dinge te versamel of ’n baie hoë lewenstandaard te handhaaf. Party vertrou dalk op rykdom vir sekuriteit of beskou dit as ’n bron van geluk. Sulke ekstra “gewig” kan ’n hardloper in so ’n mate terughou dat God uiteindelik nie meer vir hom so belangrik is nie (Lukas 12:16-21). Die ewige lewe word dan dalk net ’n vae hoop. ‘Die nuwe wêreld sal wel eendag kom’, redeneer iemand dalk, ‘maar intussen kan ons net sowel gebruik maak van die dinge wat hierdie wêreld aanbied’ (1 Timoteus 6:17-19). So ’n materialistiese beskouing kan maklik ’n mens se aandag aflei van die wedloop om die lewe of kan selfs voorkom dat jy daaraan begin deelneem.
In die Bergpredikasie het Jesus gesê: “Niemand kan twee here as slaaf dien nie; want hy sal óf die een haat en die ander liefhê, óf die een aankleef en die ander verag. Julle kan nie God en Rykdom as slawe dien nie.” Nadat hy vertel het hoe Jehovah in die behoeftes van diere en plante voorsien en gesê het dat mense meer werd as hulle is, het hy toe vermaan: “Moet dus nooit besorg wees en sê: ‘Wat gaan ons eet?’ of: ‘Wat gaan ons drink?’ of: ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie. Want al hierdie dinge streef die nasies gretig na. Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Matteus 6:24-33.
‘Hardloop met volharding’
Nie alle eertydse wedlope was kort naellope nie. Een wedloop, wat die doʹli·khos genoem is, was omtrent vier kilometer lank. Dit was ’n veeleisende toets van krag en uithouvermoë. Volgens oorlewering het ’n atleet met die naam Ageas in 328 v.G.J. hierdie wedloop gewen en daarna die hele ent na sy geboortestad, Argos, gehardloop om sy prestasie bekend te maak. Hy het op daardie dag ongeveer 110 kilometer gehardloop!
Die Christelike wedloop is ook ’n langafstandwedloop wat ons volharding op die proef stel. Ons moet tot die einde toe volhard in 2 Timoteus 4:7, 8). Ons moet soos Paulus “enduit” hardloop. As ons volharding afneem net omdat die wedloop ietwat langer is as wat ons aanvanklik verwag het, sal ons nie ons beloning ontvang nie (Hebreërs 11:6). Hoe tragies sou dit tog wees, aangesien ons so na aan die eindstreep is!
hierdie wedloop om Jehovah se goedkeuring en die prys van die ewige lewe te kan ontvang. Paulus het die wedloop só gehardloop. Na aan die einde van sy lewe kon hy sê: “Ek het die voortreflike stryd gestry, ek het die wedloop enduit gehardloop, ek het die geloof bewaar. Van nou af is die kroon van regverdigheid vir my weggelê” (Die prys
Wenners in eertydse Griekse atletiekwedstryde het ’n krans ontvang wat gewoonlik van boomblare gemaak is en met blomme versier is. In die Pythiese Spele het die wenners ’n kroon van lourierblare ontvang. In die Olimpiese Spele het hulle ’n kroon van wilde olyfblare ontvang en dié in die Ismiese Spele ’n kroon van denne. “Om geesdrif by die deelnemers aan te wakker”, sê een Bybelgeleerde, “is die krone, wat die belonings vir oorwinning was, asook palmtakke gedurende die wedstryd op ’n driepootstander, of tafel, in die stadion geplaas waar hulle dit duidelik kon sien.” Vir die wenner was dit ’n groot eer om die kroon te dra. Met sy terugkeer huis toe, het hy seëvierend op ’n strydwa in die stad ingery.
Met dít in gedagte het Paulus sy Korintiese lesers gevra: “Weet julle nie dat die hardlopers in ’n wedloop almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit kan verkry. . . . Húlle doen dit natuurlik sodat hulle ’n verderflike kroon kan kry, maar ons ’n onverderflike” (1 Korintiërs 9:24, 25; 1 Petrus 1:3, 4). Wat ’n teenstelling tog! Anders as die verwelklike krone van die eertydse spele sal die prys wat wag op diegene wat die wedloop om die lewe enduit hardloop, nooit vergaan nie.
Die apostel Petrus het aangaande hierdie voortrefliker kroon geskryf: “Wanneer die hoofherder openbaar gemaak is, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang” (1 Petrus 5:4). Kan enige prys wat hierdie wêreld ons aanbied, vergelyk word met onsterflikheid, die prys van onverderflike lewe in hemelse heerlikheid saam met Christus?
Vandag is die meeste Christenhardlopers nie deur God gesalf om sy geestelike seuns te wees nie, en hulle het nie ’n hemelse hoop nie. Hulle hardloop nie vir die prys van onsterflikheid nie. Maar God bied ook aan hulle ’n onvergelyklike prys. Dit is ewige lewe in volmaaktheid op ’n paradysaarde onder die Koninkryk van die hemel. Watter prys ’n Christenhardloper ook al nastreef, hy moet met groter vasbeslotenheid en krag hardloop as enige hardloper in ’n atletiekwedstryd. Waarom? Omdat die prys nooit sal vergaan nie: “Dít is die belofte wat hy self aan ons beloof het: die ewige lewe.”—1 Johannes 2:25.
Hoe moet ’n Christenhardloper die verloklikhede van hierdie wêreld beskou veral in die lig van so ’n onvergelyklike prys wat op hom wag? Hy behoort die beskouing van Paulus te hê wat gesê het: “Ek beskou alles ook inderdaad as verlies weens die oortreffende waarde van die kennis van Christus Jesus, my Here. Weens hom het ek die verlies van alles aanvaar en beskou ek dit as ’n klomp vullis.” Hoe hard het Paulus tog met die oog hierop gehardloop! “Broers, ek meen nog nie dat ek dit vasgegryp het nie; maar een ding staan vas: Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na die dinge wat voor is, en ek streef na die doel vir die prys” (Filippense 3:8, ). Paulus het gehardloop met sy oë stip gerig op die prys. Ons moet dieselfde doen. 13, 14
Ons grootste Voorbeeld
In die eertydse spele het die kampioene groot bewondering geniet. Digters het oor hulle geskryf en beeldhouers het standbeelde van hulle gemaak. Die geskiedskrywer Věra Olivová sê dat hulle “in heerlikheid gebaai en baie groot gewildheid geniet het”. Hulle het ook as rolmodelle vir ’n jonger geslag van kampioene gedien.
Wie is die “kampioen” wat die beste voorbeeld vir Christene stel? Paulus antwoord: “Laat ons die wedloop wat voor ons gestel is met volharding hardloop, terwyl ons die blik stip gerig hou op die Hoofbewerker en Vervolmaker van ons geloof, Jesus. Vir die vreugde wat hom voorgehou is, het hy ’n folterpaal verduur, terwyl hy die skande verag het, en aan die regterhand van die troon van God gaan sit” (Hebreërs 12:1, 2). Ja, as ons oorwinnaars in ons wedloop om die ewige lewe wil wees, moet ons ons blik stip gerig hou op ons Voorbeeld, Jesus Christus. Ons kan dit doen deur gereeld die Evangelieverslae te lees en te peins oor maniere waarop ons hom kan navolg. Sulke studies sal ons help om te sien dat Jesus Christus gehoorsaam aan God was en die gehalte van sy geloof deur sy volharding bewys het. As beloning vir sy volharding het hy Jehovah God se goedkeuring tesame met talle wonderlike voorregte ontvang.—Filippense 2:9-11.
Jesus se voortreflikste eienskap was natuurlik sy liefde. “Niemand het groter liefde as dít nie, dat iemand ten behoewe van sy vriende van sy siel afstand doen” (Johannes 15:13). Hy het ’n dieper betekenis aan die woord “liefde” gegee deur vir ons te sê om ons vyande lief te hê (Matteus 5:43-48). Omdat hy sy hemelse Vader liefgehad het, het Jesus vreugde daaruit geput om sy Vader se wil te doen (Psalm 40:10, 11; Spreuke 27:11). As ons ons blik gerig hou op Jesus as ons Voorbeeld en as die een wat die pas vir ons aangee in die veeleisende wedloop om die lewe, sal dit ons ook beweeg om God en ons naaste lief te hê en om ware vreugde uit ons heilige diens te put (Matteus 22:37-39; Johannes 13:34; 1 Petrus 2:21). Hou in gedagte dat Jesus nie die onmoontlike van ons verwag nie. Hy verseker ons: “Ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind. Want my juk is sag en my vrag is lig.”—Matteus 11:28-30.
Soos Jesus moet ons ons oog hou op die prys wat weggelê is vir almal wat tot die einde toe volhard (Matteus 24:13). As ons volgens die reëls meeding, as ons elke gewig aflê en as ons met volharding hardloop, kan ons seker wees van oorwinning. Die doelwit voor oë dryf ons aan! Dit gee ons nuwe krag weens die vreugde waarmee dit ons vul, ’n vreugde wat die pad vorentoe vir ons makliker maak.
[Prent op bladsy 29]
Die Christelike wedloop is ’n langafstandwedloop—dit vereis volharding
[Prent op bladsy 30]
Anders as gekroonde atlete kan Christene uitsien na ’n onverganklike prys
[Prent op bladsy 31]
Die prys is vir almal wat tot die einde toe volhard
[Foto-erkenning op bladsy 28]
Copyright British Museum