Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe verreikend is jou liefde?

Hoe verreikend is jou liefde?

Hoe verreikend is jou liefde?

“Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”—MATTEUS 22:39.

1. As ons Jehovah liefhet, waarom moet ons ook ons naaste liefhê?

 TOE daar vir Jesus gevra is wat die grootste gebod is, het hy geantwoord: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.” Toe het hy ’n tweede gebod soortgelyk aan die eerste aangehaal: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matteus 22:37, 39). Ja, naasteliefde is ’n kenmerk van ’n Christen. Trouens, as ons Jehovah liefhet, moet ons ons naaste liefhê. Waarom? Omdat ons ons liefde vir God toon deur sy Woord te gehoorsaam, en sy Woord beveel ons om ons naaste lief te hê. As ons dus nie ons broers en susters liefhet nie, kan ons liefde vir God nie opreg wees nie.—Romeine 13:8; 1 Johannes 2:5; 4:20, 21.

2. Watter soort liefde moet ons vir ons naaste hê?

2 Toe Jesus gesê het dat ons ons naaste moet liefhê, het hy van meer as net vriendskap gepraat. En hy het na ’n liefde verwys wat anders is as die liefde wat natuurlikerwys in gesinne of tussen ’n man en vrou bestaan. Hy het gepraat van die soort liefde wat Jehovah vir sy toegewyde knegte het en wat hulle vir hom het (Johannes 17:26; 1 Johannes 4:11, 19). ’n Joodse skrifgeleerde—wat intelligent gepraat het, soos Jesus onderskei het—het met Jesus saamgestem dat ’n mens God moet liefhê “met jou hele hart en met jou hele begrip en met jou hele krag” (Markus 12:28-34). Hy was reg. Die liefde wat ’n Christen vir God sowel as sy naaste aankweek, behels ons emosies en ons intellek. Dit word in die hart gevoel en deur die verstand gerig.

3. (a) Hoe het Jesus ’n “man wat vertroud was met die Wet”, geleer dat hy sy beskouing van wie sy naaste is, moet verruim? (b) Hoe is Jesus se illustrasie vandag op Christene van toepassing?

3 Toe Jesus, volgens Lukas se verslag, gesê het dat ons ons naaste moet liefhê, het “’n sekere man wat vertroud was met die Wet”, gevra: “Wie is dan my naaste?” Jesus het met ’n gelykenis geantwoord. ’n Man is geslaan, beroof en halfdood langs die pad gelaat. Eers het ’n priester en daarna ’n Leviet daar verbygeloop. Albei het hom geïgnoreer. Laastens het ’n Samaritaan daar verbygekom, die gewonde man gesien en opregte goedhartigheid aan hom bewys. Wie van die drie was ’n naaste vir die gewonde man? Die antwoord was voor die hand liggend (Lukas 10:25-37). Die man wat vertroud was met die Wet, was moontlik geskok om Jesus te hoor sê dat ’n Samaritaan ’n beter naaste as ’n priester en ’n Leviet kan wees. Dit is duidelik dat Jesus daardie man gehelp het om sy naaste op ’n verreikender manier lief te hê. Christene het ander ook op dié manier lief. Kyk byvoorbeeld na almal wat hulle liefde ontvang.

Liefde in die gesin

4. Wat is die eerste gebied waar ’n Christen liefde betoon?

4 Christene is lief vir hulle gesinslede—vrouens is lief vir hulle mans, mans vir hulle vrouens en ouers vir hulle kinders (Prediker 9:9; Efesiërs 5:33; Titus 2:4). Dit is waar dat daar in die meeste gesinne ’n band van natuurlike liefde is. Maar verslae van gebroke huwelike, huweliksgeweld en verwaarloosde of mishandelde kinders toon dat die gesin vandag onder druk verkeer, en die natuurlike gevoel tussen gesinslede is dalk nie genoeg om hulle bymekaar te hou nie (2 Timoteus 3:1-3). Christene moet die soort liefde toon wat Jehovah en Jesus het om werklik ’n sukses van hulle gesinslewe te maak.—Efesiërs 5:21-27.

5. Op wie vertrou ouers vir hulp om hulle kinders groot te maak, en wat was die resultaat vir baie?

5 Christenouers beskou hulle kinders as ’n pand van Jehovah, en hulle vertrou op hom vir hulp om hulle kinders groot te maak (Psalm 127:3-5; Spreuke 22:6). So kweek hulle Christelike liefde aan, wat hulle help om hulle kinders te beskerm teen die verderflike invloede waarvoor jongmense kan swig. Baie Christenouers het gevolglik ’n vreugde soortgelyk aan dié van ’n moeder in Nederland ondervind. Ná haar seun se doop—een van 575 persone wat verlede jaar in Nederland gedoop is—het sy die volgende geskryf: “Op daardie oomblik het my harde werk van die afgelope 20 jaar vrugte afgewerp. Al die tyd en energie—sowel as die pyn, inspanning en hartseer—is nou vergete.” Hoe bly is sy tog dat haar seun uit vrye wil gekies het om Jehovah te dien. Die hoogtepunt van 31 089 verkondigers wat verlede jaar in Nederland gerapporteer het, sluit baie in wat met die hulp van hulle ouers geleer het om Jehovah lief te hê.

6. Hoe kan Christelike liefde help om die huweliksband te versterk?

6 Paulus het liefde “’n volmaakte band van eenheid” genoem, en dit kan ’n huwelik selfs deur stormagtige tye heen behoue laat bly (Kolossense 3:14, 18, 19; 1 Petrus 3:1-7). Toe ’n man op Rurutu, ’n klein eilandjie ongeveer 700 kilometer van Tahiti af, die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, was sy vrou erg gekant daarteen. Later het sy die kinders geneem, hom verlaat en in Tahiti gaan woon. Hy het nietemin nog steeds sy liefde getoon deur gereeld vir haar geld te stuur en haar te bel om te vra of sy of die kinders enigiets nodig het. Hy het dus by bes gedoen om sy Christelike verpligtinge na te kom (1 Timoteus 5:8). Hy het voortdurend gebid dat sy gesin herenig sou word, en uiteindelik het sy vrou teruggekom. Toe sy teruggekom het, het hy “liefde, volharding [en] saggeaardheid” aan die dag gelê in die manier waarop hy haar behandel het (1 Timoteus 6:11). Hy is in 1998 gedoop en was later baie verheug toe sy vrou ingestem het om die Bybel te studeer. Daardie studie was een van die 1 351 Bybelstudies wat verlede jaar in die gebied onder die toesig van die Tahiti-takkantoor gehou is.

7. Wat het volgens ’n man in Duitsland sy huweliksband versterk?

7 In Duitsland het ’n man sy vrou se belangstelling in Bybelwaarheid teëgestaan; hy was oortuig daarvan dat Jehovah se Getuies haar wou bedrieg. Hy het egter later aan die Getuie wat eerste met sy vrou in aanraking gekom het, geskryf: “Dankie dat jy my vrou met Jehovah se Getuies in aanraking laat kom het. Ek was aan die begin bekommerd omdat ek soveel slegte dinge van hulle gehoor het. Maar noudat ek die vergaderinge saam met my vrou bywoon, besef ek dat ek dit mis gehad het. Ek weet ek hoor die waarheid, en dit het ons huweliksband baie sterker gemaak.” Die 162 932 Getuies van Jehovah in Duitsland—en die 1 773 op die eilande onder die Tahiti-takkantoor—sluit baie gesinne in wat verenig is in godvrugtige liefde.

Liefde vir ons Christenbroers

8, 9. (a) Wie leer ons om ons broers lief te hê, en wat beweeg liefde ons om te doen? (b) Gee ’n voorbeeld van hoe liefde broers kan help om mekaar by te staan.

8 Paulus het aan die Christene in Tessalonika gesê: “Julle word self deur God geleer om mekaar lief te hê” (1 Tessalonisense 4:9). Ja, diegene wat ‘deur Jehovah geleer’ word, is lief vir mekaar (Jesaja 54:13). Hulle liefde word deur hulle dade geopenbaar, soos Paulus getoon het toe hy gesê het: “Dien mekaar soos slawe deur liefde” (Galasiërs 5:13; 1 Johannes 3:18). Hulle doen dit byvoorbeeld wanneer hulle siek broers en susters besoek, die terneergedruktes aanmoedig en die swakkes ondersteun (1 Tessalonisense 5:14). Ons opregte Christelike liefde dra daartoe by dat ons geestelike paradys groei.

9 In die Ancón-gemeente—een van die 544 gemeentes in Ecuador—het die broers hulle liefde op ’n praktiese manier getoon. Weens ’n finansiële krisis het hulle geen werk of inkomste gehad nie, en daarom het die verkondigers besluit om geld te verdien deur kos aan die plaaslike vissermanne te verkoop wanneer hulle ná ’n nag se visvangs teruggekom het huis toe. Almal het saamgewerk, selfs die kinders. Hulle moes 1:00 die oggend die kos begin voorberei sodat dit teen 4:00 vm. gereed sou wees wanneer die vissermanne terugkom. Die geld wat die broers gekry het, is onder hulle verdeel volgens hulle behoefte. Hierdie reëling om mekaar te help, is ’n bewys van ware Christelike liefde.

10, 11. Hoe kan ons liefde betoon vir broers wat ons nie persoonlik ken nie?

10 Ons liefde is egter nie net beperk tot Christene wat ons persoonlik ken nie. Die apostel Petrus het gesê: “Wees lief vir die hele gemeenskap van broers” (1 Petrus 2:17). Ons is lief vir al ons broers en susters omdat hulle almal medeaanbidders van Jehovah God is. Tye van nood bied moontlik ’n geleentheid om hierdie liefde te bewys. Byvoorbeeld, gedurende die 2000-diensjaar het verskriklike oorstromings Mosambiek geteister, en ’n voortgesette burgeroorlog in Angola het baie mense arm gelaat. Baie van die 31 725 broers in Mosambiek en die 41 222 in Angola is deur hierdie gebeure geraak. Gevolglik het Getuies in Suid-Afrika al groot voorrade lewensmiddele gestuur om die nood van hulle broers in hierdie lande te verlig. Hulle gewilligheid om hulle “oorvloed” by te dra vir hulle behoeftige broers, het hulle liefde bewys.—2 Korintiërs 8:8, 13-15, 24.

11 Liefde kan ook gesien word wanneer broers in baie lande tot die bou van Koninkryksale en Byeenkomssale in minder welvarende lande bydra. ’n Voorbeeld is op die Salomon-eilande. Ten spyte van baie onrus het die Salomon-eilande verlede jaar ’n vermeerdering van 6 persent in verkondigers gehad, met ’n hoogtepunt van 1 697. Hulle het beplan om ’n Byeenkomssaal te bou. Hoewel baie eilandbewoners van die eilande af gevlug het, het vrywilligers van Australië af gekom om met die bouwerk te help. Uiteindelik moes die vrywilligers weer gaan, maar nie voordat hulle plaaslike broers opgelei het om die fondament te voltooi nie. Die voorafvervaardigde staalstruktuur van die saal is van Australië af verskeep, en dit sal ’n goeie getuienis tot Jehovah se naam en die liefde van die broers wees wanneer hierdie mooi gebou vir aanbidding voltooi is—op ’n tydstip wanneer baie boupersele verlate lê.

Soos God het ons die wêreld lief

12. Hoe volg ons Jehovah na in ons gesindheid teenoor diegene wat nie aan dieselfde geloof as ons behoort nie?

12 Is ons liefde beperk tot ons gesin en ons broederskap? Nee, nie as ons “navolgers van God” is nie. Jesus het gesê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Efesiërs 5:1; Johannes 3:16). Soos Jehovah God behandel ons almal liefdevol—insluitende diegene wat nie aan dieselfde geloof as ons behoort nie (Lukas 6:35, 36; Galasiërs 6:10). Veral om dié rede verkondig ons die goeie nuus van die Koninkryk en vertel ons ander van God se groot daad van liefde ten behoewe van hulle. Dit kan lei tot redding vir enigeen wat luister.—Markus 13:10; 1 Timoteus 4:16.

13, 14. Wat is ’n paar ondervindinge van broers wat liefde betoon het aan mense wat nie Getuies is nie, al het dit hulle groot ongerief veroorsaak?

13 Kyk na die voorbeeld van vier spesiale pionierbedienaars in Nepal. Hulle is na ’n stad in die suidweste van die land gestuur, en die afgelope vyf jaar het hulle hulle liefde getoon deur geduldig in die stad en afgeleë dorpies te getuig. Om hulle gebied te dek, ry hulle dikwels ure lank op fietse in temperature oor die 40 grade Celsius. Hulle liefde en “volharding in goeie werk” het goeie resultate opgelewer, want ’n boekstudiegroep is in een van die dorpies gevorm (Romeine 2:7). In Maart 2000 het 32 mense gekom om na die openbare toespraak deur die besoekende kringopsiener te luister. Nepal het verlede jaar ’n hoogtepunt van 430 verkondigers gehad—’n vermeerdering van 9 persent. Jehovah seën ongetwyfeld die ywer en liefde van die broers in daardie land.

14 In Colombia het tydelike spesiale pioniers die predikingswerk onder die Wayuu-Indiane gaan doen. Om dit te doen, moes hulle ’n nuwe taal aanleer, maar hulle liefdevolle belangstelling is beloon toe 27 ’n openbare toespraak bygewoon het, al het dit baie hard gereën. Liefdevolle ywer soos geopenbaar deur hierdie pioniers het bygedra tot ’n vermeerdering van 5 persent in Colombia en ’n hoogtepunt van 107 613 verkondigers. In Denemarke wou ’n bejaarde suster, hoewel gestrem, graag die goeie nuus aan ander verkondig. Sy het egter nie toegelaat dat haar toestand haar terughou nie, maar het briewe geskryf om met belangstellendes in aanraking te kom. Sy korrespondeer nou met 42 mense en hou 11 Bybelstudies. Sy is een van die hoogtepunt van 14 885 verkondigers wat verlede jaar in Denemarke gerapporteer het.

Liefde vir vyande

15, 16. (a) Hoe verreikend het Jesus gesê moet ons liefde wees? (b) Hoe het verantwoordelike broers op ’n liefdevolle wyse gehandel met iemand wat valse aantygings teen Jehovah se Getuies gemaak het?

15 Jesus het vir die man wat vertroud was met die Wet, gesê dat ’n Samaritaan as sy naaste beskou kon word. In sy Bergpredikasie het Jesus selfs verder gegaan toe hy gesê het: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand haat.’ Ek sê egter vir julle: Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg; sodat julle julle seuns kan betoon van julle Vader wat in die hemele is” (Matteus 5:43-45). Selfs wanneer iemand ons teëstaan, probeer ons om “aan [te hou] om die kwaad met die goeie te oorwin” (Romeine 12:19-21). Indien moontlik deel ons met hom ons kosbaarste besitting, die waarheid.

16 In die Oekraïne het ’n artikel in die koerant Kremenchuk Herald van Jehovah se Getuies gepraat as ’n gevaarlike sekte. Dit was ’n ernstige aantyging omdat party in Europa só van Jehovah se Getuies praat om mense te oortuig dat die bedrywighede van die Getuies beperk of verbied moet word. Die redakteur is dus genader en gevra om ’n persverklaring te publiseer wat die artikel regstel. Hy het ingestem, maar het saam met die persverklaring ’n stelling gepubliseer dat die oorspronklike artikel op feite gegrond was. Gevolglik het verantwoordelike broers met nog inligting na hom gegaan. Eindelik het die redakteur besef dat die oorspronklike artikel verkeerd was, en hy het ’n herroeping daarvan gepubliseer. Deur openhartig en vriendelik teenoor hom te wees, het die broers hierdie situasie op ’n liefdevolle manier hanteer, en dit het tot ’n goeie resultaat gelei.

Hoe kan ons liefde aankweek?

17. Wat toon dat dit dalk nie altyd maklik sal wees om liefdevol teenoor ander op te tree nie?

17 Wanneer ’n baba gebore word, raak die ouers vinnig lief vir hom. Dit gebeur nie altyd so instinktief om volwassenes met liefde te behandel nie. Dit is waarskynlik waarom die Bybel herhaaldelik vir ons sê om mekaar lief te hê—dit is iets waaraan ons moet werk (1 Petrus 1:22; 4:8; 1 Johannes 3:11). Jesus het geweet dat ons liefde op die proef gestel sou word toe hy gesê het dat ons ons broer “tot sewe-en-sewentig keer” moet vergewe (Matteus 18:21, 22). Paulus het ons ook aangespoor om ‘aan te hou om mekaar te verdra’ (Kolossense 3:12, 13). Geen wonder nie dat daar vir ons gesê word: “Streef die liefde na”! (1 Korintiërs 14:1). Hoe kan ons dit doen?

18. Wat sal ons help om liefde vir ander aan te kweek?

18 Eerstens kan ons altyd ons liefde vir Jehovah God voor oë hou. Hierdie liefde is ’n sterk aansporing om ons naaste lief te hê. Waarom? Want wanneer ons dit doen, bring dit eer, heerlikheid en lof aan ons hemelse Vader (Johannes 15:8-10; Filippense 1:9-11). Tweedens kan ons dinge probeer sien soos Jehovah dit sien. Elke keer wanneer ons sondig, sondig ons teen Jehovah; en tog vergewe hy ons keer op keer en hou hy aan om ons lief te hê (Psalm 86:5; 103:2, 3; 1 Johannes 1:9; 4:18). As ons Jehovah se beskouing van sake aanleer, sal ons geneig wees om ander lief te hê en hulle oortredinge teen ons te vergewe (Matteus 6:12). Derdens kan ons ander behandel soos ons graag deur hulle behandel wil word (Matteus 7:12). Aangesien ons onvolmaak is, het ons dikwels vergifnis nodig. Wanneer ons byvoorbeeld dinge sê wat ander seermaak, hoop ons dat hulle in gedagte sal hou dat almal van tyd tot tyd met die tong sondig (Jakobus 3:2). As ons wil hê dat ander ons liefdevol moet behandel, moet ons hulle liefdevol behandel.

19. Hoe kan ons die hulp van die heilige gees verkry om liefde aan te kweek?

19 Vierdens kan ons die hulp van die heilige gees vra omdat liefde een van die vrugte van die gees is (Galasiërs 5:22, 23). Vriendskappe, die gevoel tussen gesinslede en romantiese liefde kom dikwels instinktief. Maar ons het die hulp van Jehovah se gees nodig om die liefde aan te kweek wat Jehovah het, die liefde wat ’n volmaakte band van eenheid is. Ons kan die hulp van die heilige gees verkry deur die geïnspireerde Bybel te lees. As ons byvoorbeeld die lewe van Jesus bestudeer, sal ons sien hoe hy mense behandel het, en ons kan leer om hom na te volg (Johannes 13:34, 35; 15:12). Daarbenewens kan ons Jehovah om sy heilige gees vra, veral in situasies wat dit vir ons moeilik maak om liefdevol op te tree (Lukas 11:13). Laastens kan ons liefde nastreef deur na aan die Christengemeente te bly. Assosiasie met liefdevolle broers en susters help ons om liefde aan te kweek.—Spreuke 13:20.

20, 21. Watter uitstekende bewys van liefde het Jehovah se Getuies gedurende die 2000-diensjaar gelewer?

20 Verlede jaar was daar ’n hoogtepunt van 6 035 564 verkondigers van die goeie nuus regoor die wêreld. Jehovah se Getuies het altesaam 1 171 270 425 uur daaraan bestee om na individue te soek aan wie hulle hierdie goeie nuus kon meedeel. Dit is liefde wat hulle gehelp het om die hitte, die reën en die koue te verduur terwyl hulle hierdie werk gedoen het. Dit is liefde wat hulle beweeg het om met skoolmaats en werksmaats te praat en om wildvreemdes op straat en op ander plekke te nader. Baie mense wat deur die Getuies besoek is, was onverskillig, ’n paar het hulle teëgestaan. Maar sommige het belangstelling getoon, sodat 433 454 049 herbesoeke gedoen is en 4 766 631 Bybelstudies gehou is. a

21 Wat ’n bewys was dit alles tog van die liefde wat Jehovah se Getuies vir hulle God en hulle naaste het! Daardie liefde sal nooit verflou nie. Ons is vol vertroue dat daar gedurende die 2001-diensjaar selfs ’n groter getuienis aan die mensdom gegee sal word. Mag Jehovah se seën bly rus op sy lojale en ywerige aanbidders terwyl hulle ‘al hulle aangeleenthede in liefde laat geskied’!—1 Korintiërs 16:14.

[Voetnoot]

a Sien die tabel op bladsye 18-21 vir die volledige besonderhede van die rapport vir die 2000-diensjaar.

Kan jy verduidelik?

• Wie volg ons na wanneer ons ons naaste liefhet?

• Hoe verreikend moet ons liefde wees?

• Wat is ’n paar ondervindinge wat ’n bewys van Christelike liefde is?

• Hoe kan ons Christelike liefde aankweek?

[Studievrae]

[Tabel op bladsy 18-21]

WÊRELDRAPPORT VAN JEHOVAH SE GETUIES VIR DIE 2000-DIENSJAAR

(See bound volume)

[Prente op bladsy 15]

Christelike liefde kan ’n gesin bymekaar hou

[Prente op bladsy 17]

Liefde beweeg ons om ander van ons hoop te vertel