Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrede vir die nuwe millennium?

Vrede vir die nuwe millennium?

Vrede vir die nuwe millennium?

DIE Internasionale Jaar vir die Vredeskultuur is op 14 September 1999 in Parys en die stad New York aangekondig. Dit is deur die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies vir die jaar 2000 uitgeroep. Federico Mayor, die voormalige direkteur-generaal van UNESCO, het ’n ernstige beroep gedoen “om ’n wêreldwye beweging te vorm wat ’n kultuur van vrede en geweldloosheid voorstaan”.

UNESCO het ’n leuse wat sê: “Aangesien oorloë in die verstande van mense begin, moet vredespogings ook in die verstande van mense begin.” In ooreenstemming hiermee beoog die organisasie om ’n vredeskultuur te bevorder deur middel van “opvoeding, dialoog en samewerking”. Mnr. Mayor het gesê dat dit nie genoeg is “om vreedsaam te wees nie, selfs nie eers om voorstanders van wêreldvrede te wees nie, maar om vredemakers te wees”.

Ongelukkig was die jaar 2000 alles behalwe vreedsaam. Hedendaagse geskiedenis—wat gebeure in die jaar 2000 insluit—het duidelik die mens se onvermoë getoon om oorlog en geweld te voorkom ondanks opregte pogings om dit te doen.

Dit is egter opmerkenswaardig dat vrede inderdaad met opvoeding verband hou. Nagenoeg 2 700 jaar gelede het die profeet Jesaja voorspel: “Al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees.” (Jesaja 54:13, ons kursiveer.) Dieselfde profeet het ’n tyd voorspel wanneer mense van alle nasies na die rein aanbidding van Jehovah God sou stroom om Sy weë te leer. Met watter gevolg? “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.” (Jesaja 2:2-4, ons kursiveer.) In ooreenstemming met hierdie profesie neem Jehovah se Getuies deel aan ’n wêreldwye opvoedkundige werk wat reeds miljoene gehelp het om die nasionalistiese en rassehaat te oorkom wat die oorsaak van die meeste oorloë is.

Oorloë sal uiteindelik iets van die verlede wees onder God se Koninkryk, wat blywende vrede en veiligheid vir die aarde tot stand sal bring (Psalm 72:7; Daniël 2:44). Dan sal die psalmis se woorde vervul word: “Aanskou die dade van die HERE, wat verskriklike dinge oor die aarde bring, wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde.”—Psalm 46:9, 10.