Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Word opgebou deur liefde

Word opgebou deur liefde

Word opgebou deur liefde

“Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.”—MATTEUS 22:37.

1. (a) Wat is party van die dinge wat ’n Christen aankweek? (b) Wat is die belangrikste Christelike eienskap, en waarom?

 ’N CHRISTEN kweek baie dinge aan om ’n bekwame bedienaar te wees. Die boek Spreuke vestig die aandag op die waarde van kennis, insig en wysheid (Spreuke 2:1-10). Die apostel Paulus het die belangrikheid van onwrikbare geloof en sterk hoop beklemtoon (Romeine 1:16, 17; Kolossense 1:5; Hebreërs 10:39). Volharding en selfbeheersing is ook noodsaaklik (Handelinge 24:25; Hebreërs 10:36). Maar daar is een element wat, as dit sou ontbreek, afbreuk kan doen aan al die ander dinge en dit selfs nutteloos kan maak. Daardie element is liefde.—1 Korintiërs 13:1-3, 13.

2. Hoe het Jesus die belangrikheid van liefde getoon, en watter vrae laat dit ontstaan?

2 Jesus het getoon hoe belangrik liefde is toe hy gesê het: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Aangesien liefde die kenmerk van ’n ware Christen is, moet ons vrae vra soos: Wat is liefde? Waarom is dit so onontbeerlik dat dit volgens Jesus, bo alles, sy dissipels identifiseer? Hoe kan ons liefde aankweek? Wie moet ons liefhê? Kom ons bespreek hierdie vrae.

Wat is liefde?

3. Hoe kan liefde beskryf word, en waarom behels dit die verstand en die hart?

3 Een beskrywing van liefde is ‘’n gevoel van hartlike gehegtheid of tere geneentheid, ’n warme toegeneentheid of aangetrokkenheid tot iemand anders’. Dit is ’n eienskap wat mense beweeg om dinge vir ander se beswil te doen, al verg dit soms groot opoffering van hulle kant. Liefde, soos dit in die Bybel beskryf word, behels die verstand en die hart. Die verstand, of intellek, speel ’n rol omdat iemand wat ander liefhet, dit met oop oë doen—hy besef dat hy en ander mense wat hy liefhet almal swak punte sowel as aantreklike eienskappe het. Die verstand is verder hierby betrokke, aangesien daar persone is teenoor wie ’n Christen liefde sal betoon—al voel hy moontlik nie van nature aangetrokke tot hulle nie—omdat hy uit die Bybel geleer het dat God dit van hom verwag (Matteus 5:44; 1 Korintiërs 16:14). Liefde kom nietemin basies uit die hart. Ware liefde soos dit in die Bybel geopenbaar word, is nooit bloot ’n produk van die verstand nie. Dit behels ware opregtheid en volkome emosionele verbintenis.—1 Petrus 1:22.

4. In watter opsig is liefde ’n kragtige band?

4 Selfsugtige mense kan selde ’n waarlik liefdevolle verhouding aanknoop omdat iemand wat ander liefhet, bereid is om hulle belange voor sy eie te stel (Filippense 2:2-4). Jesus se woorde dat ‘dit groter geluk verskaf om te gee as om te ontvang’, is veral waar wanneer ’n mens uit liefde gee (Handelinge 20:35). Liefde is ’n kragtige band (Kolossense 3:14). Dit sluit dikwels vriendskap in, maar die bande van liefde is sterker as dié van vriendskap. Die romantiese verhouding tussen ’n man en sy vrou word soms liefde genoem; maar die liefde wat die Bybel ons aanspoor om aan te kweek, is van blywender aard as fisiese aantrekking. As ’n egpaar mekaar waarlik liefhet, bly hulle bymekaar al is ’n fisiese verhouding nie meer moontlik nie weens die gebreke van die ouderdom of weens gestremdheid.

Liefde—’n noodsaaklike eienskap

5. Waarom is liefde ’n onontbeerlike eienskap vir ’n Christen?

5 Waarom is liefde ’n onontbeerlike eienskap vir ’n Christen? Eerstens omdat Jesus sy volgelinge beveel het om mekaar lief te hê. Hy het gesê: “Julle is my vriende as julle doen wat ek julle beveel. Hierdie dinge beveel ek julle, dat julle mekaar moet liefhê” (Johannes 15:14, 17). Tweedens omdat Jehovah die verpersoonliking van liefde is, en as sy aanbidders moet ons hom navolg (Efesiërs 5:1; 1 Johannes 4:16). Die Bybel sê dat dit die ewige lewe beteken om kennis van Jehovah en Jesus in te neem. Hoe kan ons sê dat ons God ken as ons nie probeer om soos hy te wees nie? Die apostel Johannes het geredeneer: “Hy wat nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde.”—1 Johannes 4:8.

6. Hoe kan liefde verskillende aspekte van ons lewe in ewewig hou?

6 Liefde is ook om ’n derde rede belangrik: Dit help ons om verskillende aspekte van ons lewe in ewewig te hou en dit laat ons dinge uit ’n goeie beweegrede doen. Dit is byvoorbeeld baie belangrik om voortdurend kennis van God se Woord in te neem. Sulke kennis is vir ’n Christen soos voedsel. Dit help hom om geestelik ryp te word en in ooreenstemming met God se wil op te tree (Psalm 119:105; Matteus 4:4; 2 Timoteus 3:15, 16). Paulus het egter gewaarsku: “Kennis blaas op, maar liefde bou op” (1 Korintiërs 8:1). Nee, daar is niks fout met juiste kennis nie. Die probleem lê by ons—ons het sondige neigings (Genesis 8:21). As die invloed van liefde ontbreek wat ’n mens help om dinge in ewewig te hou, kan kennis jou opgeblase maak en jou laat dink dat jy beter as ander is. Dit sal nie gebeur as jy hoofsaaklik deur liefde beweeg word nie. “Die liefde . . . praat nie groot nie, raak nie opgeblase nie” (1 Korintiërs 13:4). ’n Christen wat deur liefde beweeg word, word nie trots nie, al bou hy ’n diep kennis op. Liefde hou hom nederig en voorkom dat hy naam wil maak.—Psalm 138:6; Jakobus 4:6.

7, 8. Hoe help liefde ons om ons gedagtes gerig te hou op die belangriker dinge?

7 Paulus het aan die Filippense geskryf: “Dit is wat ek aanhou bid, dat julle liefde steeds oorvloediger mag word met juiste kennis en volle onderskeidingsvermoë; dat julle seker kan maak van wat die belangriker dinge is” (Filippense 1:9, 10). Christelike liefde sal ons help om hierdie aansporing te volg om seker te maak van wat die belangriker dinge is. Dink byvoorbeeld aan Paulus se woorde aan Timoteus: “As iemand na ’n opsienersamp streef, begeer hy ’n voortreflike werk” (1 Timoteus 3:1). Gedurende die 2000-diensjaar het die aantal gemeentes oor die wêreld met 1 502 vermeerder, wat ’n nuwe totaal van 91 487 is. Daar bestaan dus ’n groot behoefte aan nog ouer manne, en diegene wat die voorreg nastreef, moet geprys word.

8 Maar dié wat na ’n opsienersamp streef, sal ’n goeie balans handhaaf as hulle die doel van so ’n voorreg in gedagte hou. Bloot om gesag te hê of groter erkenning te geniet, is nie die belangrike ding nie. Ouer manne wat Jehovah behaag, word deur liefde vir hom en vir hulle broers beweeg. Hulle streef nie na vernaamheid of gesag nie. Nadat die apostel Petrus gemeentelike ouer manne die raad gegee het om ’n goeie gesindheid te handhaaf, het hy die belangrikheid van “ootmoed” beklemtoon. Hy het almal in die gemeente aangespoor: “Verneder julle . . . onder die magtige hand van God” (1 Petrus 5:1-6). Enigeen wat na ’n opsienersamp streef, kan gerus kyk na die voorbeeld van tallose ouer manne oor die wêreld wat hardwerkend, nederig en derhalwe ’n seën vir hulle gemeentes is.—Hebreërs 13:7.

’n Goeie beweegrede help ons om te volhard

9. Waarom hou Christene Jehovah se beloofde seëninge in gedagte?

9 Die belangrikheid daarvan om deur liefde beweeg te word, kan ook op ’n ander manier gesien word. Die Bybel beloof dat diegene wat godvrugtige toegewydheid uit liefde nastreef, nóú ryk seëninge en in die toekoms waarlik wonderlike seëninge kan geniet (1 Timoteus 4:8). ’n Christen wat vas glo in hierdie beloftes en daarvan oortuig is dat Jehovah “die beloner word van dié wat hom ernstig soek”, word hierdeur gehelp om standvastig in die geloof te bly (Hebreërs 11:6). Die meeste van ons smag na die vervulling van God se beloftes en voel soos die apostel Johannes wat gesê het: “Amen! Kom, Here Jesus” (Openbaring 22:20). Ja, deur te peins oor die seëninge wat op ons wag as ons getrou is, word ons versterk om te volhard, net soos dit Jesus gehelp het om te volhard toe hy gedink het aan “die vreugde wat hom voorgehou is”.—Hebreërs 12:1, 2.

10, 11. Hoe help die feit dat ons deur liefde beweeg word ons om te volhard?

10 Maar gestel ons begeerte om in die nuwe wêreld te lewe, is die enigste beweegrede waarom ons Jehovah dien. Dan kan ons maklik ongeduldig of ontevrede raak wanneer dinge moeilik word of as dinge nie gebeur soos ons wou hê of wanneer ons wou hê dit moet nie. Ons kan in ernstige gevaar verkeer om weg te dryf (Hebreërs 2:1; 3:12). Paulus het gepraat van ’n voormalige metgesel met die naam Demas, wat hom verlaat het. Waarom? Omdat “hy die teenswoordige stelsel van dinge liefgehad het” (2 Timoteus 4:10). Enigeen wat God bloot om selfsugtige redes dien, loop gevaar om dieselfde te doen. Hy kan aangetrek word deur die onmiddellike geleenthede wat in die wêreld gebied word en teësinnig raak om nou opofferings te maak met die hoop op toekomstige seëninge.

11 Hoewel dit gepas en natuurlik is om ’n begeerte te hê om toekomstige seëninge te ontvang en om die beloofde verligting van beproewinge te kry, bou liefde ons waardering op vir wat die belangrikste saak in ons lewe behoort te wees. Dit is Jehovah se wil, nie ons s’n nie, wat belangrik is (Lukas 22:41, 42). Ja, liefde bou ons op. Dit maak ons tevrede om geduldig op ons God te wag, vergenoeg met watter seëninge hy ons ook al gee en vol vertroue dat ons op sy bestemde tyd alles sal ontvang wat hy beloof het—en nog meer (Psalm 145:16; 2 Korintiërs 12:8, 9). Intussen help liefde ons om onselfsugtig te bly dien, want “die liefde . . . soek nie sy eie belang nie”.—1 Korintiërs 13:4, 5.

Wie moet Christene liefhê?

12. Wie moet ons volgens Jesus liefhê?

12 Jesus het ’n algemene reël gegee oor wie ons moet liefhê toe hy twee stellings uit die Mosaïese Wet aangehaal het. Hy het gesê: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” en “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”.—Matteus 22:37-39.

13. Hoe kan ons leer om Jehovah lief te hê, al kan ons hom nie sien nie?

13 Dit is duidelik uit Jesus se woorde dat ons Jehovah allereers moet liefhê. Maar ons word nie gebore met ’n ten volle ontwikkelde liefde vir Jehovah nie. Dit is iets wat ons moet aankweek. Toe ons die eerste keer van hom geleer het, is ons tot hom aangetrek deur wat ons geleer het. Ons het geleidelik geleer hoe hy die aarde vir die mensdom voorberei het (Genesis 2:5-23). Ons het geleer hoe hy met die mensdom gehandel het, dat hy ons nie verstoot het toe die eerste lede van die mensegesin gesondig het nie, maar dat hy stappe geneem het om ons los te koop (Genesis 3:1-5, 15). Hy het liefdevol gehandel met diegene wat getrou was, en hy het uiteindelik sy enigverwekte Seun gegee sodat ons vergifnis van ons sondes kon kry (Johannes 3:16, 36). Hierdie dieper kennis het ons waardering vir Jehovah laat toeneem (Jesaja 25:1). Koning Dawid het gesê dat hy Jehovah liefhet vanweë Sy liefdevolle sorg (Psalm 116:1-9). Jehovah sorg vandag vir ons en hy lei, versterk en moedig ons aan. Hoe meer ons van hom leer, hoe inniger word ons liefde vir hom.—Psalm 31:24; Sefanja 3:17; Romeine 8:28.

Hoe kan ons ons liefde toon?

14. Op watter manier kan ons toon dat ons liefde vir God opreg is?

14 Baie mense in die wêreld sê natuurlik dat hulle God liefhet, maar hulle dade weerspreek hulle woorde. Hoe kan ons weet of ons Jehovah waarlik liefhet? Ons kan in gebed vir hom sê hoe ons voel. En ons kan optree op ’n manier wat ons liefde toon. Die apostel Johannes het gesê: “Elkeen wat wel [God se] woord onderhou, waarlik, in hom is die liefde vir God vervolmaak. Hieraan weet ons dat ons in eenheid met hom is” (1 Johannes 2:5; 5:3). God se Woord sê onder andere vir ons om saam te vergader en rein, sedelike lewens te lei. Ons vermy huigelary, spreek die waarheid en hou ons denke rein (2 Korintiërs 7:1; Efesiërs 4:15; 1 Timoteus 1:5; Hebreërs 10:23-25). Ons toon ons liefde deur materiële hulp aan behoeftiges te gee (1 Johannes 3:17, 18). En ons skroom nie om ander van Jehovah te vertel nie. Dit sluit deelname aan die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk in (Matteus 24:14; Romeine 10:10). Gehoorsaamheid aan God se Woord in hierdie sake lewer bewys dat ons liefde vir Jehovah opreg is.

15, 16. Hoe het liefde vir Jehovah verlede jaar baie lewens geraak?

15 Liefde vir Jehovah help mense om goeie besluite te neem. Verlede jaar is 288 907 deur hierdie liefde beweeg om hulle lewe aan hom toe te wy en dié besluit deur waterdoop te simboliseer (Matteus 28:19, 20). Hulle toewyding was betekenisvol. Dit het ’n verandering in hulle lewe aangedui. Gazmend was byvoorbeeld een van die grootste basketbalsterre in Albanië. Hy en sy vrou het die Bybel ’n paar jaar bestudeer en ondanks struikelblokke eindelik as Koninkryksverkondigers gekwalifiseer. Gazmend is verlede jaar gedoop, een van 366 wat in die 2000-diensjaar in Albanië gedoop is. ’n Koerant het ’n artikel oor hom gepubliseer wat gesê het: “Sy lewe het ’n doel, en daarom geniet hy en sy gesin die gelukkigste dae van hulle lewe. Vir hom is dit nie meer belangrik om te sien hoeveel hy uit die lewe kan kry nie, maar eerder hoeveel hy kan gee om ander mense te help.”

16 Dit was ook die geval met ’n pas gedoopte suster wat vir ’n oliemaatskappy in Guam gewerk het en ’n aanloklike aanbod gekry het. Nadat sy jare lank die korporatiewe leer geklim het, is sy uiteindelik die geleentheid gebied om die eerste vroulike visepresident in die maatskappy se geskiedenis te word. Maar sy het teen dié tyd haar lewe aan Jehovah toegewy. Nadat sy dus die saak met haar man bespreek het, het die nuwe suster die aanbod van die hand gewys en eerder gereël om ’n deeltydse werk te hê sodat sy ’n voltydse bedienaar, oftewel ’n pionier, kon word. Liefde vir Jehovah het haar die begeerte gegee om hom as ’n pionier te dien pleks van die finansiële strewes van hierdie wêreld na te jaag. Trouens, wêreldwyd het hierdie soort liefde 805 205 beweeg om gedurende die 2000-diensjaar aan verskillende fasette van die pionierbediening deel te neem. Wat ’n bewys van liefde en geloof het hierdie pioniers tog gelewer!

Beweeg om Jesus lief te hê

17. Watter goeie voorbeeld van liefde sien ons in Jesus?

17 Jesus is ’n wonderlike voorbeeld van iemand wat deur liefde beweeg is. In sy voormenslike bestaan het hy sy Vader en die mensdom liefgehad. As die verpersoonliking van wysheid het hy gesê: “Toe was ek ’n kunstenaar naas [Jehovah], en ek was dag vir dag vol verlustiging en het gespeel voor sy aangesig altyd, en het gespeel op sy wêreldrond, en my verlustiginge was met die mensekinders” (Spreuke 8:30, 31). Jesus se liefde het hom beweeg om sy hemelse tuiste te verlaat en as ’n hulpelose baba gebore te word. Hy het geduldig en liefdevol gehandel met die sagmoediges en nederiges wat deur die toedoen van Jehovah se vyande gely het. Op die ou end het hy vir die hele mensdom aan ’n folterpaal gesterf (Johannes 3:35; 14:30, 31; 15:12, 13; Filippense 2:5-11). Wat ’n goeie voorbeeld van die regte beweegrede!

18. (a) Hoe bou ons liefde vir Jesus op? (b) Hoe toon ons dat ons Jesus liefhet?

18 Wanneer diegene met die regte hartstoestand die verslae van Jesus se lewe in die Evangelies lees en peins oor al die seëninge wat sy getroue lewenswandel vir hulle moontlik gemaak het, laat dit hulle ’n innige liefde vir hom ontwikkel. Ons is vandag soos die persone met wie Petrus gepraat het toe hy gesê het: “Hoewel julle [Jesus] nooit gesien het nie, het julle hom lief” (1 Petrus 1:8). Ons liefde word geopenbaar wanneer ons geloof in hom beoefen en sy selfopofferende lewenswyse navolg (1 Korintiërs 11:1; 1 Tessalonisense 1:6; 1 Petrus 2:21-25). Op 19 April 2000 is altesaam 14 872 086 herinner aan die redes waarom ons Jesus liefhet toe hulle die jaarlikse herdenking van sy dood bygewoon het. Wat ’n groot groep mense was dit tog! En hoe bemoedigend is dit tog om te weet dat soveel in redding deur middel van Jesus se offerande belangstel! Ons word waarlik opgebou deur Jehovah en Jesus se liefde vir ons en deur ons liefde vir hulle.

19. Watter vrae oor liefde sal in die volgende artikel bespreek word?

19 Jesus het gesê dat ons Jehovah met ons hele hart, siel, verstand en krag moet liefhê. Maar hy het ook gesê dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself (Markus 12:29-31). Wie sluit dit in? En hoe help liefde vir ons naaste ons om ’n goeie balans te handhaaf en altyd goeie beweegredes te hê? Hierdie vrae sal in die volgende artikel bespreek word.

Onthou jy?

• Waarom is liefde ’n noodsaaklike eienskap?

• Hoe kan ons leer om Jehovah lief te hê?

• Hoe toon ons gedrag dat ons Jehovah liefhet?

• Hoe toon ons ons liefde vir Jesus?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 10, 11]

Liefde help ons om geduldig op verligting te wag

[Prent op bladsy 12]

Jesus se groot offerande beweeg ons om hom lief te hê