Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Daders van God se woord vind geluk

Daders van God se woord vind geluk

Daders van God se woord vind geluk

“Ons beskou hierdie byeenkoms as nog een van Jehovah se voorsienings om ons voor te berei vir verdere deelname aan die Koninkrykswerk”, het een van die sprekers vroeg in die “Daders van God se woord”-streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies gesê. Hy het verder gesê: “Ons het ons voorberei om onderrig te word oor hoe om ’n gelukkige gesinslewe te geniet, om aangemoedig te word om na aan Jehovah se organisasie te bly, om gemotiveer te word om ons ywer in die Koninkryksdiens te behou en om herinner te word aan die noodsaaklikheid daarvan om aan te hou waak.”

SEDERT einde Mei 2000 het miljoene daders van God se woord en hulle vriende na duisende plekke regoor die wêreld gestroom om noodsaaklike Bybelonderrig te ontvang. Wat het hulle gedurende die driedaagse streekbyeenkoms geleer?

Eerste dag—Moenie Jehovah se dade vergeet nie

In die eerste toespraak het die voorsitter die gehoor genooi om die seëninge te ondervind wat voortspruit uit verenigde aanbidding van Jehovah by byeenkomste. Almal in die gehoor is verseker dat hulle geloof versterk sou word en dat hulle persoonlike verhouding met Jehovah hegter sou word.

“Die gelukkige God” weet wat ons nodig het om gelukkig te wees (1 Timoteus 1:11). Die toespraak “Dit verskaf geluk om God se wil te doen” het dus beklemtoon dat Jehovah se Woord, die Bybel, die beste lewenswyse uiteensit (Johannes 13:17). Etlike onderhoude met Getuies van Jehovah wat hom al lank dien, het getoon dat die uitvoering van God se wil onder verskillende omstandighede ons lewe sinvoller maak. Die volgende toespraak, “Straal oor die goedheid van Jehovah”, het beklemtoon dat Christene, as “navolgers van God”, “elke soort goedheid” in hulle lewe wil openbaar (Efesiërs 5:1, 9). Een uitstekende manier waarop ons dit kan doen, is deur die goeie nuus te verkondig en dissipels te maak.—Psalm 145:7, NAV.

Die bespreking “Bly standvastig asof jy die Onsigbare sien” het getoon hoe sterk geloof ons help om die onsigbare God te “sien”. Die spreker het beskryf hoe geestelike mense bewus is van God se eienskappe, insluitende sy vermoë om selfs te weet wat ons dink (Spreuke 5:21). Diegene met wie daar ’n onderhoud gevoer is, het vertel watter stappe hulle geneem het om sterker geloof op te bou en om geestelike belange eerste in hulle lewe te stel.

Die oggendsessie het geëindig met die programrede: “Loof Jehovah—Die Een wat wonderlike dinge doen.” Dit het die gehoor help besef dat hoe meer ons aangaande Jehovah leer, des te meer redes vind ons om hom te loof as die Een wat wonderlike dinge doen. Die spreker het gesê: “Wanneer ons nadink oor God se wonderlike skeppingswerke, asook al die wonderlike dinge wat hy nou vir ons doen, beweeg hartgrondige waardering ons om hom te loof. Wanneer ons die wonderdade bepeins wat hy in die verlede ten behoewe van sy volk gedoen het, wil ons hom loof. En wanneer ons nadink oor die beloftes van wonderlike dinge wat Jehovah nog gaan doen, soek ons ook na maniere om ons waardering uit te spreek.”

Die middagsessie het begin met die toespraak, “Moenie ophou om te doen wat voortreflik is nie”, wat almal in die gehoor daaraan herinner het dat die druk van hierdie wêreld bevestig dat die einde naby is (2 Timoteus 3:1). Deur egter nie moed op te gee nie, kan ons bewys dat ons “die soort [is] wat geloof het tot die behoud van die siel”.—Hebreërs 10:39.

Watter Bybelraad is aangaande gesinslewe gegee? Die eerste simposium van die byeenkoms—“Wees gehoorsaam aan God se Woord”—het begin met die deel “Wanneer jy ’n huweliksmaat kies”. Om ’n huweliksmaat te kies, is een van die belangrikste besluite wat mense neem. Christene wil dus wag totdat hulle volwasse is voordat hulle trou, en hulle moet ‘“net in die Here” trou (1 Korintiërs 7:39). Die volgende deel van die simposium het die feit bespreek dat Jehovah wil hê alle gesinne moet sukses behaal as sterk geestelike eenhede, en dit het praktiese maniere getoon waarop dit bereik kan word. Die laaste deel het ouers daaraan herinner dat hulle hulle kinders leer om God lief te hê deur die wyse waarop hulle as ouers hulle liefde teenoor hom betoon.

Die punte wat in die toespraak “Waak teen gerugte en skinderpraatjies” bespreek is, het almal gehelp om te sien dat, hoewel verstommende dinge wel gebeur, ons verstandig moet optree en nie liggelowig moet wees wanneer ons sensasionele berigte hoor nie. Christene is beter daaraan toe as hulle praat oor wat hulle weet die waarheid is—die goeie nuus van die Koninkryk. Baie het die volgende toespraak, “Hoe om ‘’n doring in die vlees’ die hoof te bied”, baie bemoedigend en opbouend gevind. Dit het hulle gehelp om te sien dat Jehovah ons, ondanks die voortdurende beproewinge waarmee ons dalk te kampe het, deur middel van sy heilige gees, sy Woord en ons Christenbroederskap kan versterk. Baie aanmoediging is geput uit die persoonlike ondervinding van die apostel Paulus in hierdie verband.—2 Korintiërs 12:7-10; Filippense 4:11, 13.

Die eerste dag het geëindig met die toespraak: “Hou tred met Jehovah se organisasie.” Drie gebiede waarop God se organisasie veral vooruitgang gemaak het, is bespreek: (1) die toenemende begrip van geestelike lig wat van Jehovah af kom, (2) die bediening wat God aan ons toevertrou het en (3) die tydige aanpassings in organisatoriese prosedures. Toe het die spreker vol vertroue gesê: “Ons is opgewonde oor alles wat voorlê.” Hy het gevra: “Kan ons enigsins twyfel dat ons alle rede het om tot die einde toe die vertroue te behou wat ons aan die begin gehad het?” (Hebreërs 3:14). Die antwoord was vanselfsprekend. Dit het gelei tot die vrystelling van ’n nuwe brosjure met die titel Jy kán God se vriend wees! Dit sal as ’n kragtige onderrigmiddel dien om mense met beperkte skoolopleiding of leesvermoë te help om Jehovah te leer ken.

Tweede dag—Hou aan om God se wonderlike werke te verkondig

Ná ’n bespreking van die dagteks is die tweede dag van die byeenkoms voortgesit met die simposium “Bedienaars van God se woord”. Die eerste deel het die aandag gevestig op die huidige sukses van ons wêreldwye predikingswerk. Ons volharding in hierdie werk word egter op die proef gestel deur die meerderheid, wat die Koninkryksboodskap verwerp. ’n Aantal verkondigers wat al lank getuig, het verduidelik hoe hulle hulle vreugde in die bediening behou het deur hulle verstand en hart te versterk om die uitdaging van onverskilligheid of teenstand die hoof te bied. Die tweede deel het die byeenkomsgangers daaraan herinner dat Jehovah se Getuies mense oral probeer bereik, formeel sowel as informeel. En die laaste deel het die wye verskeidenheid maniere beskryf waarop alle Christene hulle persoonlike bediening kan uitbrei. Die spreker het beklemtoon dat, ten einde dit te doen, ons God se Koninkryk die hoofsaak in ons lewe moet maak, selfs al is dit ongerieflik en moet ons onsself dinge ontsê.—Matteus 6:19-21.

Aangesien ons in ’n goddelose wêreld lewe wat ’n onversadigbare begeerte na materiële dinge het, was die toespraak “Kweek godvrugtige toegewydheid tesame met vergenoegdheid aan” baie tydig. Die spreker het van sy kommentare op 1 Timoteus 6:6-10, 18, 19 gebaseer en getoon hoe godvrugtige toegewydheid Christene help om die liefde vir geld te vermy, wat hulle op ’n dwaalspoor kan bring en baie pyn kan besorg. Hy het beklemtoon dat geluk, ongeag wat ons ekonomiese situasie is, van ons verhouding met Jehovah en van ons geestelike welstand afhang. Baie is diep getref deur die punte wat bespreek is in die toespraak “Gee God geen rede om hom te skaam nie”. Die feit dat Jehovah nooit sy getroue Getuies vergeet nie, is beklemtoon. Die weergalose voorbeeld van Jesus Christus—wat “gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde [is]”—sal baie Christene help om aan te hou om die wedloop om die lewe met volharding te hardloop.—Hebreërs 13:8.

Die oggendsessie is afgesluit met die dooptoespraak—wat altyd ’n hoogtepunt is by groot samekomste van Jehovah se Getuies. Wat ’n vreugde was dit tog om te sien hoe pastoegewydes Jesus se voetstappe navolg deur waterdoop te ondergaan! (Matteus 3:13-17). Almal wat hierdie stap neem, het reeds baie gedoen as daders van God se woord. Wat meer is, wanneer hulle gedoop word, word hulle geordende bedienaars van die goeie nuus, en hulle put groot vreugde uit die wete dat hulle ’n aandeel het aan die heiliging van Jehovah se naam.—Spreuke 27:11.

Gepaste raad is gegee in die toespraak “Volwassenheid is nodig ‘om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is’”. Wêreldse standaarde van wat reg en verkeerd is, is heeltemal ontoereikend. Ons moet derhalwe op Jehovah se standaarde vertrou (Romeine 12:2). Almal is aangemoedig om hard te werk om ’n juiste begrip van God se weë te verkry en om tot volwassenheid te groei. Dan sal ons waarnemingsvermoëns met oefening opgelei word “om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is”.—Hebreërs 5:11-14.

Daarna het die simposium “Werk hard om geestelikheid aan te kweek” gevolg. Ware Christene besef hoe belangrik dit is om geestelikheid aan te kweek en te handhaaf. Dit verg harde werk—lees, studie en bepeinsing (Matteus 7:13, 14; Lukas 13:24). Geestelike mense volhard ook in “elke vorm van gebed en smeking” (Efesiërs 6:18). Ons besef dat ons gebede ’n aanduiding is van die diepte van ons geloof en toegewydheid, die vlak van ons geestelikheid, sowel as wat ons as “die belangriker dinge” beskou (Filippense 1:10). Die belangrikheid daarvan om ’n hartlike, liefdevolle verhouding met Jehovah op te bou, soos dié van ’n gehoorsame kind met ’n goedhartige vader, is ook beklemtoon. Ons het nie bloot ’n godsdiens nie—al is dit die ware godsdiens—maar ons wil sterk geloof bou, ‘asof ons God sien’.—Hebreërs 11:6, 27.

Die onderwerp van geestelike vooruitgang is verder bespreek in die toespraak “Laat jou vooruitgang duidelik wees”. Drie gebiede waarop hierdie vooruitgang gemaak kan word, is bespreek: (1) deur in kennis, begrip en wysheid te groei, (2) deur die vrugte van God se gees voort te bring en (3) deur ons verantwoordelikhede in die gesin na te kom.

Aan die einde van die dag se laaste toespraak, “Wandel in die progressiewe lig van God se Woord”, was byeenkomsgangers verheug om ’n nuwe boek, Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom I, te ontvang. Dit is die eerste van twee dele wat die Bybelboek Jesaja hoofstuk vir hoofstuk bespreek. “Die boek Jesaja het vandag ’n boodskap vir ons”, het die spreker gesê. Hy het verder gegaan: “Ja, baie van sy profesieë is destyds in Jesaja se tyd vervul. . . . Maar baie van Jesaja se profesieë word vandag vervul, en party sal in God se beloofde nuwe wêreld vervul word.”

Derde dag—Wees daders van Jehovah se woord

Die laaste dag van die byeenkoms het met ’n bespreking van die dagteks begin. Toe was daar die simposium: “Sefanja se betekenisvolle profesie vir diegene wat God se wil doen.” Die drie toesprake van hierdie simposium het getoon dat Jehovah benoudheid oor diegene sal bring wat nou weier om op sy waarskuwing ag te gee, soos hy in die dae van weerspannige Juda gedoen het. Omdat hulle teen God sondig, loop hulle hulpeloos rond soos blindes wat nie verlossing kan vind nie. Maar ware Christene bly Jehovah getrou soek, en hulle sal verborge bly op die dag van God se toorn. Daarbenewens geniet hulle selfs nou baie seëninge. Hulle word geseën met die geleentheid om die “suiwer taal” van Bybelwaarheid te praat (Sefanja 3:9). Die spreker het gesê: “Om die suiwer taal te praat, behels dus nie net dat ons die waarheid glo en dit aan ander leer nie, maar ook dat ons ons gedrag in ooreenstemming met God se wette en beginsels bring.”

Byeenkomsgangers het gretig gewag op die drama: “Waarskuwende voorbeelde vir ons dag.” Hierdie gekostumeerde drama het getoon hoe duisende Israeliete hulle lewe op die drumpel van die Beloofde Land verloor het omdat hulle Jehovah vergeet het en deur heidense vroue verlei is om aan hoerery en valse aanbidding deel te neem. Een van die hoofkarakters—Jamin—het dit aanvanklik moeilik gevind om te kies tussen die bekoring van die Moabitiese vroue en sy toegewydheid aan Jehovah. Die valse redenasies en bedrieglike denke van die goddelose Simri het sterk na vore gekom, asook die geloof en toegewydheid van Pinehas. Die gevaar van betrokkenheid by diegene wat nie vir Jehovah lief is nie, is baie duidelik uitgebeeld.

Die drama het die toon aangegee vir die toespraak wat daarop gevolg het: “Moenie vergeetagtige hoorders word nie.” ’n Ontleding van 1 Korintiërs 10:1-10 het getoon dat Jehovah ons gehoorsaamheid toets om vas te stel of ons ’n erfdeel in die nuwe wêreld waardig is. Party laat toe dat vleeslike begeertes geestelike doelwitte selfs nou verdring, terwyl ons op die drumpel van die nuwe wêreld staan. Almal is aangemoedig om nie die geleentheid te verbeur om ‘in Jehovah se rus in te gaan’ nie.—Hebreërs 4:1.

Die openbare toespraak het gehandel oor: “Waarom ons op God se wonderlike werke ag moet gee.” Jehovah se “wonderlike werke” lewer bewys van sy wysheid en sy mag oor die fisiese skepping oral om ons (Job 37:14, NW). ’n Aantal diep vrae van Jehovah was genoeg om Job met ontsag te vervul vir die krag van die almagtige Skepper. Jehovah sal ook toekomstige “wonderlike werke” doen ten behoewe van sy getroue knegte. Die spreker het só afgesluit: “Ons het beslis oorvloedige rede om op Jehovah se wonderlike werke ag te gee—die dinge wat hy in die verlede gedoen het, wat hy vandag om ons in die skepping doen en wat hy belowe om in die nabye toekoms te doen.”

Ná ’n opsomming van die Wagtoring-studieartikel vir die week is die laaste toespraak van die byeenkoms gehou. Hierdie treffende toespraak, met die tema “Toon groot waardering vir jou voorreg as ’n dader van God se woord”, het beklemtoon dat dit ’n eer is om daders van God se woord te wees (Jakobus 1:22). Die gehoor is daaraan herinner dat ons voorreg as daders van God se woord uniek is, en hoe langer ons dit geniet, hoe groter word ons waardering daarvoor. Almal in die gehoor is aangemoedig om die goeie aansporing wat hulle by hierdie streekbyeenkoms gekry het, te weerspieël in hulle begeerte om in voller mate daders van God se woord te wees. Dit is die enigste manier om die grootste geluk moontlik te ondervind.

[Venster/Prent op bladsy 25]

Jy kán God se vriend wees!

Vrydagmiddag is ’n nuwe brosjure met die titel Jy kán God se vriend wees! vrygestel. Daar is ’n groot behoefte aan vereenvoudigde Bybelonderrig in baie wêrelddele, en hierdie brosjure sal gebruik word om in daardie behoefte te voorsien. Dit sal ’n groot seën wees vir mense met beperkte skoolopleiding of leesvermoë.

[Venster/Prente op bladsy 26]

Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom

Byeenkomsgangers was verheug toe hulle Deel I van die tweedelige stel Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom ontvang het. Hierdie publikasie beklemtoon die praktiese waarde van Jesaja se profesie vir ons dag.