Hoe die Bestuursliggaam van ’n wetlike korporasie verskil
Hoe die Bestuursliggaam van ’n wetlike korporasie verskil
JAARVERGADERINGE van die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania word al sedert Januarie 1885 gehou. Toe die insameling van gesalfde Christene in die laat 19de eeu plaasgevind het, het die direkteure en ampsdraers van hierdie korporasie die hemelse hoop gehad. Trouens, dit was nog amper altyd die geval.
Daar was een uitsondering. In 1940 is Hayden C. Covington—wat destyds die Genootskap se regsverteenwoordiger en een van die “ander skape”, met die aardse hoop, was—as ’n direkteur van die Genootskap verkies (Johannes 10:16). Hy het van 1942 tot 1945 as die Genootskap se visepresident gedien. Op daardie stadium het broer Covington as direkteur bedank en hom onderwerp aan wat destyds na Jehovah se wil gelyk het—dat alle direkteure en ampsdraers van die Pennsilvanië-korporasie gesalfde Christene moet wees. Lyman A. Swingle het Hayden C. Covington op die direksie vervang, en Frederick W. Franz is as visepresident verkies.
Waarom het Jehovah se knegte gedink dat alle direkteure en ampsdraers van die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania gesalfde Christene moet wees? Omdat die direksie en ampsdraers van die Pennsilvanië-korporasie op daardie stadium nou verbonde was aan die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, wat nog altyd net uit geesgesalfde manne bestaan het.
’n Geskiedkundige jaarvergadering
By die jaarvergadering wat op 2 Oktober 1944 in Pittsburgh gehou is, het die lede van die Pennsilvanië-korporasie ses resolusies aangeneem wat sy handves gewysig het. Die handves het bepaal dat stemaandele verleen word aan diegene wat fondse bydra vir die Genootskap se werk, maar die derde wysiging het hierdie bepaling tersyde gestel. ’n Verslag oor daardie jaarvergadering het gesê: “Lidmaatskap van die Genootskap sal tot 500 beperk wees . . . Elkeen wat gekies word, moet ’n voltydse kneg van die Genootskap of ’n deeltydse kneg van ’n groep [gemeente] van Jehovah se getuies wees en moet die gees van die Here openbaar.”
Daarna moes direkteure van die Genootskap deur individue verkies word wat ten volle aan Jehovah toegewy is, ongeag die hoeveelheid geld wat hulle bygedra het om die Koninkrykswerk te bevorder. Dit was in ooreenstemming met die progressiewe verfyning wat in Jesaja 60:17 (NW) voorspel is, waar ons lees: “In die plek van die koper sal ek goud bring, en in die plek van die yster sal ek silwer bring, en in die plek van die hout koper, en in die plek van die klippe yster; en ek sal vrede as jou opsieners aanstel en regverdigheid as jou taakgewers.” Deur van “opsieners” en “taakgewers” te praat, het hierdie profesie na verbeteringe in organisatoriese prosedures onder Jehovah se volk verwys.
Hierdie belangrike stap om die organisasie meer teokraties te maak, is geneem aan die einde van die “tweeduisend-driehonderd aande en môres”, wat in Daniël 8:14 gemeld word. Die “heiligdom” is toe “in sy regte staat herstel”.
Ná die geskiedkundige jaarvergadering in 1944 moes ’n baie belangrike vraag egter nog beantwoord word. Het die feit dat die Bestuursliggaam destyds nou verbonde was aan die Pennsilvanië-korporasie se direksie van sewe lede, beteken dat die Bestuursliggaam nooit uit meer as sewe gesalfde Christene kon bestaan nie? Verder, word lede van die Bestuursliggaam elke jaar by die jaarvergadering deur korporasielede
verkies, aangesien die direkteure deur die lede van die korporasie verkies word? Is die direkteure en ampsdraers van die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania en die lede van die Bestuursliggaam een en dieselfde, of is hulle verskillend?Nog ’n onvergeetlike jaarvergadering
Hierdie vrae is tydens die jaarvergadering beantwoord wat op 1 Oktober 1971 gehou is. By daardie geleentheid het een van die sprekers gemeld dat die bestuursliggaam van “die getroue en verstandige slaaf” honderde jare voor die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania bestaan het (Matteus 24:45-47). ’n Bestuursliggaam is op Pinkster 33 G.J. gevorm, meer as 18 eeue voordat die Pennsilvanië-korporasie gestig is. Aanvanklik het die bestuursliggaam nie uit 7 manne bestaan nie, maar uit 12 apostels. Klaarblyklik is die aantal lede later vermeerder, want “die apostels en ouer manne in Jerusalem” het die leiding geneem.—Handelinge 15:2.
In 1971 het dieselfde spreker verduidelik dat die lede van die Wagtoringgenootskap nie die lede van die gesalfde Bestuursliggaam kan verkies nie. Waarom nie? “Want”, het hy gesê, “die bestuursliggaam van die ‘slaafklas’ word nie deur enige mens aangestel nie. Hulle word deur . . . Jesus Christus aangestel, die Hoof van die ware Christengemeente en die Here en Meester van die ‘getroue en verstandige slaaf’-klas.” Dit is dus duidelik dat die lede van die Bestuursliggaam nie deur die lede van enige wetlike korporasie verkies kan word nie.
Die spreker het toe hierdie baie belangrike punt gemaak: “Die bestuursliggaam het nie ampsdraers soos die Genootskap se Direksie, naamlik president, visepresident, sekretaris-tesourier en assistent-sekretaris-tesourier, nie. Dit het slegs ’n voorsitter.” Die president van die Pennsilvanië-korporasie was ook baie jare lank die vernaamste lid van die Bestuursliggaam. Dit sou nie meer so wees nie. Hoewel die lede van die Bestuursliggaam nie dieselfde ondervinding of vermoëns het nie, sou hulle almal gelyke verantwoordelikheid hê. Die spreker het bygevoeg: “Enige lid van die bestuursliggaam kan die voorsitter daarvan wees sonder dat hy terselfdertyd die president van die . . . Genootskap is . . . Dit hang alles af van die rotasiestelsel vir die voorsitterskap van die bestuursliggaam.”
By daardie onvergeetlike jaarvergadering in 1971 is ’n duidelike onderskeid getref tussen die geesgesalfde lede van die Bestuursliggaam en die direkteure van die Pennsilvanië-korporasie. Lede van die Bestuursliggaam het nogtans voortgegaan om as direkteure en ampsdraers van die Genootskap te dien. Maar vandag ontstaan die vraag: Is daar enige skriftuurlike rede waarom die direkteure van die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania lede van die Bestuursliggaam moet wees?
Die antwoord is nee. Die Pennsilvanië-korporasie is nie die enigste wetlike liggaam wat deur Jehovah se Getuies gebruik word nie. Daar is ander. Een hiervan is die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Incorporated. Dit help met ons werk in die Verenigde State. Jehovah het beslis hierdie korporasie geseën, hoewel sy direkteure en ampsdraers hoofsaaklik van die “ander skape” is. Die International Bible Students Association word in Brittanje gebruik. Ander wetlike liggame word gebruik om Koninkryksbelange in ander lande te bevorder. Hulle werk almal saam en dra daartoe by dat die goeie nuus wêreldwyd verkondig word. Ongeag waar hulle gesetel is of wie as direkteure of ampsdraers dien, hierdie liggame word teokraties gerig en deur die Bestuursliggaam gebruik. Hierdie liggame het dus toegewese take om ter bevordering van Koninkryksbelange te verrig.
Dit is nuttig vir ons om wetlike liggame te hê. Ons gehoorsaam sodoende plaaslike en landswette, soos God se Woord vereis (Jeremia 32:11; Romeine 13:1). Wetlike liggame help met ons werk om Bybels, boeke, tydskrifte, brosjures en ander materiaal te druk en sodoende die Koninkryksboodskap te verkondig. Sulke liggame dien ook as wetlike instrumente om sake in verband met eiendomsbesit, noodlenigingspogings, kontrakte vir die gebruik van byeenkomsfasiliteite, ensovoorts te hanteer. Ons is dankbaar vir die dienste van sulke wetlike liggame.
Jehovah se naam word na vore gebring
In 1944 is Artikel II van die handves van die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania gewysig om die oogmerke van hierdie korporasie te beklemtoon. Volgens die handves sluit die doelwitte van die Genootskap hierdie belangrike oogmerk in: “Om die evangelie van God se koninkryk in die hande van Christus Jesus aan alle nasies as ’n getuienis tot die naam, woord en oppergesag van die almagtige God JEHOVAH te verkondig.”
Sedert 1926 het ‘die getroue slaaf’ Jehovah se naam na vore gebring. Die jaar 1931, toe die Bybelstudente die naam Jehovah se Getuies aangeneem het, is veral noemenswaardig (Jesaja 43:10-12). Publikasies van die Genootskap wat die aandag op God se naam gevestig het, sluit die volgende boeke in: Jehova (1934), “Laat u Naam geheilig word” (1966) en “Die nasies sal weet dat ek Jehovah is”—Hoe? (1974).
Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif, wat in 1960 in sy geheel in Engels uitgegee is, verdien spesiale vermelding. Dit bevat Jehovah se naam op elke plek waar die Tetragrammaton in die Hebreeuse Geskrifte verskyn. Hierdie vertaling gebruik ook die Goddelike naam op 237 plekke in die Christelike Griekse Geskrifte waar ’n noukeurige ondersoek getoon het dat dit geregverdig is. Hoe dankbaar is ons tog dat Jehovah die “slaaf” en sy Bestuursliggaam op verskillende maniere toegelaat het om hulle uitgewersfasiliteite en wetlike liggame te gebruik om sy naam wêreldwyd bekend te maak!
Verspreiding van God se Woord word bevorder
Jehovah se volk het nog altyd sy naam verkondig en sy Woord verdedig deur miljoene Bybelpublikasies sowel as Bybels uit te gee en te versprei. In die vroeë 1900’s het die Wagtoringgenootskap die kopiereghouer geword van The Emphatic Diaglott, Benjamin Wilson se Grieks-Engelse interlineêre weergawe van die Christelike Griekse Geskrifte. Die Genootskap het die Bybelstudente se weergawe van die King James Version uitgegee, wat ’n aanhangsel van 500 bladsye ingesluit het. In 1942 is die King James Version met kruisverwysings uitgegee. Daarna, in 1944, het die Genootskap die American Standard Version van 1901, wat die Goddelike naam gebruik, begin druk. Die naam van Jehovah was ook ’n kenmerk van The Bible in Living English, deur Stephen T. Byington, wat in 1972 deur die Genootskap uitgegee is.
Die wetlike liggame wat deur Jehovah se Getuies gebruik word, het gehelp om al hierdie Bybelvertalings te druk en te versprei. Maar selfs merkwaardiger is die noue samewerking tussen die Wagtoringgenootskap en die groep gesalfde Getuies van Jehovah wat die New World Bible Translation Committee uitmaak. Ons is verheug dat daar tot op hede meer as 106 400 000 eksemplare van hierdie vertaling in sy geheel of ten dele in 38 tale gedruk is. Die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania is waarlik ’n Bybelgenootskap!
‘Die getroue slaaf’ is ‘oor al sy heer se besittings aangestel’. Dit sluit fasiliteite by die hoofkwartier in die staat New York, VSA, en die 110 takkantore regoor die wêreld in. Die lede van die slaafklas weet dat hulle verantwoording sal moet doen vir die manier waarop hulle gebruik gemaak het van wat aan hulle toevertrou Matteus 25:14-30). Maar dit verhinder nie die ‘slaaf’ om bekwame opsieners van die “ander skape” toe te laat om na wetlike en administratiewe verantwoordelikhede om te sien nie. Trouens, dit stel lede van die Bestuursliggaam in staat om meer tyd “aan gebed en aan die bediening van die woord” te wy.—Handelinge 6:4.
is (Solank die toestande in hierdie wêreld dit toelaat, sal die Bestuursliggaam, wat “die getroue en verstandige slaaf” verteenwoordig, wetlike liggame gebruik. Dit is gerieflik om van hulle gebruik te maak, maar hulle is nie onontbeerlik nie. As ’n wetlike liggaam deur ’n staatsbesluit ontbind word, sal die predikingswerk ten spyte daarvan voortgaan. Selfs nou, in lande waar beperkings bestaan en geen wetlike liggame gebruik word nie, word die Koninkryksboodskap verkondig, dissipels gemaak en neem die teokrasie steeds toe. Dit vind plaas omdat Jehovah se Getuies plant en natgooi en ‘God dit deurentyd laat groei’.—1 Korintiërs 3:6, 7.
Wanneer ons na die toekoms kyk, is ons vol vertroue dat Jehovah na die geestelike en materiële behoeftes van sy volk sal omsien. Hy en sy Seun, Jesus Christus, sal voortgaan om die hemelse leiding en ondersteuning te voorsien wat nodig is om die Koninkrykspredikingswerk te voltooi. Natuurlik word alles wat ons as God se knegte bereik ‘deur Jehovah se gees’ gedoen, en “nie deur ’n krygsmag of deur krag” nie (Sagaria 4:6, NW). Ons bid gevolglik vir God se hulp, in die wete dat ons die werk wat hy ons gegee het om in hierdie tyd van die einde te doen met Jehovah se hulp kan voltooi!