Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hou tred met Jehovah se organisasie

Hou tred met Jehovah se organisasie

Hou tred met Jehovah se organisasie

“Mag die God van vrede . . . julle met alle goeie dinge toerus om sy wil te doen.”—HEBREËRS 13:20, 21.

1. Wat is die wêreld se bevolkingsyfer, en hoeveel is lede van sekere godsdienste?

 IN DIE jaar 1999 het die wêreldbevolking tot sesmiljard gestyg! Van hierdie syfer, sê The World Almanac, is 1 165 000 000 Moslems, 1 030 000 000 Rooms-Katolieke, 762 000 000 Hindoes, 354 000 000 Boeddhiste, 316 000-000 Protestante, en 214 000 000 is van die Ortodokse geloof.

2. Wat kan gesê word van die godsdienssituasie wat vandag bestaan?

2 Met die oog op die godsdiensverdeeldheid en -verwarring wat vandag bestaan, kan al hierdie miljoene dan in ooreenstemming met God se wil optree? Nee, “want God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede” (1 Korintiërs 14:33). Wat dan van die internasionale broederskap van Jehovah se knegte? (1 Petrus 2:17). ’n Noukeurige ondersoek bewys dat ‘die God van vrede hulle met alle goeie dinge toerus om sy wil te doen’.—Hebreërs 13:20, 21.

3. Wat het op Pinkster 33 G.J. in Jerusalem gebeur, en waarom?

3 Die aantal mense wat met Jehovah se Getuies omgaan, is natuurlik nie ’n maatstaf om te bepaal of hulle God se guns geniet nie; statistiek beïndruk God ook nie. Hy het nie die Israeliete uitgekies omdat hulle “meer was” as al die ander volke nie. Hulle was in werklikheid “die geringste” van die volke (Deuteronomium 7:7). Maar omdat Israel ontrou was, het Jehovah op Pinkster 33 G.J. sy guns op die nuwe gemeente laat oorgaan wat uit Jesus Christus se volgelinge bestaan het. Hulle is met Jehovah se heilige gees gesalf en het ywerig uitgegaan om die waarheid omtrent God en Christus aan ander te verkondig.—Handelinge 2:41, 42.

Voortdurende vooruitgang

4. Waarom sou jy sê dat die vroeë Christengemeente voortdurend vooruitgegaan het?

4 Gedurende die eerste eeu het die Christengemeente voortdurend vooruitgang gemaak, baanbrekerswerk in nuwe gebiede gedoen, dissipels gemaak en dieper insig in God se voornemens verkry. Die vroeë Christene het tred gehou met die geestelike verligting wat deur Goddelik geïnspireerde briewe voorsien is. Die besoeke van die apostels en ander het hulle gemotiveer sodat hulle hulle bediening uitgevoer het. Dit alles staan vir ons in die Christelike Griekse Geskrifte opgeteken.—Handelinge 10:21, 22; 13:46, 47; 2 Timoteus 1:13; 4:5; Hebreërs 6:1-3; 2 Petrus 3:17, 18.

5. Waarom maak God se organisasie vandag vooruitgang, en waarom moet ons daarmee tred hou?

5 Soos die vroeë Christene het Jehovah se hedendaagse Getuies ’n klein begin gehad (Sagaria 4:8-10). Van die laaste deel van die 19de eeu af was daar duidelike bewyse dat God se gees op sy organisasie rus. Omdat ons nie op mensekrag staatgemaak het nie, maar op die leiding van die heilige gees, het ons aangehou om vooruitgang te maak wat ons begrip van die Skrif en die uitvoering van God se wil betref (Sagaria 4:6). Noudat ons in “die laaste dae” lewe, is dit noodsaaklik dat ons tred hou met Jehovah se progressiewe organisasie (2 Timoteus 3:1-5). As ons dit doen, help dit ons om ons hoop lewend te hou en van God se opgerigte Koninkryk te getuig voor die finale einde oor hierdie stelsel van dinge kom.—Matteus 24:3-14.

6, 7. Na watter drie gebiede gaan ons kyk waarop Jehovah se organisasie vooruitgegaan het?

6 In ons geledere is daar persone wat in die 1920’s, 30’s en 40’s met Jehovah se organisasie begin assosieer het. Wie van ons sou ons gedurende daardie vroeë jare die merkwaardige vermeerdering en die progressiewe ontwikkeling van die organisasie tot in ons tyd kon voorstel? Dink aan die mylpale wat in ons hedendaagse geskiedenis bereik is! Dit is beslis geestelik lonend om na te dink oor wat Jehovah deur middel van sy teokraties georganiseerde volk vermag het.

7 Dawid van die ou tyd was diep beïndruk toe hy oor Jehovah se wonderlike werke nagedink het. “Wil ek dit verkondig en uitspreek,” het hy gesê, “dan is dit te veel om te vertel” (Psalm 40:6). Ons ondervind dieselfde probleem, aangesien ons nie al die groot en lofwaardige dade wat Jehovah in ons tyd gedoen het, kan opnoem nie. Kom ons kyk nietemin na drie gebiede waarop Jehovah se organisasie vooruitgegaan het: (1) progressiewe geestelike verligting, (2) ’n verbeterde en uitgebreide bediening en (3) die tydige aanpassings in organisatoriese prosedures.

Dankbaar vir geestelike verligting

8. Wat het geestelike verligting ons, in ooreenstemming met Spreuke 4:18, in staat gestel om te onderskei aangaande die Koninkryk?

8 Spreuke 4:18 is beslis bewaarheid wat progressiewe geestelike verligting betref. Dit sê: “Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe.” Hoe dankbaar is ons tog vir die progressiewe geestelike verligting wat ons ondervind het! By die streekbyeenkoms in 1919 in Cedar Point, Ohio, is die aandag op God se Koninkryk gevestig. Jehovah gebruik die Koninkryk om sy naam te heilig en sy soewereiniteit te regverdig. Trouens, geestelike verligting het ons in staat gestel om te onderskei dat die Bybel, van Genesis tot Openbaring, getuig van Jehovah se voorneme om sy naam te heilig deur middel van die Koninkryk onder die heerskappy van sy Seun. Daarin lê die glorieryke hoop vir almal wat geregtigheid liefhet.—Matteus 12:18, 21.

9, 10. Wat is in die 1920’s geleer aangaande die Koninkryk en aangaande twee organisasies wat mekaar teëstaan, en hoe het dit ons gehelp?

9 By die streekbyeenkoms in 1922 in Cedar Point het die hoofspreker, J. F. Rutherford, God se volk aangespoor met die woorde: “Adverteer, adverteer, adverteer die Koning en sy koninkryk.” In die artikel “Geboorte van die nasie”, wat in The Watch Tower van 1 Maart 1925 gepubliseer is, is die aandag gevestig op die geestelike insig in profesieë wat na die oprigting van God se Koninkryk in 1914 gewys het. In die 1920’s is ook onderskei dat daar twee afsonderlike organisasies is wat mekaar teëstaan—Jehovah s’n en Satan s’n. Die stryd tussen hulle het begin, en ons sal slegs aan die wenkant wees as ons tred hou met Jehovah se organisasie.

10 Hoe het hierdie geestelike verligting ons gehelp? Aangesien God se Koninkryk en die Koning Jesus Christus geen deel van die wêreld is nie, kan ons ook nie ’n deel daarvan wees nie. Deur afgeskeie daarvan te bly, toon ons dat ons aan die kant van die waarheid is (Johannes 17:16; 18:37). Wanneer ons sien watter komplekse probleme hierdie goddelose wêreld teister, hoe dankbaar is ons tog dat ons geen deel van Satan se organisasie is nie! En hoe bevoorreg is ons tog om geestelike veiligheid in Jehovah se organisasie te geniet!

11. Watter skriftuurlike naam is in 1931 deur God se volk aangeneem?

11 By die streekbyeenkoms in 1931 in Columbus, Ohio, is die regte toepassing van Jesaja 43:10-12 gegee. Die Bybelstudente het die unieke naam Jehovah se Getuies aangeneem. Wat ’n groot voorreg is dit tog om God se naam bekend te maak sodat ander dit kan aanroep om gered te word!—Psalm 83:18, NW; Romeine 10:13.

12. Watter geestelike verligting aangaande die groot skare is in 1935 voorsien?

12 Voor die 1930’s was baie van God se volk ietwat onseker oor hulle hoop vir die toekoms. Party het in ’n mate begeer om hemelse lewe te ontvang, maar Bybelleringe van ’n paradysaarde het hulle gefassineer. Die opwindende nuus by die streekbyeenkoms in 1935 in Washington, DC, was dat die groot menigte, of groot skare, van Openbaring hoofstuk 7 ’n klas met ’n aardse hoop is. Sedertdien het die insameling van die groot skare met al hoe groter momentum geskied. Is ons nie dankbaar dat die identiteit van die groot skare nie ’n verborgenheid vir ons is nie? Die feit dat groot getalle mense uit alle nasies, stamme en tale werklik ingesamel word, motiveer ons om ons pas te versnel terwyl ons tred hou met Jehovah se organisasie.

13. Watter groot geskil is in 1941 by die streekbyeenkoms in St. Louis na vore gebring?

13 Die groot geskil waaroor die mensegemeenskap besorg moet wees, is in 1941 by die streekbyeenkoms in St. Louis, Missouri, na vore gebring. Dit is universele heerskappy, oftewel soewereiniteit. Dit is die geskil wat spoedig besleg moet word, en die groot en vreesinboesemende dag daarvoor is nou op hande! In 1941 is die aandag ook gevestig op die verwante geskil van onkreukbaarheid, wat ons die geleentheid gee om te bewys wat ons standpunt as individue is met betrekking tot God se soewereiniteit.

14. Wat is in 1950 by die internasionale byeenkoms geleer aangaande die vorste wat in Jesaja 32:1, 2 gemeld word?

14 By die internasionale byeenkoms in 1950 in die stad New York is die vorste van Jesaja 32:1, 2 duidelik geïdentifiseer. Dit was ’n opwindende oomblik toe broer Frederick Franz die onderwerp bespreek het en verduidelik het dat vorste van die nuwe aarde in ons midde is. By daardie byeenkoms en by daaropvolgende byeenkomste was daar talle flitse van geestelike lig (Psalm 97:11). Hoe dankbaar is ons tog dat ons pad “soos die lig van die môreglans [is], wat al helderder word tot die volle dag toe”!

Vooruitgang in ons bediening

15, 16. (a) Hoe het ons gedurende die 1920’s en 1930’s in ons bediening vooruitgegaan? (b) Watter publikasies het in onlangse dekades die Christelike bediening ’n hupstoot gegee?

15 ’n Tweede manier waarop Jehovah se organisasie vooruitgegaan het, het te doen met ons vernaamste werk—om die Koninkryk te verkondig en dissipels te maak (Matteus 28:19, 20; Markus 13:10). Om hierdie werk te verrig, het die organisasie ons voortdurend gehelp om te besef hoe belangrik dit is om ons bediening uit te brei. In 1922 is alle Christene aangespoor om aan die predikingswerk deel te neem. Dit is elkeen se plig om sy lig te laat skyn en dus ’n persoonlike aandeel daaraan te hê om van die waarheid te getuig (Matteus 5:14-16). In 1927 is daar begin om Sondae opsy te sit as ’n dag vir velddiens. Vanaf Februarie 1940 het dit ’n algemene gesig geword om op straat en in sakegebiede Getuies te sien wat Die Wagtoring en Vertroosting (nou Ontwaak!) vir mense aanbied.

16 Die Modelstudie-boekie is van 1937 af gebruik, en dit het beklemtoon hoe belangrik dit is om herbesoeke te doen om Bybelwaarheid aan ander te leer. In die daaropvolgende jare is groot klem op die Bybelstudiewerk gelê. Hierdie faset van die bediening is in 1946 ’n hupstoot gegee met die vrystelling van die boek “Laat God waaragtig wees” en in 1968 met die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe. Ons gebruik op die oomblik die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei. Wanneer ons hierdie materiaal met mense bespreek, lê dit ’n stewige skriftuurlike grondslag om dissipels te maak.

Vooruitgang met organisatoriese verfynings

17. Hoe het Jehovah se organisasie in ooreenstemming met Jesaja 60:17 vooruitgegaan?

17 ’n Derde manier waarop Jehovah se organisasie vooruitgegaan het, het te doen met organisatoriese verfynings. Volgens Jesaja 60:17 (NW) het Jehovah belowe: “In die plek van die koper sal ek goud bring, en in die plek van die yster sal ek silwer bring, en in die plek van die hout koper, en in die plek van die klippe yster; en ek sal vrede as jou opsieners aanstel en regverdigheid as jou taakgewers.” In ooreenstemming met hierdie profesie is stappe gedoen om beter toesig oor die Koninkrykspredikingswerk te hou en behoorlike leiding aan die kudde te gee.

18, 19. Watter organisatoriese verfynings was daar deur die jare heen?

18 In 1919 is ’n diensleier aangestel in elke gemeente wat gevra het om vir velddiens georganiseer te word. Dit het ons bediening in die veld ’n hupstoot gegee. Die verkiesing van ouer manne en diakens is in 1932 beëindig, sodat ons van toe af nie meer demokratiese metodes gevolg het nie. Nog ’n mylpaal is in 1938 bereik toe die manier waarop al die knegte in die gemeente aangestel is, meer in ooreenstemming gebring is met die reëlings vir teokratiese aanstellings in die vroeë Christengemeente (Handelinge 14:23; 1 Timoteus 4:14). In 1972 is opsieners en bedieningsknegte aangestel om te dien, soos sulke manne onder die vroeë Christene gedien het. Filippense 1:1 en ander tekste toon dat nie net een man as die opsiener van ’n gemeente gedien het nie, maar dat diegene wat aan die skriftuurlike vereistes vir opsieners voldoen ’n liggaam van ouer manne uitmaak.—Handelinge 20:28; Efesiërs 4:11, 12.

19 In 1975 is die reëling van komitees vir die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies ingestel om toesig te hou oor die wêreldwye bedrywighede van God se organisasie. Takkomitees is aangestel om toesig te hou oor die werk in hulle onderskeie gebiede. Sedertdien is aandag daaraan gegee om die werk by die hoofkantoor en by die takkantore van die Wagtoringgenootskap te vereenvoudig sodat almal “seker kan maak van wat die belangriker dinge is” (Filippense 1:9, 10). Die verantwoordelikhede van Christus se onderherders sluit in dat hulle die leiding in die evangelisasiewerk moet neem, in die gemeente moet onderrig en as herders behoorlik toesig oor die kudde van God moet hou.—1 Timoteus 4:16; Hebreërs 13:7, 17; 1 Petrus 5:2, 3.

Jesus se aktiewe leierskap

20. Wat moet ons oor Jesus se posisie erken as ons met Jehovah se organisasie tred wil hou?

20 As ons met Jehovah se progressiewe organisasie tred wil hou, moet ons Jesus Christus se godgegewe rol as “hoof van die gemeente” erken (Efesiërs 5:22, 23). Jesaja 55:4 (NW) is ook opmerkenswaardig, waar daar vir ons gesê word: “Kyk! As ’n getuie vir die volksgroepe het ek [Jehovah] hom gegee, as ’n leier en ’n aanvoerder vir die volksgroepe.” Ons het die versekering dat Jesus weet hoe om die leiding te gee. Hy ken ook sy skape en hulle dade. Trouens, toe hy die sewe gemeentes in Klein-Asië ondersoek het, het hy vyf keer gesê: “Ek ken jou dade” (Openbaring 2:2, 19; 3:1, 8, 15). Jesus ken ook ons behoeftes, net soos sy Vader, Jehovah. Voordat Jesus die modelgebed gegee het, het hy gesê: “God, julle Vader, weet watter dinge julle nodig het nog voordat julle hom vra.”—Matteus 6:8-13.

21. Hoe word Jesus se leierskap in die Christengemeente geopenbaar?

21 Hoe word Jesus se leierskap geopenbaar? Een manier is deur middel van Christenopsieners, die “gawes in die vorm van mense” (Efesiërs 4:8). Openbaring 1:16 toon dat gesalfde opsieners in Christus se regterhand is, onder sy beheer. Die reëling van ouer manne is vandag onder Jesus se beheer, hetsy hierdie manne ’n hemelse of ’n aardse hoop het. Soos daar in die vorige artikel verduidelik is, word hulle deur die heilige gees aangestel, in ooreenstemming met skriftuurlike vereistes (1 Timoteus 3:1-7; Titus 1:5-9). In die eerste eeu het ’n groep ouer manne in Jerusalem ’n bestuursliggaam gevorm wat toesig gehou het oor die gemeentes en die Koninkrykspredikingswerk oor die algemeen. Dieselfde voorbeeld word vandag in Jehovah se organisasie gevolg.

Hou tred!

22. Watter hulp voorsien die Bestuursliggaam?

22 Koninkryksbelange op die aarde is aan “die getroue en verstandige slaaf” toevertrou, wat deur die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies verteenwoordig word (Matteus 24:45-47). Die Bestuursliggaam het hoofsaaklik die verantwoordelikheid om geestelike onderrigting en leiding aan die Christengemeente te voorsien (Handelinge 6:1-6). Maar wanneer medeaanbidders deur natuurrampe getref word, vra die Bestuursliggaam een of meer regsliggame om noodleniging te voorsien en om beskadigde huise en Koninkryksale te herstel of te herbou. As sekere Christene wreed behandel of vervolg word, word stappe gedoen om hulle geestelik op te bou. En “in moeilike tye” word alles moontlik gedoen om met die predikingswerk voort te gaan.—2 Timoteus 4:1, 2.

23, 24. Wat voorsien Jehovah voortdurend, ongeag wat met sy volk gebeur, en wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

23 Ongeag wat met Jehovah se volk gebeur, hy voorsien voortdurend geestelike voedsel en die nodige leiding. God gee ook vir die verantwoordelike broers onderskeidingsvermoë en insig om voor te berei vir verdere vooruitgang en verfynings in die organisasie se teokratiese reëlings (Deuteronomium 34:9; Efesiërs 1:16, 17). Jehovah voorsien vir seker wat ons nodig het sodat ons ons opdrag om dissipels te maak kan vervul en ons bediening regoor die wêreld kan uitvoer.—2 Timoteus 4:5.

24 Ons het die vaste vertroue dat Jehovah nooit sy getroue volk sal verlaat nie; hy sal hulle gedurende die komende “groot verdrukking” verlos (Openbaring 7:9-14; Psalm 94:14; 2 Petrus 2:9). Ons het alle rede om tot die einde toe die vertroue te behou wat ons aan die begin gehad het (Hebreërs 3:14). Laat ons derhalwe vasbeslote wees om tred te hou met Jehovah se organisasie.

Hoe sal jy antwoord?

• Waarom kan ons sê dat Jehovah se organisasie steeds vooruitgaan?

• Watter bewyse is daar dat God se volk progressiewe geestelike verligting geniet?

• Hoe was daar verbeterings in die Christelike bediening?

• Watter tydige aanpassings is in organisatoriese prosedures onder Jehovah se knegte gemaak?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 17]

Soos Dawid kan ons nie al Jehovah se wonderlike werke opnoem nie

[Prent op bladsy 18]

God se kudde het baat gevind by tydige aanpassings in organisatoriese prosedures