Jehovah Se Getuies—Gaan vooruit met vaste oortuiging!
Jehovah Se Getuies—Gaan vooruit met vaste oortuiging!
Verslag Van Die Jaarvergadering
IN HIERDIE tye van skeptisisme en twyfel staan Jehovah se Getuies uit as Christene met vaste oortuiging. Dit het duidelik geword by die jaarvergadering van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië wat op Saterdag, 7 Oktober 2000, in die Jersey City-Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies, in New Jersey, gehou is. a
In sy inleidingskommentare het die voorsitter, John E. Barr, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, gesê: “Van al die miljarde mense op die aarde weet en glo ons dat Jehovah se geliefde Seun, Christus Jesus, nou in die hemel gekroon is en te midde van sy vyande regeer.” Bewyse van sulke vaste oortuiging is gelewer in ses opwindende verslae van oor die hele wêreld.
Spiritisme word in Haïti deur Bybelwaarheid oorwin
Spiritisme is baie algemeen in Haïti. “Gewoonlik”, het die Takkomitee-koördineerder John Norman gesê, “begin mense voedoe beoefen om hulleself te beskerm.” Een toordokter het hieroor begin twyfel toe hy sy been in ’n ongeluk verloor het. ‘Hoe kan dit met my gebeur as ek deur geeste beskerm word?’ het hy gewonder. Hierdie man is, soos baie ander, deur Jehovah se Getuies die waarheid geleer en is gehelp om van spiritisme weg te breek. Die potensiaal vir groei in Haïti word getoon deur die feit dat vier maal soveel mense as die aantal Koninkryksverkondigers in daardie land op 19 April 2000 die herdenking van Christus se dood bygewoon het.
Ywer in Korea se groot veld
In Korea is 40 persent van Jehovah se Getuies in die voltydse bediening. “Met hierdie enorme leër”, het die Takkomitee-koördineerder Milton Hamilton gesê, “word ons gebied van meer as 47 miljoen mense een keer per maand gedek.” In die gemeentes waar gebaretaal gebruik word, is die groei veral merkwaardig. In een kring waar gebaretaal gebruik word, word 800 tuisbybelstudies gehou. Dit is gemiddeld een studie per verkondiger. Ongelukkig word jong broers nog steeds weens hulle neutraliteit opgesluit. Maar hierdie getroue Christene word goed behandel, en hulle kry dikwels werk waarin betroubaarheid noodsaaklik is.
Mexiko hou tred met die groei
’n Hoogtepunt van 533 665 Koninkryksverkondigers het in Augustus 2000 velddiens in Mexiko gerapporteer. Meer as drie keer soveel het die Gedenkmaal bygewoon. “Ons doelwit vanjaar is om nog 240 Koninkryksale te bou”, het die Takkomitee-koördineerder Robert Tracy gesê. “Maar”, het hy bygevoeg, “ons het nog baie meer nodig.”
Die jongmense onder Jehovah se Getuies in Mexiko is voorbeeldig. Aangaande ’n sekere jong persoon het ’n Katolieke priester gesê: “Ek sou graag net één soos hy onder my volgelinge wou hê. Ek bewonder hierdie mense vir hulle wilskrag en verstandige gebruik van die Bybel. Hulle het God al verdedig, selfs ten koste van hulle lewe.”
Onkreukbaarheid te midde van onrus in Sierra Leone
Sedert burgeroorlog in April 1991 in Sierra Leone uitgebreek het, is duisende mense al doodgemaak, beseer of vermink. “Oorlog en ontberinge het ’n diepgaande uitwerking op mense gehad”, het die Takkomitee-koördineerder Bill Cowan in sy verslag gesê. “Baie mense wat nie op ons boodskap ag geslaan het nie, luister nou met belangstelling. Dit is nie ongewoon vir mense om sommer van die straat af in ons Koninkryksale in te stap om hulle eerste vergadering by te woon nie. Mense keer die broers dikwels op straat voor en vra dat ’n Bybelstudie met hulle gehou word.” Ten spyte van die land se voortgesette onbestendigheid dra die Koninkrykspredikingswerk in Sierra Leone vrug.
Enorme bouprogram in Suid-Afrika
Die gebied waarna die takkantoor in Suid-Afrika omsien, het tans ’n hele paar duisend Koninkryksale nodig. Honderde sale is alreeds gebou. “Ons broers vergader nie meer, soos vroeër, in ’n plakkershuis of onder ’n boom nie, maar eerder in ’n geskikte plek met ordentlike sitplek”, het John Kikot, ’n lid van die Takkomitee, gesê. “Hoewel die meeste van hierdie Koninkryksale redelik beskeie is, staan hulle gewoonlik uit as die mooiste geboue in hulle gebied. Daar is in sommige gebiede gevind dat die gemeente in die daaropvolgende jaar meer as verdubbel ná ’n Koninkryksaal gebou is.”
’n Nuwe geslag Getuies in die Oekraïne
Gedurende die 2000-diensjaar het hierdie land ’n hoogtepunt van 112 720 verkondigers gehad. Meer as 50 000 het Bybelwaarheid gedurende die afgelope vyf jaar geleer. “Jehovah het waarlik ’n nuwe, jong geslag van Getuies ingesamel om sy naam te verkondig!” het John Didur, koördineerder van die Takkomitee, gesê. “Gedurende die afgelope twee jaar”, het hy bygevoeg, “het ons meer as 50 miljoen tydskrifte versprei, wat gelykstaande is aan die bevolking van die land. Ons ontvang elke maand gemiddeld duisend briewe van belangstellendes wat meer inligting wil hê.”
Ander treffende aspekte van die program
Daniel Sydlik, ’n lid van die Bestuursliggaam, het ’n boeiende toespraak gelewer. Die artikel “Hoe die Bestuursliggaam van ’n wetlike korporasie verskil”, wat in hierdie tydskrif verskyn, is op daardie insiggewende toespraak gebaseer.
Theodore Jaracz van die Bestuursliggaam het ’n gedagteprikkelende toespraak gehou met die titel “Opsieners en bedieningsknegte word teokraties aangestel”. Een van die artikels wat in hierdie tydskrif verskyn, is op daardie onderwerp gebaseer.
Die jaarvergadering het ook ’n interessante toespraak deur David Splane, ’n lid van die Bestuursliggaam, ingesluit wat gehandel het oor die jaarteks vir 2001. Dit is op die apostel Paulus se woorde gebaseer wat sê: ‘Staan in volkomenheid en met vaste oortuiging in die hele wil van God’ (Kolossense 4:12). Jehovah se Getuies oor die hele wêreld is vasbeslote om dit te doen terwyl hulle getrou die goeie nuus van God se Koninkryk wêreldwyd verkondig.—Matteus 24:14.
[Voetnote]
a ’n Aantal plekke was elektronies in verbinding met die byeenkomssaal, wat die totale bywoningsyfer op 13 082 te staan gebring het.