Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Opsieners en bedieningsknegte word teokraties aangestel

Opsieners en bedieningsknegte word teokraties aangestel

Opsieners en bedieningsknegte word teokraties aangestel

“Let op julleself en op die hele kudde, waaronder die heilige gees julle as opsieners aangestel het.”—HANDELINGE 20:28.

1, 2. Hoe word Jesaja 60:22 vandag vervul?

 JEHOVAH het lank gelede voorspel dat iets merkwaardigs in die tyd van die einde sou plaasvind. Deur die profeet Jesaja is daar gesê: “Die kleintjie sal duisend word, en die geringe ’n magtige nasie. Ek, Jehovah, sal dit op die regte tyd bespoedig.”—Jesaja 60:22NW.

2 Is daar bewyse dat hierdie profesie vandag vervul word? Ja, beslis! Gedurende die 1870’s is een gemeente van Jehovah se volk in Allegheny, Pennsilvanië, VSA, gestig. Van so ’n klein begin het tienduisende gemeentes voortgespruit en floreer hulle regoor die wêreld. Miljoene Koninkryksverkondigers—’n magtige nasie—is nou deel van meer as 91 000 gemeentes in 235 lande oor die wêreld. Dit bevestig onteenseglik dat Jehovah die insameling van ware aanbidders bespoedig voor die begin van die “groot verdrukking”, wat nou so naby is.—Matteus 24:21; Openbaring 7:9-14.

3. Wat beteken dit om ‘in die naam van die Vader, die Seun en die heilige gees’ gedoop te word?

3 Nadat hierdie miljoene ’n persoonlike toewyding aan Jehovah gemaak het, is hulle in ooreenstemming met Jesus se instruksies “in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees” gedoop (Matteus 28:19). Om “in die naam van die Vader” gedoop te word, beteken dat hierdie toegewyde individue Jehovah as hulle hemelse Vader en Lewegewer erken en hulle aan sy soewereiniteit onderwerp. Doop ‘in die naam van die Seun’ beteken dat hulle Jesus Christus as hulle Verlosser, Leier en Koning erken. Hulle erken ook die rol wat God se heilige gees, of werkende krag, speel om hulle lewe te rig. Dit toon dat hulle ‘in die naam van die heilige gees’ gedoop is.

4. Hoe word Christenbedienaars georden?

4 By hulle doop word nuwe dissipels as bedienaars van Jehovah God georden. Wie orden hulle? Die woorde wat in 2 Korintiërs 3:5 opgeteken staan, is in beginsel op hulle van toepassing: “Die feit dat ons voldoende bekwaam [as bedienaars] is, kom van God.” Daar is geen groter eer wat hulle te beurt kan val as om deur Jehovah God self georden te word nie! Ná hulle doop sal hulle voortgaan om geestelik te groei as bedienaars van die “goeie nuus”, solank hulle die leiding van God se gees aanvaar en aanhou om sy Woord toe te pas.—Matteus 24:14; Handelinge 9:31.

Teokraties aangestel—nie demokraties nie

5. Word Christenopsieners en -bedieningsknegte demokraties verkies? Verduidelik.

5 Geestelik volwasse toesig deur bekwame opsieners en die vaardige bystand van bedieningsknegte word vereis om na die geestelike behoeftes van die groeiende aantal bedrywige bedienaars om te sien (Filippense 1:1). Hoe word hierdie geestelike manne aangestel? Nie deur metodes soos dié wat in die Christendom gebruik word nie. Christenopsieners word byvoorbeeld nie demokraties verkies nie, dit wil sê deur die stemme te kry van die meerderheid mense wat met ’n gemeente omgaan. Hierdie aanstellings word eerder teokraties gedoen. Wat beteken dit?

6. (a) Wat is ’n ware teokrasie? (b) Waarom is die aanstellings van opsieners en bedieningsknegte teokraties?

6 Eenvoudig gestel, ’n ware teokrasie is heerskappy deur God. Getuies van Jehovah onderwerp hulle gewillig aan sy heerskappy en gee hulle samewerking sodat God se wil gedoen kan word (Psalm 143:10, NW; Matteus 6:9, 10). Aanstellings van Christenopsieners, of ouer manne, en bedieningsknegte is teokraties omdat die proses om hierdie verantwoordelike manne aan te beveel en aan te stel volgens God se reëling uitgevoer word, soos dit in die Heilige Skrif uiteengesit word. En as die “Hoof oor alles” het Jehovah natuurlik die reg om te bepaal hoe sy sigbare organisasie sal werk.—1 Kronieke 29:11; Psalm 97:9.

7. Hoe word Jehovah se Getuies regeer?

7 In teenstelling met baie godsdiensgroepe in die Christendom besluit Jehovah se Getuies nie self watter soort geestelike heerskappy hulle oor hulle wil hê nie. Hierdie opregte Christene probeer by Jehovah se standaarde bly. Opsieners onder hulle word nie deur die een of ander kongregasionalistiese, hiërargiese of presbiteriaanse vorm van kerkregering aangestel nie. As elemente van die wêreld met hierdie aanstellings probeer inmeng, weier Jehovah se volk om ’n kompromis aan te gaan. Hulle bly standvastig by die posisie wat die apostels in die eerste eeu so goed uitgespreek het toe hulle gesê het: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense” (Handelinge 5:29). Die Getuies onderwerp hulle dus in alle dinge aan God (Hebreërs 12:9; Jakobus 4:7). Dit dra God se goedkeuring weg as teokratiese prosedures gevolg word.

8. Hoe verskil demokratiese en teokratiese prosedures?

8 As knegte van die Groot Teokraat, Jehovah, sal dit vir ons goed wees om die verskille tussen demokratiese en teokratiese prosedures in gedagte te hou. Demokratiese prosesse verg gelyke verteenwoordiging en word dikwels gekenmerk deur verkiesingsveldtogte en verkiesing deur die meerderheid stemme. Sulke prosedures word nie in teokratiese aanstellings gebruik nie. Hierdie aanstellings kom nie van mense nie; dit kom ook nie van die een of ander regsliggaam nie. Paulus het blykbaar verwys na sy aanstelling deur Jesus en Jehovah as “’n apostel vir die nasies” toe hy vir die Galasiërs gesê het dat sy aanstelling “nie vanweë mense of deur ’n mens [is] nie, maar deur Jesus Christus en God die Vader, wat hom uit die dode opgewek het”.—Romeine 11:13; Galasiërs 1:1.

Deur die heilige gees aangestel

9. Wat sê Handelinge 20:28 oor die aanstelling van Christenopsieners?

9 Paulus het die opsieners wat in Efese gewoon het daaraan herinner dat hulle deur God aangestel is, deur middel van die heilige gees. Hy het gesê: “Let op julleself en op die hele kudde, waaronder die heilige gees julle as opsieners aangestel het, om as herders toesig te hou oor die gemeente van God, wat hy met die bloed van sy eie Seun gekoop het” (Handelinge 20:28). Daardie Christenopsieners moes hulle voortdurend deur die heilige gees laat lei terwyl hulle hulle pligte as herders van die kudde van God nagekom het. As ’n man wat in ’n amp aangestel is, nie meer aan die Goddelike standaard voldoen het nie, sou hy mettertyd deur die werking van die heilige gees uit sy posisie verwyder word.

10. Hoe is dit dat die heilige gees ’n vername rol in teokratiese aanstellings speel?

10 Hoe is dit dat die heilige gees ’n vername rol speel? Eerstens is die verslag wat die vereistes vir geestelike toesig uiteensit, deur die heilige gees geïnspireer. In Paulus se briewe aan Timoteus en Titus het hy die standaarde uiteengesit waaraan opsieners en bedieningsknegte moet voldoen. Hy het altesaam 16 verskillende vereistes gemeld. Opsieners moet byvoorbeeld onberispelik wees, matig in gewoontes, gesond van verstand, ordelik, gasvry, bekwaam om te onderrig en voorbeeldig as gesinshoofde. Hulle moet gebalanseerd wees wat die gebruik van alkohol betref, hulle moet nie liefhebbers van geld wees nie en hulle moet selfbeheersing beoefen. Hoë standaarde is eweneens gestel vir manne wat daarna streef om as bedieningsknegte aangestel te word.—1 Timoteus 3:1-10, 12, 13; Titus 1:5-9.

11. Wat is van die vereistes waaraan manne moet voldoen wat gemeentelike verantwoordelikhede nastreef?

11 ’n Hersiening van hierdie vereistes toon dat diegene wat die leiding neem in Jehovah se aanbidding, voorbeeldig moet wees in Christelike gedrag. Manne wat gemeentelike verantwoordelikhede nastreef, moet bewys lewer dat die heilige gees op hulle inwerk (2 Timoteus 1:14). Dit moet duidelik wees dat God se gees in hierdie manne die vrugte “liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing” voortbring (Galasiërs 5:22, 23). Hierdie vrugte sal in hulle handelinge met medegelowiges en ander geopenbaar word. Party sal natuurlik sekere vrugte van die gees baie goed aan die dag lê, terwyl ander dalk beter aan ander vereistes vir opsieners voldoen. Maar almal wat graag as opsieners of bedieningsknegte aangestel wil word, moet in hulle hele lewenswyse toon dat hulle geestelike manne is, wat aan die vereistes van God se Woord voldoen.

12. Van wie kan daar gesê word dat hulle deur die heilige gees aangestel is?

12 Toe Paulus ander aangespoor het om navolgers van hom te word, kon hy dit met vrymoedigheid van spraak doen omdat hy self ’n navolger was van Jesus Christus, wat ‘vir ons ’n voorbeeld gelaat het sodat ons sy voetstappe noukeurig kan volg’ (1 Petrus 2:21; 1 Korintiërs 11:1). Daar kan dus gesê word dat diegene wat aan die skriftuurlike vereistes voldoen wanneer hulle as opsieners of bedieningsknegte aangestel word, deur die heilige gees aangestel is.

13. Hoe help die heilige gees diegene wat manne aanbeveel om in die gemeente te dien?

13 Daar is nog ’n faktor wat aandui hoe die heilige gees werksaam is in die aanbeveling en aanstelling van opsieners. Jesus het gesê dat “die Vader in die hemel heilige gees gee aan dié wat hom vra” (Lukas 11:13). Wanneer die ouer manne in die plaaslike gemeente dus bymekaarkom om manne vir gemeentelike verantwoordelikhede aan te beveel, bid hulle dat God se gees hulle moet rig. Hulle baseer hulle aanbevelings op wat in God se geïnspireerde Woord gesê word, en die heilige gees stel hulle in staat om te onderskei of die individu wat vir die aanstelling oorweeg word, aan die skriftuurlike vereistes voldoen. Diegene wat die aanbevelings doen, moenie uitermate beïnvloed word deur uiterlike voorkoms, geleerdheid of natuurlike vermoëns nie. Wat vir hulle van die grootste belang moet wees, is of die persoon ’n geestelike man is, iemand na wie lede van die gemeente sonder huiwering sal gaan vir geestelike raad.

14. Wat leer ons uit Handelinge 6:1-3?

14 Hoewel liggame van ouer manne saam met reisende opsieners die broers aanbeveel wat as ouer manne en bedieningsknegte kan dien, word die eintlike aanstellings gedoen volgens die voorbeeld wat in die eerste eeu gestel is. By een geleentheid het ’n behoefte ontstaan aan geestelik bekwame manne om na ’n belangrike toewysing om te sien. Die bestuursliggaam het die volgende riglyn gegee: “Soek vir julle sewe manne van goeie getuienis onder julle uit, vol gees en wysheid, dat ons hulle oor hierdie nodige aangeleentheid kan aanstel” (Handelinge 6:1-3). Hoewel die plaaslike manne die aanbevelings gedoen het, is die aanstellings deur verantwoordelike manne in Jerusalem gedoen. ’n Soortgelyke patroon word vandag gevolg.

15. Hoe is die Bestuursliggaam betrokke by die aanstelling van manne?

15 Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies stel alle lede van Takkomitees regstreeks aan. Wanneer die Bestuursliggaam besluit wie hierdie groot verantwoordelikheid kan aanvaar, hou hulle Jesus se woorde in gedagte: “Van elkeen aan wie veel gegee is, sal veel geëis word; en van die een aan wie mense beheer oor veel gegee het, sal hulle meer as gewoonlik eis” (Lukas 12:48). Buiten die aanstelling van Takkomiteelede, stel die Bestuursliggaam ook Bethel- ouer manne en reisende opsieners aan. Maar hulle gee verantwoordelike broers die magtiging om namens hulle op te tree om sekere ander aanstellings te doen. Daar is ook hiervoor ’n skriftuurlike presedent.

‘Stel ouer manne aan, soos ek jou bevel gegee het’

16. Waarom het Paulus Titus in Kreta agtergelaat, en wat toon dit in verband met teokratiese aanstellings wat vandag gedoen word?

16 Paulus het vir sy medewerker Titus gesê: “Om dié rede het ek jou in Kreta agtergelaat, dat jy die dinge wat gebrekkig was, sou regstel en in stad na stad ouer manne sou aanstel, soos ek jou bevel gegee het” (Titus 1:5). Paulus het toe die vereistes uiteengesit waarna Titus moes oplet in manne wat vir hierdie aanstellings sou kwalifiseer. Daarom stel die Bestuursliggaam vandag bekwame broers by die takkantore aan om as hulle verteenwoordigers die aanstelling van ouer manne en bedieningsknegte te doen. Sorg word aan die dag gelê dat diegene wat as verteenwoordigers van die Bestuursliggaam optree, die skriftuurlike riglyne in verband met hierdie aanstellings duidelik verstaan en volg. Dit is dus onder leiding van die Bestuursliggaam dat bekwame manne aangestel word om regoor die wêreld in die gemeentes van Jehovah se Getuies te dien.

17. Hoe word aanbevelings vir die aanstelling van opsieners en bedieningsknegte deur ’n takkantoor behartig?

17 Wanneer aanbevelings vir die aanstelling van opsieners en bedieningsknegte na ’n takkantoor van die Wagtoringgenootskap gestuur word, vertrou ervare manne op God se gees vir leiding om die aanstellings te doen. Hierdie manne is bewus van hulle aanspreeklikheid in hierdie opsig en besef dat hulle nie iemand haastig die hande moet oplê nie, sodat hulle nie ’n aandeel aan sy sondes het nie.—1 Timoteus 5:22.

18, 19. (a) Hoe word sekere aanstellings oorgedra? (b) Hoe word die hele proses van aanbeveling en aanstelling uitgevoer?

18 Sekere aanstellings kan in ’n brief oorgedra word waarop daar ’n amptelike stempel van ’n regsliggaam is. So ’n brief kan gebruik word om meer as een broer in die gemeente aan te stel.

19 Teokratiese aanstellings kom van Jehovah af deur middel van sy Seun en God se sigbare aardse kanaal, “die getroue en verstandige slaaf” en sy Bestuursliggaam (Matteus 24:45-47). Die hele proses van aanbevelings en aanstellings word deur die heilige gees gerig, of gelei. Dit is die geval omdat die vereistes uiteengesit word in God se Woord, wat deur die heilige gees geïnspireer is, en die individu wat aangestel word, lewer bewys dat hy die vrugte van daardie gees voortbring. Derhalwe moet die aanstellings beskou word as iets wat deur die heilige gees gedoen word. Net soos opsieners en bedieningsknegte in die eerste eeu teokraties aangestel is, is dit vandag ook die geval.

Dankbaar vir Jehovah se leiding

20. Waarom het ons dieselfde gevoel as Dawid, soos dit in Psalm 133:1 opgeteken is?

20 In hierdie tyd van geestelike voorspoed en teokratiese toename in die Koninkrykspredikingswerk is ons dankbaar dat Jehovah hoofsaaklik verantwoordelik is vir die aanstelling van opsieners en bedieningsknegte. Hierdie skriftuurlike reëling help om God se hoë standaarde van regverdigheid onder ons as Jehovah se Getuies te handhaaf. Daarbenewens dra die Christelike gees en ywerige inspanning van hierdie manne grootliks by tot ons wonderlike vrede en eenheid as Jehovah se knegte. Soos die psalmis Dawid word ons derhalwe beweeg om uit te roep: “Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon!”—Psalm 133:1.

21. Hoe word Jesaja 60:17 vandag vervul?

21 Hoe dankbaar is ons tog vir Jehovah se leiding deur middel van sy Woord en heilige gees! En die woorde wat in Jesaja 60:17 (NW) opgeteken is, is beslis betekenisvol: “In die plek van die koper sal ek goud bring, en in die plek van die yster sal ek silwer bring, en in die plek van die hout koper, en in die plek van die klippe yster; en ek sal vrede as jou opsieners aanstel en regverdigheid as jou taakgewers.” Namate teokratiese prosedures progressief in voller mate onder Jehovah se Getuies toegepas is, het ons hierdie geseënde toestande dwarsdeur God se aardse organisasie ondervind.

22. Waarvoor is ons tereg dankbaar, en wat moet ons vasbeslote wees om te doen?

22 Ons is baie dankbaar vir die teokratiese reëlings wat ons het. En ons waardeer werklik die harde maar bevredigende werk wat deur teokraties aangestelde opsieners en bedieningsknegte gedoen word. Ons prys ons liefdevolle hemelse Vader met ons hele hart, want hy het ons geestelike voorspoed gegee en ons so ryklik geseën (Spreuke 10:22). Laat ons derhalwe vasbeslote wees om met Jehovah se organisasie tred te hou. Laat ons bowenal voortgaan om in eenheid saam te dien tot die eer, lof en verheerliking van Jehovah se groot en heilige naam.

Hoe sal jy antwoord?

• Waarom kan ons sê dat die aanstelling van opsieners en bedieningsknegte teokraties is, en nie demokraties nie?

• Hoe word verantwoordelike Christenmanne deur heilige gees aangestel?

• Hoe is die Bestuursliggaam betrokke by die aanstelling van opsieners en bedieningsknegte?

• Waarom moet ons teenoor Jehovah dankbaar wees wat teokratiese aanstellings betref?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 15]

Ouer manne en bedieningsknegte het die voorreg om te dien weens hulle teokratiese aanstelling