Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“’n Meesterlike projek”

“’n Meesterlike projek”

Staan in volkomenheid en met vaste oortuiging

“’n Meesterlike projek”

JEHOVAH SE GETUIES stel al van vroeg in hulle hedendaagse geskiedenis intens belang in een van Jesus Christus se profesieë: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:14). Namate 1914—die begin van “die laaste dae”—nader gekom het, het opregte Bybelstudente met vaste oortuiging ’n onvergelyklike wêreldwye onderrigtingsveldtog onderneem wat op die Heilige Skrif gebaseer is.—2 Timoteus 3:1.

Om hulle doelwit, die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus, te bereik, het hierdie knegte van Jehovah ’n nuwe, moedige en treffende metode begin gebruik. Om meer hieromtrent te leer, moet ons in die geskiedenis teruggaan.

’n Nuwe manier om die goeie nuus te verkondig

Dit is Januarie van die jaar 1914. Stel jou voor jy sit saam met 5 000 ander mense in ’n donker ouditorium in New York-stad. Voor jou is ’n groot rolprentskerm. ’n Man met grys hare geklee in ’n manel verskyn op die skerm. Jy het al stilprente gesien, maar hierdie man praat, en jy kan sy woorde hoor. Jy is by die première van ’n nuwe uitvinding op tegniese gebied, en die boodskap is uniek. Die spreker is Charles Taze Russell, die eerste president van die Wagtoringgenootskap, en die vertoning is die “Fotodrama van die Skepping”.

C. T. Russell het besef watter potensiaal rolprente het om groot skares mense te bereik. Daarom het hy in 1912 met die voorbereidingswerk vir die “Fotodrama van die Skepping” begin. Op die ou end was dit ’n agt uur lange rolprent- en skyfievertoning, in kleur en met klank.

Die “Fotodrama” wat uit vier dele bestaan het, het kykers geneem van die skepping af deur die mensegeskiedenis heen tot die klimaks van Jehovah God se voorneme met die aarde en die mensdom aan die einde van Christus se Duisendjarige Heerskappy. Eers jare later is dieselfde tegnologie met welslae op kommersiële gebied gebruik. Maar miljoene het die “Fotodrama van die Skepping” gratis gesien!

Uitgesoekte musiekopnames sowel as 96 toesprake op grammofoonplate is gereedgekry vir die “Fotodrama”. Stereoptiese skyfies is gemaak van kunswerke wat wêreldgeskiedenis uitbeeld. Honderde nuwe skilderye en sketse moes ook gemaak word. Party van die kleurskyfies en films is met groot sorg en geduld met die hand geverf. En dit is oor en oor gedoen, want daar is mettertyd 20 stelle van die vier dele gemaak. Sodoende kon ’n deel van die “Fotodrama” op ’n gegewe dag in 80 verskillende stede vertoon word!

’n Kykie agter die skerms

Wat het gedurende vertonings van die “Fotodrama” agter die skerms plaasgevind? “Die drama het met ’n rolprent van broer Russell begin”, het die Bybelstudent Alice Hoffman gesê. “Wanneer hy op die skerm verskyn en sy lippe begin beweeg het, het ’n grammofoon begin speel . . . , en ons kon na sy stem luister.”

Zola Hoffman het na die tydsverloopfotografie verwys en gesê: “Ek het met verwondering gekyk hoe die skeppingsdae uitgebeeld word. Daar was lelies wat geleidelik voor ons oë oopgegaan het.”

Karl F. Klein van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, wat baie lief vir musiek is, voeg by: “Terwyl hierdie drama vertoon is, het pragtige musiekstukke, soos Narcissus en Humoreske, gespeel.”

Daar was ook ander onvergeetlike voorvalle. “Soms is lagwekkende flaters begaan”, het Clayton J. Woodworth jr., vertel. “Eenkeer het die plaat ‘Flee as a Bird to Your Mountain’ gespeel, en op die skerm het die prent verskyn van ’n ontsaglike gigantosaurus wat voor die Vloed geleef het”!

Behalwe die gewone “Fotodrama van die Skepping” was daar kort voor lank ook stelle van die “Eurekadrama”. (Sien venster.) Een het bestaan uit opnames van lesings sowel as musiekopnames. Die ander het uit plate en skyfies bestaan. Hoewel die “Eurekadrama” nie die rolprentvertoning ingesluit het nie, is dit met welslae aangebied in gebiede wat nie so dig bevolk was nie.

’n Kragtige hulpmiddel om te getuig

Teen die einde van 1914 is die “Fotodrama” reeds vertoon aan gehore van altesaam oor die 9 000 000 mense in Noord-Amerika, Europa en Australië. Hoewel die Bybelstudente min was, het hulle die vaste oortuiging gehad wat nodig was om die goeie nuus met hierdie nuwe hulpmiddel te verkondig. Hulle het met graagte die nodige fondse bygedra om gepaste plekke vir hierdie vertonings te huur. Dit is dan hoe die “Fotodrama van die Skepping” grootliks gehelp het om God se Woord en voornemens aan kykers bekend te maak.

In ’n brief aan C. T. Russell het iemand geskryf: “Daardie eerste keer toe ek julle Drama bygewoon het, was die keerpunt van my lewe; eintlik moet ek sê die keerpunt in my kennis van die Bybel.” Iemand anders het gesê: “Ek het amper in die dryfsand van ongeloof beland, en ek voel dat ek gered is deur die ‘Fotodrama van die Skepping’ wat verlede somer hier vertoon is. . . . Ek geniet nou die vrede wat die wêreld nie kan gee nie en wat ek nie sal verruil vir al die rykdom van die wêreld nie.”

Demetrius Papageorge, wat baie jare lank ’n lid van die Genootskap se hoofkantoorpersoneel was, het dié kommentaar gelewer: “Die ‘Fotodrama’ was ’n meesterlike projek as ons in ag neem dat daar min Bybelstudente en net so min geld beskikbaar was. Jehovah se gees was beslis daaragter!”

[Venster/Prente op bladsy 8, 9]

Die “Eurekadrama”

Agt maande ná die première van die “Fotodrama” het die Genootskap besef dat daar ’n behoefte aan nog ’n weergawe is, wat die “Eurekadrama” genoem is. Terwyl die volle “Fotodrama” nog steeds in groot stede vertoon is, het die “Eurekadrama” dieselfde basiese boodskap in dorpies en plattelandse gebiede oorgedra. Een weergawe van die “Eurekadrama” is beskryf as ’n aanbieding wat “die susters ’n uitstekende geleentheid” gegee het om te getuig. Hoe so? Omdat die tas met die grammofoonplate maar net 14 kilogram geweeg het. Vir ’n vertoning moes ’n grammofoon natuurlik ook saamgedra word.