Ek dien waar ek nodig is
Lewensverhaal
Ek dien waar ek nodig is
SOOS VERTEL DEUR JAMES B. BERRY
Dit was 1939. Die Groot Depressie het lewe in die Verenigde State moeilik gemaak, en regoor Europa het daar oorlog gedreig. Ek en my jonger broer Bennett het van ons huis in Mississippi na Houston, Texas, gereis op soek na werk.
OP ’N dag, teen die einde van die somer, het ons tydens ’n krakerige radio-uitsending ’n dramatiese aankondiging gehoor: Hitler se leërs het Pole binnegeval. “Armageddon het begin!” het my broer uitgeroep. Ons het onmiddellik bedank waar ons gewerk het. Ons het na die naaste Koninkryksaal toe gegaan en ons eerste vergadering bygewoon. Waarom ’n Koninkryksaal? Kom ek begin by die begin.
Ek is in 1915 in Hebron, Mississippi, gebore. Ons het op die platteland gebly. Die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, het so een keer per jaar na die gebied gekom en gereël dat ’n toespraak by iemand se huis gehou word. My ouers het gevolglik baie Bybelpublikasies gehad. Ek en Bennett het geloof begin beoefen in wat hierdie boeke geleer het: Die hel is nie warm nie, die siel sterf, die regverdiges sal vir ewig op die aarde lewe. Daar was nietemin nog baie wat ons moes leer. ’n Ruk nadat ek met skool klaargemaak het, het ek en my broer na Texas toe gegaan op soek na werk.
Toe ons uiteindelik by die Koninkryksaal met die Getuies in aanraking gekom het, het hulle ons gevra of ons pioniers is. Ons het geen idee gehad dat ’n pionier ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies is nie. Hulle het ons toe gevra of ons aan die predikingswerk wil deelneem. “Sekerlik!” het ons geantwoord. Ons het aangeneem dat hulle iemand saam met ons sal stuur
om ons te wys hoe om die werk te doen. Pleks daarvan het hulle ons net ’n kaart gegee en vir ons gesê: “Werk hier!” Wel, ek en Bennett het nie die vaagste benul gehad hoe om te preek nie, en die gedagte dat ons in die verleentheid sou kom, het ons glad nie aangestaan nie. Uiteindelik het ons net die gebiedskaart gepos en na Mississippi toe teruggegaan!Ons maak Bybelwaarheid ons eie
Terug by die huis het ons amper ’n jaar lank elke dag die publikasies van die Getuies gelees. Ons huis het geen elektrisiteit gehad nie, en saans het ons dus by die lig van ’n kaggelvuur gelees. In daardie dae het soneknegte, of reisende opsieners, gemeentes van Jehovah se Getuies en afgesonderde Getuies besoek om hulle geestelik te versterk. Een van hierdie knegte, Ted Klein, het ons gemeente besoek en my en Bennett van deur tot deur in die predikingswerk vergesel; dikwels het hy sommer ons al twee saam met hom geneem. Hy het vir ons verduidelik wat die pionierwerk alles behels het.
In sy geselskap het ons werklik daaraan begin dink om meer in God se diens te doen. So het dit gebeur dat broer Klein vir my, Bennett en ons suster Velva op 18 April 1940 gedoop het. Ons ouers was teenwoordig by ons doop, en hulle was bly oor ons besluit. Ongeveer twee jaar later is hulle ook gedoop. Hulle albei het getrou aan God gebly tot hulle dood toe—my pa in 1956 en my ma in 1975.
Toe broer Klein my gevra het of ek die pionierdiens kan betree, het ek vir hom gesê ek wil, maar ek het geen geld, geen klere, niks gehad nie. “Dis nie ’n probleem nie”, het hy gesê, “ek sal ’n plan maak.” En hy het ook. Eers het hy my pionieraansoekvorm ingestuur. Toe het hy my saam met hom na New Orleans geneem, ongeveer 300 kilometer daarvandaan, en vir my ’n paar oulike kamers bo-op ’n Koninkryksaal gaan wys. Dit was vir pioniers. Ek het kort daarna soontoe verhuis en my loopbaan as ’n pionier begin. Die Getuies in New Orleans het gehelp deur die pioniers klere, geld en kos te gee. Gedurende die dag het broers kos gebring en dit voor die deur gelos of dit selfs vir ons in die yskas gesit. ’n Broer wat ’n restaurant daar naby gehad het, het ons genooi om gereeld teen sluitingstyd vars kos te kom kry—soos vleis, brood, kerrie en pasteitjies—wat van die dag oorgebly het.
Gepeupelgeweld
Ná ’n ruk is ek na Jackson, Mississippi, gestuur om daar as ’n pionier te dien. Daar het ek en my jong pioniermaat met gepeupelgeweld te doen gekry, en dit het gelyk asof die plaaslike geregsdienaars die oproeriges ondersteun het! Ons het dieselfde ondervind in ons volgende toewysing—Columbus, Mississippi. Aangesien ons vir mense van alle rasse en nasionaliteite getuig het, het sekere blankes ons gehaat. Baie het geglo dat ons skuldig was aan sedisie. Die posbevelhebber van die Amerikaanse Oudstrydersbond, ’n baie patriotiese organisasie, het daardie beskouing gehad. Hy het verskeie kere woedende skares opgesweep om ons aan te val.
Die eerste keer dat ons in Columbus aangeval is, was toe ons tydskrifte op straat aangebied het en ’n groep mense ons agternagesit het. Hulle het ons teen ’n groot winkelvenster vasgedruk. ’n Skare het saamgedrom om te sien wat gebeur. Kort daarna het die polisie opgedaag en ons na die landdroskantoor toe geneem. Die skare, wat ons na die landdroskantoor gevolg het, het daar
voor al die amptenare gesê dat ons met ons lewe daarvan sou afkom as ons die dorp teen ’n sekere datum verlaat. Anders sou ons nie so gelukkig wees nie! Ons het gedink dit sou beter wees as ons die dorp ’n tyd lank verlaat. Maar ’n paar weke later het ons teruggekeer en ons predikingswerk voortgesit.Nie lank hierna nie het ’n bende van agt mans ons oorrompel en ons in hulle twee motors ingedwing. Hulle het met ons na ’n bos toe gery, ons klere uitgetrek en ons elkeen 30 houe met my gordel gegee! Hulle het vuurwapens en selfs toue gehad, en ek moet erken dat ons bang was. Ek het gedink dat hulle ons gaan vasbind en in die rivier gaan gooi. Hulle het ons lektuur opgeskeur en rondgestrooi en selfs ons grammofoon teen ’n boomstomp stukkend geslaan.
Nadat hulle ons geslaan het, het hulle vir ons gesê om ons klere aan te trek en met ’n paadjie in die bos te begin aanstap sonder om terug te kyk. Toe ons wegstap, het ons werklik gedink dat hulle ons gaan doodskiet as ons dit sou waag om terug te kyk—en dat hulle daarmee sou wegkom! Maar ná ’n paar minute het ons hulle hoor wegry.
By ’n ander geleentheid het ’n woedende skare ons agternagesit, en ons moes ons klere om ons nek vasmaak en deur ’n rivier swem om weg te kom. Nie lank daarna nie is ons op aanklagte van sedisie gearresteer. Ons het drie weke in die tronk deurgebring voor die verhoor plaasgevind het. Die gebeurtenis was in Columbus wyd geadverteer. Die studente van ’n nabygeleë kollege is selfs toestemming gegee om vroeg te verdaag sodat hulle dit kon bywoon. Toe die dag aanbreek, was die hof stampvol—daar was net plek om te staan! Onder diegene wat vir die Staat getuig het, was twee predikante, die burgemeester en die polisie.
’n Getuie-regsgeleerde met die naam G. C. Clarke en sy metgesel is gestuur om ons te verteenwoordig. Hulle het gevra dat die aanklag van sedisie teen ons teruggetrek word weens ’n gebrek aan bewyse. Hoewel die regsgeleerde wat saam met broer Clarke gewerk het nie een van Jehovah se Getuies was nie, het hy namens ons ’n kragtige verdediging aangevoer. Op een stadium het hy vir die regter gesê: “Mense sê dat Jehovah se Getuies mal is. Mal? Thomas Edison was mal!” Toe het hy na ’n lig gewys en gesê: “Maar kyk net na hierdie gloeilamp!” Party mense het dalk gemeen dat Edison, wat die gloeilamp uitgevind het, mal was, maar niemand kon teen sy prestasies stry nie.
Nadat die presiderende regter van die rondgaande hof die getuienis aangehoor het, het hy vir die aanklaer gesê: “Jy het geen greintjie bewys van sedisie nie, en hulle het die reg om hierdie werk te doen. Moenie hulle na hierdie hof toe terugbring en die Staat se tyd en geld asook my tyd mors totdat jy bewyse het nie!” ’n Oorwinning vir ons!
Agterna het die regter ons egter na sy kantoor ontbied. Hy het geweet dat die hele dorp teen sy uitspraak gekant was. Daarom het hy ons gewaarsku: “Wat ek gesê het, was in ooreenstemming met die wet, maar my persoonlike raad aan julle albei is: Maak dat julle hier wegkom, want hulle gaan julle doodmaak!” Ons het geweet hy was reg, en daarom het ons die dorp verlaat.
Daarvandaan is ek na Bennett en Velva, wat
as spesiale pioniers in Clarksville, Tennessee, gedien het. ’n Paar maande daarna is ons na Paris, Kentucky, gestuur. ’n Jaar en ’n half later was ons op die punt om ’n gemeente daar te stig toe ek en Bennett ’n baie spesiale uitnodiging ontvang het.Na die sendingdiens
Toe ons die uitnodiging na die tweede klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead sien, het ons gedink: ‘Hulle het ’n fout gemaak! Waarom sou hulle twee doodgewone, jong Mississippi-seuns na hierdie skool toe nooi?’ Ons het gedink dat hulle geleerde mense wou hê, maar ons het in elk geval gegaan. Daar was 100 studente in die klas, en die kursus het vyf maande geduur. Die graduering was op 31 Januarie 1944, en ons was gretig om in die buiteland te gaan dien. Maar in daardie dae het dit lank geneem om paspoorte en visums af te handel, daarom het studente tydelike toewysings in die Verenigde State gekry. Nadat ons ’n tyd lank as pioniers in Alabama en Georgia gedien het, het ek en Bennett eindelik ons toewysing ontvang—Barbados, Wes-Indië.
Die Tweede Wêreldoorlog was steeds aan die gang, en die werk en lektuur van Jehovah se Getuies was op baie plekke verbied, onder andere in Barbados. By die doeane het die beamptes ons bagasie oopgemaak en geïnspekteer en die lektuur gevind wat ons daarin weggesteek het. Ons het gedink: ‘Dis die einde.’ Maar een van die beamptes het net vir ons gesê: “Ons is jammer dat ons julle bagasie moes deursoek; van hierdie lektuur word in Barbados verbied.” Hy het ons nogtans laat deurgaan, met al die lektuur wat ons ingepak het! Later, toe ons vir staatsamptenare getuig het, het hulle gesê dat hulle nie weet waarom die lektuur verbied word nie. Ná ’n paar maande is die verbod opgehef.
Ons het in Barbados groot welslae in die bediening behaal. Ons het ten minste 15 Bybelstudies elk gehad, en die meeste studente het geestelike vordering gemaak. Ons was bly om te sien dat party na gemeentelike vergaderinge toe gekom het. Maar omdat die lektuur ’n tyd lank verbied was, het die broers nie werklik geweet wat die jongste riglyne was oor hoe vergaderinge gehou moes word nie. Ons kon egter gou ’n paar bekwame broers oplei. Ons het die vreugde gehad om baie van ons studente te help om in die Christelike bediening uit te gaan en te sien hoe die gemeentes groei.
Ons maak ’n gesin groot
Ná ongeveer 18 maande in Barbados moes ek ’n operasie ondergaan en na die Verenigde State terugkeer. Daar het ek met Dorothy getrou, ’n Getuie met wie ek gekorrespondeer het. Ek en my vrou het toe as pioniers in Tallahassee, Florida, gedien, maar ná ses maande het ons na Louisville, Kentucky, verhuis waar ’n Getuie my ’n werk aangebied het. My broer Bennett het nog baie jare lank in Barbados gedien. Hy het later met ’n medesendeling getrou en het as ’n reisende opsiener op die eilande
gedien. Uiteindelik moes hulle om gesondheidsredes na die Verenigde State terugkeer. Hulle het voortgegaan om Spaanse gemeentes in die reisende werk te bedien tot Bennett in 1990 op die ouderdom van 73 oorlede is.In 1950 het Dorothy die lewe geskenk aan ons eerste kind, ’n babadogtertjie wat ons Daryl genoem het. Ons het op die ou end vyf kinders gehad. Ons tweede kind, Derrick, het aan rugmurgvliesontsteking gesterf toe hy maar net twee en ’n half jaar oud was. Maar Leslie is in 1956 gebore en Everett daarna in 1958. Ek en Dorothy het ons kinders in die weg van Bybelwaarheid probeer grootmaak. Ons het altyd probeer om ’n weeklikse program vir gesinsbybelstudie te volg en dit vir al die kinders interessant te maak. Toe Daryl, Leslie en Everett nog jonk was, het ons hulle elke week vrae gegee om na te slaan en die volgende week te beantwoord. Hulle het ook kamstig van huis tot huis velddiens gedoen. Een het in die kas ingegaan en gemaak of hy ’n huisbewoner is. Die ander het buite gestaan en geklop. Hulle het komiese dinge gesê om mekaar te probeer intimideer, maar dit het hulle gehelp om ’n liefde vir die predikingswerk te ontwikkel. Ons het ook gereeld saam met hulle velddiens gedoen.
Toe ons jongste seun, Elton, in 1973 gebore is, was Dorothy amper 50 en ek byna 60. In die gemeente het hulle ons Abraham en Sara genoem! (Genesis 17:15-17). Die ouer seuns het Elton dikwels saam met hulle in die bediening uitgeneem. Ons het gevoel dat dit ’n kragtige getuienis vir mense is om te sien hoe gesinne—broers en susters, ouers en kinders—saam werk en Bybelwaarhede aan ander vertel. Elton se ouer broers het beurte gemaak om hom op hulle skouers te dra en het ’n Bybeltraktaat in sy hand gesit. Mense het so te sê altyd geluister wanneer hulle die deur oopgemaak het en hierdie oulike knapie op sy ouboet se skouers gesien het. Die seuns het Elton geleer om aan die einde van die gesprek die traktaat vir die persoon te gee en ’n paar woorde te sê. Dit is hoe hy begin getuig het.
Deur die jare heen kon ons ander help om Jehovah te leer ken. In die laat 1970’s het ons van Louisville na Shelbyville, Kentucky, verhuis om in ’n gemeente te gaan dien waar daar hulp nodig was. Terwyl ons daar was, het ons nie net gesien hoe die gemeente groei nie, maar ons het ook gehelp om grond te kry en ’n Koninkryksaal te bou. Later is ons gevra om nie ver daarvandaan nie in ’n ander gemeente te gaan dien.
Onsekerhede van gesinslewe
Ek sou graag wou sê dat al ons kinders op Jehovah se weg gebly het, maar dit is nie die geval nie. Nadat hulle grootgeword en van die huis af weggetrek het, het drie van ons vier oorblywende kinders die weg van die waarheid verlaat. Ons seun Everett het egter my voorbeeld gevolg en die voltydse diens betree. Hy het later by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in New York gedien, en in 1984 is hy genooi om die 77ste klas van Gilead by te woon. Ná sy graduering is hy na sy toewysing in Sierra Leone, Wes-Afrika. In 1988 het hy met Marianne, ’n pionier uit België, getrou. Hulle dien sedertdien saam as sendelinge.
Soos enige ouer hom kan indink, was dit vir ons baie ontmoedigend om te sien hoe drie van ons kinders ’n lewenswyse prysgee wat nou bevredigend is en in die toekoms die wonderlike hoop van ewige lewe op ’n paradysaarde bied. Soms het ek myself blameer. Maar ek het vertroosting geput uit die wete dat selfs party van Jehovah se eie geesseuns, of engele, opgehou het om hom te dien—al dissiplineer Jehovah in liefde en goedhartigheid en maak hy nooit foute nie (Deuteronomium 32:4; Johannes 8:44; Openbaring 12:4, 9). Dit het my laat besef dat, ongeag hoe hard ouers probeer om hulle kinders in die weg van Jehovah groot te maak, van hulle nietemin kan weier om die waarheid aan te neem.
Soos ’n boom deur ’n sterk wind gebuig word, moet ons buig voor die verskillende moeilikhede en probleme waarvoor ons te staan kom. Deur die jare heen het ek gevind dat gereelde Bybelstudie en vergaderingbywoning my daardie krag gee om te buig en geestelik staande Jakobus 1:2, 3.
te bly. Namate ek ouer word en die foute sien wat ek in die verlede gemaak het, probeer ek na die positiewe sy van sake kyk. As ons net getrou bly, sal sulke ondervindinge op die ou end tot ons geestelike ontwikkeling bydra. As ons daaruit leer, kan die negatiewe aspekte van die lewe sekere positiewe aspekte inhou.—Ek en Dorothy het nie meer die gesondheid of die krag om te doen wat ons graag in Jehovah se diens sal wil doen nie. Maar ons is dankbaar vir die ondersteuning van ons dierbare Christenbroers en -susters. By feitlik elke vergadering sê die broers vir ons hoeveel hulle dit waardeer dat ons daar is. En hulle gaan uit hulle pad om ons op elke moontlike manier te help—selfs om herstelwerk aan die huis en motor te doen.
Nou en dan kan ons aan die hulppionierdiens deelneem, en ons hou studies met belangstellendes. Dit is altyd vir ons ’n groot vreugde om nuus te ontvang van ons seun wat in Afrika dien. Ons het nog steeds ons gesinsbybelstudie, al is dit nou net die twee van ons. Ons is bly dat ons soveel jare aan Jehovah se diens kon wy. Hy verseker ons dat hy nie ‘ons werk sal vergeet en die liefde wat ons vir sy naam getoon het nie’.—Hebreërs 6:10.
[Prent op bladsy 25]
Ek, Velva en Bennett word op 18 April 1940 deur Ted Klein gedoop
[Prente op bladsy 26]
Saam met my vrou, Dorothy, in die vroeë 1940’s en in 1997
[Prent op bladsy 27]
Die openbare toespraak, “Die Vredevors”, word op ’n stadsbus in Barbados geadverteer
[Prent op bladsy 27]
My broer Bennett voor die sendinghuis