Jy kan ontmoediging die hoof bied!
Jy kan ontmoediging die hoof bied!
’N WYSE man het eenkeer geskryf: “Was jy mismoedig in die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees” (Spreuke 24:10, NW). As jy al ooit ontmoedig was, sal jy waarskynlik met hierdie stelling saamstem.
Niemand is immuun teen die uitwerking van ontmoediging nie. Wanneer ’n mens effens mismoedig raak, kan die gevoel ’n dag of twee duur en dan weggaan. Maar wanneer gekrenkte gevoelens of gegriefdheid daarby betrokke is, kan die probleem baie langer aanhou. Party Christene wat al jare lank getrou was, het so ontmoedig geraak dat hulle selfs opgehou het om gemeentelike vergaderinge by te woon en aan die veldbediening deel te neem.
As jy mismoedig voel, kan jy moed skep! Getroue knegte in die verlede het ontmoediging met welslae die hoof gebied, en met God se hulp kan jy ook.
Wanneer ander jou seermaak
Jy kan nie verwag om teen elke onbedagsame woord of onbesonne daad beskerm te word nie. Maar jy kan weier om toe te laat dat die onvolmaakthede van ander inbreuk maak op jou diens aan Jehovah. As iemand jou seergemaak het, sal jy dit dalk nuttig vind om te let op hoe Hanna, die moeder van Samuel, ’n ontmoedigende situasie hanteer het.
Hanna wou baie graag kinders gehad het, maar sy was onvrugbaar. Haar man se tweede vrou, Peninna, het reeds seuns en dogters vir hom gebaar. Pleks van bewus te wees van Hanna se treurige situasie, het Peninna haar as ’n mededinger beskou en ’n gesindheid teenoor Hanna geopenbaar wat veroorsaak het dat sy “geween het en nie wou eet nie”.—1 Samuel 1:2, 4-7.
Eendag het Hanna na die tabernakel gegaan om te bid. Eli, die hoëpriester van Israel, het haar lippe sien beweeg. Eli het nie besef dat Hanna bid nie en tot die gevolgtrekking gekom dat sy dronk moet wees. “Hoe lank wil jy jou soos ’n dronk mens gedra?” het hy gevra. “Sit jou wyn van jou af weg” (1 Samuel 1:12-14). Kan jy jou voorstel hoe Hanna moes gevoel het? Sy het na die tabernakel gekom vir aanmoediging. Sy het beslis nie verwag dat een van die invloedrykste manne in Israel haar verkeerdelik sou beskuldig nie!
Die situasie kon Hanna baie mismoedig laat word het. Sy kon die tabernakel net daar en dan verlaat het en haar voorgeneem het om nooit daarheen terug te keer solank Eli as hoëpriester dien nie. Maar dit is duidelik dat Hanna haar verhouding met Jehovah op prys gestel het. Sy het geweet dat hy nie tevrede sou wees as sy so ’n weg inslaan nie. Die tabernakel was die sentrum van ware aanbidding. Jehovah het sy naam daar geplaas. En al was Eli onvolmaak, was hy Jehovah se gekose verteenwoordiger.
Hanna se godvrugtige antwoord op Eli se beskuldiging is vandag vir ons ’n uitmuntende voorbeeld. Sy het nie toegelaat dat sy verkeerdelik beskuldig word nie, maar sy het op ’n baie eerbiedige wyse geantwoord. “Nee, my heer”, het sy geantwoord. “Ek is ’n vrou beswaard in my gemoed: wyn of sterk drank het ek nie gedrink nie, maar ek het my siel voor die aangesig van die HERE uitgestort. Hou tog nie u dienares vir ’n deugniet nie, want vanweë my baie sorge en verdriet het ek tot nou toe gespreek.”—1 Samuel 1:15, 16.
1 Samuel 1:17, 18, NW.
Het Hanna haar punt gemaak? Beslis. En tog het sy op taktvolle wyse met Eli gepraat en hom nie op aanmatigende wyse gekritiseer vir sy valse aantyging nie. Op sy beurt het hy haar liefdevol geantwoord en gesê: “Gaan in vrede, en mag die God van Israel jou versoek toestaan wat jy van hom gevra het.” Toe die saak opgelos is, het Hanna “weggegaan en geëet, en haar gesig het nie meer besorgdheid oor haar situasie getoon nie”.—Wat leer ons uit hierdie verslag? Hanna het gou opgetree om ’n misverstand reg te stel, maar sy het dit met diep respek gedoen. Gevolglik het sy ’n goeie verhouding met Jehovah en met Eli behou. Hoe dikwels kan goeie kommunikasie en ’n bietjie takt tog keer dat klein probleempies baie groter word!
Ons moet besef dat dit nederigheid en buigsaamheid van albei kante verg om verskille met ander op te los. As ’n medegelowige nie reageer op jou pogings om ’n verskil op te los nie, sal jy die saak dalk aan Jehovah moet oorlaat, met die vertroue dat hy dit in sy eie tyd en op sy eie manier sal hanteer.
Het jy ’n diensvoorreg verloor?
Party het terneergedruk geraak omdat hulle van ’n kosbare voorreg in God se diens moes afsien. Hulle het dit geniet om hulle broers te dien, en toe hulle die voorreg verloor het, het hulle gevoel dat hulle nie meer vir Jehovah of vir sy organisasie iets beteken nie. As dit is hoe jy voel, kan jy insig verkry deur te kyk na die voorbeeld van die Bybelskrywer Markus, wat ook Johannes Markus genoem is.—Handelinge 12:12.
Markus het Paulus en Barnabas op hulle eerste sendingreis vergesel, maar gedurende die reis het hy hulle verlaat en na Jerusalem teruggekeer (Handelinge 13:13). Later wou Barnabas Markus op ’n ander reis saam met hulle neem. Maar die Bybel sê: “Paulus het nie gedink dat dit gepas is om hom saam te neem nie, aangesien hy hulle van Pamfilië af verlaat het en nie saam met hulle na die werk gegaan het nie.” Barnabas het nie saamgestem nie. “Hierop”, sê die verslag verder, “het ’n skerp uitbarsting van toorn plaasgevind, sodat [Paulus en Barnabas] uitmekaar gegaan het; en Barnabas het Markus saamgeneem en na Siprus weggeseil. Paulus het Silas gekies en vertrek.”—Handelinge 15:36-40.
Markus moes verpletter gevoel het toe hy uitvind dat die geëerde apostel Paulus nie saam met hom wou werk nie en dat ’n rusie oor sy kwalifikasies tot ’n skeuring tussen Paulus en Barnabas gelei het. Maar dit is nie die einde van die verhaal nie.
Paulus en Silas het nog steeds ’n reisgenoot nodig gehad. Toe hulle in Listra aangekom het, het hulle iemand gevind wat Markus kon vervang, ’n jong man met die naam Timoteus. Toe Timoteus gekies is, was hy moontlik nog net twee of drie jaar lank gedoop. Aan die ander kant het Markus al van die stigting van die Christengemeente af daarmee omgegaan—in werklikheid langer as Paulus self. En tog was dit Timoteus wat die bevoorregte toewysing ontvang het.—Handelinge 16:1-3.
Hoe het Markus gereageer toe hy uitvind dat hy deur ’n jonger, minder ervare man vervang is? Die Bybel sê nie. Dit dui nietemin aan dat Markus bedrywig gebly het in Jehovah se diens. Hy het gebruik gemaak van die voorregte wat vir hom beskikbaar was. Hoewel hy nie saam met Paulus en Silas kon dien nie, kon hy saam met Barnabas na Siprus reis, wat Barnabas se tuisgebied was. Markus het ook saam met Petrus in Babilon gedien. Uiteindelik het hy die geleentheid gehad om in Rome saam met Paulus—en Timoteus—te werk (Kolossense 1:1; 4:10; 1 Petrus 5:13). Later is Markus selfs geïnspireer om een van die vier Evangelies te skryf!
In al hierdie gebeure is daar ’n waardevolle les. Markus het nie so besorg geraak oor ’n verlore voorreg dat hy nie die voorregte wat nog binne sy bereik was, waardeer het nie. Markus het in Jehovah se diens besig gebly, en Jehovah het hom geseën.
As jy dus ’n voorreg verloor het, moet jy nie mismoedig raak nie. As jy ’n positiewe 1 Korintiërs 15:58.
gesindheid behou en besig bly, sal jy dalk ander voorregte ontvang. Daar is volop om in die werk van die Here te doen.—’n Getroue kneg raak mismoedig
Dit is nie maklik om hard te stry vir die geloof nie. Jy sal soms dalk mismoedig raak. Dan kan jy selfs skuldig voel omdat jy mismoedig is en tot die gevolgtrekking kom dat ’n getroue kneg van God nooit so moet voel nie. Dink aan Elia, een van Israel se uitsonderlike profete.
Toe Israel se koningin Isebel, ’n fanatiese voorstander van Baälaanbidding, uitvind dat die profete van Baäl deur Elia doodgemaak is, het sy gesweer dat sy hom dood sou maak. Elia het al voor groter vyande as Isebel te staan gekom, maar skielik het hy so mismoedig geraak dat hy wou sterf (1 Konings 19:1-4). Hoe kon dit gebeur het? Hy het iets vergeet.
Elia het vergeet om op Jehovah te vertrou as die Bron van sy krag. Wie het Elia die krag gegee om die dooies op te wek en om die profete van Baäl te trotseer? Jehovah. Hy sou hom sekerlik die krag gee om die toorn van koningin Isebel te trotseer.—1 Konings 17:17-24; 18:21-40; 2 Korintiërs 4:7.
Enigiemand se vertroue in Jehovah kan vir ’n kort rukkie wankel. Soos Elia kan jy soms ’n menslike beskouing van ’n sekere probleem hê, pleks van “die wysheid van bo” te gebruik om dit die hoof te bied (Jakobus 3:17). Maar Jehovah het Elia nie verlaat omdat hy tydelik gewankel het nie.
Elia het na Berseba gevlug en toe in die woestyn ingegaan, waar hy gedink het dat niemand hom kon vind nie. Maar Jehovah het hom gevind. Hy het ’n engel gestuur om hom te bemoedig. Die engel het gesorg dat Elia varsgebakte brood gehad het om te eet en verkwikkende water om te drink. Nadat Elia gerus het, het die engel hom aangesê om sowat 300 kilometer na die berg Horeb te reis, waar hy verder deur Jehovah versterk sou word.—1 Konings 19:5-8.
By die berg Horeb het Elia ’n geloofversterkende vertoning van Jehovah se krag aanskou. Toe het Jehovah hom in ’n kalm, sagte stem verseker dat hy nie alleen is nie. Jehovah was met hom, en 7 000 van sy broers was ook met hom, hoewel Elia nie daarvan geweet het nie. Ten laaste het Jehovah hom werk gegee om te doen. Hy het Elia nie verwerp as sy profeet nie!—1 Konings 19:11-18, NW.
Hulp is beskikbaar
As jy van tyd tot tyd effens mismoedig voel, sal jy dalk vind dat jy beter voel nadat jy ’n bietjie gerus het of ’n voedsame maaltyd geniet het. Nathan H. Knorr, wat tot sy dood in 1977 as ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies gedien het, het eenkeer gesê dat groot probleme ná ’n goeie nagrus dikwels heelwat kleiner lyk. Wanneer die probleem egter voortduur, sal so ’n oplossing dalk nie genoeg wees nie—jy sal hulp nodig hê om teen ontmoediging te veg.
Jehovah het ’n engel gestuur om Elia te versterk. Vandag voorsien God aanmoediging deur middel van die ouer manne en ander ryp Christene. Die ouer manne kan werklik soos “’n toevlug teen die wind” wees (Jesaja 32:1, 2). Maar om deur hulle aangemoedig te word, sal jy dalk die inisiatief moet neem. Al was Elia baie mismoedig, het hy na die berg Horeb gereis om deur Jehovah onderrig te word. Ons ontvang versterkende onderrigting deur die Christengemeente.
Wanneer ons hulp aanvaar en toetse moedig die hoof bied, soos wanneer iemand ons seermaak of wanneer ons voorregte verloor, verdedig ons Jehovah se kant van ’n belangrike geskil. Watter geskil? Satan het beweer dat mense Jehovah net uit eiebelang dien. Satan ontken nie dat ons God sal dien wanneer alles in ons lewe vlot verloop nie, maar hy beweer dat ons God sal ophou dien wanneer ons probleme teëkom (Job, hoofstukke 1 en 2). As ons ten spyte van ontmoediging voortgaan om Jehovah onwrikbaar te dien, kan ons help om ’n antwoord te gee op die Duiwel se lasterlike beskuldiging.—Spreuke 27:11.
Hanna, Markus en Elia het almal probleme
gehad wat hulle ’n kort rukkie hulle vreugde ontneem het. Maar hulle het hulle probleme die hoof gebied en ’n produktiewe lewe gelei. Met Jehovah se hulp kan jy ook ontmoediging die hoof bied!