Leef jy jou toewyding na?
Leef jy jou toewyding na?
“Wat julle ook al doen, doen dit met julle hele siel soos vir Jehovah en nie vir mense nie.”—KOLOSSENSE 3:23.
1. Wat word in die sekulêre konteks deur die woord “toegewydheid” geïmpliseer?
HOE behaal atlete hulle beste prestasie? In tennis, sokker, basketbal, bofbal, atletiek, golf of enige ander sport kom die beste atlete slegs deur volgehoue toegewydheid bo uit. Fisiese en verstandelike voorbereiding is prioriteite. Dit pas goed by een van die definisies van die woord “toegewyd”, wat sê dat jy jou “geheel en al tot ’n sekere weg of gedagte of daad verbind”.
2. Wat beteken “toewyding” in die Bybel? Lig dit toe.
2 Maar wat beteken “toewyding” in die Bybelse sin? “Toewy” vertaal ’n Hebreeuse werkwoord met die betekenis: “om afgeskeie te bly; om afgeskei te wees; jou onttrek”. a In eertydse Israel het die hoëpriester Aäron op sy tulband “die heilige toewydingsteken” gedra, wat ’n blink plaat van suiwer goud was waarop die Hebreeuse woorde vir “Heiligheid behoort aan Jehovah” gegraveer is. Dit het vir die hoëpriester as ’n herinnering gedien dat hy dit moet vermy om enigiets te doen wat die heiligdom sou ontheilig, “want die toewydingsteken, die salfolie van sy God, [was] op hom”.—Exodus 29:6, NW; 39:30, NW; Levitikus 21:12, NW.
3. Hoe moet toewyding ons gedrag raak?
3 Ons kan in hierdie konteks sien dat toewyding ’n ernstige saak is. Dit impliseer dat ons ons uit vrye wil identifiseer as ’n kneg van God, en dit vereis rein gedrag. Ons kan derhalwe begryp waarom die apostel Petrus Jehovah aangehaal het waar hy gesê het: “Julle moet heilig wees, want ek is heilig” (1 Petrus 1:15, 16). As toegewyde Christene het ons ’n groot verantwoordelikheid om ons toewyding na te leef, om tot die einde toe getrou te wees. Maar wat behels Christelike toewyding?—Levitikus 19:2; Matteus 24:13.
4. Hoe bereik ons die stap van toewyding, en waarmee kan dit vergelyk word?
4 Nadat ons juiste kennis opgedoen het van Jehovah God en sy voornemens, sowel as van Jesus Christus en sy rol in hierdie voornemens, het ons die persoonlike besluit geneem om God met ons hele hart, verstand, siel en krag te dien (Markus 8:34; 12:30; Johannes 17:3). Dit kan selfs as ’n persoonlike gelofte beskou word, ’n onvoorwaardelike toewyding aan God. Ons toewyding is nie weens ’n emosionele impuls gedoen nie. Ons het dit goed en biddend oorweeg en ons denkvermoë gebruik. Dit was dus nie ’n tydelike besluit nie. Ons kan nie soos iemand wees wat ’n land begin omploeg maar halfpad ophou omdat dit te veel harde werk is of omdat die oes nog so ver lyk of glad nie seker is nie. Kom ons kyk na voorbeelde van party wat deur dik en dun ‘hulle hand aan die ploeg van teokratiese verantwoordelikheid geslaan het’.—Lukas 9:62; Romeine 12:1, 2.
Hulle was getrou aan hulle toewyding
5. Waarom is Jeremia vir ons ’n uitstekende voorbeeld van ’n toegewyde kneg van God?
5 Jeremia se profetiese bediening in Jerusalem het oor meer as 40 jaar gestrek (647-607 v.G.J.), en dit was beslis nie ’n maklike toewysing nie. Hy was deeglik bewus van sy beperkinge (Jeremia 1:2-6). Hy het moed en volharding nodig gehad om daagliks voor die wederstrewige mense van Juda te staan (Jeremia 18:18; 38:4-6). Maar Jeremia het op Jehovah God vertrou, wat hom versterk het sodat hy ’n waarlik toegewyde kneg van God was.—Jeremia 1:18, 19.
6. Watter voorbeeld het die apostel Johannes vir ons gestel?
6 Wat van die getroue apostel Johannes, wat op sy oudag na die onherbergsame eiland Patmos verban is omdat hy “oor God gepraat en van Jesus getuig het”? (Openbaring 1:9). Hy het sowat 60 jaar lank volhard en getrou gebly in sy toegewyde posisie as ’n Christen. Hy het tot ná die vernietiging van Jerusalem deur die Romeinse leërs gelewe. Hy het die voorreg gehad om ’n Evangelie en drie geïnspireerde briewe te skryf, asook die boek Openbaring, waarin hy die oorlog van Armageddon vooruitgesien het. Het hy moed opgegee toe hy uitgevind het dat Armageddon nie in sy leeftyd sou kom nie? Het hy ’n onverskillige gesindheid begin openbaar? Nee, Johannes het tot sy dood getrou gebly, en hy het geweet dat sy visioene op ’n later stadium vervul sou word, hoewel ‘die vasgestelde tyd naby was’.—Openbaring 1:3; Daniël 12:4.
Hedendaagse voorbeelde van toegewydheid
7. Hoe het een broer ’n goeie voorbeeld van Christelike toegewydheid gestel?
7 In hedendaagse tye het duisende getroue Christene ywerig by hulle toewyding gebly ondanks die feit dat Armageddon nie in hulle leeftyd gekom het nie. ’n Voorbeeld hiervan is Ernest E. Beavor van Engeland. Hy het in 1939, aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog, ’n Getuie geword en sy florerende persfotografie-onderneming verkoop om die voltydse bediening te betree. Omdat hy sy Christelike neutraliteit gehandhaaf het, is hy vir twee jaar tronk toe gestuur. Sy gesin het hom bygestaan, en in 1950 het sy drie kinders na die Wagtoring-Bybelskool Gilead, in New York, vir opleiding as sendelinge gegaan. Broer Beavor was so ywerig in sy predikingsbedrywighede dat sy vriende hom Armageddon Ernie genoem het. Hy het sy toewyding lojaal nageleef, en tot sy dood in 1986 het hy verkondig dat God se oorlog van Armageddon naby is. Hy het nie sy toewyding beskou as ’n kontrak met God wat net ’n rukkie sou duur nie! b—1 Korintiërs 15:58.
8, 9. (a) Watter voorbeeld is gestel deur talle jong mans in Spanje gedurende die Franco-regime? (b) Watter vrae kan ons ons gepas afvra?
8 Nog ’n voorbeeld van ywer wat nie afgeneem het nie, kom van Spanje. Gedurende die Franco-regime (1939-75) het honderde toegewyde jong Getuies hulle standpunt ingeneem as Christene wat neutraal bly. Baie van hulle het tien jaar of meer in militêre gevangenisse deurgebring. Een Getuie, Jesús Martín, het selfs vonnisse van altesaam 22 jaar in die tronk gekry. Hy is erg geslaan terwyl hy in ’n militêre gevangenis in Noord-Afrika aangehou is. Dit alles was nie vir hom maklik nie, maar hy het geweier om ’n kompromis aan te gaan.
9 Die meeste van die tyd het hierdie jong mans geen idee gehad wanneer hulle vrygelaat sou word en of hulle ooit vrygelaat sou word nie, want hulle het baie opeenvolgende vonnisse gekry. En tog het hulle hulle onkreukbaarheid gehandhaaf en hulle ywer vir die bediening behou terwyl hulle in die gevangenis was. Toe die situasie uiteindelik in 1973 begin verbeter het, is baie van hierdie Getuies, wat toe in hulle vroeë dertigerjare was, uit die tronk vrygelaat en het hulle onmiddellik die voltydse bediening betree, party as spesiale pioniers en reisende opsieners. Hulle het in die tronk hulle toewyding nageleef, en die meeste het sedert hulle vrylating voortgegaan om dit te doen. c Wat van ons vandag? Is ons getrou aan ons toewyding soos hierdie lojales?—Hebreërs 10:32-34; 13:3.
Regte beskouing van ons toewyding
10. (a) Hoe moet ons ons toewyding beskou? (b) Hoe beskou Jehovah ons diens aan hom?
10 Hoe beskou ons ons toewyding aan God om sy wil te doen? Is dit van die grootste belang in ons lewe? Ongeag ons omstandighede, hetsy oud of jonk, getroud of ongetroud, gesond of siek, ons moet daarna streef om ons toewyding na te leef ooreenkomstig ons omstandighede. Een persoon se situasie stel hom dalk in staat om aan die voltydse bediening deel te neem as ’n pionier, as ’n vrywilliger in ’n takkantoor van die Wagtoringgenootskap, as ’n sendeling of om aan die reisende bediening deel te neem. Party ouers is aan die ander kant dalk baie besig om na die fisiese en geestelike behoeftes van die gesin om te sien. Is die betreklike min ure wat hulle elke maand in die bediening deurbring enigsins van minder waarde in Jehovah se oë as al die ure wat ’n voltydse kneg in die bediening deurbring? Nee. God verwag nooit van ons wat ons nie het nie. Die apostel Paulus het hierdie beginsel gemeld: “As die bereidheid eerste daar is, is dit veral aanneemlik volgens wat ’n mens het, nie volgens wat ’n mens nie het nie.”—2 Korintiërs 8:12.
11. Waarvan hang ons redding af?
11 Ons redding hang in elk geval nie af van enigiets wat ons kan doen nie, maar van Jehovah se onverdiende goedhartigheid deur Christus Jesus, ons Here. Paulus het dit duidelik gestel: “Almal het gesondig en skiet te kort aan die heerlikheid van God, en dit is as ’n vrye gawe dat hulle deur sy onverdiende goedhartigheid regverdig verklaar word op grond van die bevryding deur die losprys wat deur Christus Jesus betaal is.” Maar ons werke is ’n bewys van ons daadwerklike geloof in God se beloftes.—Romeine 3:23, 24; Jakobus 2:17, 18, 24.
12. Waarom moet ons ons nie met ander vergelyk nie?
12 Dit het geen nut om die tyd wat ons aan God se diens bestee, die hoeveelheid Bybellektuur wat ons versprei of die aantal Bybelstudies wat ons hou met dié van ander te vergelyk nie (Galasiërs 6:3, 4). Ongeag wat ons in die Christelike bediening bereik, ons moet almal Jesus se woorde in gedagte hou wat ons help om nederig te wees: “So ook moet julle, wanneer julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê: ‘Ons is nikswerd slawe. Wat ons gedoen het, is wat ons behoort te gedoen het’” (Lukas 17:10). Hoe dikwels kan ons werklik sê dat ons ‘alles gedoen het wat aan ons opgedra is’? Die vraag is dus: Wat moet die gehalte van ons diens aan God wees?—2 Korintiërs 10:17, 18.
Laat elke dag tel
13. Watter gesindheid moet ons hê terwyl ons ons toewyding naleef?
13 Nadat Paulus raad gegee het aan vroue, mans, kinders, ouers en slawe, het hy geskryf: “Wat julle ook al doen, doen dit met julle hele siel soos vir Jehovah en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van Jehovah die erfenis as die gepaste beloning sal ontvang. Dien die Heer, Christus, soos slawe” (Kolossense 3:23, 24). Ons dien nie om mense te beïndruk met wat ons in Jehovah se diens bereik nie. Ons probeer om God te dien deur die voorbeeld van Jesus Christus na te volg. Hy het sy betreklike kort bediening met ’n gevoel van dringendheid uitgevoer.—1 Petrus 2:21.
14. Watter waarskuwing het Petrus aangaande die laaste dae gegee?
14 Die apostel Petrus het ook ’n gevoel van dringendheid geopenbaar. In sy tweede brief het hy gewaarsku dat daar in die laaste dae spotters sou wees—afvalliges en diegene wat twyfel—wat, volgens hulle eie begeertes, vrae oor Christus se teenwoordigheid sou opper. Maar Petrus het gesê: “Jehovah is nie traag met betrekking tot sy belofte, soos party mense traagheid beskou nie, maar hy is geduldig met julle omdat hy nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom. Tog sal Jehovah se dag soos ’n dief kom.” Ja, Jehovah se dag gaan beslis kom. Ons moet derhalwe daagliks dink aan hoe seker en vas ons geloof in God se belofte werklik is.—2 Petrus 3:3, 4, 9, 10.
15. Hoe moet ons elke dag in ons lewe ondersoek?
15 As ons ons toewyding nougeset wil naleef, moet ons elke dag tot eer van Jehovah gebruik. Kan ons aan die einde van elke dag terugkyk en sien hoe ons op die een of ander manier tot die heiliging van God se naam en die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk bygedra het? Moontlik was dit deur ons rein gedrag, ons opbouende gesprekke of ons liefdevolle besorgdheid oor familie en vriende. Het ons beskikbare geleenthede gebruik om ander van ons Christelike hoop te vertel? Het ons iemand gehelp om ernstig oor God se beloftes na te dink? Laat ons elke dag iets positiefs in geestelike sin bymekaarmaak en as ’t ware ’n gesonde, geestelike bankrekening opbou.—Matteus 6:20; 1 Petrus 2:12; 3:15; Jakobus 3:13.
Behou helder visie
16. Op watter maniere probeer Satan ons toegewydheid aan God ondermyn?
16 Ons lewe in tye wat al hoe moeiliker raak vir Christene. Satan en sy agente probeer dit moeilik maak om ’n onderskeid te tref tussen goed en sleg, rein en onrein, sedelik en onsedelik, eties en oneties (Romeine 1:24-28; 16:17-19). Hy het dit vir ons so maklik gemaak om ons hart en verstand deur middel van ’n TV-afstandbeheer of ’n rekenaartoetsbord te besoedel. Ons geestelike visie kan verdof, of uit fokus raak, sodat ons nie sy listige dade waarneem nie. Ons vasbeslotenheid om ons toewyding na te leef, kan ondermyn word en ons houvas op die “ploeg” kan verslap as ons afwyk van ons geestelike waardes.—Lukas 9:62; Filippense 4:8.
17. Hoe kan Paulus se raad ons help om ons verhouding met God te behou?
17 Paulus se woorde aan die gemeente in Tessalonika is derhalwe baie tydig: “Dit is wat God wil: julle heiliging, dat julle julle onthou van hoerery; dat elkeen van julle moet weet hoe om in heiliging en eer sy eie vat in besit te kry, nie in hebsugtige geslagslus soos ook dié nasies het wat God nie ken nie” (1 Tessalonisense 4:3-5). Onsedelikheid het daartoe gelei dat party uit die Christengemeente gesit is—diegene wat hulle toewyding aan God verwaarloos het. Hulle het toegelaat dat hulle verhouding met God verswak, sodat hy nie meer van belang was in hulle lewe nie. Tog het Paulus gesê: “God het ons nie met toelating vir onreinheid geroep nie, maar in verband met heiliging. Daarom verontagsaam hy wat verontagsaming toon nie ’n mens nie, maar God, wat sy heilige gees in julle plaas.”—1 Tessalonisense 4:7, 8.
Wat is jy vasbeslote om te doen?
18. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?
18 Wat moet ons vasbeslote wees om te doen as ons besef hoe ernstig ons toewyding aan Jehovah God is? Ons moet vasbeslote wees om ’n goeie gewete te behou wat ons gedrag en ons bediening betref. Petrus het gemaan: “Behou ’n goeie gewete, sodat hulle wat minagtend van julle goeie gedrag in verband met Christus praat, in die saak waarin daar teen julle gepraat word, beskaamd sal word” (1 Petrus 3:16). Ons sal dalk moet ly en sleg behandel word weens ons Christelike gedrag, maar dieselfde het met Christus gebeur weens sy geloof en lojaliteit aan God. Petrus het gesê: “Aangesien Christus dan in die vlees gely het, moet julle julle ook met dieselfde geesteshouding bewapen; want die persoon wat in die vlees gely het, het opgehou met sondes.”—1 Petrus 4:1.
19. Wat wil ons graag hê moet daar van ons gesê word?
19 Trouens, ons vasbeslotenheid om ons toewyding na te leef, sal ons beskerm teen die uiterlike vertoon van Satan se wêreld wat geestelik, sedelik en fisies siek is. Maar wat meer is, ons sal die vertroue opbou dat ons God se goedkeuring wegdra, wat baie beter is as enigiets wat Satan en sy agente ons kan bied. Laat daar dus nooit gesê word dat ons die liefde verlaat het wat ons gehad het toe ons die waarheid aanvanklik leer ken het nie. Laat daar eerder van ons gesê word soos daar van diegene in die eerste-eeuse gemeente in Tiatira gesê is: “Ek ken jou dade en jou liefde en geloof en bediening en volharding en weet dat jou dade in die laaste tyd meer is as dié van vroeër” (Openbaring 2:4, 18, 19). Ja, laat ons nie lou wees met betrekking tot ons toewyding nie, maar laat ons “gloei van die gees”, ywerig tot die einde toe—en die einde is naby.—Romeine 12:11; Openbaring 3:15, 16.
[Voetnote]
a Sien Die Wagtoring van 15 April 1987, bladsy 31.
b Sien Die Wagtoring van 1 Junie 1980, bladsye 26-30, vir ’n volledige verhaal van Ernest Beavor se lewe.
c Sien die 1978 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 156-8, 201-18, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
Onthou jy?
• Wat behels toewyding?
• Watter eertydse en hedendaagse voorbeelde van toegewyde knegte van God is vir ons navolgenswaardig?
• Hoe moet ons ons diens aan God beskou?
• Wat moet ons vasbeslote wees om te doen met betrekking tot ons toewyding aan God?
[Studievrae]
[Prent op bladsy 15]
Jeremia het getrou gebly ondanks wrede behandeling
[Prent op bladsy 16]
Ernest Beavor het as ’n ywerige Christen ’n goeie voorbeeld gestel vir sy kinders
[Prent op bladsy 17]
Honderde jong Getuies in Spaanse gevangenisse het hulle onkreukbaarheid gehandhaaf
[Prente op bladsy 18]
Laat ons elke dag iets positiefs in geestelike sin bymekaarmaak