Vind beskerming in ’n wêreld vol gevare
Vind beskerming in ’n wêreld vol gevare
DIT kan dodelik wees om in ’n mynveld te loop. Maar sou dit nie ’n verskil maak as jy ’n kaart gehad het wat wys waar die landmyne is nie? En veronderstel jy is ook opgelei om die verskillende soorte myne te identifiseer. Sulke kennis sou ongetwyfeld die gevaar om vermink te word of te sterf aansienlik verminder.
Die Bybel kan vergelyk word met daardie kaart sowel as met die opleiding om myne te identifiseer. Die Bybel bevat ongeëwenaarde wysheid om ons te help om die gevare en probleme van die lewe te vermy of te bowe te kom.
Let op die gerusstellende belofte in Spreuke 2:10, 11 (NW): “Wanneer wysheid in jou hart kom en kennis vir jou siel aangenaam word, sal denkvermoë oor jou wag hou, sal onderskeidingsvermoë jou beveilig.” Die wysheid en onderskeidingsvermoë wat hier genoem word, kom nie van mense nie, maar van God. “Die wat na [Goddelike wysheid] luister, sal veilig woon en gerus wees teen die skrik vir die onheil” (Spreuke 1:33). Kom ons kyk hoe die Bybel ons kan beskerm en ons kan help om baie probleme te vermy.
Hoe om noodlottige ongelukke te vermy
Syfers wat onlangs deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) bekend gemaak is, toon dat ongeveer 1 171 000 mense elke jaar regoor die wêreld in motorongelukke sterf. Bykans 40 miljoen ander word beseer, en net oor die 8 miljoen hou permanente liggaamsgebreke oor.
Hoewel absolute veiligheid in ’n motor onmoontlik is, verhoog ons ons persoonlike veiligheid aansienlik wanneer ons verkeerswette gehoorsaam. Die Bybel sê aangaande regeringsowerhede, wat verkeerswette maak en toepas: “Laat elke siel onderdanig wees aan die hoër owerhede” (Romeine 13:1). Motoriste wat hierdie raad gehoorsaam, verminder die gevaar dat hulle ’n ongeluk sal hê, wat dikwels afgryslike gevolge het.
Nog ’n beweegrede om veilig te bestuur, is respek vir lewe. Die Bybel sê van Jehovah God: “By U is die fontein van die lewe” (Psalm 36:10). Die lewe is dus ’n gawe van God. Gevolglik het ons nie die reg om daardie gawe van enigiemand weg te neem of om minagting vir lewe te toon nie, wat natuurlik ons eie insluit.—Genesis 9:5, 6.
Respek vir menselewe sluit natuurlik in dat ons seker maak dat ons motor en huis so veilig is as wat redelik moontlik is. In eertydse Israel was veiligheid baie belangrik in alle aspekte van die lewe. Wanneer ’n huis byvoorbeeld gebou is, het God se Wet vereis dat sy dak—’n plek waar die gesin baie tyd deurgebring het—’n Deuteronomium 22:8, NW). As iemand geval het omdat hierdie veiligheidswet nie nagekom is nie, het God die eienaar verantwoordelik gehou. Die toepassing van die liefdevolle beginsel wat in hierdie wet vervat word, sal ongetwyfeld die aantal ongelukke by die werksplek of selfs tydens ontspanning verminder.
muurtjie om moet hê. “Jy [moet] ook ’n muurtjie om jou dak bou, sodat jy nie bloedskuld op jou huis bring nie, want iemand . . . kan daarvan afval” (Hoe om dodelike verslawings te beveg
Volgens die WGO is daar nou meer as ’n miljard rokers in die wêreld, en ongeveer viermiljoen sterfgevalle per jaar kan aan tabak toegeskryf word. Hierdie syfer sal na verwagting gedurende die volgende 20 tot 30 jaar tot nagenoeg 10 miljoen styg. Miljoene ander rokers, sowel as mense wat “ontspanningsdwelms” gebruik, sal hulle gesondheid en lewensgehalte verwoes weens hulle verslawings.
Hoewel God se Woord tabakgebruik en dwelmmisbruik nie spesifiek noem nie, kan die beginsels daarin ons teen hierdie gebruike beskerm. Tweede Korintiërs 7:1 sê byvoorbeeld: “Laat ons ons van elke verontreiniging van die vlees en die gees reinig.” Dit ly geen twyfel nie dat tabak en dwelms die vlees besoedel, of verontreinig, met talle skadelike chemiese stowwe. Daarbenewens wil God hê dat ons liggame “heilig” moet wees, wat rein en skoon beteken (Romeine 12:1). Stem jy nie saam dat ’n mens van die gevare wat jou lewe bedreig aansienlik sal verminder as jy hierdie beginsels toepas nie?
Hoe om gevaarlike gewoontes te oorkom
Baie mense is tot uiterstes geneig wat hulle eet- en drinkgewoontes betref. Die gevolge van ooretery kan suikersiekte, kanker en hartsiekte insluit. Alkoholmisbruik lei tot bykomende probleme, soos alkoholisme, sirose, gebroke gesinne en motorongelukke. As ’n mens daarteenoor ’n obsessie het om gewig te verloor, kan dit ook skadelik wees en aanleiding gee tot lewensgevaarlike eetversteurings soos anorexia nervosa.
Hoewel die Bybel nie ’n mediese handleiding is nie, gee dit reguit raad oor waarom dit nodig is om matige eet- en drinkgewoontes te hê. “Hoor, my seun, en word wys, en rig jou hart reguit op die weg. Wees nie onder die wynsuipers nie, onder die wat as vrate hulle hart ophaal. Want ’n drinker en ’n vraat sal arm word” (Spreuke 23:19-21). Tog sê die Bybel dat dit genotvol moet wees om te eet en te drink. “Elke mens [moet] eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid; dit is ’n gawe van God.”—Prediker 3:13.
Die Bybel moedig ons ook aan om ’n gebalanseerde beskouing van oefening te hê en sê dat ‘liggaamlike oefening min voordeel het’. Maar dit voeg by: “Godvrugtige toegewydheid is voordelig vir alles, aangesien dit belofte inhou vir die teenswoordige en die toekomstige lewe” (1 Timoteus 4:8). ‘Hoe’, vra jy dalk, ‘is godvrugtige toegewydheid selfs vandag voordelig?’ Op baie maniere. Behalwe dat godvrugtige toegewydheid ’n noodsaaklike geestelike dimensie aan ’n mens se lewe verleen, help dit jou om heilsame eienskappe soos liefde, vreugde, vrede en selfbeheersing aan te kweek—wat alles tot ’n positiewe lewensbeskouing en goeie gesondheid bydra.—Galasiërs 5:22, 23.
Bittere gevolge van onsedelikheid
Vandag ignoreer miljoene alle sedelike beperkinge. Die vigs-epidemie is een van die gevolge. Volgens die WGO het meer as 16 miljoen mense al sedert die begin van die vigs-epidemie gesterf, en tans is ongeveer 34 miljoen besmet met MIV, die virus wat vigs veroorsaak. Baie vigs-lyers het die siekte gekry deur promiskue seksuele gedrag, besmette spuitnaalde wat deur dwelmverslaafdes gebruik is of besmette bloedoortappings.
Spreuke 7:23 beskryf byvoorbeeld die verskriklike gevolge van hoerery as ‘’n pyl wat die lewer splits’. Sifilis sowel as hepatitis val gewoonlik die lewer aan. Ja, hoe tydig en liefdevol is die Bybel se raad tog dat Christene hulle moet ‘onthou van bloed en van hoerery’!—Handelinge 15:28, 29.
Ander gevolge van los sedes sluit herpes, gonorree, hepatitis B en C en sifilis in. Hoewel hierdie mediese terme nie in Bybeltye gebruik is nie, was dit bekend watter organe aangetas is deur sekere seksueel oordraagbare siektes wat toe algemeen was.Die strik van die liefde vir geld
In ’n poging om vinnig ryk te word, loop baie mense groot risiko’s met hulle geld. Ongelukkig lei sulke risiko’s dikwels tot finansiële verlies of ondergang. Die Bybel sê egter vir die kneg van God: “Laat hom . . . harde werk doen deur met sy hande werk te doen wat goed is, sodat hy iets kan hê om uit te deel aan iemand wat gebrek het” (Efesiërs 4:28). Die harde werker sal weliswaar dalk nie altyd ryk word nie. Maar hy het gemoedsrus, selfrespek en miskien selfs fondse wat hy aan ’n goeie saak kan skenk.
Die Bybel waarsku: ‘Dié wat vasbeslote is om ryk te wees, val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes, wat mense in vernietiging en verderf stort. Want die liefde vir geld is ’n wortel van allerhande skadelike dinge, en deur hierdie liefde na te streef, het party hulleself oral met baie pyne deurboor’ (1 Timoteus 6:9, 10). Baie wat “vasbeslote is om ryk te wees”, word inderdaad ryk. Maar watter prys betaal hulle daarvoor? Is dit nie waar dat hulle gesondheid, gesin, geestelikheid en selfs hulle slaap daaronder ly nie?—Prediker 5:11.
’n Verstandige persoon besef dat ‘lewe nie voortspruit uit die dinge wat hy besit nie’ (Lukas 12:15). Geld en ’n paar besittings is in die meeste gemeenskappe nodig. Trouens, die Bybel sê “geld is ’n beskutting”, maar dit voeg by dat “die voordeel van kennis is: die wysheid hou die besitter daarvan in die lewe” (Prediker 7:12). Anders as geld kan die regte kennis en wysheid ons in alle omstandighede help, maar veral in sake wat ons lewe raak.—Spreuke 4:5-9.
Wanneer net wysheid ons sal beskerm
Ware wysheid sal binnekort ‘die besitter daarvan in die lewe hou’ op ’n ongekende manier—beskerming deur die vinnig naderende “groot verdrukking”, wanneer God die goddelose gaan vernietig (Matteus 24:21). Gedurende daardie tyd sal mense, volgens die Bybel, hulle geld op die strate gooi as “’n voorwerp van afsku”. Waarom? Want hulle sal deur bittere ervaring geleer het dat goud en silwer gedurende “die dag van die grimmigheid van die HERE” nie vir hulle lewe sal koop nie (Esegiël 7:19). Daarenteen sal “’n groot skare”, wat verstandig is en ‘vir hulle skatte in die hemel opgegaar het’ deur geestelike belange eerste in hulle lewe te stel, baat vind by hulle veilige belegging en ewige lewe op ’n paradysaarde beërf.—Openbaring 7:9, 14; 21:3, 4; Matteus 6:19, 20.
Hoe kan ons hierdie veilige toekoms verkry? Jesus antwoord: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Miljoene het hierdie kennis in God se Woord, die Bybel, gevind. Nie alleen het hierdie mense ’n wonderlike hoop vir die toekoms nie, maar hulle ondervind nou reeds ’n mate van vrede en veiligheid. Dit is net soos die psalmis gesê het: “Ek wil in vrede gaan lê en meteens aan die slaap raak; want U, o HERE, alleen laat my in veiligheid woon.”—Psalm 4:9.
Kan jy aan enige ander bron van inligting dink wat jou kan help om die gevare te verminder waaraan jou gesondheid en lewe blootgestel is soos wat die Bybel dit doen? Geen ander boek het die gesag wat die Bybel het nie, en geen ander boek kan jou help om ware beskerming in vandag se gevaarlike wêreld te vind nie. Ondersoek dit gerus verder.
[Venster/Prent op bladsy 6]
Beter gesondheid en veiligheid—danksy die Bybel
Om van die werklikhede van die lewe te ontvlug, het ’n jong vrou met die naam Antoinette a gereeld dagga, tabak, kokaïen, amfetamien, LSD en ander dwelms gebruik. Sy was ook ’n strawwe drinker. Volgens Antoinette het haar man ’n soortgelyke lewe gelei. Die toekoms het donker gelyk. Toe het Antoinette met Jehovah se Getuies in aanraking gekom. Sy het Christelike vergaderinge begin bywoon en Die Wagtoring en sy medetydskrif, die Ontwaak!, begin lees, wat sy ook vir haar man gegee het om te lees. Hulle albei het die Bybel saam met die Getuies begin studeer. Namate hulle waardering vir Jehovah se hoë standaarde opgebou het, het hulle opgehou om enige gewoontevormende middels te gebruik. Die gevolg? “Ons nuwe lewe het ons soveel vreugde gebring”, het Antoinette ’n paar jaar later geskryf. “Ek is so dankbaar teenoor Jehovah vir die reinigende krag van sy Woord en vir die vryheid en gesonde lewe wat ons nou kan geniet.”
Die geval van Kobus, wat met rekenaarstelsels gewerk het, lig goed toe hoe belangrik dit is om ’n eerlike werknemer te wees. Nuwe toerusting was nodig, en Kobus se werkgewer het hom die verantwoordelikheid gegee om dit teen ’n goeie prys aan te skaf. Kobus het ’n geskikte verskaffer gekry, en hulle het oor die prys ooreengekom. Die verskaffer se klerk het egter ’n fout gemaak op die geskrewe kwotasie, met die gevolg dat die prys amper R290 000 minder was. Toe Kobus die fout opmerk, het hy die maatskappy gebel, en die bestuurder het gesê dat hy in sy loopbaan van 25 jaar nog nooit sulke eerlikheid gesien het nie. Kobus het verduidelik dat sy gewete deur die Bybel gevorm is. Die gevolg was dat die bestuurder 300 eksemplare van die Ontwaak! oor eerlikheid in die sakewêreld aangevra het sodat hy dit vir sy kollegas kon gee. En Kobus se eerlikheid het daartoe gelei dat hy bevorder is.
[Voetnote]
a Name is verander.
[Prent op bladsy 7]
“Ek, Jehovah, is jou God, wat jou leer om jouself te bevoordeel.”—JESAJA 48:17, NW