’n Brilmaker saai ’n saadjie
’n Brilmaker saai ’n saadjie
Wat het ’n brilmaker in Lviv, in die Oekraïne, te doen met die stigting van ’n Russiese gemeente van Jehovah se Getuies in Haifa, Israel, sowat 2 000 kilometer en baie lande daarvandaan? Dit is ’n verhaal wat die Bybel se woorde in Prediker 11:6 bevestig: “Saai jou saad in die môre, en laat teen die aand jou hand nie rus nie; want jy weet nooit watter een sal geluk nie.”
ONS verhaal begin in 1990 toe Ella, ’n jong vrou uit ’n Joodse agtergrond, in Lviv gewoon het. Ella en haar gesin was besig met reëlings om na Israel te immigreer. Kort voor hulle vertrek, het Ella ’n afspraak met ’n brilmaker gehad wat een van Jehovah se Getuies is. Destyds was daar ’n verbod op die werk van Jehovah se Getuies in die Oekraïne. Die brilmaker het nietemin die inisiatief geneem om Ella van sy Bybelse oortuiging te vertel. Sy was
verbaas toe hy vir haar sê dat God ’n persoonlike naam het. Dit het Ella se belangstelling gewek en ’n goeie Bybelbespreking het gevolg.Ella het die bespreking so geniet dat sy gevra het of hulle die volgende week nog ’n bespreking kon hê, en later nog een. Haar belangstelling het gegroei, maar daar was ’n probleem. Die datum waarop hulle gesin na Israel sou vertrek, het vinnig nader gekom. Ella het nog soveel gehad om te leer! Om die oorblywende tyd ten beste te benut, het sy gevra om elke dag totdat sy vertrek ’n Bybelstudie te hê. Hoewel Ella nie haar studie onmiddellik hervat het toe sy in Israel aangekom het nie, het die saadjie van waarheid in haar hart wortelgeskiet. Teen die einde van die jaar het sy weer die Bybel ernstig begin bestudeer.
Oorlog het in die Persiese Golf uitgebreek, en Irak het missiele op Israel afgevuur. Dit was iets waaroor mense heeltyd gepraat het. Eendag in ’n supermark het Ella toevallig ’n gesprek gehoor van ’n Russiese gesin wat nuwe immigrante was. Hoewel Ella self maar nog net die Bybel bestudeer het, het sy die gesin genader en hulle vertel van die Bybel se belofte van ’n vreedsame wêreld. Die uiteinde was dat die ouma, Galina; die ma, Natasha; die seun, Sasha (Ariel), en die dogter, Ilana, almal by Ella se Bybelstudie aangesluit het.
Sasha was die eerste gesinslid wat hom laat doop het—ten spyte van baie beproewinge. Hoewel hy ’n uitstaande leerling was, is hy uit die skool geskors omdat sy Christelike gewete hom nie toegelaat het om aan voormilitêre opleiding, wat ’n vereiste deel van die skoolleerplan is, deel te neem nie (Jesaja 2:2-4). Sasha se saak het na Israel se Hooggeregshof in Jerusalem gegaan, wat tot ’n prysenswaardige beslissing gekom het en beveel het dat Sasha teruggeneem moet word sodat hy die skooltermyn kan voltooi. Die saak het landwyd publisiteit gekry. Gevolglik het baie Israeli’s te wete gekom wat Jehovah se Getuies glo. a
Nadat Sasha sy hoërskoolopleiding voltooi het, het hy die voltydse bediening van Jehovah se Getuies betree. Vandag dien hy as ’n spesiale pionier en ’n gemeentelike ouer man. Sy suster, Ilana, het by hom aangesluit in die voltydse bediening. Hulle ma en hulle ouma is albei gedoopte Getuies. Die saadjie wat die brilmaker gesaai het, het nog steeds vrug gedra!
Intussen het Ella voortgegaan om geestelike vooruitgang te maak en kort voor lank het sy van huis tot huis begin getuig. By haar heel eerste deur het Ella vir Faina ontmoet, wat kort tevore van die Oekraïne af gekom het. Faina het aan depressie gely. Ella het later uitgevind dat Faina, kort voordat Ella aan haar deur geklop het, tot God gebid het: “Ek weet nie wie u is nie, maar as u my hoor, help my.” Sy en Ella het ’n interessante bespreking gehad. Faina het baie vrae gevra en ernstig nagedink oor die antwoorde wat sy gekry het. Met verloop van tyd, het sy tot die oortuiging gekom dat Jehovah se Getuies die waarheid uit die Bybel leer. Sy het die rooster van haar studies by die universiteit aangepas sodat sy meer tyd saam met die gemeente en in die predikingswerk kon deurbring. In Mei 1994 is Faina gedoop. Sy het ook
as ’n pionier begin dien en onderhou haarself deur deeltydse werk in die rekenaarbedryf te doen.In November 1994, terwyl Ella met velddiens besig was, het sy skielik baie swak gevoel. Sy het hospitaal toe gegaan waar toetse getoon het dat sy ’n bloeiende maagseer het. Teen die aand het Ella se hemoglobientelling tot 7,2 geval. ’n Ouer man in Ella se gemeente, die voorsitter van die plaaslike Hospitaalskakelkomitee (HSK), het vir die dokters inligting oor verskeie mediese prosedures gegee wat nie die gebruik van bloed vereis het nie. b Die operasie is suksesvol uitgevoer sonder bloed, en Ella het ten volle herstel.—Handelinge 15:28, 29.
Ella se ginekoloog, Karl, ’n Duitse Jood, was baie beïndruk. Toe het hy onthou dat sy ouers, wat die Slagting oorleef het, Jehovah se Getuies in die konsentrasiekampe geken het. Karl het baie vrae gevra. Hoewel Karl baie besig was met sy dokterspraktyk, het hy tyd gemaak vir ’n gereelde Bybelstudie. Teen die volgende jaar het hy die weeklikse Christelike vergaderinge bygewoon.
Wat was die resultaat van die saadjie wat die brilmaker gesaai het? Ons het reeds gesien wat met Sasha en sy gesin gebeur het. Ella is ’n spesiale pionier. Haar dogter, Eina, wat pas klaar is met hoërskool, begin haar eie loopbaan as ’n pionier. Faina dien ook as ’n spesiale pionier. Karl, Ella se ginekoloog, is nou ’n gedoopte Getuie en ’n bedieningskneg, wat sy pasiënte en ander van die genesende krag van Bybelwaarheid vertel.
Die klein groepie Russiese immigrante wat begin het as deel van die Haifa- Hebreeuse gemeente het nou ’n ywerige Russiese gemeente met meer as 120 Koninkryksverkondigers geword. Hierdie vermeerdering is deels te danke aan die feit dat ’n brilmaker in Lviv gebruik gemaak het van ’n geleentheid om ’n saadjie te saai!
[Voetnote]
a Sien die Ontwaak! van 8 November 1994, bladsye 12-15, vir verdere besonderhede.
b HSK’s verteenwoordig Jehovah se Getuies wêreldwyd en help met kommunikasie tussen die pasiënt en hospitaalpersoneel. Hulle voorsien ook inligting oor alternatiewe mediese behandeling wat op die jongste mediese navorsing gebaseer is.
[Kaart op bladsy 29]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
DIE OEKRAÏNE
ISRAEL
[Erkenning]
Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.
[Prente op bladsy 30]
Ella en haar dogter, Eina
[Prent op bladsy 31]
’n Gelukkige groep Russiese Getuies in Haifa. Van links na regs: Sasha, Ilana, Natasha, Galina, Faina, Ella, Eina en Karl