Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Dooie See-rolle—Waarom moet jy daarin belangstel?

Die Dooie See-rolle—Waarom moet jy daarin belangstel?

Die Dooie See-rolle—Waarom moet jy daarin belangstel?

Voor die ontdekking van die Dooie See-rolle het die oudste manuskripte van die Hebreeuse Geskrifte uit omtrent die negende en tiende eeu G.J. gedateer. Kon hierdie manuskripte werklik vertrou word as getroue weergawes van God se Woord, aangesien die Hebreeuse Geskrifte baie meer as duisend jaar tevore voltooi is? Professor Julio Trebolle Barrera, ’n lid van die internasionale span redakteurs van die Dooie See-rolle, sê: “Die Jesaja-boekrol [van Qumran] voorsien onweerlegbare bewyse dat Joodse kopiïste die Bybelteks oor ’n tydperk van meer as eenduisend jaar uiters getrou en noukeurig met die hand oorgedra het.”

DIE boekrol waarna Barrera verwys, bevat die hele boek van Jesaja. Tot op hede is meer as 200 Bybelmanuskripte by Qumran gevind, en daarin is dele van al die boeke van die Hebreeuse Geskrifte behalwe van die boek Ester geïdentifiseer. Anders as die Jesaja-boekrol is daar van die meeste slegs fragmente, wat minder as ’n tiende van enige gegewe boek bevat. Die gewildste Bybelboeke by Qumran was die Psalms (36 afskrifte), Deuteronomium (29 afskrifte) en Jesaja (21 afskrifte). Dit is ook die boeke waaruit daar die meeste in die Christelike Griekse Geskrifte aangehaal word.

Hoewel die boekrolle toon dat die Bybel nie fundamentele veranderinge ondergaan het nie, wys dit ook dat die Jode in die Tweede Tempeltydperk in sekere mate verskillende weergawes van die Hebreeuse Bybelteks gebruik het, elk met sy eie variasies. Nie al die boekrolle stem met die Masoretiese teks ooreen wat spelling of woordkeuse betref nie. Party is nader aan die Griekse Septuagint. Voorheen het geleerdes gedink dat die Septuagint se verskille moontlik te wyte is aan foute of selfs doelbewuste veranderinge deur die vertaler. Nou toon die boekrolle dat baie van hierdie verskille eintlik die gevolg is van variasies in die Hebreeuse teks. Dit verklaar dalk sekere gevalle waar vroeë Christene wat uit die Hebreeuse Geskrifte aangehaal het, woorde gebruik het wat van die Masoretiese teks verskil.—Exodus 1:5; Handelinge 7:14.

Hierdie skatkis van Bybelboekrolle en -fragmente voorsien dus ’n uitstekende grondslag vir ’n studie van hoe die Hebreeuse Bybelteks aan ons oorgedra is. Die Dooie See-rolle het die waarde bevestig van die Septuagint sowel as die Samaritaanse Pentateug om teksvergelykings te doen. Dit voorsien ’n bykomende bron vir Bybelvertalers om moontlike verbeteringe van die Masoretiese teks te oorweeg. Op etlike plekke bevestig dit besluite van die New World Bible Translation Committee om Jehovah se naam terug te sit op plekke waar dit uit die Masoretiese teks verwyder is.

Die boekrolle wat die reëls en opvattings van die Qumran-sekte beskryf, toon baie duidelik dat daar nie net een vorm van Judaïsme in Jesus se tyd was nie. Die Qumran-sekte het tradisies gehad wat verskil het van dié van die Fariseërs en die Sadduseërs. Hierdie verskille was waarskynlik die rede waarom die sekte hulle in die woestyn afgesonder het. Hulle het verkeerdelik in hulleself ’n vervulling van Jesaja 40:3 gesien oor ’n stem in die woestyn wat die weg van Jehovah gelykmaak. ’n Aantal van die boekrolfragmente verwys na die Messias, wie se koms volgens die skrywers op hande was. Dit is veral van belang in die lig van Lukas se kommentaar dat “die volk in afwagting verkeer het” van die Messias se koms.—Lukas 3:15.

Die Dooie See-rolle help ons in ’n mate om die agtergrond te verstaan van Joodse lewe gedurende die tyd wat Jesus gepreek het. Hulle voorsien vergelykende inligting om antieke Hebreeus en die Bybelteks te bestudeer. Maar die teks van baie van die Dooie See-rolle moet nog noukeuriger ontleed word. Ons kan dus nog tot nuwe insig kom. Ja, namate ons in die 21ste eeu ingaan, maak die grootste argeologiese ontdekking van die 20ste eeu geleerdes sowel as Bybelstudente nog steeds opgewonde.

[Foto-erkennings op bladsy 7]

Qumran-opgrawings: Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.; manuskrip: Courtesy of Shrine of the Book, Israel Museum, Jerusalem