Gepaste en ongepaste haat
Gepaste en ongepaste haat
DIE Bybel veroordeel die een wat sy naaste haat. Daarenteen verwys dit na haat wat God se knegte moet aankweek.
Om God se beskouing van haat ten volle te begryp, moet ’n mens verstaan dat die woord “haat” in die Skrif verskillende betekenisse het. Dit kan dui op intense vyandigheid, volgehoue kwade gevoelens wat dikwels met kwaadwilligheid gepaardgaan. Hierdie haat kan ’n verterende emosie word wat die voorwerp daarvan leed wil aandoen. “Haat” kan ook dui op ’n sterk afkeer maar sonder die bedoeling om die voorwerp daarvan leed aan te doen, en eerder met die bedoeling om dit te probeer vermy weens ’n gevoel van weersin daarin. Die Bybel gebruik ook die woord “haat” in die betekenis van minder liefhê.—Genesis 29:31, 33; Deuteronomium 21:15, 16.
Ongepaste haat
God se wet aan Israel het gesê: “Jy mag jou broer in jou hart nie haat nie” (Levitikus 19:17). ’n Vereiste vir iemand wat gesê het dat hy ’n onopsetlike mensemoordenaar was en beskerming in die vrystede probeer soek het, was dat hy nie die oorledene gehaat het nie.—Deuteronomium 19:4, 11-13.
Jesus se raad om jou vyande lief te hê, is in volle harmonie met die gees van die Hebreeuse Geskrifte (Matteus 5:44). Die getroue Job het erken dat hy nie kwaadwillige vreugde kon put uit die rampspoed van sy hater nie, want dit sou verkeerd wees (Job 31:29). Die Mosaïese Wet het op die Israeliete die verantwoordelikheid geplaas om ander Israeliete te help wat hulle moontlik as hulle vyande beskou het (Exodus 23:4, 5). Pleks van hulle oor die rampspoed van ’n vyand te verbly, word God se knegte beveel: “As jou vyand honger het, gee hom brood om te eet; en as hy dors het, gee hom water om te drink.”—Spreuke 25:21.
Die gedagte dat vyande gehaat moet word, is iets wat by God se wet gevoeg is deur die Joodse leermeesters van tradisie. Aangesien die Wet gesê het dat die Israeliete hulle naaste moet liefhê, het hierdie leermeesters daaruit afgelei dat dit beteken het dat hulle hulle vyande moet haat (Levitikus 19:18). “Vriend” en “naaste” het iets geword wat net op Jode toegepas is, terwyl alle ander mense as natuurlike vyande beskou is. In die lig van hulle tradisionele begrip van “naaste” en met die oog op tradisies wat vyandigheid teenoor die nie-Jode aangemoedig het, kan ’n mens maklik sien waarom hulle die ongeoorloofde woorde “en jou vyand haat” by die stelling in God se wet gevoeg het.—Matteus 5:43.
Die Christen is daarteenoor onder verpligting om sy vyande lief te hê, dit wil sê diegene wat hulleself persoonlike vyande maak. Sulke liefde (Grieks, a·gaʹpe) is nie sentimentaliteit, wat op ’n blote persoonlike
gehegtheid gegrond is, soos mense gewoonlik dink nie, maar is ’n sedelike of sosiale liefde wat gebaseer is op doelbewuste inspanning as ’n saak van beginsel, plig en korrektheid, wat spruit uit ’n opregte poging om die ander persoon se beste belange op die hart te dra.A·gaʹpe (liefde) oorkom persoonlike vyandighede en laat nooit toe dat regte beginsels prysgegee word en dat kwaad enigsins met kwaad vergeld word nie. En die kneg van God sal selfs vir diegene bid wat uit onkunde sy Christelike weg teëstaan en hom vervolg sodat sulke mense se oë geopen kan word om die waarheid aangaande God en Sy voornemens te sien.—Matteus 5:44.
Vermy ongepaste haat
Wanneer mense wat mekaar vroeër gehaat het, Christene word, hou hulle op om mekaar te haat (Titus 3:3). Die een wat sy broer haat, wandel nog in die duisternis, en enige bewering wat hy maak dat hy God liefhet, is in werklikheid ’n leuen. As ’n mens jou broer haat, kom dit daarop neer dat jy ’n moordenaar is.—1 Johannes 4:20; 3:15.
Sentimentaliteit kan maak dat ’n mens se beskouing van liefde en haat ongebalanseerd raak, en dit was blykbaar waar van Dawid in die geval van sy seun Absalom (2 Samuel 18:33; 19:1-6). Daarom ook: “Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.”—Spreuke 13:24.
Deur die privaatheid van ander te respekteer en hulle liefdevol in ag te neem, kan ’n mens voorkom dat jy onnodig gehaat word. Daarom hierdie raad: “Sit jou voet selde in jou naaste se huis, sodat hy nie van jou genoeg kry en jou haat nie.”—Spreuke 25:17.
Gepaste haat
Onder sekere omstandighede en op sekere tye is dit wel gepas om te haat. ‘Daar is ’n tyd om lief te hê en ’n tyd om te haat’ (Prediker 3:1, 8). Selfs van Jehovah word daar gesê dat hy Esau gehaat het (Maleagi 1:2, 3). Maar dit is nie uit willekeur dat God so gevoel het nie. Esau het getoon dat hy nie Jehovah se liefde waardig is nie deur sy geboortereg te verag en te verkoop en gevolglik ook die Goddelike beloftes en seëninge wat daarby ingesluit was. Daarbenewens was hy van voorneme om sy broer Jakob te vermoor.—Genesis 25:32-34; 27:41-43; Hebreërs 12:14-16.
In ware lojaliteit aan Jehovah haat sy knegte wat en wie hy haat. Die psalmis het geskryf: “HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ’n afsku hê van die wat teen U opstaan nie? Ek haat hulle met ’n volkome haat; vyande is hulle vir my!”—Psalm 139:21, 22.
Maar hierdie haat probeer ander nie seermaak nie en is nie dieselfde as boosaardigheid of kwaadwilligheid nie. Dit is eerder ’n volkome afsku van wat goddeloos is, ’n vermyding van wat sleg is en van diegene wat Jehovah intens haat (Romeine 12:9, 17, 19). Christene haat tereg diegene wat besliste vyande van God is, soos die Duiwel en sy demone, asook mense wat willens en wetens ’n standpunt teen Jehovah ingeneem het.
Hoewel Christene geen liefde het vir diegene wat die onverdiende goedhartigheid van God in ’n verskoning vir losbandige gedrag verander nie, haat hulle nie mense wat by verkeerde gedrag betrokke raak, maar wat verdien om met barmhartigheid behandel te word nie. Hulle haat nie die berouvolle oortreder nie, maar eerder die goddelose daad, ja, ‘selfs die onderkleed wat deur die vlees bevlek is’.—Judas 4, 23.