Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se herstelde volk loof hom wêreldwyd

Jehovah se herstelde volk loof hom wêreldwyd

Jehovah se herstelde volk loof hom wêreldwyd

“Ek [sal] volke tot ’n suiwer taal laat oorgaan, sodat hulle almal die naam van Jehovah sal aanroep.”—SEFANJA 3:9, NW.

1. Waarom is boodskappe van veroordeling teenoor Juda en ander nasies uitgespreek?

 WATTER kragtige oordeelsboodskappe het Jehovah Sefanja tog geïnspireer om bekend te maak! Daardie boodskappe van veroordeling is teenoor Juda en sy hoofstad, Jerusalem, uitgespreek omdat die leiers en die volk oor die algemeen nie Jehovah se wil gedoen het nie. Nabygeleë nasies, soos Filistea, Moab en Ammon, sou ook God se wraak ervaar. Waarom? Omdat hulle Jehovah se volk deur die eeue heen wreed vervolg het. Om daardie selfde rede sou die Assiriese wêreldmag vernietig word en nooit weer opgebou word nie.

2. Tot wie is die woorde van Sefanja 3:8 blykbaar gerig?

2 Daar was egter ’n paar regskapenes in eertydse Juda. Hulle het uitgesien na die voltrekking van Goddelike oordeel aan die goddelose, en dit is blykbaar aan hulle wat dié woorde gerig is: “Verwag My, spreek die HERE, op die dag wat Ek My gereed maak vir die buit; want dit is my strafoordeel om nasies te versamel, koninkryke te vergader om my grimmigheid oor hulle uit te stort, al die gloed van my toorn. Want die ganse aarde sal deur die vuur van my ywer verteer word!”—Sefanja 3:8.

“’n Suiwer taal”—Vir wie?

3. Watter boodskap van hoop is Sefanja geïnspireer om bekend te maak?

3 Ja, Sefanja het Jehovah se oordeelsboodskappe bekend gemaak. Maar die profeet is ook geïnspireer om ’n wonderlike boodskap van hoop in te sluit—’n boodskap wat ’n groot vertroosting sou wees vir diegene wat getrou aan Jehovah gebly het. Soos opgeteken in Sefanja 3:9 (NW) het Jehovah God gesê: “Dan sal ek volke tot ’n suiwer taal laat oorgaan, sodat hulle almal die naam van Jehovah sal aanroep, ten einde hom skouer aan skouer te dien.”

4, 5. (a) Wat sou met die onregverdiges gebeur? (b) Wie sou daarby baat vind, en waarom?

4 Daar sou mense wees aan wie die suiwer taal nie gegee sou word nie. Die profesie sê wie dit is: “Ek [sal] jou hoogmoedige uitgelatenes uit jou midde verwyder” (Sefanja 3:11, NW). Die hoogmoediges wat God se wette verag het en ongeregtigheid beoefen het, sou dus verwyder word. En wie sou daarby baat vind? Sefanja 3:12, 13 (NW) sê: “Ek [Jehovah] sal beslis ’n nederige en geringe volk in jou laat oorbly, en hulle sal by die naam van Jehovah toevlug soek. Die oorblywendes van Israel sal geen onreg doen of leuen spreek nie, en ook sal daar in hulle mond geen bedrieglike tong gevind word nie; want hulle sal wei en uitgestrek lê, en daar sal niemand wees wat hulle laat bewe nie.”

5 ’n Getroue oorblyfsel in eertydse Juda sou baat vind. Waarom? Want hulle het in ooreenstemming met dié woorde opgetree: “Soek Jehovah, alle sagmoediges van die aarde, wat Sy regterlike beslissing uitgevoer het. Soek regverdigheid, soek sagmoedigheid. Moontlik sal julle verberg word op die dag van Jehovah se toorn.”—Sefanja 2:3NW.

6. Wat het in die eerste vervulling van Sefanja se profesie gebeur?

6 In die eerste vervulling van Sefanja se profesie het God ontroue Juda gestraf deur die Babiloniese wêreldmoondheid toe te laat om hom in 607 v.G.J. te verslaan en sy volk gevange te neem. Party, insluitende die profeet Jeremia, is gered, en ander het tydens gevangenskap aan Jehovah getrou gebly. In 539 v.G.J. is Babilon deur die Meders en Perse onder koning Kores omvergewerp. Ongeveer twee jaar later het Kores ’n bevel uitgevaardig wat ’n Joodse oorblyfsel toegelaat het om na hulle tuisland toe terug te keer. Mettertyd is Jerusalem se tempel herbou, en die priesters was weer in staat om die mense die Wet te leer (Maleagi 2:7). Sodoende het Jehovah die herstelde oorblyfsel geseën—so lank as wat hulle getrou gebly het.

7, 8. Op wie was die profetiese woorde van Sefanja 3:14-17 van toepassing, en waarom antwoord jy so?

7 Aangaande diegene wat daardie herstelling sou belewe, het Sefanja voorspel: “Jubel, o dogter van Sion, juig, o Israel! Verheug jou en jubel van ganser harte, o dogter van Jerusalem! Die HERE het jou oordele opgehef, jou vyand weggeveeg; die koning van Israel, die HERE is by jou, jy sal geen kwaad meer vrees nie. In dié dag sal aan Jerusalem gesê word: Vrees nie, o Sion, laat jou hande nie slap hang nie! Die HERE jou God is by jou, ’n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel.”—Sefanja 3:14-17.

8 Daardie profetiese woorde het na die oorblyfsel verwys wat uit Babiloniese gevangenskap gelei en na hulle vaderland teruggebring is. Dit word getoon in Sefanja 3:18-20 (NW), wat sê: “‘Dié wat bedroef is oor hulle afwesigheid by jou feestyd, sal ek [Jehovah] beslis versamel; hulle is afwesig van jou, omdat hulle weens hom smaad dra. Kyk, in dié tyd tree ek op teen almal wat jou verdruk; en ek sal dié red wat mank is, en dié wat verstrooi is, sal ek bymekaarmaak. En ek sal hulle tot ’n lof en ’n naam in die hele land van hulle skaamte maak. In dié tyd sal ek julle inbring, ja, in die tyd wanneer ek julle bymekaarmaak. Want ek sal julle tot ’n naam en ’n lof onder al die volke van die aarde maak, wanneer ek julle gevangenes voor julle oë laat terugkeer’, het Jehovah gesê.”

9. Hoe het Jehovah vir hom ’n naam gemaak in verband met Juda?

9 Stel jou die skok voor van diegene in die omliggende nasies wat vyande van God se volk was! Die inwoners van Juda is deur die magtige Babilon gevange geneem, blykbaar sonder enige hoop om ooit vrygelaat te word. Daarbenewens het hulle land woes gelê. Maar deur God se krag is hulle ná 70 jaar in hulle tuisland hervestig, terwyl die vyandige nasies op vernietiging afgestuur het. Wat ’n naam het Jehovah tog vir hom gemaak deur daardie getroue oorblyfsel terug te bring! Hy het hulle “’n naam en ’n lof onder al die volke” gemaak. Hoe het dit Jehovah en diegene wat sy naam dra tog nie tot lof gestrek nie!

Jehovah se aanbidding is verhef

10, 11. Wanneer sal die groter vervulling van Sefanja se herstellingsprofesie plaasvind, en hoe weet ons dit?

10 ’n Ander herstelling het in die eerste eeu van die Gewone Jaartelling plaasgevind toe Jesus Christus ’n oorblyfsel van Israel vir ware aanbidding versamel het. Dit was ’n voorskou van wat nog sou gebeur, want die groter vervulling van die herstelling was nog iets toekomstigs. Miga se profesie het voorspel: “Aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom.”—Miga 4:1.

11 Wanneer sou dit plaasvind? Soos die profesie gesê het, “aan die einde van die dae”—ja, gedurende hierdie “laaste dae” (2 Timoteus 3:1). Dit sou voor die einde van die huidige goddelose stelsel van dinge plaasvind terwyl die nasies nog steeds valse gode aanbid. Miga 4:5 (NW) sê: “Wat al die volke betref, elkeen sal in die naam van sy god wandel.” En wat van ware aanbidders? Miga se profesie gee die antwoord: “Maar óns sal in die naam van Jehovah ons God wandel tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig.”

12. Hoe is ware aanbidding in hierdie laaste dae verhef?

12 In hierdie laaste dae ‘staan die berg van die huis van Jehovah vas op die top van die berge’. Die verhewe ware aanbidding van Jehovah is herstel, stewig gevestig en verhef bo alle ander godsdienste. Soos Miga se profesie ook voorspel het, ‘sal volke daarheen toestroom’. En diegene wat ware aanbidding beoefen, sal ‘wandel in die naam van Jehovah hulle God tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig’.

13, 14. Wanneer het hierdie wêreld “die einde van die dae” ingegaan, en wat het sedertdien met betrekking tot ware aanbidding gebeur?

13 Gebeure ter vervulling van Bybelprofesieë toon dat hierdie wêreld “die einde van die dae”—sy laaste dae—in die jaar 1914 binnegegaan het (Markus 13:4-10). Die geskiedenis toon dat Jehovah ’n getroue oorblyfsel van gesalfdes, wat ’n hemelse hoop het, tot ware aanbidding begin versamel het. Dit is gevolg deur die insameling van “’n groot skare . . . uit alle nasies en stamme en volke en tale”—diegene wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe.—Openbaring 7:9.

14 Sedert die Eerste Wêreldoorlog en tot vandag toe het die aanbidding van Jehovah deur mense wat sy naam dra op ’n kragtige wyse onder sy leiding vooruitgegaan. Waar die aanbidders van Jehovah ná die Eerste Wêreldoorlog net ’n paar duisend was, is hulle nou ongeveer sesmiljoen in sowat 91 000 gemeentes in 235 lande. Elke jaar bestee hierdie Koninkryksverkondigers meer as ’n miljard uur daaraan om God in die openbaar te loof. Dit is duidelik dat hierdie Getuies van Jehovah die persone is wat Jesus se profetiese woorde vervul: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matteus 24:14.

15. Hoe word Sefanja 2:3 nou vervul?

15 Sefanja 3:17 sê: “Die HERE jou God is by jou, ’n held wat verlossing skenk.” Die geestelike voorspoed wat Jehovah se knegte in hierdie laaste dae geniet, spruit direk voort uit die feit dat hy as hulle almagtige God ‘by hulle is’. Dit was waar met die herstelling van eertydse Juda, in 537 v.G.J., en dit is vandag ook waar. Ons kan dus die groter vervulling van Sefanja 2:3 (NW) in ons tyd sien waar dit sê: “Soek Jehovah, alle sagmoediges van die aarde.” In 537 v.G.J. het “alle” die Joodse oorblyfsel ingesluit wat uit Babiloniese gevangenskap teruggekeer het. Nou verteenwoordig dit die sagmoediges van al die nasies oor die hele aarde, diegene wat gunstig reageer op die wêreldwye Koninkrykspredikingswerk en wat na “die berg van die huis van die HERE” stroom.

Ware aanbidding floreer

16. Wat is moontlik die reaksie van ons vyande op die vooruitgang van Jehovah se knegte in hedendaagse tye?

16 Ná 537 v.G.J. was baie in die omliggende nasies verbaas oor die herstelling van God se knegte in hulle tuisland en die herstelling van ware aanbidding. Maar daardie herstelling het op ’n betreklike klein skaal plaasgevind. Kan jy jou voorstel wat party—selfs die vyande van God se volk—sê noudat hulle die verbasende groei, vooruitgang en voorwaartse beweging van Jehovah se knegte in hedendaagse tye sien? Sommige van hierdie vyande voel heel moontlik soos wat die Fariseërs gevoel het toe hulle gesien het hoe die mense na Jesus gestroom het. Hulle het uitgeroep: “Kyk! Die wêreld het agter hom aan geloop.”—Johannes 12:19.

17. Wat het een skrywer van Jehovah se Getuies gesê, en watter toename het hulle ondervind?

17 Professor Charles S. Braden het in sy boek These Also Believe gesê: “Jehovah se Getuies het letterlik die aarde met hulle getuieniswerk gedek. Daar kan waarlik gesê word dat geen godsdiensgroep in die wêreld meer ywer en volharding geopenbaar het om die goeie nuus van die Koninkryk te probeer versprei as Jehovah se Getuies nie. Hierdie beweging sal heel moontlik van krag tot krag gaan.” Hoe reg was hy tog! Toe hy hierdie woorde 50 jaar gelede geskryf het, het net ongeveer 300 000 Getuies in die wêreld getuig! Wat sou hy vandag sê, aangesien daar nou sowat 20 keer meer is—ongeveer sesmiljoen—wat die goeie nuus verkondig?

18. Wat is die suiwer taal, en aan wie het God dit gegee?

18 God het deur sy profeet belowe: “Ek [sal] volke tot ’n suiwer taal laat oorgaan, sodat hulle almal die naam van Jehovah sal aanroep, om hom skouer aan skouer te dien” (Sefanja 3:9, NW). In hierdie laaste dae is dit Jehovah se Getuies wat die naam van Jehovah aanroep, wat hom eendragtig in ’n onverbreeklike band van liefde dien—ja, “skouer aan skouer”. Jehovah het aan húlle die suiwer taal gegee. Hierdie suiwer taal sluit ’n juiste begrip in van die waarheid aangaande God en sy voornemens. Net Jehovah voorsien hierdie begrip deur middel van sy heilige gees (1 Korintiërs 2:10). Aan wie het hy sy gees gegee? Alleenlik ‘aan dié wat hom as heerser gehoorsaam’ (Handelinge 5:32). Net Jehovah se Getuies is bereid om God in alles as Heerser te gehoorsaam. Daarom ontvang hulle God se gees en praat hulle die suiwer taal, die waarheid aangaande Jehovah en sy wonderlike voornemens. Hulle gebruik die suiwer taal om Jehovah wêreldwyd te loof op ’n groot en toenemende skaal.

19. Wat behels dit om die suiwer taal te praat?

19 Om die suiwer taal te praat, behels nie net dat ’n mens die waarheid glo en dit aan ander leer nie, maar ook dat jy jou gedrag in ooreenstemming met God se wette en beginsels bring. Gesalfde Christene het die leiding daarin geneem om Jehovah te soek en die suiwer taal te praat. Dink aan wat vermag is! Hoewel die gesalfdes nou minder as 8 700 is, volg sowat sesmiljoen ander hulle geloof na deur Jehovah te soek en die suiwer taal te praat. Hulle is die toenemende menigte van die groot skare uit al die nasies wat geloof in Jesus se losprysofferande beoefen, heilige diens verrig in die aardse voorhof van God se geestelike tempel en “die groot verdrukking” sal oorleef wat binnekort oor hierdie onregverdige wêreld sal kom.—Openbaring 7:9, 14, 15.

20. Wat lê voor vir getroue gesalfdes en vir diegene wat die groot skare uitmaak?

20 Die groot skare sal in God se regverdige nuwe wêreld ingelei word (2 Petrus 3:13). Jesus Christus en die 144 000 gesalfdes wat tot hemelse lewe opgewek is om saam met hom as konings en priesters te dien, sal die aarde se nuwe regering uitmaak (Romeine 8:16, 17; Openbaring 7:4; 20:6). Oorlewendes van die groot verdrukking sal werk om die aarde in ’n paradys te omskep en sal voortgaan om die godgegewe suiwer taal te praat. Dié woorde is in beginsel op hulle van toepassing: “Al jou kinders sal deur die HERE geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees. Deur geregtigheid sal jy bevestig word.”—Jesaja 54:13, 14.

Grootste onderrigtingswerk in die geskiedenis

21, 22. (a) Wie sal die suiwer taal geleer moet word, soos Handelinge 24:15 toon? (b) Watter ongeëwenaarde onderrigtingswerk sal op aarde onder Koninkryksheerskappy uitgevoer word?

21 ’n Baie groot groep wat in die nuwe wêreld die geleentheid gegee sal word om die suiwer taal te leer, is diegene waarvan Handelinge 24:15 praat, waar dit sê: ‘Daar gaan ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges wees.’ Miljarde mense het in die verlede gelewe en gesterwe sonder dat hulle juiste kennis van Jehovah gehad het. Hy sal hulle op ordelike wyse opwek. En hierdie verresenes sal die suiwer taal geleer moet word.

22 Wat ’n groot voorreg sal dit tog wees om aan daardie groot onderrigtingswerk deel te neem! Dit sal die grootste onderrigtingswerk in die geskiedenis van die mens wees. Dit alles sal verrig word onder die liefdevolle heerskappy van Christus Jesus in Koninkryksmag. Gevolglik sal die mensdom uiteindelik die vervulling sien van Jesaja 11:9, wat sê: “Die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.”

23. Waarom sou jy sê dat ons as Jehovah se volk baie bevoorreg is?

23 Hoe bevoorreg is ons tog in hierdie laaste dae om vir daardie wonderlike tyd voor te berei wanneer die kennis van Jehovah werklik die aarde sal vul! En hoe bevoorreg is ons nou om God se volk te wees, diegene wat die wonderlike vervulling van die profetiese woorde ervaar wat in Sefanja 3:20 (NW) opgeteken staan! Daar vind ons Jehovah se versekering: “Ek sal julle ’n naam en ’n lof onder al die volke van die aarde maak.”

Hoe sal jy antwoord?

• Watter vervullings het Sefanja se herstellingsprofesie gehad?

• Hoe het ware aanbidding in hierdie laaste dae gefloreer?

• Watter groot onderrigtingswerk sal in die nuwe wêreld plaasvind?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 25]

Jehovah se volk het na hulle tuisland toe teruggekeer om ware aanbidding te herstel. Weet jy wat vandag die betekenis hiervan is?

[Prente op bladsy 26]

Deur die “suiwer taal” te praat, maak Jehovah se Getuies die Bybel se bemoedigende boodskap aan mense bekend