Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah se oordeelsdag is naby!

Jehovah se oordeelsdag is naby!

Jehovah se oordeelsdag is naby!

“Naby is die groot dag van die HERE, naby en baie haastig.”—SEFANJA 1:14.

1. Watter waarskuwing het God deur middel van Sefanja gegee?

 JEHOVAH GOD staan gereed om teen die goddelose op te tree. Luister! Dít is sy waarskuwing: “Ek sal wegraap mense . . . Ek sal die mense uitroei van die aardbodem af weg” (Sefanja 1:3). Hierdie woorde van die Soewereine Heer Jehovah is gespreek deur sy profeet Sefanja, moontlik die agter-agterkleinseun van getroue koning Hiskia. Daardie uitspraak, wat in die dae van goeie koning Josia gedoen is, het niks goeds vir die goddelose in die land van Juda ingehou nie.

2. Waarom het Josia se optrede nie verhinder dat Jehovah se oordeelsdag kom nie?

2 Hierdie profetiese woorde van Sefanja het jong koning Josia ongetwyfeld laat besef hoe belangrik dit was dat Juda van onrein aanbidding gereinig moes word. Maar die koning se optrede om die land van valse godsdiens te reinig, het nie al die goddeloosheid onder die mense verwyder of versoening gedoen vir die sondes van sy oupa, koning Manasse, wat “Jerusalem met onskuldige bloed gevul het” nie (2 Konings 24:3, 4; 2 Kronieke 34:3). Jehovah se oordeelsdag sou dus beslis kom.

3. Hoe kan ons seker wees dat dit moontlik is om “die dag van Jehovah se toorn” te oorleef?

3 En tog sou daar oorlewendes van daardie vreesinboesemende dag wees. God se profeet het derhalwe dié vermaning gegee: “Voordat die insetting iets baar, voordat die dag soos kaf verbygegaan het, voordat die brandende toorn van Jehovah oor julle kom, voordat die dag van Jehovah se toorn oor julle kom, soek Jehovah, alle sagmoediges van die aarde, wat Sy regterlike beslissing uitgevoer het. Soek regverdigheid, soek sagmoedigheid. Moontlik sal julle verberg word op die dag van Jehovah se toorn” (Sefanja 2:2, 3, NW). Laat ons, met die hoop op oorlewing gedurende Jehovah se oordeelsdag in gedagte, die Bybelboek Sefanja ondersoek. Dit is voor 648 v.G.J. in Juda geskryf en is ’n deel van God se “profetiese woord” waaraan ons heelhartig moet aandag skenk.—2 Petrus 1:19.

Jehovah se hand word uitgestrek

4, 5. Hoe is Sefanja 1:1-3 vervul wat die goddeloses in Juda betref?

4 “Die woord van die HERE” aan Sefanja begin met die waarskuwing wat vroeër aangehaal is. God verklaar: “Saamskraap, wegraap sal Ek alles van die aardbodem af weg, spreek die HERE. Ek sal wegraap mense en diere, Ek sal wegraap die voëls van die hemel en die visse van die see en die struikelblokke saam met die goddelose, ja, Ek sal die mense uitroei van die aardbodem af weg, spreek die HERE.”—Sefanja 1:1-3.

5 Ja, Jehovah sou growwe goddeloosheid uit die land van Juda uitroei. Wie sou God gebruik om ‘alles van die aardbodem af weg te raap’? Aangesien Sefanja blykbaar geprofeteer het tydens die vroeë deel van koning Josia se heerskappy, wat in 659 v.G.J. begin het, is daardie profetiese woorde vervul toe Juda en sy hoofstad, Jerusalem, deur die Babiloniërs in 607 v.G.J., vernietig is. Toe is die goddeloses in Juda ‘weggeraap’.

6-8. Wat is in Sefanja 1:4-6 voorspel, en hoe is hierdie profesie in eertydse Juda vervul?

6 Sefanja 1:4-6 voorspel God se optrede teenoor valse aanbidders en sê: “Ek sal my hand uitstrek teen Juda en teen al die inwoners van Jerusalem; Ek sal ook uit hierdie plek uitroei wat van Baäl oorgebly het, die naam van die afgodsdienaars saam met die priesters; en die wat op die dakke die leër van die hemel aanbid; en die aanbidders wat by die HERE sweer en sweer by Milkom. Ook die wat van die HERE afvallig word en wat die HERE nie soek en Hom nie raadpleeg nie.”

7 Jehovah se hand was uitgestrek teen die mense van Juda en Jerusalem. Hy was vasbeslote om die aanbidders van die Kanaänitiese vrugbaarheidsgod Baäl uit te roei. Verskeie plaaslike gode is Baäl genoem omdat hulle aanbidders gedink het dat hulle oor sekere plekke invloed uitoefen. Daar was byvoorbeeld die Baäl wat deur die Moabiete en Midianiete by die berg Peor aanbid is (Numeri 25:1, 3, 6). Jehovah sou die priesters van Baäl in die hele Juda uitroei, asook die ontroue priesterlike Leviete wat God se wet verbreek deur met hulle te meng.—Exodus 20:2, 3.

8 God sou ook diegene uitroei wat “die leër van die hemel aanbid”, mense wat blykbaar astrologie beoefen en die son aanbid het (2 Konings 23:11; Jeremia 19:13; 32:29). Goddelike wraak sou ook uitgeoefen word op diegene wat ware aanbidding met valse aanbidding probeer meng deur ‘te sweer by Jehovah en by Milkom’. Milkom is moontlik ’n ander naam vir Moleg, die hoofgod van die Ammoniete. Die aanbidding van Moleg het kinderofferandes ingesluit.—1 Konings 11:5; Jeremia 32:35.

Die Christendom se einde is op hande!

9. (a) Waaraan is die Christendom skuldig? (b) Wat moet ons, in teenstelling met die ontroues van Juda, vasbeslote wees om te doen?

9 Dit alles laat ons heel moontlik dink aan die Christendom wat by valse aanbidding en astrologie betrokke is. En hulle rol in die miljoene lewens wat geoffer is op die altaar van oorlog wat deur die geestelikes gesteun word, is net so afskuwelik! Laat ons nooit word soos die ontroues van Juda wat ‘van Jehovah afvallig geword het’ deur onverskillig te raak en hom nie meer te soek of sy leiding te vra nie. Laat ons eerder ons onkreukbaarheid teenoor God handhaaf.

10. Hoe sal jy die profetiese betekenis van Sefanja 1:7 verduidelik?

10 Die profeet se volgende woorde is van toepassing op Juda se oortreders sowel as goddelose mense van ons dag. Sefanja 1:7 sê: “Swyg voor die Here HERE! Want die dag van die HERE is naby; want die HERE het ’n offer berei, sy gaste geheilig.” Hierdie “gaste” is blykbaar die Galdese vyande van Juda. Die “offer” was Juda self, met inbegrip van sy hoofstad. Sefanja het dus God se voorneme aangekondig om Jerusalem te vernietig, en hierdie profesie het ook na die vernietiging van die Christendom verwys. Trouens, met God se oordeelsdag wat vandag so naby is, moet die hele wêreld ‘swyg voor die Soewereine Heer Jehovah’ en luister na wat hy sê deur middel van die “klein kuddetjie” van Jesus se gesalfde volgelinge en hulle metgeselle, sy “ander skape” (Lukas 12:32; Johannes 10:16). Vernietiging wag op almal wat nie wil luister nie en wat hulle sodoende teen heerskappy deur God se Koninkryk verset.—Psalm 2:1, 2.

Binnekort—’n Dag van gehuil!

11. Wat is die kern van Sefanja 1:8-11?

11 Sefanja 1:8-11 voeg die volgende oor Jehovah se dag by: “Op die dag van die offer van die HERE sal Ek besoeking doen oor die vorste en die prinse en oor almal wat uitlandse klere dra. Ek sal ook op dié dag besoeking doen oor almal wat oor die drumpel spring, wat die huis van hulle here vul met geweld en bedrog. En op dié dag, spreek die HERE—hoor! ’n geskreeu van die Vispoort af en ’n gehuil van die Nuwe Stad af en ’n groot gekraak van die heuwels af! Huil, o inwoners van die Vysel! want al die koopmans gaan te gronde, almal wat geld afweeg, word uitgeroei.”

12. Hoe is dit dat party “uitlandse klere dra”?

12 Koning Josia sou deur Joahas, Jojakim en Jojagin opgevolg word. Daarna sou Sedekia se heerskappy volg, waartydens die vernietiging van Jerusalem sou plaasvind. Hoewel hierdie ramp hulle in die gesig gestaar het, het party klaarblyklik probeer om deur buurnasies aanvaar te word deur “uitlandse klere [te] dra”. Net so toon baie mense vandag op verskeie maniere dat hulle nie deel uitmaak van Jehovah se organisasie nie. As ’n duidelike deel van Satan se organisasie sal hulle gestraf word.

13. Wat sou in ooreenstemming met Sefanja se profesie gebeur wanneer die Babiloniërs Jerusalem aanval?

13 “Dié dag” van afrekening vir Juda kom ooreen met Jehovah se dag om oordeel aan sy vyande te voltrek, om goddeloosheid te beëindig en om sy oppergesag te bewys. Terwyl die Babiloniërs Jerusalem aangeval het, sou daar ’n geskreeu van die Vispoort af kom. Dit is moontlik so genoem omdat dit naby die vismark was (Nehemia 13:16). Babilon se menigtes sou inkom van die deel wat die Nuwe Stad genoem is, en die “gekraak van die heuwels af” verwys moontlik na die geluid van die aankomende Galdeërs. Die inwoners van die Vysel, moontlik die Bo-Tyropoeon-vallei, sou “huil”. Waarom sou hulle huil? Omdat handelsbedrywighede, insluitende “almal wat geld afweeg”, nie meer daar te vinde sou wees nie.

14. Hoe deeglik sou God sy voorgewende aanbidders ondersoek?

14 Hoe deeglik sou Jehovah sy voorgewende aanbidders ondersoek? Die profesie gaan voort: “In dié tyd sal Ek Jerusalem met lanterns deursoek en besoeking doen oor die manne wat dik geword het op hulle afsaksel, wat in hulle hart sê: Die HERE doen geen goed en Hy doen geen kwaad nie. En hulle rykdom sal geplunder word, en hulle huise verwoes word; en as hulle huise bou, sal hulle dit nie bewoon nie; en as hulle wingerde plant, sal hulle die wyn daarvan nie drink nie.”—Sefanja 1:12, 13.

15. (a) Wat sou met die afvallige priesters van Jerusalem gebeur? (b) Wat kan hedendaagse beoefenaars van valse godsdiens te wagte wees?

15 Die afvallige priesters van Jerusalem het die aanbidding van Jehovah met valse godsdiens gemeng. Hoewel hulle veilig gevoel het, sou God hulle soek soos met skerp lanterns wat die geestelike duisternis sou deurdring waarin hulle hulle toevlug geneem het. Niemand sou die bekendmaking en voltrekking van Goddelike oordeel vryspring nie. Daardie oorgeruste afvalliges het soos afsaksel onder in ’n wynvat geword. Hulle wou nie gesteur word deur enige verklaring van Goddelike ingryping in menseaangeleenthede nie, maar hulle sou nie die voltrekking van God se oordeel oor hulle vryspring nie. Hedendaagse beoefenaars van valse godsdiens, insluitende lede van die Christendom en diegene wat van Jehovah se aanbidding afvallig geword het, sal ook nie ontsnap nie. Hulle ontken dat dit nou “die laaste dae” is en sê in hulle hart: “Die HERE doen geen goed en Hy doen geen kwaad nie.” Maar hoe verkeerd is hulle tog!—2 Timoteus 3:1-5; 2 Petrus 3:3, 4, 10.

16. Wat sou gebeur wanneer God se oordeel aan Juda voltrek word, en hoe moet hierdie kennis ons raak?

16 Juda se afvalliges is gewaarsku dat die Babiloniërs hulle rykdom sou plunder, hulle huise sou verwoes en die vrug van hulle wingerd sou neem. Materiële besittings sou waardeloos wees wanneer God se oordeel aan Juda voltrek word. Dieselfde sal geld wanneer Jehovah se oordeelsdag oor die huidige stelsel van dinge kom. Laat ons dus ’n geestelike beskouing hê en ‘skatte in die hemel opgaar’ deur Jehovah se diens eerste in ons lewe te stel!—Matteus 6:19-21, 33.

“Naby is die groot dag van die HERE

17. Hoe naby is Jehovah se oordeelsdag volgens Sefanja 1:14-16?

17 Hoe naby is Jehovah se oordeelsdag? Volgens Sefanja 1:14-16 gee God hierdie versekering: “Naby is die groot dag van die HERE, naby en baie haastig. Hoor! die dag van die HERE! Bitterlik skreeu die held daar. Dié dag is ’n dag van grimmigheid, ’n dag van benoudheid en angs, ’n dag van woestheid en verwoesting, ’n dag van duisternis en donkerheid, ’n dag van wolke en wolkenag, ’n dag van basuingeklank en krygsgeskreeu teen die versterkte stede en teen die hoë hoekvestings.”

18. Waarom moet ons nie dink dat Jehovah se oordeelsdag nog ver in die toekoms is nie?

18 Juda se sondige priesters, vorste en mense is gewaarsku dat ‘Jehovah se groot dag naby is’. Vir Juda sou ‘Jehovah se dag baie haastig kom’. Niemand moet eweneens vandag dink dat Jehovah se voltrekking van oordeel aan die goddelose in die verre toekoms sal plaasvind nie. Net soos God gou in Juda opgetree het, sal hy ook sy oordeelsdag ‘haastig’ laat kom (Openbaring 16:14, 16). Wat ’n moeilike tyd sal dit tog wees vir almal wat Jehovah se waarskuwings, wat deur sy Getuies bekend gemaak word, ignoreer en nie ware aanbidding beoefen nie!

19, 20. (a) Wat was party van die kenmerke toe God se wraak oor Juda en Jerusalem uitgeoefen is? (b) Watter vrae word geopper met die oog op die selektiewe vernietiging wat vir hierdie stelsel van dinge voorlê?

19 Die uitoefening van God se wraak oor Juda en Jerusalem was “’n dag van benoudheid en angs”. Babiloniese invallers het baie lyding vir die inwoners van Juda veroorsaak, onder meer benoudheid wanneer mense voor die dood en voor vernietiging te staan gekom het. Daardie “dag van woestheid en verwoesting” is deur duisternis, wolke en dik donkerheid gekenmerk, miskien nie net figuurlik nie maar ook letterlik omdat daar oral rook en verwoesting was. Dit was “’n dag van basuingeklank en krygsgeskreeu”, maar waarskuwings is tevergeefs gegee.

20 Jerusalem se wagte was hulpeloos terwyl Babiloniese stormramme die “hoë hoekvestings” in duie laat stort het. Die versterkings van die huidige goddelose stelsel van dinge sal net so nutteloos wees teen die wapens in God se hemelse arsenaal, wat gereed is sodat hy dit vroeg in sy selektiewe vernietiging kan gebruik. Hoop jy om gered te word? Het jy jou beslis geskaar aan die kant van Jehovah, ‘wat almal bewaar wat Hom liefhet, maar al die goddelose sal verdelg’?—Psalm 145:20.

21, 22. Hoe sal Sefanja 1:17, 18 in ons dag vervul word?

21 Wat ’n verskriklike oordeelsdag word in Sefanja 1:17, 18 voorspel! “Ek sal die mense in benoudheid bring,” sê Jehovah God, “en hulle sal rondloop soos blindes, omdat hulle teen die HERE gesondig het; en hulle bloed sal vergiet word soos stof en hulle ingewande soos drek. Hulle silwer of hulle goud sal nie in staat wees om hulle op die dag van die grimmigheid van die HERE te red nie, maar deur die vuur van sy ywer sal die hele aarde verteer word; want Hy bring vernietiging, ja, ’n verskriklike, oor die inwoners van die aarde.”

22 Soos Jehovah in die dae van Sefanja gedoen het, sal hy binnekort benoudheid bring oor “die inwoners van die aarde”, diegene wat weier om op sy waarskuwing ag te gee. Omdat hulle teen God sondig, loop hulle hulpeloos rond soos blindes wat nie verlossing kan vind nie. In Jehovah se oordeelsdag sal hulle ‘bloed vergiet word soos stof’, soos iets waardeloos. Hulle sal werklik op ’n skandelike wyse sterf, want God sal die liggame—selfs die ingewande—van hierdie goddeloses “soos drek” op die aarde strooi.

23. Watter hoop bied Sefanja se profesie vir ons, hoewel oortreders nie “op die dag van die grimmigheid van die HERE” sal ontsnap nie?

23 Niemand kan diegene red wat teen God en sy volk veg nie. Nie silwer of goud kon die oortreders van Juda verlos nie, net soos opgehoopte rykdom en omkoopgeskenke geen beskerming sal bied of verlossing sal bring “op die dag van die grimmigheid van die HERE” oor die Christendom en die res van hierdie stelsel van dinge nie. In daardie dag van beslissing sal “die hele aarde verteer word” deur die vuur van God se ywer wanneer hy die goddeloses verdelg. Omdat ons geloof in God se profetiese woord het, is ons daarvan oortuig dat ons nou diep in “die tyd van die einde” lewe (Daniël 12:4). Jehovah se oordeelsdag is naby, en hy sal binnekort wraak uitoefen op sy vyande. En tog bied Sefanja se profesie wel die hoop op verlossing. Wat word dan van ons verwag as ons in die dag van Jehovah se toorn verborge wil bly?

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe is Sefanja se profesie oor Juda en Jerusalem vervul?

• Wat kan die Christendom en al die goddeloses van ons dag te wagte wees?

• Waarom moet ons nie dink dat Jehovah se oordeelsdag in die verre toekoms sal kom nie?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 13]

Sefanja het moedig verkondig dat Jehovah se oordeelsdag naby is

[Erkenning]

Uit die Self-Pronouncing Edition of the Holy Bible, wat die King James Version en die Revised Version bevat

[Prent op bladsy 15]

Jehovah se dag het oor Juda en Jerusalem gekom toe dit in 607 v.G.J. deur die Babiloniërs vernietig is

[Prent op bladsy 16]

Hoop jy om gered te word wanneer Jehovah die goddeloses vernietig?