Op soek na verdienstelikes in Kenia
Op soek na verdienstelikes in Kenia
KENIA is ’n land met ’n besondere natuurskoon. Digte woude, wyd uitgestrekte vlaktes, ontsettende warm woestyne en sneeubedekte berge versier hierdie pragtige land. Dit is die tuiste van meer as ’n miljoen wildebeeste en die bedreigde renoster. Jy kan ook groot troppe kameelperde oor die grasvlaktes sien beweeg.
Die voëllewe is net so oorvloedig, van kragtige arende wat sweef tot ’n menigte kleurvolle sangvoëls wat die lug met die soet klanke van hulle vrolike melodieë vul. En wie kan die olifante en die leeus miskyk? Die tonele en klanke van Kenia is onvergeetlik.
Maar daar is ’n ander klank wat regoor hierdie pragtige land gehoor word. Dit is die klank van duisende stemme wat ’n boodskap van hoop verkondig (Jesaja 52:7). Hierdie stemme word gehoor deur mense van meer as 40 stamme en tale. In hierdie sin is Kenia ook ’n land van geestelike prag.
Die meeste mense van Kenia is godsdienstig en bereid om geestelike dinge te bespreek. Dit is nietemin ’n uitdaging om mense te kry om mee te praat, want Kenia, soos baie ander lande, is besig om te verander.
Moeilike ekonomiese toestande het baie genoodsaak om hulle lewenswyse te verander. Vroue, wat tradisioneel by die huis gewerk het, bevind hulle nou in kantore of langs paaie waar hulle vrugte, groente, vis en geweefde mandjies verkoop. Mans werk lang, vermoeiende ure om vir hulle gesin te probeer sorg. Selfs kinders verkoop hulle items op straat, hulle armpies vol pakke geroosterde grondboontjies en gekookte eiers. Gevolglik is daar gedurende die dag min mense by die huis. Hierdie situasie het vereis dat verkondigers van die goeie nuus van die Koninkryk aanpassings moes maak.
Gemeentes van Jehovah se Getuies is aangemoedig om meer aandag te skenk aan mense wat weg van hulle huise is, wat met hulle daaglikse bedrywighede besig is, asook aan vriende, familielede, sakemense en werksmaats. En die broers het hierop gereageer en met mense begin praat waar hulle ook al gevind kon word (Matteus 10:11). Het hierdie poging om meer mense te bereik resultate opgelewer? Ja, dit het! Neem ’n paar voorbeelde.
Familielede—Dié wat die naaste aan ons is
Kenia se hoofstad, Nairobi, het ongeveer driemiljoen inwoners. In die oostelike deel van die stad het ’n afgetrede majoor van die weermag gewoon wat oor die algemeen nie van Jehovah se Getuies gehou het nie, hoewel sy seun, tot sy onsteltenis, ’n Getuie was. Een Februarie het die afgetrede offisier 160 kilometer ver gereis na sy seun se huis in Nakuru, ’n dorp in die Skeurvallei. Gedurende die besoek het sy seun vir hom ’n geskenk gegee—die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei. a Die vader het dit geneem en vertrek.
Toe die voormalige offisier tuiskom, het hy die boek vir sy vrou gegee, wat dit begin lees het en nie besef het dat dit deur Jehovah se Getuies uitgegee is nie. Bybelwaarheid het geleidelik haar hart begin raak, en sy het haar man vertel wat sy gelees het. Uit nuuskierigheid het hy ook die boek begin lees. Toe hulle besef wie die uitgewer is, het hulle tot die slotsom gekom dat hulle nie die waarheid oor Jehovah se Getuies vertel is nie. Hulle het met plaaslike Getuies in aanraking gekom, en ’n Bybelstudie is met hulle begin. Toe hulle die boek op hulle eie gelees het, het hulle tot die besef gekom dat dit onchristelik is om tabak te gebruik of te verkoop (Matteus 22:39; 2 Korintiërs 7:1). Sonder om te aarsel, het hulle al die sigarette in hulle winkel vernietig. Ná ’n paar maande het hulle gekwalifiseer om ongedoopte verkondigers te word, en kort daarna is hulle by ’n streekbyeenkoms gedoop.
’n Skat tussen die rommel
Naby die hoofstad is daar uitgestrekte dorpe waar honderdduisende mense woon. Hier vind ’n mens rye en rye huise van klei, hout, afvalmetaal of sinkplate. Wanneer werk in die nywerhede en fabrieke skaars is, maak mense self ’n plan. Jua kali-werkers (Swahili vir “skroeiende son”) werk buite in die son waar hulle sandale uit ou motorbande maak of paraffienlampe uit leë blikke. Ander soek deur vullishope en asblikke na papier, blikke en bottels om te hersirkuleer.
Kan ’n mens ’n skat tussen rommel vind? Ja! Een broer vertel: “’n Fors geboude man met ’n onversorgde, rowwe voorkoms het by ons byeenkomsterrein opgedaag met ’n groot plastieksak vol ou koerante en tydskrifte. Nadat hy vir my gesê het sy naam is William, het hy gevra: ‘Het jy die jongste nommers van Die Wagtoring?’ Ek was nogal skrikkerig en het gewonder wat hy nou eintlik wou hê. Ek het hom vyf nommers van die tydskrif gewys, en hy het na elkeen van hulle gekyk en gesê: ‘Ek sal hulle almal neem.’ Ek was verbaas en het toe die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe b in my kamer gaan haal. Ek het vir hom die prent van die Paradys gewys en verduidelik dat ons die Bybel gratis met mense studeer. Toe het ek voorgestel: ‘William, waarom kom jy nie môre nie, dan begin ons met ’n studie?’ Dit is presies wat hy gedoen het!
“Een Sondag het hy na sy eerste vergadering toe gekom. Ek het daardie dag die openbare toespraak gehou. Toe William instap, het hy vinnig na die gehoor gekyk, my op die verhoog gesien en weer vinnig by die saal uitgeloop. Ek het hom later gevra waarom hy dit gedoen het. Hy het verleë geantwoord: ‘Die mense was te skoon. Ek het senuweeagtig geraak.’
“Namate William met sy studie gevorder het, het Bybelwaarheid sy lewe begin verander. Hy het gebad, sy hare gesny, skoon en netjiese klere gedra en kort daarna die vergaderinge gereeld begin bywoon. Toe die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei vrygestel is, het ons dit begin studeer. Intussen het hy al twee toesprake in die Teokratiese Bedieningskool gehou en ’n ongedoopte verkondiger geword. Ek was verheug om hom as my geestelike broer te verwelkom toe hy by die spesiale byeenkomsdag gedoop is.”
Waar het William die eerste keer die waarde van Die Wagtoring besef? “Ek het ’n paar nommers tussen ou koerante in die rommel gekry.” Ja, op hierdie onwaarskynlike manier het hy ’n skat gekry!
Ander getuig by die werksplek
Is ons altyd daarop ingestel om informeel by ons werksplek te getuig? James, ’n ouer man in ’n Nairobi-gemeente, het op hierdie manier met Bybelwaarheid in aanraking gekom. Op sy beurt het hy daarin bedrewe geword om ander met dié metode te bereik. Eenkeer het James byvoorbeeld gesien dat ’n medewerker wat in die kantoor ingekom het ’n wapentjie dra met die woorde “Jesus verlos” daarop. James het die evangelis Filippus se voorbeeld gevolg en sy medewerker gevra: “Verstaan jy werklik die betekenis van daardie woorde?” (Handelinge 8:30). Daardie vraag het tot ’n goeie bespreking gelei. ’n Bybelstudie is begin, en die man is later gedoop. Het James al met welslae vir ander getuig? Laat hom vertel:
“Ek en Tom het vir dieselfde maatskappy gewerk. Ons het dikwels saam op ons personeelbus gery. Een oggend het ons toevallig langs mekaar gesit. Ek was besig om een van ons boeke te lees en het dit so gehou dat Tom dit beslis mooi sou kon sien. Soos ek wou hê, het dit sy aandag getrek, en ek het hom met graagte my boek geleen. Hy was baie beïndruk deur wat hy gelees het en het tot ’n Bybelstudie ingestem. Nou is hy en sy vrou gedoopte knegte van Jehovah.”
James gaan voort: “Gedurende etenstyd by die werk is daar dikwels baie interessante gesprekke. Dit is hoe ek by een geleentheid met Ephraim en by ’n ander geleentheid met Walter begin gesels het. Albei het geweet dat ek ’n Getuie is. Ephraim wou graag weet waarom mense so vyandiggesind teenoor Jehovah se Getuies is. Walter het vrae gehad oor die verskille tussen die Getuies en ander godsdienste. Albei van hulle was baie tevrede met die skriftuurlike antwoorde wat ek gegee het en het ingestem om te studeer. Ephraim het vinnig vordering gemaak. Mettertyd het hy en sy vrou hulle lewe aan Jehovah toegewy. Hy dien nou as ’n ouer man, en sy vrou is ’n gewone pionier. Walter het egter soveel teenstand ondervind dat hy sy studieboek weggegooi het. Maar omdat ek volgehou het en nie moed opgegee het nie, het hy sy studie hervat. Ook hy geniet nou die voorreg om as ’n ouer man te dien.” Altesaam 11 mense het ware Christene geword omdat James geleenthede aangegryp het om informeel by sy werksplek te getuig.
’n Merkwaardige uiteinde
In ’n klein dorpie op die oewer van die Victoria-meer het vriende en familie vir ’n begrafnis bymekaargekom. Een van hulle was ’n bejaarde Getuie. Hy het ’n onderwyseres met die naam Dolly genader en die toestand van die dooies en Jehovah se voorneme om vir ewig ’n einde aan die dood te maak aan haar verduidelik. Hy het haar gunstige reaksie gesien
en haar verseker: “Wanneer jy na jou tuisdorp terugkeer, sal een van ons sendelinge jou besoek en jou die Bybel leer.”Dolly se tuisdorp is die derde grootste stad in Kenia. Slegs vier Getuiesendelinge het op daardie stadium daar gedien. Die bejaarde broer het nie met enige van die sendelinge in aanraking gekom om te vra dat hulle Dolly besoek nie. Hy het net volkome vertroue gehad dat dit so sou uitwerk. En dit het! Binne ’n kort tydjie het ’n sendelingsuster Dolly ontmoet en ’n studie met haar begin. Dolly is nou gedoop, haar jong dogter is vir die Teokratiese Bedieningskool ingeskryf en haar twee seuns is ook gedoop. Sy het selfs die vreugde gesmaak om die Pionierdiensskool by te woon.
Daar word na die groei omgesien
Die klem op informele getuieniswerk het dit vir duisende in Kenia moontlik gemaak om die goeie nuus te hoor. Meer as 15 000 verkondigers is nou met hierdie allerbelangrikste werk besig, en meer as 41 000 het verlede jaar die herdenking van Christus se dood bygewoon. Regoor Kenia is vergaderingbywoning dikwels dubbel die getal Koninkryksverkondigers. Dit het ’n behoefte aan meer Koninkryksale geskep.
Koninkryksale word nou in groot stede en in afgeleë gebiede gebou. Een van hierdie gebiede is in ’n afgesonderde Samboeroe-dorp ongeveer 320 kilometer noordoos van Nairobi. In 1934 is die dorp Maralal genoem, wat in die Sampu-taal “glinster” beteken, omdat die eerste sinkdak wat daar gebruik is in die son geblink het. Twee-en-sestig jaar later is nog ’n gebou met ’n sinkdak in Maralal gebou. Dit “blink” en “skitter” ook, want dit is die plaaslike plek van ware aanbidding.
Dit is wonderlik om te sien watter pogings die 15 verkondigers aangewend het om die eerste Koninkryksaal in hierdie afgeleë deel van Kenia te bou. Hulle fondse was beperk, en daarom moes die broers van plaaslike materiaal gebruik maak. Hulle het mure van die rooi grond gemaak, wat hulle met water gemeng het en tussen regop pale vasgestamp het. Die mure is glad gemaak en gepleister met ’n mengsel van beesmis en as, wat ’n harde afwerking verleen en jare lank hou.
Om die pale vir die bouwerk te bekom, het die broers ’n permit gekry om bome af te kap. Maar die naaste woud was ongeveer 10 kilometer daarvandaan. Die broers en susters moes na die woud toe loop, die bome en takke afkap en die pale na die bouterrein toe dra. Eenkeer, op pad terug van die woud af, is die broers deur die polisie voorgekeer, wat beweer het dat hulle permit nie geldig is nie. Die polisie het vir ’n spesiale pionier gesê dat hulle hom in hegtenis neem omdat hy bome afgekap het. Een plaaslike suster, wat in die gemeenskap en by die polisie welbekend is, het gesê: “As jy ons broer in hegtenis neem, sal jy ons almal in hegtenis moet neem, aangesien ons almal die bome afgekap het!” Die polisiebeampte het hulle almal toe laat gaan.
Daar is wilde diere in die woud en daarom is dit gevaarlik om daar rond te loop. Op ’n dag het ’n suster ’n boom afgekap. Toe die boom die grond tref, het sy ’n dier sien spring en weghardloop. Vanweë die geelbruin kleur wat sy vir ’n oomblik gesien het, het sy eers gedink dat dit net ’n rooibok was, maar later het sy die spore gesien en besef dat dit ’n leeu was! Ondanks sulke gevare het die broers die saal voltooi, en as ’n “glinsterende” voorwerp strek dit Jehovah tot eer.
Die 1ste Februarie 1963 was ’n betekenisvolle dag in die teokratiese geskiedenis van Kenia. Op daardie dag is die eerste takkantoor geopen, wat net een vertrek van 7,4 vierkante meter was. Nog ’n mylpaal in Kenia se teokratiese geskiedenis was 25 Oktober 1997—die dag waarop ’n nuwe Bethelkompleks van 7 800 vierkante meter toegewy is! Die voltooide projek was ’n hoogtepunt van drie jaar se toegewyde inspanning. Vrywilligers van 25 verskillende lande het ’n stuk grond van 3,2 hektaar wat modderig en vol onkruid was, omskep in ’n pragtige tuinagtige omgewing vir die nuwe takkantoorfasiliteite, wat 80 lede van die Bethelgesin huisves.
Ons het alle rede om ons te verheug oor wat Jehovah vir sy volk gedoen het. Ons dank hom dat hy die harte van sy knegte beweeg het om verruim te word en die soeke na verdienstelikes in Kenia te verskerp, en dit sodoende ’n land van geestelike prag te maak.
[Voetnote]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
b Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.