Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Soek Jehovah voor die dag van sy toorn

Soek Jehovah voor die dag van sy toorn

Soek Jehovah voor die dag van sy toorn

“Soek Jehovah . . . Soek regverdigheid, soek sagmoedigheid. Moontlik sal julle verberg word op die dag van Jehovah se toorn.”—SEFANJA 2:3, NW.

1. Wat was die geestelike toestand van Juda toe Sefanja sy profetiese werk begin het?

 SEFANJA het sy profetiese werk op ’n kritieke tyd in Juda se geskiedenis begin. Die geestelike toestand van die volk was baie sleg. Die volk het hulle tot heidense priesters en sterrewiggelaars gewend om leiding, pleks van hulle vertroue in Jehovah te stel. Baälaanbidding, met die vrugbaarheidsritusse wat daarmee gepaardgegaan het, het in die land hoogty gevier. Die burgerlike leiers—die vorste, die edelmanne en die regters—het juis dié mense onderdruk wat hulle veronderstel was om te beskerm (Sefanja 1:9; 3:3). Geen wonder dat Jehovah besluit het om ‘sy hand uit te strek’ teen Juda en Jerusalem en hulle te vernietig nie!—Sefanja 1:4.

2. Watter hoop was daar vir God se getroue knegte in Juda?

2 Maar ten spyte van die slegte situasie was daar tog ’n ligpuntjie. Amon se seun Josia was nou op die troon. Hoewel hy nog maar ’n seun was, het Josia Jehovah opreg liefgehad. Hoe bemoedigend sou dit tog gewees het vir die paar wat God getrou gedien het as die nuwe koning ware aanbidding in Juda herstel! Ander sou dalk beweeg word om by hulle aan te sluit en sou dan ook behoue bly in die dag van Jehovah se toorn.

Vereistes om behoue te bly

3, 4. Aan watter drie vereistes moet ’n mens voldoen om op “die dag van Jehovah se toorn” behoue te bly?

3 Was dit werklik moontlik vir sommige individue om in die dag van Jehovah se toorn behoue te bly? Ja, mits hulle aan die drie vereistes voldoen het wat in Sefanja 2:2, 3 (NW) uiteengesit is. Let veral op hierdie vereistes terwyl ons hierdie verse lees. Sefanja het geskryf: “Voordat die insetting iets baar, voordat die dag soos kaf verbygegaan het, voordat die brandende toorn van Jehovah oor julle kom, voordat die dag van Jehovah se toorn oor julle kom, soek Jehovah, alle sagmoediges van die aarde, wat Sy regterlike beslissing uitgevoer het. Soek regverdigheid, soek sagmoedigheid. Moontlik sal julle verberg word op die dag van Jehovah se toorn.”

4 Om behoue te bly, moes ’n mens dus (1) Jehovah soek, (2) regverdigheid soek en (3) sagmoedigheid soek. Hierdie vereistes moet vandag vir ons van groot belang wees. Waarom? Want net soos Juda en Jerusalem in die sewende eeu v.G.J. voor ’n dag van afrekening te staan gekom het, stuur die nasies van die Christendom—trouens, al die goddeloses—af op ’n botsing met Jehovah God in die komende “groot verdrukking” (Matteus 24:21). Enigeen wat in daardie tyd verberg wil bly, moet nou beslissend optree. Hoe? Deur Jehovah te soek, regverdigheid te soek en sagmoedigheid te soek voor dit te laat is!

5. Wat behels dit vandag ‘om Jehovah te soek’?

5 Jy sê dalk: ‘Ek is ’n toegewyde, gedoopte kneg van God, een van Jehovah se Getuies. Het ek nie alreeds aan daardie vereistes voldoen nie?’ Om ons aan Jehovah toe te wy, is eintlik nie al wat dit behels nie. Israel was ’n toegewyde nasie, maar in Sefanja se dag het die mense van Juda nie daardie toewyding nageleef nie. Gevolglik is die nasie uiteindelik verwerp. ‘Om Jehovah te soek’, behels vandag dat ’n mens ’n hegte, persoonlike verhouding met hom ontwikkel en dit handhaaf in samewerking met sy aardse organisasie. Dit beteken dat ons moet uitvind hoe God sake beskou en dat ons sy gevoelens in ag moet neem. Ons soek Jehovah wanneer ons sy Woord noukeurig bestudeer, daaroor peins en die raad daarin in ons lewe toepas. Namate ons Jehovah se leiding vra deur ernstig te bid en dan die leiding van sy heilige gees volg, sal ons verhouding met hom sterker word, en word ons beweeg om hom ‘met ons hele hart, siel en krag’ te dien.—Deuteronomium 6:5; Galasiërs 5:22-25; Filippense 4:6, 7; Openbaring 4:11.

6. Hoe ‘soek ons regverdigheid’, en waarom is dit selfs in hierdie wêreld moontlik?

6 Die tweede vereiste wat in Sefanja 2:3 genoem word, is om ‘regverdigheid te soek’. Die meeste van ons het belangrike veranderinge in ons lewe aangebring sodat ons aan die vereistes vir Christelike doop kon voldoen, maar ons moet voortgaan om God se regverdige standaarde regdeur ons lewe te handhaaf. Party wat in hierdie opsig goed begin het, het toegelaat dat die wêreld hulle besmet. Dit is weliswaar nie maklik om regverdigheid te soek nie, want ons word omring deur mense wat geslagsonsedelikheid, leuens en ander sondes as normaal beskou. Maar ’n sterk begeerte om Jehovah te behaag, kan enige neiging verdring om die wêreld se goedkeuring te soek deur daarby te probeer inpas. Juda het God se guns verloor omdat hulle hulle goddelose buurnasies probeer navolg het. Pleks van die wêreld na te volg, moet ons eerder “navolgers van God” wees deur ons “met die nuwe persoonlikheid [te] beklee, wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is”.—Efesiërs 4:24; 5:1.

7. Hoe ‘soek ons sagmoedigheid’?

7 Die derde punt in Sefanja 2:3 is dat ons ‘sagmoedigheid moet soek’ as ons in die dag van Jehovah se toorn verberg wil word. Elke dag kom ons in aanraking met mans, vroue en jongmense wat alles behalwe sagmoedig is. Hulle dink saggeaardheid is ’n swakheid. Onderdanigheid word as ’n ernstige tekortkoming beskou. Hulle is veeleisend, selfsugtig en eiewys, en hulle glo dat hulle persoonlike “regte” en voorkeure ten alle koste in ag geneem moet word. Hoe jammer sou dit tog wees as van daardie gesindhede ons beïnvloed! Dit is nou die tyd om ‘sagmoedigheid te soek’. Hoe? Deur onderdanig te wees aan God en nederig sy dissipline te aanvaar en volgens sy wil te lewe.

Waarom “moontlik” verberg word?

8. Wat word aangedui deur die gebruik van die woord “moontlik” in Sefanja 2:3?

8 Let op dat Sefanja 2:3 sê: “Moontlik sal julle verberg word op die dag van Jehovah se toorn.” Waarom word die woord “moontlik” gebruik wanneer daar met die “sagmoediges van die aarde” gepraat word? Wel, daardie sagmoediges het positiewe stappe geneem, maar daar was geen plek vir selfversekerdheid nie. Hulle het nog nie die einde van hulle lewensweg in getrouheid bereik nie. Dit was denkbaar dat van hulle moontlik in sonde kon verval. Dieselfde geld vir ons. Jesus het gesê: “Wie tot die einde toe volhard het, hy sal gered word” (Matteus 24:13). Ja, redding op die dag van Jehovah se toorn hang daarvan af of ons aanhou doen wat reg is in sy oë. Is dit jou vaste voorneme?

9. Watter opregte stappe het die jong koning Josia geneem?

9 Koning Josia is klaarblyklik deur Sefanja se woorde beweeg om ‘Jehovah te soek’. Die Skrif sê: “In die agtste jaar van sy regering, terwyl [Josia] nog jonk was [ongeveer 16 jaar oud], het hy begin om die God van sy vader Dawid te soek” (2 Kronieke 34:3). Josia het ook aangehou om ‘regverdigheid te soek’, want ons lees: “In die twaalfde jaar [toe Josia ongeveer 20 jaar oud was] het hy begin om Juda en Jerusalem te reinig van die hoogtes en die heilige boomstamme en die gesnede beelde en die gegote beelde. En hulle het voor sy oë die altare van die Baäls omgegooi” (2 Kronieke 34:3, 4). Josia het ook ‘sagmoedigheid gesoek’ en nederig opgetree om Jehovah te behaag deur die land van afgodediens en ander valse godsdiensgebruike te reinig. Hoe moes ander sagmoediges hulle tog nie oor hierdie verwikkelinge verheug het nie!

10. Wat het in 607 v.G.J. in Juda gebeur, maar wie is gered?

10 Baie Jode het tydens Josia se bewind tot Jehovah teruggekeer. Ná die koning se dood het die meeste egter weer in hulle ou weë verval—in gebruike wat vir God heeltemal onaanvaarbaar is. Soos Jehovah bepaal het, het die Babiloniërs Juda in 607 v.G.J. verwoes en sy hoofstad, Jerusalem, vernietig. Maar daar was nog hoop. Die profeet Jeremia, die Etiopiër Ebed-Meleg, die nakomelinge van Jonadab en ander wat aan God getrou was, is in daardie dag van Jehovah se toorn verberg.—Jeremia 35:18, 19; 39:11, 12, 15-18.

God se vyande moet kennis neem!

11. Waarom is dit vandag ’n uitdaging om aan God getrou te bly, maar wat kan vyande van Jehovah se volk gerus in ag neem?

11 Terwyl ons wag op die dag van Jehovah se toorn oor hierdie goddelose stelsel, ‘kom ons verskillende beproewinge teë’ (Jakobus 1:2). In ’n aantal lande wat beweer dat hulle godsdiensvryheid op prys stel, het geestelikes hulle invloed gebruik deur die sekulêre owerhede te manipuleer om wrede vervolging oor God se volk te bring. Gewetenlose mense laster Jehovah se Getuies en brandmerk hulle as “’n gevaarlike kultus”. God is bewus van hulle dade—en dit sal nie ongestraf bly nie. Sy vyande kan gerus in ag neem wat met eertydse vyande van sy volk, soos die Filistyne, gebeur het. Die profesie sê: “Want Gasa sal verlate wees en Askelon tot verwoesting; Asdod sal op die helder middag verdryf word, en Ekron sal ontwortel word.” Die Filistynse stede Gasa, Askelon, Asdod en Ekron sou totaal vernietig word.—Sefanja 2:4-7.

12. Wat het met Filistea, Moab en Ammon gebeur?

12 Die profesie sê verder: “Ek het gehoor die smaadtaal van Moab en die beskimpinge van die kinders van Ammon, waarmee hulle my volk gesmaad het, en hoe hulle hul groot gehou het teen sy grondgebied” (Sefanja 2:8). Egipte en Etiopië het weliswaar deur die toedoen van Babiloniese invallers gely. Maar wat was God se oordeel oor Moab en Ammon, nasies wat van Abraham se neef Lot afgestam het? Jehovah het voorspel: “Moab sal word soos Sodom en die kinders van Ammon soos Gomorra.” In teenstelling met hulle stammoeders—Lot se twee dogters, wat die vernietiging van Sodom en Gomorra oorleef het—sou trotse Moab en Ammon nie tydens God se oordele verborge bly nie (Sefanja 2:9-12; Genesis 19:16, 23-26, 36-38). Waar is Filistea vandag en waar is sy stede? En wat van Moab en Ammon wat vroeër so trots was? Jy kan soek waar jy wil, maar jy sal hulle nie vind nie.

13. Wat het argeoloë in Nineve gevind?

13 In Sefanja se dag het die Assiriese Ryk die hoogtepunt van sy mag bereik. Die argeoloog Austen Layard beskryf een deel van ’n koninklike paleis wat hy in die Assiriese hoofstad Nineve opgegrawe het en sê: “Die plafonne . . . is in vierkante verdeel, waarop blomme of afbeeldings van diere geskilder is. Op party is ivoorinlegwerk gedoen, en elke vierkant het sierlike kante en lyste rondom gehad. Die balke, sowel as die mure van die vertrekke, was moontlik met goud en silwer oorgetrek; en die skaarste hout, hoofsaaklik sederhout, is vir die houtwerk gebruik.” Maar soos Sefanja se profesie voorspel het, sou Assirië vernietig word en sy hoofstad, Nineve, “’n verwoesting” word.—Sefanja 2:13.

14. Hoe is Sefanja se profesie oor Nineve vervul?

14 Net 15 jaar nadat Sefanja hierdie profesie uitgespreek het, is die magtige Nineve vernietig en het sy koninklike paleis ’n puinhoop geword. Ja, daardie trotse stad is vernietig. Die omvang van die verwoesting is aanskoulik beskryf met hierdie woorde: “Die pelikaan sowel as die krimpvarkie [sal] op sy [gevalle] kapitele vernag; hoor! daar word gesing in die venster; verwoesting sit op die drumpel” (Sefanja 2:14, 15). Nineve se statige geboue sou net ’n gepaste blyplek vir krimpvarkies en pelikane wees. In die strate van die stad sal die geluid van handelaars, die slagkreet van krygsmanne, die gesing van priesters, nie meer gehoor word nie. In daardie eertydse besige strate sal net ’n onheilspellende gesing in die venster gehoor word, moontlik die treurige lied van ’n voël of die gehuil van die wind. Mag al God se vyande op soortgelyke wyse aan hulle einde kom!

15. Wat kan ons leer uit wat met Filistea, Moab, Ammon en Assirië gebeur het?

15 Wat kan ons leer uit wat met Filistea, Moab, Ammon en Assirië gebeur het? Dít: As Jehovah se knegte hoef ons ons vyande glad nie te vrees nie. God sien wat diegene doen wat sy volk teëstaan. Jehovah het in die verlede teen sy vyande opgetree, en sy oordele sal eweneens voltrek word aan die hele bewoonde aarde van vandag. Maar daar sal oorlewendes wees—‘’n groot skare uit alle nasies’ (Openbaring 7:9). Jy kan onder hulle wees—maar net as jy aanhou om Jehovah te soek, regverdigheid te soek en sagmoedigheid te soek.

Wee die vermetele oortreders!

16. Wat het Sefanja se profesie van Juda se vorste en godsdiensleiers gesê, en waarom is hierdie woorde ’n goeie beskrywing van die Christendom?

16 Sefanja se profesie vestig weer die aandag op Juda en Jerusalem. Sefanja 3:1, 2 sê: “Wee die opstandige en die besoedelde, die verdrukkende stad. Dit luister na geen stem nie, dit neem geen tugtiging aan nie; op die HERE vertrou dit nie, tot sy God kom dit nie nader nie.” Hoe tragies tog dat Jehovah se volk sy pogings om hulle te dissiplineer, verontagsaam het! Die hardvogtigheid van die vorste, die edelmanne en die regters was beslis betreurenswaardig. Sefanja het die skaamteloosheid van die godsdiensleiers afgekeur en gesê: “Sy profete is ligsinnig [“vermetel”, NW], trouelose manne, sy priesters verontreinig wat heilig is, hulle verkrag die wet” (Sefanja 3:3, 4). Hierdie woorde is ’n goeie beskrywing van die situasie van die Christendom se profete en priesters vandag! Uit vermetelheid het hulle die Goddelike naam uit hulle vertalings van die Bybel gelaat en leerstellings geleer wat ’n wanvoorstelling is van die Een wat hulle kwansuis aanbid.

17. Waarom moet ons aanhou om die goeie nuus te verkondig, hetsy mense luister of nie?

17 Jehovah was bedagsaam en het sy eertydse volk gewaarsku en gesê wat hy van plan was om te doen. Hy het sy knegte die profete—onder meer Sefanja en Jeremia—gestuur om die volk tot berou aan te spoor. Ja, “die HERE . . . doen geen onreg nie; elke môre laat Hy sy reg aan die lig kom, dit ontbreek nooit nie”. Wat was die reaksie? “Maar die kwaaddoener ken geen skaamte nie”, het Sefanja gesê (Sefanja 3:5). ’n Soortgelyke waarskuwing word nou gegee. As jy ’n verkondiger van die goeie nuus is, neem jy aan hierdie waarskuwingswerk deel. Hou aan om die goeie nuus te verkondig! Hetsy die mense luister of nie, jou bediening is ’n sukses uit God se standpunt so lank as wat jy dit getrou doen; jy hoef nie skaam te voel terwyl jy God se werk ywerig doen nie.

18. Hoe sal Sefanja 3:6 vervul word?

18 Die voltrekking van God se oordeel sal nie net tot die verwoesting van die Christendom beperk wees nie. Jehovah brei sy veroordeling uit sodat dit al die nasies insluit: “Ek het nasies uitgeroei, hulle hoekvestings is vernietig; hulle strate het Ek verwoes, sodat niemand meer verbygaan nie; hulle stede is verniel” (Sefanja 3:6). Hierdie woorde is so betroubaar dat Jehovah van die vernietiging praat asof dit alreeds plaasgevind het. Wat het met die stede van Filistea, Moab en Ammon gebeur? En met die Assiriese hoofstad, Nineve? Hulle vernietiging dien vandag vir die nasies as ’n waarskuwende voorbeeld. God word nie bespot nie.

Hou aan om Jehovah te soek

19. Watter gedagteprikkelende vrae kan ons vra?

19 In Sefanja se dag is God se toorn op diegene ontketen wat goddeloos opgetree het deur “al hulle handelinge verderflik te maak” (Sefanja 3:7). Dieselfde sal in ons tyd plaasvind. Sien jy die bewyse dat die dag van Jehovah se toorn naby is? Hou jy aan om ‘Jehovah te soek’ deur sy Woord gereeld—daagliks—te lees? ‘Soek jy regverdigheid’ deur ’n sedelik rein lewe te lei in ooreenstemming met God se standaarde? En ‘soek jy sagmoedigheid’ deur ’n sagmoedige, onderdanige gesindheid teenoor God en sy reëlings vir redding te openbaar?

20. Watter vrae gaan ons in die laaste artikel van hierdie reeks oor Sefanja se profesie bespreek?

20 As ons Jehovah, regverdigheid en sagmoedigheid getrou bly soek, kan ons verwag om nou reeds ryk seëninge te geniet—ja, selfs in hierdie geloofbeproewende “laaste dae” (2 Timoteus 3:1-5; Spreuke 10:22). Maar ons kan wel vra: ‘Hoe word ons as Jehovah se hedendaagse knegte geseën, en watter toekomstige seëninge voorspel Sefanja se profesie vir diegene wat op die vinnig naderende dag van Jehovah se toorn verberg gaan word?’

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe ‘soek mense Jehovah’?

• Wat behels dit om ‘regverdigheid te soek’?

• Hoe kan ons ‘sagmoedigheid soek’?

• Waarom moet ons aanhou om Jehovah, regverdigheid en sagmoedigheid te soek?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 18]

Soek jy Jehovah deur middel van Bybelstudie en ernstige gebed?

[Prent op bladsy 21]

Omdat hulle aanhou om Jehovah te soek, sal ’n groot skare die dag van sy toorn oorleef