Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Hoe moet ware Christene die algemene gebruik van party mense beskou om vir ander kopieë van kommersiële sagteware te gee?

Party probeer hierdie gebruik verkeerdelik regverdig deur na Jesus se woorde te verwys: “Julle het verniet ontvang, verniet moet julle gee.” Jesus het natuurlik nie verwys na die gebruik om gratis kopieë weg te gee van literatuur of rekenaarprogramme (sagteware), waarvan die kopiereg voorbehou word en die gebruik deur die wet beheer word nie. Hy het bedoel dat ons in ons bediening moet gee. Jesus het vir die apostels wat na verskillende stede en dorpe gegaan het, gesê dat hulle die Koninkryk moet verkondig, die siekes moet genees en demone moet uitdryf. Die apostels moes nie geld hiervoor vra nie, maar moes eerder ‘verniet gee’.—Matteus 10:7, 8.

Met die skerp toename in die aantal persoonlike en kantoorrekenaars het baie mense sagteware nodig. Dit moet gewoonlik gekoop word. Party mense skryf weliswaar programme wat hulle gratis beskikbaar stel en hulle sê dat kopieë daarvan gemaak en aan ander gegee kan word. Maar die meeste rekenaarsagteware word kommersieel verkoop. Hetsy dit vir hulle persoonlike gebruik by die huis of vir hulle sakeonderneming is, daar word verwag dat die gebruikers van sagteware dit sal koop, daarvoor sal betaal. As iemand ’n sagtewarepakket sou neem of kopieer sonder om daarvoor te betaal, sal dit onwettig wees, net soos die grootskaalse fotokopiëring van boeke, selfs al gee jy dit weg.

Die meeste rekenaarprogramme (insluitende speletjies) het ’n lisensie, en die eienaar/gebruiker moet aan die spesifieke bepalings en voorwaardes daarvan voldoen. Baie van hierdie lisensies sê dat net een persoon die program mag installeer en gebruik—en gewoonlik mag dit net op een rekenaar geïnstalleer word, hetsy dit ’n rekenaar by die huis of by ’n sakeonderneming of skool is. Party lisensies sê dat die gebruiker ’n reserwekopie vir homself mag hou, maar hy mag nie kopieë vir ander mense maak nie. As die eienaar die hele program (insluitende die lisensie en dokumentasie) wil weggee, kan hy dit doen. Maar hy verloor dan sy eie reg om dit te gebruik. Omdat lisensies verskil, moet iemand wat ’n program koop of aangebied word, uitvind wat daardie spesifieke lisensie stipuleer.

Baie lande het kopieregooreenkomste onderteken wat “intellektuele eiendom”, soos rekenaarprogramme beskerm, en hulle probeer kopieregwette toepas. The New York Times van 14 Januarie 2000 het byvoorbeeld berig dat “Duitse en Deense polisiebeamptes mense in hegtenis geneem het wat hulle beskryf het as ’n groot bende sagtewarerowers” wat rekenaarprogramme en -speletjies gekopieer en versprei het, en selfs oor die Internet verkoop het.

Wat is die Christengemeente se beskouing hiervan? Wel, Jesus het gesê: “Betaal aan Caesar terug wat aan Caesar behoort, maar aan God wat aan God behoort” (Markus 12:17). Dit vereis dat Christene die landswette gehoorsaam wat nie in stryd met God se wet is nie. Die apostel Paulus het oor regerings geskryf: “Laat elke siel onderdanig wees aan die hoër owerhede . . . Hy wat die owerheid teëstaan[, het] teen die reëling van God stelling ingeneem; dié wat stelling daarteen ingeneem het, sal ’n oordeel oor hulle ontvang.”—Romeine 13:1, 2.

Dit is nie die ouer manne in die Christengemeente se verantwoordelikheid om ander se rekenaars na te gaan, asof hulle gesag ontvang het om kopieregwette te interpreteer en toe te pas nie. Maar hulle glo en leer dat Christene nie moet neem wat nie aan hulle behoort nie en wetsgehoorsaam moet probeer wees. Dit beskerm Christene teen die straf wat wetsoortreders ontvang, en dit help hulle om ’n goeie gewete voor God te behou. Paulus het geskryf: “Daar is dus dwingende rede vir julle om onderdanig te wees, nie net weens dié gramskap nie, maar ook weens julle gewete” (Romeine 13:5). Paulus het eweneens die begeerte van ware Christene met die volgende woorde uitgespreek: “Ons vertrou dat ons ’n eerlike gewete het, aangesien ons ons in alles eerlik wil gedra.”—Hebreërs 13:18.

[Venster op bladsy 29]

Party sakeondernemings en skole koop ’n lisensie vir meer as een gebruiker wat stipuleer hoeveel gebruikers die program mag gebruik. In 1995 het gemeentes van Jehovah se Getuies ’n artikel bespreek waarin hierdie raad gegee is:

“Die meeste maatskappye wat rekenaarprogramme voorberei en verkoop, het die kopiereg daarop voorbehou, en hulle voorsien ’n lisensie wat beskryf hoe die programme volgens wet gebruik kan word. Die lisensie sê gewoonlik dat die eienaar nie reproduksies van die program aan ander kan gee nie; trouens, volgens die internasionale kopieregwet is dit onwettig om dit te doen. . . . Party groot firmas verkoop rekenaars waarop daar vooraf geïnstalleerde en gelisensieerde programme is. Maar party rekenaarhandelaars voorsien nie lisensies nie omdat die programme wat hulle vooraf installeer onwettige reproduksies is, wat beteken dat die koper die wet oortree deur die programme te gebruik. In lyn hiermee moet Christene ook nie materiaal waarop kopiereg voorbehou is (soos in die geval van die Genootskap se publikasies) en wat sonder die wettige toestemming van die eienaars gereproduseer word op elektroniese kennisgewingborde plaas of kopieë maak van materiaal wat daarop is nie.”