Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat is die waarheid omtrent die Dooie See-rolle?

Wat is die waarheid omtrent die Dooie See-rolle?

Wat is die waarheid omtrent die Dooie See-rolle?

Meer as 50 jaar gelede het ’n klip wat ’n Bedoeïeneherder in ’n grot ingegooi het, gelei tot wat sommige die grootste argeologiese ontdekking van die 20ste eeu genoem het. Die Bedoeïen het gehoor hoe die klip ’n erdekruik oopbreek. Toe hy ondersoek instel, het hy die eerste ontdekking gedoen van wat later bekend geraak het as die Dooie See-rolle.

HIERDIE boekrolle is die onderwerp van belangstelling en polemiek onder geleerdes sowel as in die media oor die algemeen. Onder die publiek is daar heelwat verwarring en verkeerde inligting. Gerugte het die ronde gedoen aangaande ’n grootskaalse toesmeerdery, wat gespruit het uit vrese dat die boekrolle feite aan die lig bring wat die geloof van Christene en Jode sal ondermyn. Maar van watter belang is hierdie boekrolle werklik? Is die feite ná meer as 50 jaar bekend?

Wat is die Dooie See-rolle?

Die Dooie See-rolle is antieke Joodse manuskripte, waarvan die meeste in Hebreeus, party in Aramees en ’n paar in Grieks geskryf is. Baie van hierdie boekrolle en fragmente is meer as 2 000 jaar oud en dateer van voor die geboorte van Jesus af. Onder die eerste boekrolle wat by die Bedoeïene gekry is, was sewe lang manuskripte in verskillende stadiums van verwering. Namate meer grotte ondersoek is, is ander boekrolle en duisende fragmente van boekrolle gevind. Tussen 1947 en 1956 is altesaam 11 grotte met boekrolle naby Qumran, by die Dooie See, gevind.

As al die boekrolle en fragmente gesorteer word, is daar omtrent 800 manuskripte. Ongeveer ’n kwart, of net oor die 200 manuskripte, is afskrifte van dele van die Hebreeuse Bybelteks. Ander manuskripte is antieke nie-Bybelse Joodse geskrifte, die Apokriewe sowel as die Pseudepigrafa. a

Van die boekrolle wat die grootste opgewondenheid onder die geleerdes veroorsaak het, was geskrifte wat voorheen onbekend was. Dit het dinge ingesluit soos uitleggings van die Joodse wet, spesifieke reëls vir die gemeenskap van die sekte wat in Qumran gewoon het, liturgiese gedigte en gebede, asook eskatologiese werke wat beskouings openbaar omtrent die vervulling van Bybelprofesieë en die laaste dae. Daar is ook unieke Bybelkommentare, die oudste voorlopers van moderne vers-vir-vers-kommentare oor Bybeltekste.

Wie het die Dooie See-rolle geskryf?

Verskillende dateringsmetodes vir antieke dokumente toon dat die boekrolle tussen die derde eeu v.G.J. en die eerste eeu G.J. oorgeskryf of saamgestel is. Party geleerdes het aan die hand gedoen dat Jode van Jerusalem die boekrolle voor die vernietiging van die tempel in 70 G.J. in die grotte weggesteek het. Maar die meeste geleerdes wat navorsing oor die boekrolle gedoen het, meen dat hierdie beskouing nie ooreenstem met die inhoud van die boekrolle self nie. Baie boekrolle weerspieël beskouings en gebruike wat in stryd was met die godsdiensowerhede in Jerusalem. Hierdie boekrolle openbaar ’n gemeenskap wat geglo het dat God die priesters en die tempeldiens in Jerusalem verwerp het en dat hy hulle groep se aanbidding in die woestyn as ’n soort plaasvervangende tempeldiens beskou het. Dit lyk onwaarskynlik dat die gesagdraers by Jerusalem se tempel ’n versameling wat sulke boekrolle bevat het, sou wegsteek.

Hoewel daar waarskynlik ’n groep kopiïste by Qumran was, is baie van die boekrolle waarskynlik elders versamel en deur die gelowiges daarheen gebring. In ’n sekere sin is die Dooie See-rolle ’n uitgebreide biblioteekversameling. Soos met enige biblioteek kan die versameling ’n groot verskeidenheid denkrigtings bevat, wat nie noodwendig almal die godsdiensopvattings van sy lesers weerspieël nie. Maar dit is waarskynliker dat daardie manuskripte waarvan daar verskeie afskrifte is die spesifieke belangstellings en opvattings van die groep weerspieël.

Was die inwoners van Qumran Essene?

As hierdie boekrolle Qumran se biblioteek was, wie was die inwoners daarvan? Professor Eleazar Sukenik, wat in 1947 drie boekrolle vir die Hebreeuse Universiteit in Jerusalem gekry het, was die eerste persoon wat vorendag gekom het met die idee dat hierdie boekrolle aan ’n gemeenskap van Essene behoort het.

Die Essene was ’n Joodse sekte waarna die eerste-eeuse skrywers Josefus, Filo van Aleksandrië en Plinius die Ouere verwys het. Die presiese oorsprong van die Essene is iets waaroor gespekuleer word, maar dit wil voorkom of hulle hulle ontstaan gehad het gedurende die tyd van onrus ná die Makkabese opstand in die tweede eeu v.G.J. b Josefus het vertel van hulle bestaan gedurende daardie tyd toe hy beskryf het hoe hulle godsdiensopvattings van dié van die Fariseërs en die Sadduseërs verskil het. Plinius het melding gemaak van ’n plek waar ’n gemeenskap van Essene by die Dooie See tussen Jerigo en Engedi gewoon het.

Professor James VanderKam, ’n geleerde op die gebied van die Dooie See-rolle, sê dat “die Essene wat by Qumran gewoon het net ’n klein deel van die groter Esseense beweging was”, wat Josefus op ongeveer vierduisend gestel het. Hoewel die beeld wat uit die Qumram-manuskrifte na vore kom nie presies aan al die beskrywings van die Essene voldoen nie, pas dit die Essene blykbaar beter as enige ander bekende Joodse groep van daardie tyd.

Party het beweer dat die Christelike geloof sy oorsprong by Qumran gehad het. Nietemin kan talle treffende verskille uitgelig word tussen die godsdiensopvattings van die Qumran-sekte en die vroeë Christene. Die Qumran-geskrifte openbaar uiters streng Sabbatregulasies en feitlik ’n obsessie met seremoniële reinheid (Matteus 15:1-20; Lukas 6:1-11). Ongeveer dieselfde kan gesê word van die Essene se afsondering van die samelewing, hulle geloof in die noodlot en die onsterflikheid van die siel, die klem wat hulle gelê het op die selibaat en mistieke idees oor aanbidding saam met die engele. Dit toon dat hulle nie met Jesus se leringe en dié van vroeë Christene saamgestem het nie.—Matteus 5:14-16; Johannes 11:23, 24; Kolossense 2:18; 1 Timoteus 4:1-3.

Geen toesmeerdery, geen verborge boekrolle nie

In die jare ná die ontdekking van die Dooie See-rolle is verskeie publikasies uitgegee wat die aanvanklike vondste geredelik beskikbaar gemaak het vir geleerdes regoor die wêreld. Maar die duisende fragmente van een van die grotte, bekend as Grot 4, het baie meer probleme opgelewer. Dit was in die besit van ’n klein internasionale span geleerdes in Oos-Jerusalem (toe deel van Jordanië) by die Palestynse Argeologiese Museum. Geen Joodse of Israeliese geleerdes is in hierdie span ingesluit nie.

Die span het ’n beleid aangeneem waarvolgens die boekrolle nie beskikbaar gemaak sou word voordat hulle die amptelike resultate van hulle navorsing gepubliseer het nie. Die geleerdes op die span is tot ’n vasgestelde getal beperk. Wanneer ’n spanlid gesterf het, is hy deur net een nuwe geleerde vervang. Die hoeveelheid werk het ’n baie groter span vereis, en in sommige gevalle, groter kundigheid in antieke Hebreeus en Aramees. James VanderKamp het dit so gestel: “Tienduisende fragmente was hopeloos te veel vir agt deskundiges, ongeag hoe bekwaam hulle is.”

Met die Sesdaagse oorlog in 1967 het Oos-Jerusalem en sy boekrolle onder Israeliese jurisdiksie gekom, maar daar was geen beleidsverandering vir die navorsingspan wat aan die boekrolle gewerk het nie. Namate die publisering van die boekrolle van Grot 4 met jare en later dekades vertraag is, was daar hewige protes van ’n aantal geleerdes. In 1977 het professor Geza Vermes van die Oxford-universiteit dit die grootste akademiese skandaal van die 20ste eeu genoem. Gerugte het die ronde begin doen dat die Katolieke Kerk doelbewus inligting verberg het wat vernietigend vir die Christelike Geloof sou wees.

In die 1980’s is die span uiteindelik tot 20 geleerdes vergroot. Toe, in 1990, onder leiding van sy pasaangestelde hoofredakteur, Emanuel Tov, van die Hebreeuse Universiteit in Jerusalem, is die span verder vergroot tot meer as 50 geleerdes. ’n Streng rooster is opgestel vir die publikasie van al die geleerdes se kommentare oor die oorblywende boekrolle.

’n Groot deurbraak het onverwags in 1991 gekom. Eers is A Preliminary Edition of the Unpublished Dead Sea Scrolls uitgegee. Dit is met behulp van rekenaars saamgestel en is gebaseer op ’n afskrif van die span se konkordansie. Daarna het die Huntington-biblioteek in San Marino, Kalifornië, aangekondig dat hulle vir enige geleerde hulle volledige stel foto’s van die boekrolle beskikbaar sal stel. Kort voor lank, toe A Facsimile Edition of the Dead Sea Scrolls uitgegee is, het dit maklik geword om toegang te kry tot die foto’s van die boekrolle wat nie vantevore gepubliseer is nie.

Gevolglik was al die Dooi See-rolle die laaste dekade beskikbaar vir ontleding. Die navorsing bewys dat daar geen toesmeerdery en geen verborge boekrolle was nie. Noudat die laaste amptelike uitgawes van die boekrolle gepubliseer word, kan ’n volle ontleding uiteindelik begin. ’n Nuwe geslag van boekrolkenners het na vore gekom. Maar van watter belang is hierdie navorsing vir Bybelstudente?

[Voetnote]

a Die Apokriewe (letterlik “verborge”) en die Pseudepigrafa (letterlik “geskrifte wat valslik toegeskryf is”) is Joodse geskrifte van die derde eeu v.G.J. tot die eerste eeu G.J. Die Apokriewe word deur die Rooms-Katolieke Kerk aanvaar as deel van die geïnspireerde Bybelkanon, maar hierdie boeke word deur Jode en Protestante verwerp. Die Pseudepigrafa is dikwels in die vorm van toevoegings tot Bybelverhale, wat in die naam van ’n bekende Bybelkarakter geskryf is.

b Sien die artikel “Wie was die Makkabeërs?” in Die Wagtoring van 15 November 1998, bladsye 21-4.

[Prent op bladsy 3]

Van die grotte naby die Dooie See waarin die antieke boekrolle gevind is

[Foto-erkenning op bladsy 3]

Boekrolfragment: Bladsye 3, 4 en 6: Courtesy of Israel Antiquities Authority

[Foto-erkenning op bladsy 5]

Courtesy of Shrine of the Book, Israel Museum, Jerusalem