Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Cyrillus en Metodius—Bybelvertalers wat ’n alfabet ontwikkel het

Cyrillus en Metodius—Bybelvertalers wat ’n alfabet ontwikkel het

Cyrillus en Metodius—Bybelvertalers wat ’n alfabet ontwikkel het

“Ons nasie is gedoop, en tog het ons geen onderrigter nie. Ons verstaan nie Grieks of Latyn nie. . . . Ons verstaan nie geskrewe karakters of die betekenis daarvan nie; stuur dus vir ons onderrigters wat die woorde van die Skrif en die betekenis daarvan kan verklaar.”—Rostislaf, prins van Morawië, 862 G.J.

VANDAG is daar vir die meer as 435 miljoen mense wat tale van die Slawiese taalgroepe praat, ’n vertaling van die Bybel in hulle moedertaal beskikbaar. a Van hulle gebruik 360 miljoen die Cyrilliese alfabet. En tog was daar 12 eeue gelede nie ’n geskrewe taal of ’n alfabet in die dialekte van hulle voorvaders nie. Die manne wat gehelp het om hierdie situasie reg te stel, was Cyrillus en Metodius, vleeslike broers. Mense wat God se Woord liefhet, sal vind dat die moedige en oorspronklike pogings van hierdie twee broers ’n interessante hoofstuk is in die geskiedenis van die behoud en verspreiding van die Bybel. Wie was hierdie mans, en voor watter struikelblokke het hulle te staan gekom?

“Die Filosoof” en die goewerneur

Cyrillus (827-869 G.J., sy naam was oorspronklik Konstantyn) en Metodius (825-885 G.J.) is uit ’n adellike gesin in Tessalonika, Griekeland, gebore. Tessalonika was destyds ’n stad waar twee tale gepraat is; die inwoners het Grieks en ’n vorm van Slawies gepraat. Die teenwoordigheid van baie Slawe en die noue kontak tussen die inwoners en die omliggende Slawiese gemeenskappe het Cyrillus en Metodius moontlik die geleentheid gebied om ’n deeglike kennis van die taal van die suidelike Slawe op te doen. En een biograaf van Metodius noem selfs dat hulle ma van Slawiese herkoms was.

Ná sy vader se dood het Cyrillus na Konstantinopel, die hoofstad van die Bisantynse Ryk, toe getrek. Daar het hy aan die keiserlike universiteit gestudeer en met vername opvoedkundiges geassosieer. Hy het die bibliotekaris van Aya Sofia, die vernaamste kerkgebou in die Ooste, geword, en later het hy ’n professor in filosofie geword. Trouens, vanweë sy akademiese prestasies het Cyrillus die bynaam “die Filosoof” gekry.

Intussen het Metodius dieselfde loopbaan as sy pa gevolg—naamlik politieke administrasie. Hy het die rang van argont (goewerneur) bereik in ’n Bisantynse grensgebied waar baie Slawe gewoon het. Maar hy het hom in ’n klooster in Bitinië, Klein-Asië, afgesonder. Cyrillus het in 855 G.J. daar by hom aangesluit.

In 860 G.J. het die patriarg van Konstantinopel die twee broers op ’n buitelandse sending gestuur. Hulle is na die Kazars gestuur, ’n volk wat noordoos van die Swart See gewoon het en nog nie tussen Islam, Judaïsme en die Christelike godsdiens kon besluit nie. Onderweg daarheen het Cyrillus ’n tyd lank in Chersonesos, in Krim, vertoef. Party geleerdes meen dat hy daar Hebreeus en Samaritaans geleer het en dat hy ’n Hebreeuse grammatika in die taal van die Kazars vertaal het.

’n Versoek van Morawië af

In 862 G.J. het Rostislaf, die prins van Morawië (hedendaagse oostelike Tsjeggië, westelike Slowakye en westelike Hongarye), die versoek wat in die eerste paragraaf verskyn—dat hy onderrigters van die Skrif moet stuur—aan die Bisantynse keiser Michael III gestuur. Sendelinge van die Oos-Frankiese koninkryk (nou Duitsland en Oostenryk) het toe alreeds kerkleerstellings aan Morawië se Slawiessprekende burgers bekend gemaak. Rostislaf was egter besorg oor die politieke en kerklike invloed van die Germaanse stamme. Hy het gehoop dat godsdiensbande met Konstantinopel sou help dat sy nasie polities en godsdienstig onafhanklik bly.

Die keiser het besluit om Metodius en Cyrillus na Morawië toe te stuur. Op akademiese, opvoedkundige en taalkundige gebied was die twee broers bekwaam om so ’n sending te onderneem. ’n Negende-eeuse biograaf sê vir ons dat die keiser, toe hy hulle aangespoor het om na Morawië toe te gaan, hierdie rede aangevoer het: “Julle is albei boorlinge van Tessalonika, en alle Tessalonisense praat suiwer Slawies.”

’n Alfabet en ’n Bybelvertaling sien die lig

Gedurende die maande voor hulle vertrek het Cyrillus vir die sending voorberei deur ’n geskrewe vorm van die taal vir die Slawe te ontwikkel. Hy het glo ’n goeie oor vir fonetiek gehad. Hy het derhalwe Griekse en Hebreeuse karakters gebruik en ’n letter vir elke spraakklank in Slawies probeer kry. b Party navorsers meen dat hy toe reeds jare lank die aanvoorwerk vir so ’n alfabet gedoen het. En daar is nog steeds onsekerheid oor die presiese vorm van die alfabet wat Cyrillus saamgestel het.—Sien die venster “Cyrillies of Glagolities?”

Cyrillus het terselfdertyd met ’n program begin om die Bybel gou te vertaal. Volgens tradisie het hy begin deur die eerste fase van die Evangelie van Johannes uit Grieks in Slawies te vertaal deur die nuutontwikkelde alfabet te gebruik: “In die begin was die Woord . . . ” Cyrillus het toe die vier Evangelies, die briewe van Paulus en die boek Psalms vertaal.

Het hy alleen gewerk? Metodius het hom heel waarskynlik met die taak gehelp. Die boek The Cambridge Medieval History sê boonop: “Dit is maklik om jou voor te stel dat [Cyrillus] ander gehad het wat hom gehelp het, wat in die eerste plek mense van Slawiese oorsprong met ’n Griekse geleerdheid was. As ons die oudste vertalings ondersoek, . . . het ons die beste bewys van ’n hoogs ontwikkelde Slawiese taalgevoel, wat toegeskryf moet word aan medewerkers wat self Slawe was.” Die res van die Bybel is later deur Metodius voltooi, soos ons sal sien.

‘Soos kraaie wat ’n valk aanval’

In 863 G.J. het Cyrillus en Metodius hulle sending in Morawië begin, waar hulle hartlik verwelkom is. Buiten dat hulle Bybelse en liturgiese geskrifte moes vertaal, het hulle werk ook behels dat hulle ’n groep plaaslike mense die nuwe Slawiese skrif moes leer.

Maar alles het nie glad verloop nie. Die Frankiese geestelikes in Morawië het die gebruik van Slawies hewig teëgestaan. Hulle het aan ’n drietalige teorie vasgehou, en volgehou dat net Latyn, Grieks en Hebreeus in aanbidding aanvaarbaar is. Met die hoop om die Pous se ondersteuning vir hulle nuutontwikkelde geskrewe taal te verkry, het die broers in 867 G.J. na Rome gereis.

Onderweg daarheen het Cyrillus en Metodius, in Venesië, nog ’n groep Latynse geestelikes teëgekom wat drietaligheid voorgestaan het. ’n Middeleeuse biograaf van Cyrillus sê vir ons dat die plaaslike biskoppe, priesters en monnike hom aangeval het “soos kraaie ’n valk” aanval. Volgens daardie verslag het Cyrillus teruggekap deur 1 Korintiërs 14:8, 9 aan te haal: “Want waarlik, wie sal gereedmaak vir die geveg as die trompet ’n onduidelike sein gee? Net so ook, hoe sal ’n mens weet wat gesê word tensy julle deur middel van die tong maklik verstaanbare woorde uiter? Julle sal in werklikheid in die lug praat.”

Toe die broers Rome uiteindelik bereik, het pous Adrianus II hulle gebruik van Slawies ten volle goedgekeur. Ná ’n paar maande, en terwyl hulle nog in Rome was, het Cyrillus ernstig siek geword. Minder as twee maande later het hy op die ouderdom van 42 gesterf.

Pous Adrianus II het Metodius aangespoor om sy werk te hervat in Morawië en in die omgewing van die dorp Nitra, in wat nou Slowakye is. Omdat die Pous graag sy invloed in daardie gebied wou versterk, het hy Metodius briewe gegee wat die gebruik van Slawies goedkeur en hom as aartsbiskop aangestel. Maar in 870 G.J. het die Frankiese biskop Hermanrich, met die hulp van prins Swatoploek van Nitra, Metodius in hegtenis geneem. Hy is twee en ’n half jaar lank in ’n klooster in suidoostelike Duitsland opgesluit. Uiteindelik het Adrianus II se opvolger, pous Johannes VIII, beveel dat Metodius vrygelaat word. Hy het hom weer in sy bisdom aangestel en herbevestig dat die Pous die gebruik van Slawies in aanbidding ondersteun.

Maar die Frankiese geestelikes het met hulle teenstand voortgegaan. Metodius het homself suksesvol verdedig teen aanklagte van kettery, en hy het uiteindelik van pous Johannes VIII ’n pouslike bul gekry waarin daar uitdruklik toestemming gegee is dat Slawies in die kerk gebruik kan word. Soos die huidige pous Johannes-Paulus II erken het, is Metodius se lewe gekenmerk deur “reise, ontberinge, lyding, vyandigheid en vervolging, . . . selfs deur ’n tyd van wrede gevangenskap”. Ironies genoeg was dit deur biskoppe en prinse wat goedgesind teenoor Rome was.

Die hele Bybel word vertaal

Ten spyte van die meedoënlose teenstand het Metodius, met die hulp van verskeie snelskrywers, die res van die Bybel in Slawies vertaal. Volgens tradisie het hy hierdie enorme taak in net agt maande voltooi. Hy het egter nie die apokriewe boeke van die Makkabeërs vertaal nie.

Vandag is dit nie maklik om presies te bepaal wat die gehalte van Cyrillus en Metodius se vertaling was nie. Net ’n paar manuskripkopieë bestaan nog wat uit ongeveer die tyd van die oorspronklike vertaling dateer. Wanneer taalkundiges daardie seldsame vroeë kopieë ondersoek, sê hulle dat die vertaling noukeurig was en ’n natuurlike varsheid oorgedra het. Die boek Our Slavic Bible sê dat die twee broers “talle nuwe woorde en uitdrukkings moes skep . . . En hulle het dit alles met verbasende akkuraatheid gedoen [en] aan die Slawiese taal ongekende leksikale rykheid verleen.”

’n Blywende erfenis

Ná Metodius in 885 G.J. gesterf het, is sy dissipels deur hulle Frankiese teenstanders uit Morawië verdryf. Hulle het na Boheme, suidelike Pole en Bulgarye gevlug. Sodoende is die werk van Cyrillus en Metodius voortgesit en in werklikheid versprei. Die Slawiese taal, waaraan die twee broers ’n geskrewe en permanenter vorm gegee het, het gefloreer, ontwikkel en later uitgebrei. Vandag sluit die Slawiese taalfamilie 13 afsonderlike tale en baie dialekte in.

Daarbenewens het die moedige pogings van Cyrillus en Metodius om die Bybel te vertaal vrugte afgewerp in die verskeie Slawiese vertalings van die Skrif wat vandag beskikbaar is. Miljoene mense wat hierdie tale praat, vind daarby baat om God se Woord in hulle moedertaal te hê. Ten spyte van bitter teenstand, is hierdie woorde só waar: “Die woord van onse God hou stand in ewigheid”!—Jesaja 40:8.

[Voetnote]

a Die Slawiese tale word in Oos- en Sentraal-Europa gepraat, en dit sluit Russies sowel as Oekraïnies, Serwies, Pools, Tsjeggies, Bulgaars en soortgelyke tale in.

b “Slawies”, soos dit in hierdie artikel gebruik word, verwys na die Slawiese dialek wat Cyrillus en Metodius vir hulle sending en letterkundige werk gebruik het. Party gebruik vandag die terme “Ou Slawies” of “Ou Kerkslawies”. Taalkundiges stem saam dat die Slawe in die negende eeu G.J. nie net een gemeenskaplike taal gepraat het nie.

[Venster op bladsy 29]

Cyrillies of Glagolities?

Die vorm van die alfabet wat Cyrillus saamgestel het, is iets wat al tot heelwat omstredenheid gelei het, aangesien taalkundiges nie seker is watter alfabet dit was nie. Die alfabet wat Cyrillies genoem word, is in groot mate op die Griekse alfabet gebaseer, met ongeveer twaalf bykomende karakters wat gevorm is om die Slawiese klanke te verteenwoordig wat nie in Grieks gevind word nie. Party van die vroegste Slawiese manuskripte gebruik egter ’n heel ander skrif, wat as Glagolities bekend staan, en baie geleerdes meen dat dít die skrif is wat Cyrillus ontwikkel het. ’n Paar van die Glagolitiese karakters kom blykbaar van die Griekse of Hebreeuse kursiefletters. Party is moontlik aan Middeleeuse diakritiese tekens ontleen, maar die meeste is oorspronklike en ingewikkelde skeppings. Dit lyk of Glagolities ’n baie unieke en oorspronklike skepping is. Maar dit is Cyrillies wat ontwikkel het in die hedendaagse Russiese, Oekraïniese, Serwiese, Bulgaarse en Masedoniese skrifvorms, buiten 22 bykomende tale, waarvan party nie Slawies is nie.

[Artwork Cyrillic and Glagolitic characters]

[Kaart op bladsy 31]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Baltiese See

(Pole)

Boheme (Tsjeggië)

Morawië (O. Tsjeggië, W. Slowakye, W. Hongarye)

Nitra

OOS-FRANKIESE KONINKRYK (Duitsland & Oostenryk)

ITALIË

Venesië

Rome

Middellandse See

BULGARYE

GRIEKELAND

Tessalonika

(Krim)

Swart See

Bitinië

Konstantinopel (Istanboel)

[Prent op bladsy 31]

’n Slawiese Bybel van 1581 in Cyrilliese skrif

[Erkenning]

Bybel: Narodna in univerzitetna knjiz̆nica-Slovenija-Ljubljana