Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Diegene wat in die lig wandel, is vreugdevol

Diegene wat in die lig wandel, is vreugdevol

Diegene wat in die lig wandel, is vreugdevol

“Kom, . . . en laat ons wandel in die lig van [Jehovah]!”—JESAJA 2:5.

1, 2. (a) Hoe belangrik is lig? (b) Waarom is die waarskuwing dat duisternis die aarde sal oordek so ernstig?

 JEHOVAH is die Bron van lig. Die Bybel noem hom die Een “wat die son gee tot ’n lig oordag, die ordeninge van die maan en van die sterre tot ’n lig in die nag” (Jeremia 31:35; Psalm 8:4). Hy is die Skepper van ons son, wat in werklikheid ’n reusagtige kernoond is wat geweldige hoeveelhede energie in die ruimte vrystel, ’n deel daarvan as lig en hitte. Die uiters klein persentasie van daardie energie wat ons as sonlig bereik, onderhou lewe op hierdie aarde. Sonder sonlig kan ons nie bestaan nie. Die aarde sou ’n lewelose planeet gewees het.

2 Met die oog hierop kan ons die erns verstaan van ’n situasie wat deur die profeet Jesaja beskryf word. Hy het gesê: “Kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke” (Jesaja 60:2). Dit verwys natuurlik nie na fisiese duisternis nie. Jesaja het nie bedoel dat die son, maan en sterre eendag nie meer sou skyn nie (Psalm 89:37, 38; 136:7-9). Hy het eerder van geestelike duisternis gepraat. Maar geestelike duisternis is dodelik. Ons kan op die lange duur nie sonder geestelike lig lewe nie, net soos ons nie sonder fisiese lig kan lewe nie.—Lukas 1:79.

3. Wat moet Christene in die lig van Jesaja se woorde doen?

3 Gevolglik is dit van groot belang dat ons daarop let dat Jesaja se woorde, hoewel dit op eertydse Juda vervul is, vandag ’n groter vervulling het. Ja, in ons tyd is die wêreld in geestelike duisternis gehul. In so ’n gevaarlike situasie is geestelike lig van die allergrootste belang. Dit is waarom Christene verstandig optree as hulle op Jesus se vermaning ag slaan: “Laat julle lig . . . voor die mense skyn” (Matteus 5:16). Getroue Christene kan die duisternis vir sagmoediges verlig en hulle sodoende die geleentheid bied om die lewe te verkry.—Johannes 8:12.

Donker tye in Israel

4. Wanneer het die eerste vervulling van Jesaja se profetiese woorde plaasgevind, maar watter situasie het reeds in sy dag bestaan?

4 Jesaja se woorde oor duisternis wat die aarde oordek, is eerstens vervul toe Juda woes gelê het en die volk in ballingskap in Babilon was. Maar selfs voor daardie tyd, in Jesaja se dag, was die grootste deel van die volk reeds in geestelike duisternis gehul, sodat hy beweeg is om sy landgenote met dié woorde aan te spoor: “Kom, huis van Jakob, en laat ons wandel in die lig van die HERE!”—Jesaja 2:5; 5:20.

5, 6. Watter faktore het tot die duisternis in Jesaja se dag bygedra?

5 Jesaja het in Juda geprofeteer “in die dae van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia, die konings van Juda” (Jesaja 1:1). Dit was ’n onstuimige tyd van politieke onrus, godsdienshuigelary, korrupsie in die regstelsel en verdrukking van die armes. Selfs gedurende die heerskappy van getroue konings, soos Jotam, kon altare van valse gode op baie van die heuweltoppe gesien word. Onder die heerskappy van ontroue konings was die situasie erger. Die goddelose koning Agas het byvoorbeeld selfs sy kind in ’n rituele offer aan die god Molog geoffer. Dit was inderdaad ’n donker tyd!—2 Konings 15:32-34; 16:2-4.

6 Die internasionale situasie was ook droewig. Moab, Edom en Filistea het die grense van Juda bedreig. Die noordelike koninkryk van Israel was nou ’n geswore vyand, hoewel hulle bloedverwante was. Verder noord was Sirië ’n bedreiging vir Juda se vrede. Nog gevaarliker was wrede Assirië, wat altyd op die uitkyk was na geleenthede om sy mag uit te brei. Gedurende die tyd toe Jesaja geprofeteer het, het Assirië die nasie Israel verower en Juda amper vernietig. Op een stadium het Assirië elke versterkte stad in Juda verower, met die uitsondering van Jerusalem.—Jesaja 1:7, 8; 36:1.

7. Watter weg het Israel en Juda gekies, en hoe het Jehovah daarop gereageer?

7 God se verbondsvolk het sulke rampe oorgekom omdat Israel en Juda dislojaal aan hom was. Soos diegene waarvan die boek Spreuke praat, het hulle “die paaie van opregtheid verlaat om op weë van duisternis te wandel” (Spreuke 2:13). Maar hoewel Jehovah vertoornd was op sy volk, het hy hulle nie heeltemal verlaat nie. Hy het eerder Jesaja en ander profete verwek om geestelike lig te voorsien vir enigiemand onder die volk wat Jehovah nog getrou probeer dien het. Die lig wat deur middel van hierdie profete voorsien is, was inderdaad kosbaar. Dit was lewegewend.

Hedendaagse tye van duisternis

8, 9. Watter faktore dra by tot die duisternis waarin die wêreld vandag verkeer?

8 Die situasie in Jesaja se dag het baie ooreengekom met die toestande van vandag. In ons tyd het menseleiers hulle rug gedraai op Jehovah en sy gekroonde Koning, Jesus Christus (Psalm 2:2, 3). Die godsdiensleiers van die Christendom het hulle kuddes mislei. Hierdie leiers beweer dat hulle God dien, maar in werklikheid verheerlik die meeste van hulle die gode van hierdie wêreld—nasionalisme, militarisme, rykdom en vooraanstaande mense—om nie eens te praat van die heidense leerstellings wat hulle mense leer nie.

9 Op een plek na die ander is die Christendom se godsdienste betrokke by oorloë en burgerlike stryde waartydens etniese suiwering en ander gruwels plaasvind. En in plaas van ’n standpunt vir Bybelse sedelikheid in te neem, sien baie kerke onsedelike gebruike, soos hoerery en homoseksualiteit, óf deur die vingers óf is hulle ywerige voorstanders daarvan. Weens hierdie verwerping van Bybelstandaarde is die Christendom se kuddes soos die manne waarvan die eertydse psalmis gepraat het: “Hulle weet nie en verstaan nie; hulle loop rond in duisternis” (Psalm 82:5). Die Christendom, soos eertydse Juda, verkeer waarlik in groot duisternis.—Openbaring 8:12.

10. Hoe skyn lig vandag te midde van die duisternis, en hoe vind sagmoediges daarby baat?

10 Te midde van hierdie duisternis laat Jehovah die lig skyn ter wille van die sagmoediges. Hiervoor gebruik hy sy gesalfde knegte op aarde, “die getroue en verstandige slaaf”, en hulle ‘skyn as ligte in die wêreld’ (Matteus 24:45; Filippense 2:15). Daardie slaafklas, wat ondersteun word deur miljoene metgeselle van die “ander skape”, straal geestelike lig uit wat op God se Woord, die Bybel, gebaseer is (Johannes 10:16). In hierdie donker wêreld gee daardie lig sagmoediges hoop, help dit hulle om ’n verhouding met God te hê en stel dit hulle in staat om geestelike valstrikke te vermy. Dit is kosbaar, lewegewend.

“U Naam sal ek loof”

11. Watter inligting het Jehovah in Jesaja se dag verskaf?

11 Watter soort leiding het Jehovah voorsien in die donker dae waarin Jesaja gelewe het en in die selfs donkerder dae daarna toe die Babiloniërs Jehovah se volk in gevangenskap weggevoer het? Hy het nie net sedelike leiding voorsien nie, maar ook vooraf duidelik beskryf hoe hy sy voornemens met betrekking tot sy volk sou vervul. Kyk byvoorbeeld na die wonderlike profesieë in Jesaja hoofstukke 25 tot 27. Die woorde in hierdie hoofstukke toon hoe Jehovah sake destyds hanteer het en hoe hy dit vandag doen.

12. Watter opregte lofbetuiging doen Jesaja?

12 Jesaja sê eerstens: “HERE, U is my God! U sal ek verhoog; u Naam sal ek loof.” Wat ’n opregte lofbetuiging! Maar waarom het die profeet so gebid? ’n Belangrike rede word in die tweede helfte van die vers verstrek, waar ons lees: “Want U [Jehovah] het wonders gedoen, raadsbesluite uit ver tye, waarheid en trou.”—Jesaja 25:1.

13. (a) Watter kennis het Jesaja se waardering vir Jehovah versterk? (b) Wat kan ons uit Jesaja se voorbeeld leer?

13 Teen die tyd dat Jesaja gelewe het, het Jehovah reeds baie wonders vir Israel gedoen, en dit is opgeteken. Jesaja was klaarblyklik vertroud met hierdie geskrifte. Hy het byvoorbeeld geweet dat Jehovah sy volk uit slawerny in Egipte uitgelei het en hulle van die toorn van Farao se leër by die Rooi See gered het. Hy het geweet dat Jehovah sy volk deur die wildernis gelei en hulle in die Beloofde Land gebring het (Psalm 136:1, 10-26). Sulke geskiedkundige verslae het getoon dat Jehovah God getrou en betroubaar is. Sy “raadsbesluite”—al sy voornemens—word verwesenlik. Die juiste kennis wat God voorsien het, het Jesaja versterk om in die lig te bly wandel. Hy is dus ’n uitstekende voorbeeld vir ons. As ons God se geskrewe Woord noukeurig bestudeer en dit in ons lewe toepas, sal ons ook in die lig bly.—Psalm 119:105; 2 Korintiërs 4:6.

’n Stad word vernietig

14. Wat is omtrent ’n stad voorspel, en watter stad was dit moontlik?

14 Ons vind ’n voorbeeld van God se raadsbesluite in Jesaja 25:2, waar ons lees: “U het van ’n stad ’n hoop klippe gemaak, van ’n versterkte vesting ’n puinhoop; ’n paleis van vreemdes, dat dit geen stad meer is nie; vir ewig sal dit nie herbou word nie.” Wat is hierdie stad? Jesaja het moontlik profeties van Babilon gepraat. En die tyd het wel gekom dat Babilon ’n blote hoop klippe geword het.

15. Watter “groot stad” bestaan vandag, en wat sal daarmee gebeur?

15 Het die stad waarvan Jesaja gepraat het ’n hedendaagse teenbeeld? Ja. Die boek Openbaring praat van “die groot stad wat ’n koninkryk oor die konings van die aarde het” (Openbaring 17:18). Daardie groot stad is “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens (Openbaring 17:5). Vandag is die vernaamste deel van Babilon die Grote die Christendom, wie se geestelikes die voortou daarin neem om die Koninkrykspredikingswerk van Jehovah se volk teë te staan (Matteus 24:14). Maar Babilon die Grote gaan binnekort, soos eertydse Babilon, vernietig word en sal nooit weer herbou word nie.

16, 17. Hoe het vyande van Jehovah hom in die verlede asook vandag verheerlik?

16 Wat anders voorspel Jesaja omtrent die stad, of “versterkte vesting”? Jesaja spreek Jehovah aan en sê: “’n Magtige volk [sal] U eer, die vesting van tirannieke nasies [sal] U vrees” (Jesaja 25:3). Hoe sou hierdie vyandige stad, “die vesting van tirannieke nasies”, Jehovah eer? Wel, onthou wat met Babilon se magtigste koning, Nebukadnesar, gebeur het. Ná ’n gedagteprikkelende ondervinding wat sy eie swakheid aan die lig gebring het, is hy gedwing om Jehovah se grootheid en almag te erken (Daniël 4:34, 35). Wanneer Jehovah sy mag uitoefen, moet selfs sy vyande sy magtige dade erken, al doen hulle dit teësinnig.

17 Is Babilon die Grote ooit gedwing om Jehovah se magtige dade te erken? Ja. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het Jehovah se gesalfde knegte onder verdrukking getuig. In 1918 het hulle in geestelike gevangenskap gegaan toe vername beamptes van die Wagtoringgenootskap in die tronk gesit is. Die georganiseerde predikingswerk het feitlik opgehou. Toe, in 1919, het Jehovah hulle herstel en hulle met sy gees versterk, waarna hulle hulle weer ingespan het om die opdrag na te kom om die goeie nuus in die hele bewoonde aarde te verkondig (Markus 13:10). Dit alles is in die boek Openbaring voorspel, asook die uitwerking daarvan op hulle teenstanders. Hulle “het bang geword en heerlikheid aan die God van die hemel gegee” (Openbaring 11:3, 7, 11-13). Nie dat hulle almal hulle bekeer het nie, maar hulle moes noodgedwonge die magtige daad van Jehovah by hierdie geleentheid erken, net soos Jesaja voorspel het.

“’n Vesting vir die arme”

18, 19. (a) Waarom kon teenstanders dit nie regkry om die onkreukbaarheid van Jehovah se volk te ondermyn nie? (b) Hoe sal “die triomfsang van die tiranne” stom word?

18 Jesaja vestig nou sy aandag op Jehovah se goedhartige dade teenoor diegene wat in die lig wandel en sê aan Jehovah: “U was ’n vesting vir die arme, ’n vesting vir die behoeftige toe hy benoud was; ’n skuilplek teen die stortreën, ’n skaduwee teen die hitte—want die geblaas van die tiranne is soos ’n stortreën teen ’n muur. Soos hitte in ’n dor land het U die rumoer van vreemdes gedemp, soos hitte deur die skaduwee van ’n wolk; die triomfsang van die tiranne moes verstom.”—Jesaja 25:4, 5.

19 Sedert 1919 het tiranne alles probeer om die onkreukbaarheid van ware aanbidders te ondermyn, maar hulle het dit nie reggekry nie. Waarom nie? Omdat Jehovah die vesting en toevlug van sy volk is. Hy voorsien koel skaduwee teen die versengende hitte van vervolging en staan soos ’n sterk muur teen die reënstorm van teenstand. Ons wat in God se lig wandel, sien met vertroue uit na die tyd wanneer ‘die triomfsang van die tiranne stom sal word’. Ja, ons sien gretig uit na die dag wanneer Jehovah se vyande nie meer daar sal wees nie.

20, 21. Watter feesmaal voorsien Jehovah, en wat sal daardie feesmaal in die nuwe wêreld insluit?

20 Jehovah doen meer as om sy knegte net te beskerm. As hulle liefdevolle Vader voorsien hy in hulle behoeftes. Nadat hy sy volk in 1919 uit Babilon die Grote bevry het, het hy vir hulle ’n oorwinningsfees, oorvloedige geestelike voedsel, berei. Dit is in Jesaja 25:6 voorspel, waar ons lees: “Die HERE van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei ’n maaltyd van vetspyse, ’n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn.” Hoe geseënd is ons tog om aan daardie feesmaal deel te neem! (Matteus 4:4). “Die tafel van Jehovah” is inderdaad oorlaai met goeie dinge om te eet (1 Korintiërs 10:21). Deur middel van “die getroue en verstandige slaaf” word ons van alles voorsien wat ons ook al in geestelike sin nodig kan hê.

21 En hierdie feesmaal wat deur God voorsien word, sluit nog meer in. Die geestelike feesmaal wat ons nou geniet, laat ons dink aan die oorvloed fisiese voedsel wat in God se beloofde nuwe wêreld beskikbaar sal wees. Dan sal die “maaltyd van vetspyse” ’n oorvloed fisiese voedsel insluit. Niemand sal in fisiese of geestelike sin honger hoef te ly nie. Wat ’n verligting is dit tog vir die dierbare getroues wat nou ly as gevolg van die voorspelde “voedseltekorte” wat deel uitmaak van “die teken” van Jesus se teenwoordigheid! (Matteus 24:3, 7). Vir hulle is die woorde van die psalmis werklik vertroostend. Hy het gesê: “Daar sal volop graan op die aarde wees, op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees.”—Psalm 72:16NW.

22, 23. (a) Watter “omhulsel”, of “uitgespreide sluier”, sal verwyder word, en hoe? (b) Hoe sal ‘die smaad van Jehovah se volk’ weggeneem word?

22 Luister nou na ’n selfs wonderliker belofte. Jesaja vergelyk sonde en die dood met ’n “omhulsel”, of ’n “uitgespreide sluier”, en sê: “[Jehovah] sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is” (Jesaja 25:7). Dink net daaraan! Sonde en die dood, waarin die mensdom as ’t ware vasgevang is, sal nie meer daar wees nie. Hoe smag ons tog na die dag wanneer die voordele van Jesus se losprysofferande ten volle aangewend word ten behoewe van die gehoorsame en getroue mensdom!—Openbaring 21:3, 4.

23 Die geïnspireerde profeet verwys na daardie wonderlike tyd en verseker ons: “[God] sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem; want die HERE het dit gespreek” (Jesaja 25:8). Niemand sal van natuurlike oorsake sterf of huil omdat hy ’n dierbare aan die dood afgestaan het nie. Wat ’n wonderlike verandering! Daarbenewens sal die smaad en leuenagtige propaganda wat God en sy knegte al so lank verduur nêrens op aarde meer gehoor word nie. Waarom nie? Omdat Jehovah die bron daarvan—die vader van die leuen, Satan die Duiwel, tesame met almal wat deel uitmaak van Satan se saad—sal verwyder.—Johannes 8:44.

24. Hoe reageer diegene wat in die lig wandel op Jehovah se magtige dade ten behoewe van hulle?

24 Wanneer diegene wat in die lig wandel oor sulke bewyse van Jehovah se mag nadink, word hulle beweeg om uit te roep: “Kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos; dit is die HERE op wie ons gewag het: laat ons juig en bly wees oor sy hulp” (Jesaja 25:9). Die regverdige mensdom sal binnekort alle rede hê om te juig. Die duisternis sal heeltemal verwyder wees, en getroues sal tot in alle ewigheid Jehovah se lig geniet. Kan daar enigsins ’n wonderliker hoop wees? Beslis nie!

Kan jy verduidelik?

• Waarom is dit vandag noodsaaklik dat ons in die lig wandel?

• Waarom het Jesaja Jehovah se naam geloof?

• Waarom sal vyande nooit die onkreukbaarheid van God se volk kan ondermyn nie?

• Watter wonderlike seëninge wag op diegene wat in die lig wandel?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 12, 13]

Juda se bewoners het kinders aan Molog geoffer

[Prente op bladsy 15]

Kennis van Jehovah se magtige dade het Jesaja beweeg om Jehovah se naam te loof

[Prent op bladsy 16]

Die regverdiges sal vir ewig Jehovah se lig geniet