Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

My hele lewe lank deur Jehovah onderskraag

My hele lewe lank deur Jehovah onderskraag

Lewensverhaal

My hele lewe lank deur Jehovah onderskraag

SOOS VERTEL DEUR FORREST LEE

Die polisie het so pas op ons grammofone en ons Bybellektuur beslag gelê. Die Tweede Wêreldoorlog het teenstanders ’n verskoning gegee om ’n nuwe goewerneur-generaal van Kanada oor te haal om die werk van Jehovah se Getuies onwettig te verklaar. Dit het op 4 Julie 1940 plaasgevind.

DIT het ons nie afgeskrik nie, maar ons het nog lektuur gaan kry waar ons dit geberg het en met ons predikingswerk voortgegaan. Ek sal altyd onthou wat my pa by daardie geleentheid gesê het: “Ons gee nie so maklik op nie. Jehovah het ons die opdrag gegee om te getuig.” Ek was op daardie stadium ’n energieke tienjarige. Maar selfs vandag nog herinner my pa se vasbeslotenheid en sy ywer vir die bediening my voortdurend aan hoe ons God, Jehovah, sy lojale knegte onderskraag.

Toe die polisie ons die volgende keer stop, het hulle nie net ons lektuur afgeneem nie, maar ook my pa tronk toe geneem en my ma alleen met vier kinders agtergelaat. Dit het in September 1940 in Saskatchewan gebeur. Kort daarna is ek uit die skool gesit omdat ek my Bybelopgeleide gewete gevolg het en nie die vlag gesalueer of die volkslied gesing het nie. Aangesien ek deur die pos verder gestudeer het, het ek ’n aanpasbare rooster gehad, en ek kon ’n groter aandeel aan die predikingswerk hê.

In 1948 is pioniers, voltydse bedienaars van Jehovah se Getuies, gevra om na die ooskus van Kanada te gaan. Ek het dus na Halifax, Nieu-Skotland, en Kaap Wolfe, Prins Eduard-eiland, gegaan om daar as pionier te dien. Die daaropvolgende jaar het ek ’n uitnodiging aanvaar om twee weke by die takkantoor van Jehovah se Getuies in Toronto te gaan werk. Daardie twee weke het ses lonende diensjare geword. Later het ek Myrna ontmoet, wat net so lief was vir Jehovah, en ons is in Desember 1955 getroud. Ons het ons in Milton, Ontario, gevestig, en ’n nuwe gemeente is spoedig daar gevorm. Die kelder van ons huis het die Koninkryksaal geword.

Ons begeerte om ons bediening uit te brei

In die jare daarna het ons die ouers van ses kinders geword, wat redelik vinnig na mekaar gekom het. Ons dogter Miriam was die eersteling. Daarna het Charmaine, Mark, Annette, Grant en laastens Glen gevolg. Ek het dikwels ná werk by die huis gekom en die kinders om die kaggel op die vloer gevind, terwyl Myrna vir hulle uit die Bybel gelees het, Bybelverslae verduidelik het en ’n ware liefde vir Jehovah in hulle hart ingeboesem het. Danksy haar liefdevolle ondersteuning het al ons kinders van jongs af ’n goeie kennis van die Bybel opgebou.

My pa se ywer vir die bediening het ’n onuitwisbare indruk op my verstand en hart gelaat (Spreuke 22:6). Toe gesinne van Jehovah se Getuies dus in 1968 genooi is om na Sentraal- en Suid-Amerika te verhuis om met die predikingswerk te help, wou ons gesin graag gaan. Teen daardie tyd was ons kinders tussen 5 en 13 jaar oud, en nie een van ons kon ’n woord Spaans praat nie. Ek het die raad gevolg om ’n paar lande te besoek en te sien hoe die lewensomstandighede daar is. Ná ek teruggekeer het, het ons as ’n gesin ons keuses biddend oorweeg en besluit om na Nicaragua te verhuis.

Ons dien in Nicaragua

Teen Oktober 1970 was ons in ons nuwe tuiste, en binne drie weke het ek ’n kort deel op die program by ’n gemeentelike vergadering gehad. Ek het in my gebroke Spaans deur die deel geworstel en afgesluit deur die hele gemeente na ons huis te nooi vir cerveza op Saterdag 9:30 vm. Ek wou servicio sê, die woord vir velddiens, maar ek het almal in werklikheid vir ’n bier genooi. Dit was inderdaad ’n uitdaging om die taal aan te leer!

Aan die begin het ek ’n aanbieding op my hand geskryf en dit geoefen op pad na die deur toe. Ek het dan gesê: “Saam met die boek kry u ’n gratis tuisbybelstudie.” Een persoon wat die aanbod aanvaar het, het later gesê dat hy na ons vergaderinge toe moes kom om uit te vind wat ek vir hom probeer sê het. Hierdie man het een van Jehovah se Getuies geword. Hoe duidelik is dit tog dat God die een is wat die saadjies van waarheid in nederige harte laat groei, soos die apostel Paulus tereg erken het!—1 Korintiërs 3:7.

Nadat ons omtrent twee jaar in die hoofstad Managua was, is ons gevra om na die suidelike deel van Nicaragua te trek. Daar het ons saam met die gemeente in Rivas gewerk, asook saam met afgesonderde groepies belangstellendes in die omliggende dele. Pedro Peña, ’n getroue bejaarde Getuie, het saam met my gegaan wanneer ons hierdie groepe besoek het. Die een was op ’n vulkaniese eiland in die Nicaragua-meer, waar net een Getuie-gesin was.

Hoewel hierdie gesin materieel baie min gehad het, het hulle alles in hulle vermoë gedoen om waardering vir ons besoek te toon. Die aand toe ons daar aankom, het ’n ete op ons gewag. Ons het ’n week daar gebly, en baie van die dierbare mense wat lief is vir die Bybel, het hulle kos met ons gedeel. Ons was verheug om 101 die Sondag by die openbare Bybeltoespraak te hê.

Vir my was Jehovah se ondersteunende krag ook duidelik toe ons by ’n ander geleentheid ’n groep belangstellendes in die berge naby die grens van Costa Rica moes besoek. Die dag toe ons moes vertrek, het Pedro my kom haal, maar ek was in die bed met malaria. “Ek kan nie gaan nie, Pedro”, het ek gesê. Hy het sy hand teen my voorkop gesit en geantwoord: “Jou koors is hoog, maar jy moet kom! Die broers wag.” Hy het toe een van die roerendste gebede gedoen wat ek nog gehoor het.

Daarna het ek gesê: “Gaan kry vir jou ’n fresco (vrugtedrankie). Ek sal binne tien minute gereed wees.” Twee Getuie-gesinne het in die gebied gewoon wat ons besoek het, en hulle het baie goed vir ons gesorg. Die volgende dag het ons saam met hulle die predikingswerk gaan doen, hoewel ek nog swak was weens die koors. Hoe geloofversterkend was dit tog om meer as honderd mense die Sondag by ons vergadering te sien!

Ons verhuis weer

In 1975 is ons sewende kind, Vaughn, gebore. Die jaar daarna moes ons om finansiële redes na Kanada terugkeer. Dit was nie maklik om Nicaragua te verlaat nie omdat ons waarlik kon voel hoe Jehovah se krag ons gedurende ons verblyf daar onderskraag het. Teen die tyd dat ons vertrek het, het meer as 500 in ons gemeente se gebied die vergaderinge bygewoon.

Vroeër, toe ek en ons dogter Miriam as spesiale pioniers in Nicaragua aangestel is, het Miriam my gevra: “Pa, as julle ooit weer moet teruggaan Kanada toe, mag ek dan hier agterbly?” Omdat ek glad nie van plan was om ooit terug te trek nie, het ek gesê: “Maar natuurlik!” Toe ons dus trek, het Miriam agtergebly en met haar voltydse bediening voortgegaan. Later het sy met Andrew Reed getrou. In 1984 het hulle die 77ste klas van Gilead, die sendingskool van Jehovah se Getuies, bygewoon wat destyds in Brooklyn, New York, gehou is. Miriam dien nou saam met haar man in die Dominikaanse Republiek, ’n begeerte wat by haar gewek is deur die uitstekende sendelinge in Nicaragua.

Intussen het my pa se woorde, “ons gee nie so maklik op nie”, nog in my hart gebrand. Toe ons dus in 1981 genoeg geld gespaar het om na Sentraal-Amerika terug te keer, het ons weer eens getrek, dié keer na Costa Rica. Terwyl ons daar gedien het, is ons gevra om met die bouwerk aan hulle nuwe takkantoor te help. In 1985 het ons seun Grant egter mediese hulp nodig gehad, en daarom het ons teruggegaan Kanada toe. Glen het in Costa Rica gebly om met die bouwerk aan die takkantoor te help, terwyl Annette en Charmaine as spesiale pioniers gedien het. Dié van ons wat Costa Rica verlaat het, het nooit kon droom dat ons nie weer sou teruggaan nie.

Ons probeer teëspoed verwerk

Die 17de September 1993 was ’n pragtige, sonnige dag. Ek en ons oudste seun, Mark, het ’n dak opgesit. Ons het langs mekaar gewerk en soos gewoonlik oor geestelike dinge gesels. Op die een of ander manier het ek my balans verloor en van die dak afgerol. Toe ek my bewussyn herwin, het ek net skerp ligte en mense in wit klere om my gesien. Ek was in die traumaeenheid van die hospitaal.

Weens dit wat die Bybel sê, was my eerste reaksie: “Geen bloed nie, geen bloed nie!” (Handelinge 15:28, 29). Hoe verlig was ek tog om Charmaine te hoor sê: “Dis in die haak, Pa. Ons is almal hier.” Ek het later uitgevind dat die dokters my mediese dokument gesien het en dat die gebruik van bloed nooit ’n kwessie was nie. Ek het my nek gebreek en was heeltemal verlam en kon selfs nie op my eie asemhaal nie.

Ek kon nie beweeg nie en het meer as ooit Jehovah se onderskraging nodig gehad. ’n Lugpypinsnyding is gedoen om ’n asemhalingsbuis in my lugpyp te sit, en dit het gekeer dat lug na my stembande vloei. Ek kon nie praat nie. Mense moes my lippe lees om te verstaan wat ek probeer sê.

Koste het gou opgeloop. Aangesien my vrou en die meeste van my kinders in die voltydse bediening was, het ek gewonder of hulle hierdie diens sou moes verlaat om na hierdie finansiële verantwoordelikhede om te sien. Mark het egter werk gekry wat, in net drie maande, gehelp het om die grootste deel van hierdie koste te dek. Gevolglik kon almal, behalwe ek en my vrou, in die voltydse bediening bly.

Honderde kaartjies en briewe uit ses verskillende lande is teen die mure van my hospitaalkamer geplak. Jehovah het my werklik onderskraag. Die gemeente het ook my gesin gehelp deur hulle van etes te voorsien vir ’n deel van die vyf en ’n half maande dat ek in die waakeenheid was. Elke dag het ’n Christen- ouer man die middag saam met my deurgebring en vir my uit die Bybel en Bybelpublikasies gelees, sowel as bemoedigende ondervindinge vertel. Twee van my gesinslede het elke gemeentelike vergadering saam met my voorberei sodat ek altyd noodsaaklike geestelike voedsel gekry het.

Terwyl ek nog in die hospitaal was, is reëlings getref sodat ek ’n spesiale byeenkomsdag kon bywoon. Die hospitaalpersoneel het gereël dat ’n gekwalifiseerde verpleegster en ’n asemhalingstegnikus die hele dag saam met my sou gaan. Hoe wonderlik was dit tog om weer saam met my Christenbroers en -susters te wees! Ek sal nooit vergeet hoe honderde in ’n tou gestaan het om my te kom groet nie!

Ek probeer geestelik sterk bly

Omtrent ’n jaar ná die ongeluk kon ek teruggaan huis toe, na my gesin toe, al moet ek nog steeds 24 uur per dag verpleeg word. Met behulp van ’n voertuig wat spesiaal toegerus is, kan ek die vergaderinge bywoon, en ek bly selde weg daarvan. Maar ek moet erken dat dit vasbeslotenheid vereis om te gaan. Vandat ek by die huis is, kon ek al die streekbyeenkomste bywoon.

Uiteindelik, in Februarie 1997, het ek in beperkte mate my spraakvermoë herwin. Van my verpleegsters luister met waardering wanneer ek hulle van my Bybelse hoop vertel. Een verpleegster het die hele boek Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk sowel as ander Wagtoringpublikasies vir my gelees. Ek korrespondeer met mense deur ’n stokkie te gebruik om op ’n rekenaar te werk. Hoewel dit baie uitputtend is om so te tik, gee dit my voldoening om in die bediening betrokke te kan bly.

Ek ly vreeslik weens senuweepyn. Maar dit lyk of ek ’n mate van verligting voel wanneer ek met ander oor Bybelwaarhede praat of luister as iemand dit vir my lees. Ek doen soms straatwerk saam met my vrou wat my altyd bystaan en vir my praat as ek hulp nodig het. Ek kon al ’n hele paar keer as ’n hulppionier dien. Dit maak my gelukkig om as ’n Christen- ouer man te dien, veral wanneer broers by die vergaderinge na my toe kom of my by my huis kom besoek en ek hulle kan help en aanmoedig.

Ek moet erken dat dit maklik is om neerslagtig te raak. Wanneer ek dus bedruk voel, bid ek onmiddellik vir vreugde. Ek bid dag en nag dat Jehovah my sal aanhou onderskraag. ’n Brief of ’n besoekie van iemand beur my altyd op. As ek ’n Wagtoring of ’n Ontwaak! lees, vul dit ook my verstand met opbouende gedagtes. Verskillende verpleegsters lees soms hierdie tydskrifte vir my. Sedert my ongeluk het ek al sewe keer na die opname van die hele Bybel op kasset geluister. Dit is van die verskillende maniere waarop Jehovah my onderskraag het.—Psalm 41:3NW.

My verandering in omstandighede het my baie tyd gegee om te peins oor hoe ons Grootse Onderrigter, Jehovah, ons vir die lewe oplei. Hy gee ons juiste kennis van sy wil en voorneme, ’n sinvolle bediening, raad oor die geheim van gesinsgeluk en onderskeidingsvermoë om te weet wat om tydens teëspoed te doen. Jehovah het my met ’n getroue en wonderlike vrou geseën. My kinders het my ook lojaal ondersteun, en dit maak my hart bly dat hulle almal aan die voltydse bediening deelgeneem het. Trouens, op 11 Maart 2000 het ons seun Mark en sy vrou, Allyson, aan die 108ste klas van Gileadskool gegradueer, en hulle is na Nicaragua gestuur. Ek en my vrou het hulle graduering bygewoon. Ek kan waarlik sê dat teëspoed my lewe verander het, maar nie my hart nie.—Psalm 127:3, 4.

Ek dank Jehovah vir die wysheid wat hy my gegee het om aan my gesin die geestelike erfenis oor te dra wat ek ontvang het. Dit versterk en bemoedig my om te sien hoe my kinders hulle Skepper dien met ’n soortgelyke gesindheid as dié van my pa, wat gesê het: “Ons gee nie so maklik op nie. Jehovah het ons die opdrag gegee om te getuig.” Jehovah het my en my gesin inderdaad ons hele lewe lank onderskraag.

[Prent op bladsy 24]

Saam met my pa, my broers en my suster langs ons motorwoning, wat ons gedurende ons pionierdae gebruik het. Ek is aan die regterkant

[Prent op bladsy 26]

Saam met my vrou, Myrna

[Prent op bladsy 26]

’n Onlangse foto van ons gesin

[Prent op bladsy 27]

Ek getuig nog deur middel van briewe