Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Redding vir diegene wat die lig kies

Redding vir diegene wat die lig kies

Redding vir diegene wat die lig kies

“Jehovah is my lig en my redding. Vir wie sou ek bang wees?”—PSALM 27:1, NW.

1. Watter lewegewende voorsienings stel Jehovah beskikbaar?

 JEHOVAH is die Bron van die sonlig wat lewe op die aarde moontlik maak (Genesis 1:2, 14). Hy is ook die Skepper van geestelike lig, wat die dodelike duisternis van Satan se wêreld verdryf (Jesaja 60:2; 2 Korintiërs 4:6; Efesiërs 5:8-11; 6:12). Diegene wat die lig kies, kan saam met die psalmis sê: “Jehovah is my lig en my redding. Vir wie sou ek bang wees?” (Psalm 27:1a, NW). Maar soos in Jesus se tyd kan diegene wat die duisternis verkies niks anders as ’n ongunstige oordeel verwag nie.—Johannes 1:9-11; 3:19-21, 36.

2. Wat het in die ou tyd gebeur met diegene wat Jehovah se lig verwerp het en met diegene wat na sy woord geluister het?

2 In die dae van Jesaja het die meeste van Jehovah se verbondsvolk die lig verwerp. Gevolglik het Jesaja gesien hoe die noordelike koninkryk van Israel as ’n nasie vernietig word. En in 607 v.G.J. is Jerusalem en sy tempel vernietig en die inwoners van Juda in ballingskap weggevoer. Diegene wat na Jehovah se woord geluister het, is egter versterk om weerstand te bied teen die afvalligheid in daardie dae. Jehovah het aangaande 607 v.G.J. beloof dat diegene wat na hom geluister het behoue sou bly (Jeremia 21:8, 9). Vandag kan dié van ons wat die lig liefhet baie leer uit wat destyds gebeur het.—Efesiërs 5:5.

Diegene in die lig is gelukkig

3. Watter vertroue kan ons vandag hê, vir watter “regverdige nasie” is ons lief, en watter “sterk stad” het daardie “nasie”?

3 “’n Sterk stad het ons; God stel heil tot mure en skanse. Maak oop die poorte, dat die regverdige nasie kan ingaan wat die trou bewaar!” (Jesaja 26:1, 2). Dit is die blye woorde van mense wat op Jehovah vertrou het. Getroue Jode in Jesaja se dag het op Jehovah vertrou as die enigste ware Bron van veiligheid en nie op die valse gode van hulle landgenote nie. Ons het vandag dieselfde vertroue. Daarbenewens is ons lief vir Jehovah se “regverdige nasie”—“die Israel van God” (Galasiërs 6:16; Matteus 21:43). Jehovah is ook lief vir hierdie nasie vanweë hulle getrouheid. Met sy seën het die Israel van God “’n sterk stad”, ’n stadagtige organisasie wat hulle ondersteun en beskerm.

4. Watter geestesgesindheid kan ons gerus aankweek?

4 Diegene in hierdie “stad” weet dat Jehovah “die neiging wat goed ondersteun word, in voortdurende vrede [sal] bewaar, want ’n mens word beweeg om op [Jehovah] te vertrou”. Jehovah ondersteun diegene wat geneig is om op hom te vertrou en by sy regverdige beginsels te bly. Die getroues in Juda het dus ag geslaan op Jesaja se vermaning: “Vertrou op Jehovah vir altyd, want in Jah Jehovah is die Rots van onbepaalde tye” (Jesaja 26:3, 4, NW; Psalm 9:11; 37:3; Spreuke 3:5). Diegene met hierdie geestesgesindheid vertrou op “Jah Jehovah” as die enigste veilige Rots. Hulle geniet “voortdurende vrede” met hom.—Filippense 1:2; 4:6, 7.

Vernedering vir God se vyande

5, 6. (a) Hoe is eertydse Babilon verneder? (b) Hoe is “Babilon die Grote” verneder?

5 Gestel diegene wat op Jehovah vertrou, ly verdrukking, wat dan? Hulle hoef nie te vrees nie. Jehovah laat sulke dinge ’n ruk lank toe, maar hy bring uiteindelik verligting, en diegene wat die verdrukking veroorsaak, word deur hom geoordeel (2 Tessalonisense 1:4-7; 2 Timoteus 1:8-10). Kyk byvoorbeeld na die geval van ’n sekere “verhewe stad”. Jesaja sê: “[Jehovah] het die bewoners van die hoogte, die verhewe stad, neergewerp. Hy verneder dit, hy verneder dit tot die grond toe; hy bring dit in aanraking met die stof. Die voet sal dit vertrap, die voete van die geteisterde, die voetstappe van die geringes” (Jesaja 26:5, 6, NW). Die verhewe stad wat hier gemeld word, is moontlik Babilon. Daardie stad het beslis God se volk laat swaarkry. Maar wat het met Babilon gebeur? In 539 v.G.J. is dit deur die Meders en die Perse tot ’n val gebring. Wat ’n vernedering tog!

6 In ons dag is Jesaja se profetiese woorde ’n goeie beskrywing van wat sedert 1919 met “Babilon die Grote” gebeur het. Dié verhewe stad het in daardie jaar ’n vernederende val beleef toe dit gedwing is om Jehovah se volk uit geestelike gevangenskap vry te laat (Openbaring 14:8). Wat volgende gebeur het, was selfs ’n groter vernedering. Daardie klein groepie Christene het hulle voormalige gevangenemer begin “vertrap”. In 1922 het hulle die komende einde van die Christendom begin verkondig en die vier trompetstote van die engele in Openbaring 8:7-12 uitgebasuin sowel as die drie weë wat in Openbaring 9:1–11:15 voorspel is.

“Die pad van die regverdige is regskapenheid”

7. Watter leiding ontvang diegene wat hulle tot Jehovah se lig wend, op wie hoop hulle, en wat het hulle lief?

7 Jehovah voorsien redding vir diegene wat hulle wend tot sy lig, en hy lei hulle, soos Jesaja vervolgens toon: “Die pad van die regverdige is regskapenheid. Omdat u reg is, sal u die weg van ’n regverdige gelykmaak. Ja, ons het op u gehoop, o Jehovah, vir die weg van u oordele. Na u naam en na u gedagtenis het die begeerte van die siel uitgegaan” (Jesaja 26:7, 8, NW). Jehovah is ’n regverdige God, en diegene wat hom aanbid, moet sy regverdige standaarde volg. Wanneer hulle dit doen, lei Jehovah hulle en maak hy hulle weg gelyk. Deur sy leiding te volg, toon hierdie sagmoediges dat hulle op Jehovah hoop en sy naam—sy “gedagtenis”—met hulle hele hart liefhet.—Exodus 3:15NW.

8. Watter voorbeeldige gesindheid het Jesaja geopenbaar?

8 Jesaja was lief vir Jehovah se naam. Dit kan duidelik gesien word uit sy volgende woorde: “Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid” (Jesaja 26:9). Jesaja het Jehovah ‘met sy siel’—met sy hele wese—begeer. Stel jou voor hoe die profeet die stil tye van die nag gebruik het om tot Jehovah te bid, hoe hy sy diepste gedagtes uitgespreek en ernstig Jehovah se leiding gesoek het. Wat ’n goeie voorbeeld! Daarbenewens het Jesaja regverdigheid uit Jehovah se oordeelsdade geleer. Hierdeur herinner hy ons aan die belangrikheid daarvan om voortdurend waaksaam te wees en wakker te bly om Jehovah se wil te onderskei.

Party kies die duisternis

9, 10. Watter dade van goedhartigheid het Jehovah teenoor sy ontroue nasie verrig, maar hoe het hulle daarop gereageer?

9 Jehovah het groot liefderyke goedhartigheid aan Juda betoon, maar ongelukkig het nie almal daarop gereageer nie. Dikwels het die meerderheid opstandigheid en afvalligheid bo die lig van Jehovah se waarheid verkies. Jesaja het gesê: “Word aan die goddelose genade bewys, dan leer hy geen geregtigheid nie; wat onreg is, doen hy in ’n land van reg, en hy sien die hoogheid van die HERE nie.”—Jesaja 26:10.

10 Toe Jehovah se hand Juda in Jesaja se dag teen sy vyande beskerm het, het die meerderheid geweier om dit te erken. Toe hy hulle met sy vrede geseën het, het die nasie geen dankbaarheid getoon nie. Daarom het Jehovah hulle oorgelewer om “ander here” te dien, en hy het uiteindelik toegelaat dat die Jode in 607 v.G.J. in gevangenskap na Babilon weggevoer word (Jesaja 26:11-13). Tog het ’n gelouterde oorblyfsel van die nasie uiteindelik na hulle vaderland teruggekeer.

11, 12. (a) Watter toekoms het Juda se gevangenemers gehad? (b) Watter toekoms het die voormalige gevangenemer van Jehovah se gesalfde knegte in 1919 gehad?

11 Wat van Juda se gevangenemers? Jesaja het profeties geantwoord: “Hulle is dood; hulle sal nie lewe nie. Hulle is magteloos in die dood; hulle sal nie opstaan nie. Daarom het u u aandag op hulle gerig om hulle te verdelg en alle vermelding van hulle te vernietig” (Jesaja 26:14, NW). Ja, ná Babilon se val in 539 v.G.J. het dit geen toekoms meer gehad nie. Die stad sou mettertyd nie meer bestaan nie. Dit sou “magteloos in die dood” wees, en sy groot ryk sou tot die geskiedenis behoort. Wat ’n waarskuwing tog vir diegene wat hulle hoop vestig op die magtiges van hierdie wêreld!

12 Aspekte van hierdie profesie het ’n vervulling gehad toe God toegelaat het dat sy gesalfde knegte in 1918 in geestelike gevangenskap gaan en hy hulle daarna in 1919 bevry het. Van toe af was die toekoms van hulle voormalige gevangenemer, hoofsaaklik die Christendom, donker. Maar Jehovah se volk sou beslis ryklik geseën word.

“U het die nasie vermeerder”

13, 14. Watter ryk seëninge het Jehovah se gesalfde knegte sedert 1919 geniet?

13 God het die berouvolle gees van sy gesalfde knegte in 1919 geseën en hulle vermeerdering gegee. Eerstens is aandag gegee aan die insameling van die laaste lede van die Israel van God, en toe is “’n groot skare” “ander skape” ingesamel (Openbaring 7:9; Johannes 10:16). Hierdie seëninge is in Jesaja se profesie voorspel: “U het, o HERE, die nasie vermeerder; U het die nasie vermeerder, Uself verheerlik; U het al die grense van die land uitgebrei. HERE, in benoudheid het hulle U gesoek; hulle het stille gebede uitgegiet toe u tugtiging hulle getref het.”—Jesaja 26:15, 16.

14 Vandag het die grense van die Israel van God uitgebrei sodat dit die hele wêreld insluit, en die groot skare wat by hulle aangesluit het, is nou altesaam ongeveer sesmiljoen werkers wat ywerig aan die verkondiging van die goeie nuus deelneem (Matteus 24:14). Wat ’n seën van Jehovah is dit tog! En hoe verheerlik dit tog sy naam! Daardie naam word vandag in 235 lande gehoor—’n wonderlike vervulling van sy belofte.

15. Watter simboliese opstanding het in 1919 plaasgevind?

15 Juda het Jehovah se hulp nodig gehad om uit gevangenskap in Babilon te kom. Hulle kon dit nie op hulle eie doen nie (Jesaja 26:17, 18). Net so ook was die bevryding van die Israel van God in 1919 ’n bewys van Jehovah se ondersteuning. Dit kon nie sonder hom plaasgevind het nie. En die verandering in hulle toestand was so verbasend dat Jesaja dit met ’n opstanding vergelyk: “U dooies sal lewe. My lyke—hulle sal opstaan. Word wakker en roep met vreugde uit, julle wat in die stof woon! Want u dou is soos die dou van kiesieblare, en die aarde sal selfs dié wat magteloos is in die dood, voortbring soos by ’n geboorte” (Jesaja 26:19, NW; Openbaring 11:7-11). Ja, dié wat magteloos is in die dood, sou as ’t ware weer gebore word vir hernieude bedrywigheid!

Beskerming in gevaarlike tye

16, 17. (a) Wat moes die Jode in 539 v.G.J. doen om die val van Babilon te oorleef? (b) Wat is moontlik vandag die “binnekamers”, en hoe vind ons daarby baat?

16 Jehovah se knegte het altyd sy beskerming nodig. Maar hy sal binnekort sy hand vir die laaste keer teen Satan se wêreld uitstrek, en sy aanbidders sal sy hulp nodig hê soos nooit tevore nie (1 Johannes 5:19). Jehovah waarsku ons aangaande daardie gevaarlike tyd: “Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir ’n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan. Want kyk, die HERE sal uit sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek; en die aarde sal die bloed openbaar maak wat deur hom gedrink is, en die wat op hom gedood is, nie langer toedek nie” (Jesaja 26:20, 21; Sefanja 1:14). Hierdie waarskuwing het die Jode gehelp om te sien hoe hulle die val van Babilon in 539 v.G.J. kon oorleef. Diegene wat daarop ag geslaan het, sou in hulle huise gebly het, beskut teen die vegtende soldate in die strate.

17 Vandag verwys die “binnekamers” van die profesie moontlik na die tienduisende gemeentes van Jehovah se volk regoor die wêreld. Sulke gemeentes is selfs nou ’n beskerming, ’n plek waar Christene veiligheid vind onder hulle broers, onder die liefdevolle sorg van die ouer manne (Jesaja 32:1, 2; Hebreërs 10:24, 25). Dit is veral waar as ons dink aan hoe naby die einde van hierdie stelsel van dinge is, wanneer oorlewing van gehoorsaamheid sal afhang.—Sefanja 2:3.

18. Hoe sal Jehovah binnekort “die draak doodmaak”?

18 Jesaja voorspel aangaande daardie tyd: “In dié dag sal die HERE met sy harde en groot en sterk swaard besoeking doen oor die Leviatan, die vinnige slang, en oor die Leviatan, die kronkelende slang; en Hy sal die draak doodmaak wat in die groot water is” (Jesaja 27:1). Wat is die hedendaagse “Leviatan”? Dit is klaarblyklik “die oorspronklike slang”, Satan self, tesame met sy goddelose stelsel van dinge, wat hy gebruik om teen die Israel van God oorlog te voer (Openbaring 12:9, 10, 17; 13:14, 16, 17). In 1919 het die Leviatan sy houvas op God se volk verloor. Mettertyd sal hy glad nie meer bestaan nie (Openbaring 19:19-21; 20:1-3, 10). Jehovah sal dus “die draak doodmaak”. Intussen sal niks wat die Leviatan teen Jehovah se volk probeer doen, blywende sukses hê nie (Jesaja 54:17). Hoe bemoedigend is dit tog om hiervan verseker te word!

“’n Wingerd van skuimende wyn”

19. Wat is die toestand van die oorblyfsel vandag?

19 Het ons nie alle rede om verheug te wees as ons dink aan al hierdie lig van Jehovah af nie? Ja, beslis! Jesaja gee ’n pragtige beskrywing van die vreugde van Jehovah se volk waar hy skryf: “In dié dag sal daar wees ’n wingerd van skuimende wyn—sing daarvan! Ek, die HERE, bewaak dit: elke oomblik sal Ek hom bevogtig; Ek sal hom nag en dag bewaak, sodat niks hom kan tref nie” (Jesaja 27:2, 3). Jehovah het vir sy “wingerd”, die oorblyfsel van die Israel van God, en vir hulle hardwerkende metgeselle, gesorg (Johannes 15:1-8). Die gevolg was vrugte wat eer aan sy naam bring en tot groot blydskap onder sy knegte op aarde lei.

20. Hoe beskerm Jehovah die Christengemeente?

20 Ons kan verheug wees dat Jehovah se vroeër toorn op sy gesalfde knegte—die rede waarom hy toegelaat het dat hulle in 1918 in geestelike gevangenskap gaan—verdwyn het. Jehovah sê self: “Geen grimmigheid is by My nie. Kry Ek doring of distel, in oorlog sou Ek daarop aanval, dit alles saam verbrand. Of hulle moet my beskutting aangryp, vrede met My maak, vrede met My maak” (Jesaja 27:4, 5). Om te verseker dat sy wingerde voortgaan om ’n oorvloed “skuimende wyn” voort te bring, vernietig en verbrand Jehovah enige onkruidagtige invloed wat hulle kan besoedel. Laat niemand dus die welsyn van die Christengemeente bedreig nie! Laat almal ‘Jehovah se beskutting aangryp’ en sy guns en beskerming soek. Sodoende maak ons vrede met God—iets wat so belangrik is dat Jesaja dit twee keer noem.—Psalm 85:2, 3, 9; Romeine 5:1.

21. Hoe is die vrugbare land met “opbrengs” gevul?

21 Daar is nog seëninge: “In die komende dae sal Jakob wortelskiet, Israel sal bloeisels voortbring en uitspruit; en hulle sal die oppervlak van die vrugbare land heeltemal met opbrengs vul” (Jesaja 27:6, NW). Hierdie vers is vanaf 1919 vervul en is ’n wonderlike bewys van Jehovah se krag. Gesalfde Christene het die aarde met “opbrengs”, voedsame geestelike voedsel, gevul. In ’n verdorwe wêreld handhaaf hulle God se verhewe standaarde met blydskap. En Jehovah hou aan om hulle met vermeerdering te seën. Gevolglik verrig hulle miljoene metgeselle, die ander skape, “dag en nag heilige diens aan [God]” (Openbaring 7:15). Mag ons nooit die wonderlike voorreg uit die oog verloor om deel te hê in die “opbrengs” en dit met ander te deel nie!

22. Watter seëninge ontvang mense wat die lig aanneem?

22 Is ons nie dankbaar dat Jehovah in hierdie kritieke tye sy volk geestelike lig gee, terwyl duisternis die aarde en digte donkerheid die volksgroepe oordek nie? (Jesaja 60:2; Romeine 2:19; 13:12). Hierdie lig bring nou gemoedsrus en vreugde mee vir almal wat dit aanneem, en in die toekoms niks minder nie as die ewige lewe. Dit is dus met goeie rede dat ons wat die lig liefhet, Jehovah uit ons hart loof en saam met die psalmis sê: “Jehovah is die vesting van my lewe. Vir wie sou ek vrees? Hoop op Jehovah; wees moedig en laat jou hart sterk wees. Ja, hoop op Jehovah.”—Psalm 27:1b, 14NW.

Onthou jy?

• Watter toekoms wag daar op diegene wat Jehovah se volk onderdruk?

• Watter vermeerdering word in Jesaja voorspel?

• In watter “binnekamers” moet ons bly, en waarom?

• Waarom strek die toestand van Jehovah se volk hom tot lof?

[Studievrae]

[Venster op bladsy 22]

NUWE PUBLIKASIE

Baie van die inligting in hierdie twee studieartikels is as ’n toespraak by die streekbyeenkomsprogram vir 2000/2001 aangebied. Aan die einde van die toespraak is ’n nuwe publikasie vrygestel, met die titel Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom l. Hierdie boek met 416 bladsye bevat ’n vers-vir-vers-bespreking van die eerste 40 hoofstukke van die boek Jesaja.

[Prent op bladsy 18]

Slegs die regverdiges word in Jehovah se “sterk stad”, sy organisasie, toegelaat

[Prent op bladsy 19]

Jesaja het Jehovah “in die nag” aangeroep

[Prent op bladsy 21]

Jehovah beskerm sy “wingerd” en maak dit vrugbaar