Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat is die geestelike paradys?

Wat is die geestelike paradys?

Wat is die geestelike paradys?

GUSTAVO het in ’n klein stad in Brasilië grootgeword. a Sedert sy kinderdae is hy geleer dat goeie mense ná hulle dood hemel toe gaan. Hy het nie geweet dit is God se voorneme dat getroue mense eendag volmaakte lewe in ’n aardse paradys moet geniet nie (Openbaring 21:3, 4). En daar was nog iets wat hy nie geweet het nie. Hy het nie besef dat hy nou reeds in ’n geestelike paradys kon wees nie.

Het jy al ooit van daardie geestelike paradys gehoor? Weet jy wat dit is en wat vereis word om ’n deel daarvan te wees? Enigiemand wat waarlik gelukkig wil wees, moet kennis van daardie paradys hê.

Hoe om die geestelike paradys te vind

Dit klink dalk onrealisties om te sê dat ’n mens selfs vandag in ’n paradys kan lewe. Hierdie wêreld is beslis nie ’n paradys nie. Daar is te veel mense wat ondervind wat ’n eertydse Hebreeuse koning soos volg beskryf het: “Kyk, daar was trane van verdruktes, en vir hulle was daar geen trooster nie; en aan die kant van hulle verdrukkers was mag, maar daar was vir hulle geen trooster nie” (Prediker 4:1). Honderdmiljoene ly onder korrupte politieke, godsdiens- en ekonomiese stelsels, en hulle het geen verligting nie, geen “trooster” nie. Baie ander sukkel om hulle rekeninge te betaal, hulle kinders groot te maak en die tallose ander dinge te doen wat nodig is om aan die lewe te bly. Hulle sou ook waarskynlik ’n trooster verwelkom, iemand om die las net ’n bietjie te verlig. Vir hulle almal is die lewe alles behalwe paradysagtig.

Waar is die geestelike paradys dan? Wel, die Afrikaanse woord “paradys” is verwant aan Griekse, Persiese en Hebreeuse woorde wat almal die gedagte het van ’n park of tuin, ’n vreedsame, verkwikkende plek. Die Bybel belowe dat die aarde eendag ’n fisiese paradys gaan wees, ’n tuinagtige tuiste vir sondelose mense (Psalm 37:10, 11). Met dit in gedagte sien ons dat ’n geestelike paradys ’n milieu is wat ’n lus is vir die oë en kalmerend vir die senuwees, wat ’n mens in staat stel om vrede met jou medemens en met God te geniet. Vandag bestaan daar so ’n paradys, soos Gustavo gevind het, en al hoe meer mense word ’n deel daarvan.

Toe Gustavo 12 was, het hy besluit dat hy ’n Rooms-Katolieke priester wou word. Met sy ouers se goedkeuring het hy na ’n kweekskool gegaan. Daar het hy betrokke geraak by musiek, die teater en politiek, wat deur die kerk gesteun is om jongmense te lok. Hy het geweet dat ’n priester veronderstel is om sy lewe aan mense te wy en dat hy nie kon trou nie. En tog was party van die priesters en kweekskoolstudente wat Gustavo geken het, by onsedelike gebruike betrokke. In hierdie atmosfeer het Gustavo kort voor lank ’n strawwe drinker geword. Dit is duidelik dat hy toe nog nie ’n geestelike paradys gevind het nie.

Eendag het Gustavo ’n Bybeltraktaat gelees wat van ’n aardse paradys gepraat het. Dit het hom oor die doel van die lewe laat nadink. Hy sê: “Ek het die Bybel gereeld begin lees, maar ek het dit nie verstaan nie. Ek het nie eers gesien dat God ’n naam het nie.” Hy het die kweekskool verlaat en Jehovah se Getuies om hulp genader om die Bybel beter te verstaan. Daarna het hy vinnig gevorder en weldra sy lewe aan God toegewy. Gustavo het van die geestelike paradys geleer.

’n Volk vir God se naam

Gustavo het geleer dat God se naam, Jehovah, nie vir ’n Bybelstudent net iets interessants is om te weet nie (Exodus 6:3, NW). Dit is ’n noodsaaklike deel van ware aanbidding. Jesus het sy volgelinge leer bid: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word” (Matteus 6:9). Die dissipel Jakobus het van nie-Jode wat Christene geword het, gesê: ‘God het sy aandag op die nasies gerig om uit hulle ’n volk vir sy naam te neem’ (Handelinge 15:14). In die eerste eeu was die “volk vir sy naam” die Christengemeente. Is daar vandag ’n volk vir God se naam? Ja, en Gustavo het tot die besef gekom dat Jehovah se Getuies daardie volk is.

Jehovah se Getuies is bedrywig in 235 lande en gebiede. Hulle is meer as sesmiljoen bedienaars, en nog agtmiljoen belangstellendes het al hulle vergaderinge bygewoon. Hulle is algemeen bekend vir hulle openbare bediening en vervul sodoende Jesus se woorde: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word tot ’n getuienis vir al die nasies” (Matteus 24:14). Maar waarom het Gustavo gevoel dat hy ’n geestelike paradys gevind het toe hy met Jehovah se Getuies begin omgaan? Hy sê: “Ek het dit wat ek in die wêreld en veral in die kweekskool gesien het, vergelyk met wat ek onder Jehovah se Getuies gevind het. Die groot verskil is die liefde onder die Getuies.”

Ander het al soortgelyke kommentare oor Jehovah se Getuies gelewer. Miriam, ’n jong Brasiliaanse vrou, het gesê: “Ek het nie geweet hoe om gelukkig te wees nie, nie eers in my gesin nie. Die eerste keer dat ek liefde in aksie gesien het, was onder Jehovah se Getuies.” ’n Man met die naam Chris het gesê: “Ek het nou en dan spiritisme beoefen, maar godsdiens was nie vir my belangrik nie. Ek het meer waarde geheg aan my sosiale status en aan my werk as ’n ingenieur. Maar toe my vrou die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, het ek ’n verskil in haar gesien. Ek was ook beïndruk deur die vreugde en die ywer van die Christenvroue wat haar besoek het.” Waarom sê mense sulke dinge oor Jehovah se Getuies?

Wat is die geestelike paradys?

Iets wat uitstaan omtrent Jehovah se Getuies is hulle waardering vir Bybelkennis. Hulle glo dat die Bybel waar is en dat dit God se Woord is. Hulle is dus nie net tevrede met ’n basiese kennis van hulle godsdiens nie. Hulle het ’n voortgesette program van persoonlike studie en Bybellees. Hoe langer iemand met Jehovah se Getuies omgaan, hoe meer leer hy aangaande God en Sy wil soos dit in die Bybel geopenbaar word.

Hierdie kennis bevry Jehovah se Getuies van dinge wat mense hulle geluk ontneem, soos bygelowe en skadelike idees. Jesus het gesê: “Die waarheid sal julle vrymaak”, en Jehovah se Getuies vind dat dit wel die geval is (Johannes 8:32). Fernando, wat ’n tyd lank spiritisme beoefen het, sê: “Dit was werklik ’n baie groot verligting om van die ewige lewe te leer. Ek was bang dat ek of my ouers sou doodgaan.” Die waarheid het Fernando van sy vrees vir die geestewêreld en die sogenaamde hiernamaals bevry.

In die Bybel hang kennis van God ten nouste saam met die paradys. Die profeet Jesaja het gesê: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.”—Jesaja 11:9.

Net kennis alleen is natuurlik nie genoeg om die vrede te bring wat Jesaja voorspel het nie. ’n Persoon moet toepas wat hy leer. Fernando het hierdie kommentaar gemaak: “Wanneer iemand die vrugte van die gees aankweek, dra hy by tot die geestelike paradys.” Fernando het verwys na die woorde van die apostel Paulus, wat die goeie eienskappe wat ’n Christen moet aankweek, “die vrugte van die gees” genoem het. Hy het hulle opgenoem: “liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing”.—Galasiërs 5:22, 23.

Kan jy sien waarom dit beslis sal voel asof ’n mens in ’n paradys is as jy omgaan met ’n gemeenskap van individue wat sulke eienskappe probeer aankweek? Die geestelike paradys wat deur die profeet Sefanja voorspel is, is iets wat hierdie mense sou geniet. Hy het gesê: “[Hulle] sal geen onreg doen en geen leuentaal spreek nie, en in hulle mond sal geen bedrieglike tong gevind word nie; maar hulle sal wei en neerlê, en niemand sal hulle verskrik nie.”—Sefanja 3:13.

Die onontbeerlike rol van liefde

Jy het dalk opgelet dat die eerste vrug van die vrugte van die gees wat Paulus gemeld het, liefde is. Dit is ’n eienskap waaroor die Bybel baie sê. Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Jehovah se Getuies is weliswaar nie volmaak nie. Hulle het soms persoonlike probleme onder mekaar net soos Jesus se apostels gehad het. Maar hulle het mekaar waarlik lief, en hulle bid vir die steun van die heilige gees terwyl hulle hierdie eienskap aankweek.

Gevolglik is hulle broederskap uniek. Daar is geen stamtrots of verdelende nasionalisme onder hulle nie. Om die waarheid te sê, baie Getuies wat gedurende die laaste jare van die 20ste eeu te midde van etniese suiwering en rassemoord gelewe het, het mekaar beskerm al het hulle hulle eie lewe sodoende in gevaar gestel. Hoewel hulle “uit alle nasies en stamme en volke en tale” kom, geniet hulle ’n eenheid wat moeilik is om te verstaan totdat jy dit ondervind.—Openbaring 7:9.

’n Paradys vir diegene wat God se wil doen

In die geestelike paradys is daar geen plek vir hebsug, onsedelikheid en selfsug nie. Daar word vir Christene gesê: “Hou op om na hierdie stelsel van dinge gevorm te word, maar word verander deur julle verstand te hervorm, dat julle julle van die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God kan vergewis” (Romeine 12:2). Wanneer ons ’n rein, sedelike lewe lei en God se wil op ander maniere doen, help ons om die geestelike paradys te bevorder en dra ons tot ons eie geluk by. Carla het gevind dat dit waar is. Sy sê: “My pa het my geleer om hard te werk om finansieel onafhanklik te wees. Maar hoewel my universiteitsopleiding my ’n gevoel van sekuriteit gegee het, het ek die gesinseenheid en die sekuriteit gemis wat net ’n kennis van God se Woord ons kan gee.”

Wanneer ’n mens die geestelike paradys geniet, beteken dit natuurlik nie dat die fisiese probleme van die lewe verdwyn nie. Christene word nog steeds siek. Die land waarin hulle woon, raak dalk in ’n burgeroorlog gewikkel. Baie verduur armoede. Maar as ons ’n hegte verhouding met Jehovah God het—wat ’n uiters belangrike deel van die geestelike paradys is—beteken dit dat ons op hom kan vertrou vir ondersteuning. Trouens, hy nooi ons om ‘ons sorge op hom te werp’, en baie kan getuig van die wonderlike manier waarop hy hulle in die moeilikste situasies ondersteun het (Psalm 55:23; 86:16, 17). God belowe om sy aanbidders selfs in “’n dal van doodskaduwee” by te staan (Psalm 23:4). Vertroue in God se bereidwilligheid om ons te ondersteun, help ons om ons “vrede van God wat alle denke te bowe gaan”, te bewaar, wat ’n vername faktor van die geestelike paradys is.—Filippense 4:7.

Bevorder die geestelike paradys

Die meeste mense geniet dit om ’n park of ’n tuin te besoek. Hulle hou daarvan om daardeur te loop of dalk op ’n bankie te sit en die omgewing te geniet. So ook geniet baie dit om met Jehovah se Getuies om te gaan. Hulle vind die broederskap verkwikkend, vreedsaam en versterkend. Maar ’n pragtige tuin moet in stand gehou word as ’n mens wil hê dat dit soos ’n paradys moet bly lyk. Die geestelike paradys bestaan eweneens in hierdie nieparadysagtige wêreld slegs omdat Jehovah se Getuies dit in stand hou, en God seën hulle pogings. Hoe kan ’n mens dan ’n betekenisvolle bydrae tot hierdie paradys lewer?

Eerstens moet jy met ’n gemeente van Jehovah se Getuies omgaan, die Bybel saam met hulle studeer en die Bybelkennis opdoen wat die grondslag van die geestelike paradys is. Carla het gesê: “Daar is geen geestelike paradys sonder geestelike voedsel nie.” Dit sluit in dat ’n mens God se Woord gereeld lees en nadink oor wat jy gelees het. Die kennis wat jy opdoen, sal jou nader aan Jehovah God laat kom, en jy sal hom leer liefkry. Jy sal ook leer om in gebed met hom te praat en hom sy leiding en sy gees te vra om jou te onderskraag terwyl jy sy wil doen. Jesus het vir ons gesê om te volhard in gebed (Lukas 11:9-13). Die apostel Paulus het gesê: “Bid onophoudelik” (1 Tessalonisense 5:17). Die voorreg om met God in gebed te praat met die absolute vertroue dat hy jou hoor, is ’n belangrike faset van die geestelike paradys.

Met verloop van tyd sal jou lewe verbeter deur wat jy leer, en uiteindelik sal jy met ander daaroor wil praat. Dan sal jy Jesus se gebod kan gehoorsaam: “Laat julle lig . . . voor die mense skyn, sodat hulle julle voortreflike werke kan sien en heerlikheid kan gee aan julle Vader wat in die hemele is” (Matteus 5:16). Dit verskaf groot geluk om die kennis van Jehovah God en Jesus Christus aan ander mee te deel en om die groot liefde wat hulle teenoor die mensdom betoon het, te verkondig.

Die tyd is naby wanneer die hele aarde ’n fisiese paradys gaan wees—’n tuinagtige plek sonder besoedeling en ’n gepaste tuiste vir getroue mense. Die feit dat daar ’n geestelike paradys bestaan in hierdie “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”, is ’n bewys van die krag van God en ’n aanduiding van wat hy in die toekoms kan en gaan verrig.—2 Timoteus 3:1.

Diegene wat die geestelike paradys geniet, ondervind selfs nou ’n geestelike vervulling van Jesaja 49:10: “Hulle sal geen honger en geen dors hê nie, en die woestyngloed en die son sal hulle nie steek nie; want hulle Ontfermer sal hulle lei en hulle saggies aanbring na die fonteine van water.” José kan dit bevestig. Hy het daarvan gedroom om ’n beroemde musikant te word, maar hy put meer bevrediging daaruit om God saam met die Christengemeente te dien. Hy sê: “Nou geniet ek ’n sinvolle lewe. Ek voel veilig in die Christenbroederskap, en ek ken Jehovah as ’n liefdevolle Vader wat ons kan vertrou.” Die geluk van José—en van miljoene ander soos hy—word dus goed beskryf in Psalm 64:11: “Die regverdige sal bly wees in die HERE en by Hom skuil.” Wat ’n uitstekende beskrywing van die geestelike paradys!

[Voetnoot]

a Individue wat genoem word, is werklike persone, maar van die name is verander.

[Prent op bladsy 10]

Terwyl ons die geestelike paradys geniet, moet ons help om dit uit te brei!