Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bedink die gees en bly lewe!

Bedink die gees en bly lewe!

Bedink die gees en bly lewe!

“Om die gees te bedink, beteken lewe.”—ROMEINE 8:6.

1, 2. Watter onderskeid tref die Bybel tussen die “vlees” en die “gees”?

 DIT is beslis nie maklik om sedelik rein voor God te bly in ’n verdorwe samelewing wat die bevrediging van vleeslike begeertes voorstaan nie. Maar die Skrif stel die “vlees” en die “gees” teenoor mekaar en toon dat daar ’n duidelike skeidslyn is tussen die slegte gevolge wanneer ’n mens jou deur die sondige vlees laat oorheers en die geseënde resultate as jy jou aan die invloed van God se heilige gees onderwerp.

2 Jesus Christus het byvoorbeeld gesê: “Dit is die gees wat lewegewend is; die vlees is van hoegenaamd geen nut nie. Die woorde wat ek tot julle gespreek het, is gees en is lewe” (Johannes 6:63). Die apostel Paulus het aan Christene in Galasië geskryf: “Die vlees is, wat sy begeerte betref, teen die gees, en die gees teen die vlees; want hulle is in stryd met mekaar” (Galasiërs 5:17). Paulus het ook gesê: “Hy wat met die oog op sy vlees saai, sal verderwing uit sy vlees maai, maar hy wat met die oog op die gees saai, sal ewige lewe uit die gees maai.”—Galasiërs 6:8.

3. Wat is nodig om ons van verkeerde begeertes en neigings te bevry?

3 Jehovah se heilige gees—sy werkende krag—kan ons help om heeltemal ontslae te raak van onrein “vleeslike begeertes” en die verwoestende oorheersing deur ons sondige vlees (1 Petrus 2:11). Om ons te bevry van slawerny aan verkeerde neigings, is dit noodsaaklik dat ons die hulp van God se gees het, want Paulus het geskryf: “Om die vlees te bedink, beteken die dood, maar om die gees te bedink, beteken lewe en vrede” (Romeine 8:6). Wat beteken dit om die gees te bedink?

“Om die gees te bedink”

4. Wat beteken dit “om die gees te bedink”?

4 Toe Paulus geskryf het dat ons “die gees [moet] bedink”, het hy ’n Griekse woord gebruik wat dui op “denkwyse, verstandelike (neiging), . . . doelwit, begeerte, strewe”. ’n Verwante werkwoord beteken “om op ’n sekere manier te dink, ingestel te wees”. Om die gees te bedink, beteken dus om deur Jehovah se werkende krag beheer, oorheers en aangedryf te word. Dit dui daarop dat ons gewillig is om ons denke, neigings en begeertes geheel en al onder die invloed van God se heilige gees te bring.

5. In watter mate moet ons ons aan die invloed van die heilige gees onderwerp?

5 Paulus het die aandag gevestig op die mate waarin ons ons aan die invloed van die heilige gees moet onderwerp toe hy van ons as ‘slawe deur die gees’ gepraat het (Romeine 7:6). Christene is op grond van hulle geloof in Jesus se losprysofferande bevry van oorheersing deur sonde en het dus “gesterf” wat hulle vorige situasie as slawe van sonde betref (Romeine 6:2, 11). Diegene wat in hierdie figuurlike sin gesterf het, is fisies steeds lewend en is nou vry om Christus as ‘slawe van regverdigheid’ te volg.—Romeine 6:18-20.

’n Opvallende verandering

6. Watter verandering ondergaan diegene wat ‘slawe van regverdigheid’ word?

6 Die verandering van ‘slawe van sonde’ na dienaars van God as ‘slawe van regverdigheid’ is inderdaad opvallend. Paulus het aangaande sommige wat so ’n verandering ondergaan het, geskryf: ‘Julle is skoon gewas, julle is geheilig, julle is regverdig verklaar in die naam van ons Here Jesus Christus en met die gees van ons God.’—Romeine 6:17, 18; 1 Korintiërs 6:11.

7. Waarom is dit belangrik om Jehovah se beskouing van sake te hê?

7 As ons so ’n merkwaardige verandering wil ondergaan, moet ons eers leer wat Jehovah se beskouing van sake is. Die psalmis Dawid het eeue gelede ernstig tot God gebid en gesmeek: “HERE, maak my u weë bekend . . . Lei my in u waarheid en leer my” (Psalm 25:4, 5). Jehovah het na Dawid geluister, en Hy kan ook die gebede verhoor van sy hedendaagse knegte wat so bid. Aangesien God se weë en sy waarheid rein en heilig is, sal bepeinsing daaroor ons help wanneer ons in die versoeking kom om onrein vleeslike begeertes te bevredig.

Die noodsaaklike rol van God se Woord

8. Waarom is dit van die grootste belang dat ons die Bybel bestudeer?

8 God se Woord, die Bybel, is deur sy gees voortgebring. ’n Baie belangrike manier waarop ons dus daardie gees op ons kan laat inwerk, is deur die Bybel te lees en te bestudeer—daagliks, indien moontlik (1 Korintiërs 2:10, 11; Efesiërs 5:18). As ons ons verstand en hart met Bybelwaarhede en -beginsels vul, sal dit ons help om aanvalle op ons geestelikheid af te weer. Ja, wanneer ons te staan kom voor versoekings om onsedelik te wees, kan God se gees ons weer gedagtig maak aan skriftuurlike herinneringe en riglyne wat ons meer vasbeslote kan maak om in ooreenstemming met God se wil op te tree (Psalm 119:1, 2, 99, NW; Johannes 14:26). Ons sal derhalwe nie verlei word om ’n verkeerde weg in te slaan nie.—2 Korintiërs 11:3.

9. Hoe versterk Bybelstudie ons in ons voorneme om ons verhouding met Jehovah te bewaar?

9 Namate ons voortgaan met ons ernstige en ywerige studie van die Skrif met behulp van Bybelpublikasies, het God se gees ’n invloed op ons verstand en hart, en dit laat ons groter eerbied vir Jehovah se standaarde ontwikkel. Ons verhouding met God word van die allergrootste belang in ons lewe. Wanneer ons voor ’n versoeking te staan kom, dink ons nie hoe aangenaam dit dalk sal wees om die verkeerde daad te doen nie. Wat eerder onmiddellik vir ons van belang is, is om ons onkreukbaarheid teenoor Jehovah te handhaaf. Diepe waardering vir ons verhouding met hom beweeg ons om enige neiging te weerstaan wat daardie verhouding kan skaad of vernietig.

“Hoe lief het ek u wet”!

10. Waarom is gehoorsaamheid aan Jehovah se wet nodig as ons die gees wil bedink?

10 As ons die gees wil bedink, is kennis van God se Woord nie genoeg nie. Koning Salomo het ’n baie goeie begrip van Jehovah se standaarde gehad, maar gedurende sy latere lewe het hy nie daarvolgens gelewe nie (1 Konings 4:29, 30; 11:1-6). As ons geestelikgesind is, sal ons besef hoe belangrik dit is om nie net te weet wat die Bybel sê nie, maar ook God se wet met ons hele hart te gehoorsaam. Dit beteken dat ons Jehovah se standaarde noukeurig sal ondersoek en ywerig sal probeer om dit te volg. Die psalmis het hierdie gesindheid gehad. Hy het gesing: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag” (Psalm 119:97). Wanneer dit vir ons waarlik belangrik word om God se wet te volg, word ons beweeg om godvrugtige eienskappe te openbaar (Efesiërs 5:1, 2). Sonde sal nie ’n onweerstaanbare aantrekking hê nie, maar ons sal eerder die vrugte van die gees openbaar, en ons begeerte om Jehovah te behaag, sal ons ons rug laat keer op die veragtelike “werke van die vlees”.—Galasiërs 5:16, 19-23; Psalm 15:1, 2.

11. Hoe sal jy verduidelik dat Jehovah se wet wat hoerery verbied vir ons ’n beskerming is?

11 Hoe kan ons diepe eerbied en liefde vir Jehovah se wet opbou? Een manier is deur die waarde daarvan noukeurig te ondersoek. Dink byvoorbeeld aan God se wet wat geslagsomgang tot die huwelik beperk en hoerery en egbreuk verbied (Hebreërs 13:4). Word ons enigiets goeds ontneem as ons hierdie wet gehoorsaam? Sal ’n liefdevolle hemelse Vader ’n wet maak wat ons iets nuttigs ontsê? Natuurlik nie! Kyk wat gebeur in die lewe van baie wat nie volgens Jehovah se sedelike standaarde lewe nie. Ongewenste swangerskappe lei dikwels tot aborsies of moontlik oorhaastige en ongelukkige huwelike. Baie moet ’n kind sonder ’n man of ’n vrou grootmaak. Verder stel diegene wat hoerery beoefen, hulle bloot aan seksueel oordraagbare siektes (1 Korintiërs 6:18). En as ’n kneg van Jehovah hom aan hoerery skuldig maak, kan dit emosioneel verwoestende gevolge hê. Pogings om die stem van ’n skuldige gewete te ignoreer, kan slapelose nagte en geestesangs veroorsaak (Psalm 32:3, 4; 51:5). Is dit dan nie duidelik dat Jehovah se wet wat hoerery verbied, bedoel is om ons te beskerm nie? Ja, dit hou inderdaad groot voordeel in om sedelik rein te bly!

Bid vir Jehovah se hulp

12, 13. Waarom is dit gepas om te bid wanneer ons deur sondige begeertes oorval word?

12 Om die gees te bedink, vereis beslis hartgrondige gebede. Dit is gepas om die hulp van God se gees te vra, want Jesus het gesê: “As julle . . . weet hoe om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Vader in die hemel heilige gees gee aan dié wat hom vra!” (Lukas 11:13). Ons kan in gebed verklaar hoe afhanklik ons van die gees is om ons met ons swakhede te help (Romeine 8:26, 27). As ons besef dat sondige begeertes of gesindhede ’n invloed op ons het, of as ’n liefdevolle medegelowige dit onder ons aandag bring, sal dit verstandig wees om die probleem spesifiek in ons gebede te meld en God te vra om ons te help om hierdie neigings te bowe te kom.

13 Jehovah kan ons help om ons gedagtes gerig te hou op dinge wat regverdig, kuis, deugsaam en lofwaardig is. En hoe gepas is dit tog om hom ernstig te smeek sodat “die vrede van God” ons hart en verstandelike vermoëns sal bewaak! (Filippense 4:6-8). Laat ons derhalwe bid vir Jehovah se hulp om “regverdigheid, godvrugtige toegewydheid, geloof, liefde, volharding, saggeaardheid [na te streef]” (1 Timoteus 6:11-14). Met ons hemelse Vader se hulp sal bekommernisse en versoekings nie so groot raak dat ons dit nie kan beheer nie. Ons lewe sal eerder deur godgegewe kalmte gekenmerk word.

Moenie die gees bedroef nie

14. Waarom is God se gees ’n krag wat reinheid bevorder?

14 Ryp knegte van Jehovah pas Paulus se raad persoonlik toe: “Moenie die vuur van die gees blus nie” (1 Tessalonisense 5:19). Aangesien God se gees “die gees van heiligheid” is, is dit rein, suiwer, heilig (Romeine 1:4). Wanneer daardie gees op ons inwerk, is dit dus ’n krag wat heiligheid, of reinheid, bevorder. Dit help ons om ’n rein lewe te lei wat deur gehoorsaamheid aan God gekenmerk word (1 Petrus 1:2). Enige onrein gebruik word as ’n minagting van daardie gees beskou, en dit kan rampspoedige gevolge hê. Hoe so?

15, 16. (a) Hoe kan ons moontlik God se gees bedroef? (b) Hoe kan ons voorkom dat ons Jehovah se gees bedroef?

15 Wel, Paulus het geskryf: “Moenie God se heilige gees, waarmee julle verseël is vir ’n dag van bevryding deur ’n losprys, bedroef nie” (Efesiërs 4:30). Die Skrif identifiseer Jehovah se gees as ’n seël, of ’n ‘onderpand van wat sou kom’, vir getroue gesalfde Christene. En dit is onsterflike hemelse lewe (2 Korintiërs 1:22; 1 Korintiërs 15:50-57; Openbaring 2:10). God se gees kan gesalfdes en hulle metgeselle wat ’n aardse hoop het, rig om ’n lewe van getrouheid te lei en hulle help om sondige werke te vermy.

16 Die apostel het gewaarsku teen die neiging tot onwaarhede, diefstal, skandelike gedrag, ensovoorts. As ons onsself toelaat om na hierdie soort dinge te begin neig, sal ons in stryd met die geesgeïnspireerde raad van God se Woord optree (Efesiërs 4:17-29; 5:1-5). Sodoende sal ons God se gees in sekere mate bedroef, iets wat ons ongetwyfeld wil vermy. Trouens, as enigeen van ons die raad van Jehovah se Woord begin verontagsaam, kan ons gesindhede of eienskappe begin ontwikkel wat tot opsetlike sonde en die algehele verlies van God se guns kan lei (Hebreërs 6:4-6). Hoewel ons dalk nie op die oomblik sonde beoefen nie, kan ons in daardie rigting beweeg. Deur strydig met die leiding van die gees op te tree, sal ons dit bedroef. Ons sal ook Jehovah, die bron van die heilige gees, teëstaan en hom bedroef. As persone wat God liefhet, wil ons dit nooit doen nie. Ons moet eerder bid dat Jehovah ons help om nie sy gees te bedroef nie, maar dat ons sy heilige naam eer sal kan aandoen deur aan te hou om die gees te bedink.

Hou aan om die gees te bedink

17. Watter geestelike doelwitte kan ons probeer bereik, en waarom sal dit verstandig wees om dit te doen?

17 ’n Belangrike manier waarop ons kan aanhou om die gees te bedink, is deur geestelike doelwitte te stel en ons in te span om dit te bereik. Na gelang van ons behoeftes en omstandighede kan ons die doelwit stel om ons studiegewoontes te verbeter, ons deelname aan die predikingswerk te vergroot of ’n spesifieke diensvoorreg na te streef, soos die voltydse pionierbediening, Betheldiens of sendingwerk. Dit sal ons denke gerig hou op geestelike belange en sal ons help om nie te swig voor menslike swakhede of aangedryf te word deur die materialistiese strewes en onskriftuurlike begeertes wat eie aan hierdie stelsel van dinge is nie. Dit is beslis die verstandige weg om te volg, want Jesus het ons aangespoor: “Hou op om vir julle skatte op die aarde op te gaar, waar mot en roes verteer en waar diewe inbreek en steel. Gaar eerder vir julle skatte in die hemel op, waar nóg mot nóg roes verteer en waar diewe nie inbreek en steel nie. Want waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.”—Matteus 6:19-21.

18. Waarom is dit so belangrik dat ons in hierdie laaste dae aanhou om die gees te bedink?

18 Om die gees te bedink en wêreldse begeertes te onderdruk, is in hierdie “laaste dae” ongetwyfeld die wyse weg om te volg (2 Timoteus 3:1-5). Buitendien, “die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:15-17). As ’n jong Christen byvoorbeeld die voltydse diens as doelwit nastreef, kan dit as ’n rigsnoer dien gedurende die moeilike jare van adolessensie of as ’n jong volwassene. Wanneer druk op so iemand geplaas word om ontrou te wees, sal hy ’n duidelike beeld hê van wat hy in Jehovah se diens wil bereik. So ’n geestelike persoon sal dit as onverstandig, selfs dwaas, beskou om die suksesvolle strewe na geestelike doelwitte te verruil vir materiële strewes of enige skynbare genot van sonde. Onthou dat die geestelikgesinde man Moses “gekies [het] om liewer saam met die volk van God sleg behandel te word as om die tydelike genieting van sonde te hê” (Hebreërs 11:24, 25). Hetsy oud of jonk, ons maak ’n soortgelyke keuse wanneer ons aanhou om eerder die gees as die gevalle vlees te bedink.

19. Watter voordele sal ons geniet as ons aanhou om die gees te bedink?

19 “Om die vlees te bedink, beteken vyandskap met God”, maar “om die gees te bedink, beteken lewe en vrede” (Romeine 8:6, 7). As ons aanhou om die gees te bedink, sal ons kosbare vrede geniet. Ons hart en verstandelike vermoëns sal in groter mate beskerm wees teen die invloed van ons sondige toestand. Ons sal versoekings om te sondig beter kan weerstaan. En ons sal God se hulp hê om die voortdurende stryd tussen die vlees en gees die hoof te bied.

20. Waarom kan ons seker wees dat dit moontlik is om te oorwin in die stryd tussen die vlees en die gees?

20 Deur aan te hou om die gees te bedink, behou ons ’n noodsaaklike band met Jehovah, die bron van lewe sowel as heilige gees (Psalm 36:9, NW; 51:13). Satan die Duiwel en sy trawante doen alles in hulle vermoë om ons verhouding met Jehovah God te verbreek. Hulle probeer beheer oor ons verstand kry, want hulle weet as ons toegee, sal dit uiteindelik tot vyandskap met God en tot die dood lei. Maar ons kan oorwin in hierdie stryd tussen die vlees en die gees. Paulus het, want toe hy oor sy eie stryd geskryf het, het hy eers gevra: “Wie sal my red van die liggaam wat hierdie dood ondergaan?” Toe het hy getoon dat verlossing wel moontlik is deur uit te roep: “Aan God die dank deur middel van Jesus Christus, ons Here!” (Romeine 7:21-25). Ons kan God ook dank deur Christus dat hy die middel voorsien het waardeur ons menslike swakhede die hoof kan bied en kan aanhou om die gees te bedink met die wonderlike hoop op ewige lewe.—Romeine 6:23.

Onthou jy?

• Wat beteken dit om die gees te bedink?

• Hoe kan ons Jehovah se gees op ons laat inwerk?

• Verduidelik waarom dit in ons stryd teen sonde noodsaaklik is om die Bybel te bestudeer, Jehovah se wet te gehoorsaam en tot hom te bid.

• Hoe kan dit ons help om op die weg na die lewe te bly as ons geestelike doelwitte stel?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 16]

Bybelstudie help ons om aanvalle op ons geestelikheid af te weer

[Prent op bladsy 17]

Dit is gepas om Jehovah se hulp te vra om sondige begeertes te bowe te kom

[Prente op bladsy 18]

Geestelike doelwitte kan ons help om aan te hou om die gees te bedink