Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Die Here is werklik opgewek!”

“Die Here is werklik opgewek!”

“Die Here is werklik opgewek!”

Stel jou voor hoe ontsteld Jesus se dissipels was toe hulle Here doodgemaak is. Dit was asof hulle hoop so dood was soos die lewelose liggaam wat Josef van Arimatea in die graf gelê het, en die verwagtinge dat Jesus die Jode van die Romeinse juk sou bevry, het nou ook nie meer bestaan nie.

AS DIT die einde van die saak was, sou Jesus se dissipels waarskynlik van die toneel verdwyn het soos die volgelinge van die talle sogenaamde Messiasse. Maar Jesus het gelewe! Volgens die Skrif het hy by verskeie geleenthede kort ná sy dood aan sy volgelinge verskyn. Derhalwe is party van hulle beweeg om uit te roep: “Die Here is werklik opgewek!”—Lukas 24:34.

Die dissipels moes hulle geloof in Jesus as die Messias verdedig. Om dit te doen, het hulle veral na sy opstanding uit die dood verwys as onweerlegbare bewys van sy Messiasskap. Die apostels het voorwaar “met groot krag voortgegaan om die getuienis aangaande die opstanding van die Here Jesus te gee”.—Handelinge 4:33.

As enigiemand ooit bewys het dat hierdie opstanding ’n bedrogspul was—moontlik deur een van die dissipels dit te laat erken of deur te bewys dat Jesus se liggaam in die graf gebly het—sou die Christelike geloof heel aan die begin al tot niet gegaan het. Maar dit het nie. Omdat hulle geweet het dat Christus lewe, het Jesus se volgelinge oral sy opstanding verkondig, en menigtes het in die verrese Christus begin glo.

Waarom kan jy ook aan die opstanding van Jesus glo? Watter bewyse is daar dat dit werklik gebeur het?

Waarom die bewyse ondersoek?

Al vier Evangelieverslae vertel van Jesus se opstanding (Matteus 28:1-10; Markus 16:1-8; Lukas 24:1-12; Johannes 20:1-29). a Ander dele van die Christelike Griekse Geskrifte praat met sekerheid oor die opwekking van die Christus uit die dood.

Dit is geen wonder dat Jesus se opstanding deur sy volgelinge verkondig is nie! As hy werklik deur God opgewek is, is dit die wonderlikste nuus wat die wêreld nog gehoor het. Dit beteken dat God bestaan. Wat meer is, dit beteken dat Jesus nóú lewe.

Hoe raak dit ons? Wel, Jesus het gebid: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Ja, ons kan lewegewende kennis van Jesus en van sy Vader opdoen. Selfs al sou ons sterf, kan ons opgewek word as ons hierdie kennis toepas, aangesien Jesus opgewek is (Johannes 5:28, 29). Ons kan die hoop hê op ewige lewe op ’n paradysaarde onder God se hemelse Koninkryk in die hande van sy verheerlikte Seun, Jesus Christus, die Koning van die konings.—Jesaja 9:5, 6; Lukas 23:43; Openbaring 17:14.

Die vraag of Jesus werklik uit die dood opgestaan het, is dus uiters belangrik. Dit raak ons lewe nou en ons vooruitsigte vir die toekoms. Dit is waarom ons jou nooi om vier bewyse te ondersoek dat Jesus gesterf het en opgewek is.

Jesus het werklik aan die paal gesterf

Party skeptici beweer dat Jesus nooit werklik aan die paal gesterf het nie, hoewel hy aan die paal gehang is. Hulle sê dat hy net na aan die dood was en dat hy weens die koelheid van die graf bygekom het. Maar elke beskikbare bron bewys dat dit die lewelose liggaam van Jesus was wat in die graf gelê is.

Aangesien Jesus in die openbaar tereggestel is, was daar getuies van die feit dat hy werklik aan die paal gesterf het. Sy dood is gesertifiseer deur die hoofman oor honderd wat oor die teregstelling toesig gehou het. Daardie leëroffisier was ’n professionele persoon wie se werk ingesluit het dat hy moes bepaal of die persoon wel dood is. Daarbenewens het die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus eers bevestig dat Jesus dood is voordat hy Jesus se liggaam aan Josef van Arimatea gegee het sodat hy hom kon begrawe.—Markus 15:39-46.

Die graf is leeg gevind

Die leë graf het die dissipels die eerste bewys van Jesus se opstanding gegee, en hierdie bewys bly onbetwis. Jesus is in ’n nuwe graf begrawe, ’n graf wat nooit voorheen gebruik is nie. Dit was naby die plek waar hy aan die paal gehang is en kon destyds ongetwyfeld baie maklik gevind word (Johannes 19:41, 42). Al die Evangelieverslae is dit eens dat Jesus se liggaam weg was toe sy vriende die tweede oggend ná sy dood by die graf aangekom het.—Matteus 28:1-7; Markus 16:1-7; Lukas 24:1-3; Johannes 20:1-10.

Die leë graf was net so verbasend vir Jesus se vyande as wat dit vir sy vriende was. Sy vyande het lank daaraan gewerk om hom dood en begrawe te sien. Nadat hulle hulle doelwit bereik het, het hulle moeite gedoen om ’n wag voor die graf te stel en dit te verseël. Maar die oggend van die eerste dag van die week was dit leeg.

Het Jesus se vriende sy liggaam uit die graf verwyder? Dit is onwaarskynlik, aangesien die Evangelies toon dat hulle ná sy teregstelling baie ontsteld was. Daarbenewens sou sy dissipels sekerlik nie vervolging en die dood verduur het vir iets wat hulle geweet het bedrog is nie.

Wie het die liggaam uit die graf verwyder? Jesus se vyande sou allermins die liggaam weggeneem het. Selfs al het hulle, sou hulle dit beslis later te voorskyn gebring het om die dissipels se bewerings dat Jesus opgewek is en lewe, verkeerd te bewys. Maar so iets het nooit gebeur nie, want dit was God wat opgetree het.

Weke later kon Jesus se vyande nie met oortuigende argumente Petrus se woorde weerlê toe hy getuig het: “Manne van Israel, hoor hierdie woorde: Jesus die Nasarener, ’n man wat in die openbaar deur God aan julle getoon is deur middel van kragtige werke en voortekens en tekens wat God deur hom in julle midde gedoen het, net soos julle self weet, hierdie man, wat volgens die vasgestelde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hand van wettelose mense aan ’n paal vasgemaak en om die lewe gebring. Maar God het hom opgewek deur die smarte van die dood te ontbind, want dit was nie moontlik dat hy blywend daardeur vasgehou kon word nie. Want Dawid sê aangaande hom: ‘Ek het Jehovah voortdurend voor my oë gehad . . . Bowendien sal selfs my vlees in hoop woon; want u sal my siel nie in Hades laat nie, nog sal u toelaat dat hy wat teenoor u lojaal is verderwing sien.’”—Handelinge 2:22-27.

Baie het die verrese Jesus gesien

In die boek Handelinge het die Evangelieskrywer Lukas gesê: “Ook aan [die apostels] het [Jesus] hom deur talle afdoende bewyse lewend vertoon nadat hy gely het, aangesien hy gedurende veertig dae deur hulle gesien is en van die dinge aangaande die koninkryk van God vertel het” (Handelinge 1:2, 3). ’n Aantal dissipels het die verrese Jesus by verskillende geleenthede gesien—in ’n tuin, op ’n pad, gedurende ’n maaltyd, by die See van Tiberias.—Matteus 28:8-10; Lukas 24:13-43; Johannes 21:1-23.

Kritici bevraagteken die geloofwaardigheid van hierdie verskynings. Hulle sê dat die skrywers die verslae versin het of hulle haal skynbare teenstrydighede daarin aan. Eintlik bewys klein variasies in die Evangelieverslae dat daar geen onderduimse samewerking was nie. Ons kennis van Jesus word verruim wanneer een skrywer besonderhede verskaf wat ander verslae van sekere gebeure in die aardse lewe van Christus aanvul.

Was Jesus se verskynings ná sy opstanding hallusinasies? Hierdie soort redenasie is ongegrond, aangesien hy deur soveel mense gesien is. Onder hulle was vissermanne, vroue, ’n staatsamptenaar en self die twyfelende apostel Tomas, wat slegs oortuig is toe hy die onweerlegbare bewys gesien het dat Jesus uit die dood opgewek is (Johannes 20:24-29). By verskeie geleenthede het dissipels van Jesus aanvanklik nie hulle verrese Here herken nie. Eenkeer het meer as 500 mense hom gesien, waarvan die meeste nog gelewe het toe die apostel Paulus daardie gebeurtenis as bewys gebruik het om die opstanding te verdedig.—1 Korintiërs 15:6.

Die lewende Jesus het ’n invloed op mense

Die opstanding van Jesus is nie bloot iets waaroor ons nuuskierig moet wees of wat ’n interessante onderwerp vir ’n debat is nie. Die feit dat hy lewe, het ’n positiewe invloed op mense in alle wêrelddele. Sedert die eerste eeu het talle individue se gesindheid verander van onverskilligheid of algehele teenstand teen die Christelike godsdiens na absolute sekerheid dat dit die ware godsdiens is. Wat het hulle laat verander? ’n Studie van die Skrif het aan hulle bewys dat God Jesus opgewek het tot lewe as ’n glorieryke geesskepsel in die hemel (Filippense 2:8-11). Hulle het geloof beoefen in Jesus en in Jehovah God se voorsiening vir redding deur Christus se losprysofferande (Romeine 5:8). Hierdie individue het ware geluk gevind deur God se wil te doen en in ooreenstemming met Jesus se leringe te lewe.

Dink aan wat dit beteken het om in die eerste eeu ’n Christen te wees. Hulle het nie aansien, mag of rykdom verkry nie. Inteendeel, talle vroeë Christene ‘het die plundering van hulle besittings met vreugde aanvaar’ ter wille van hulle geloof (Hebreërs 10:34). Die Christelike geloof het ’n lewe van opoffering en vervolging vereis wat in baie gevalle op ’n marteldood uitgeloop het.

Party het goeie vooruitsigte gehad wat aansien en rykdom betref voordat hulle Christus se volgelinge geword het. Saulus van Tarsus het onder die beroemde onderrigter van die Wet, Gamaliël, gestudeer en het hom in die oë van die Jode begin onderskei (Handelinge 9:1, 2; 22:3; Galasiërs 1:14). En tog het Saulus die apostel Paulus geword. Hy en baie ander het die aansien en mag wat hierdie wêreld bied, die rug toegekeer. Waarom? Om ’n boodskap van ware hoop te verkondig wat gegrond is op God se beloftes en op die feit dat Jesus Christus uit die dood opgewek is (Kolossense 1:28). Hulle was gewillig om te ly vir ’n saak wat hulle geweet het op die waarheid gegrond is.

Dieselfde is vandag waar van miljoene mense. Jy kan hulle in die gemeentes van Jehovah se Getuies regoor die wêreld vind. Die Getuies nooi jou hartlik uit na die jaarlikse viering van Christus se dood, wat ná sononder op Sondag, 8 April 2001, sal plaasvind. Hulle sal bly wees om jou by daardie geleentheid te sien, asook by al hulle vergaderinge vir Bybelstudie wat in hulle Koninkryksale gehou word.

Leer gerus meer, nie net oor die dood en opstanding van Jesus nie, maar ook oor sy lewe en leringe. Hy nooi ons om na hom te kom (Matteus 11:28-30). Neem nou stappe om juiste kennis van Jehovah God en Jesus Christus op te doen. Dit kan ewige lewe onder God se Koninkryk in die hande van sy dierbare Seun beteken.

[Voetnoot]

a Sien “Die Evangelies—Geskiedenis of mite?” in Die Wagtoring van 15 Mei 2000 vir bewyse aangaande die betroubaarheid van die Evangelieverslae.

[Prente op bladsy 7]

Miljoene vind ware geluk as volgelinge van Jesus Christus

[Foto-erkenning op bladsy 6]

From the Self-Pronouncing Edition of the Holy Bible, containing the King James and the Revised versions