‘Gelukkig is die mens wat wysheid gevind het’
‘Gelukkig is die mens wat wysheid gevind het’
HY WAS ’n digter, ’n argitek, ’n koning. Met ’n jaarlikse inkomste van meer as 1,5 miljard rand was hy ryker as enige ander koning op aarde. Die man was ook beroemd vir sy wysheid. ’n Koningin wat hom besoek het, was so beïndruk dat sy uitgeroep het: “Kyk, die helfte is my nie meegedeel nie. U oortref in wysheid en in welvaart die gerug wat ek gehoor het” (1 Konings 10:4-9). Dit was die stand van koning Salomo van eertydse Israel.
Salomo het rykdom sowel as wysheid gehad. En dit is veral wat hom so bevoeg gemaak het om te besluit watter een van die twee waarlik onontbeerlik is. Hy het geskryf: “Gelukkig die mens wat wysheid gevind het, en die mens wat verstand verkry; want die verkryging daarvan is beter as dié van silwer, en die verwerwing daarvan beter as van goud; dit is kosteliker as korale, en al jou kleinode kan daar nie mee vergelyk word nie.”—Spreuke 3:13-15.
Maar waar kan wysheid gevind word? Waarom is dit kosbaarder as rykdom? Wat is die aantreklike kenmerke daarvan? Die 8ste hoofstuk van die Bybelboek Spreuke, wat deur Salomo geskryf is, beantwoord hierdie vrae op ’n boeiende wyse. Daar word wysheid verpersoonlik, asof dit kan praat en dinge kan doen. En wysheid openbaar self sy aantrekkingskrag sowel as sy waarde.
‘Dit bly hard uitroep’
Hoofstuk 8 van Spreuke begin met ’n retoriese vraag: “Hou die wysheid nie aan om uit te roep en laat die onderskeidingsvermoë nie voortdurend sy stem hoor nie?” a Ja, wysheid en onderskeidingsvermoë hou aan om uit te roep, maar glad nie soos die onsedelike vrou wat in donker plekke op die loer lê en verleidelike woorde in die ore fluister van ’n onervare jong man wat alleen is nie (Spreuke 7:12). “Op die top van die hoogtes, langs die pad, by die kruising van die paaie het dit gaan staan. Aan die kant van die poorte, by die toegang tot die stad, waar mense die ingange binnegaan, bly dit hard uitroep” (Spreuke 8:1-3, NW). Die sterk en moedige stem van wysheid word baie duidelik gehoor in openbare plekke—by die poorte, by die kruispaaie, by die ingange van ’n stad. Mense kan maklik daardie stem hoor en daarop reageer.
Wie kan die feit ontken dat Goddelike wysheid wat in die geïnspireerde Woord van God, die Bybel, gevind word, beskikbaar is aan byna almal op aarde wat dit wil verkry? “Die Bybel is die boek wat die meeste gelees is in die geskiedenis”, sê The World Book Encyclopedia. Dit voeg by: “Meer eksemplare van die Bybel is versprei as van enige ander boek. Die Bybel is ook meer male vertaal, en in meer tale as enige ander boek.” Met die hele Bybel of dele daarvan wat in meer as 2 100 tale en dialekte beskikbaar is, het meer as 90 persent van die
mensdom toegang tot ten minste ’n deel van God se Woord in hulle eie taal.Jehovah se Getuies verkondig oral die boodskap van die Bybel in die openbaar. In 235 lande is hulle ywerig besig om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig en mense die waarhede te leer wat in God se Woord gevind word. Hulle Bybeltydskrifte Die Wagtoring, wat in 140 tale uitgegee word, en die Ontwaak!, wat in 83 tale gedruk word, het ’n verspreiding van meer as 20 miljoen elk. Wysheid hou inderdaad aan om hard uit te roep in openbare plekke!
“My stem is tot die mensekinders”
Verpersoonlikte wysheid begin praat, en sê: “Na julle, o mense, roep ek, en my stem is tot die mensekinders. O onervarenes, verstaan skerpsinnigheid; en julle sotte, verstaan ’n verstandige hart.”—Spreuke 8:4, 5, NW.
Die uitroep van wysheid is universeel. Dit nooi alle mense uit. Selfs onervarenes word genooi om skerpsinnigheid, of helder oordeel, en sotte om verstand te verkry. Jehovah se Getuies glo dat die Bybel ’n boek vir alle mense is en probeer op onpartydige wyse om almal wat hulle ontmoet, aan te moedig om die woorde van wysheid te vind wat daarin opgeteken staan.
“My verhemelte uiter waarheid”
Wysheid gaan verder met sy versoek: “Luister, want ek praat oor die vernaamste dinge, en my lippe gaan oop oor regskapenheid. Want my verhemelte uiter waarheid op gedempte toon; en goddeloosheid is iets verfoeiliks vir my lippe. Al die woorde van my mond is in regverdigheid gespreek. Daarin is niks wat verdraaid of verdorwe is nie.” Ja, wysheid se leringe is voortreflik en regskape, waar en regverdig. Daar is niks slinks of verdorwe daaromtrent nie. “Hulle is almal reguit vir iemand met onderskeidingsvermoë, en reg vir dié wat kennis vind.”—Spreuke 8:6-9, NW.
Wysheid spoor mense gepas aan: “Neem my dissipline aan en nie silwer nie, en kennis eerder as uitgesoekte goud.” Dit is ’n verstandige versoek, “want wysheid is beter as korale, en alle ander verlustiginge kan nie daarmee gelykgestel word nie” (Spreuke 8:10, 11, NW). Maar waarom nie? Wat maak wysheid kosbaarder as rykdom?
“My vrug is beter as goud”
Die gawes wat wysheid sy luisteraar gee, is kosbaarder as goud, silwer of korale. Wysheid sê wat hierdie gawes is: “Ek, wysheid, ek het by skerpsinnigheid gewoon en ek vind die kennis van denkvermoëns. Die vrees van Jehovah beteken om te haat wat sleg is. Selfverheffing en trots en die slegte weg en die verdorwe mond het ek gehaat.”—Spreuke 8:12, 13, NW.
Wysheid gee aan die besitter daarvan skerpsinnigheid en denkvermoëns. Die mens wat Goddelike wysheid besit, het ook eerbied en ontsag vir God, want “die vrees van Jehovah is die begin van wysheid” (Spreuke 9:10, NW). Gevolglik haat hy dit wat Jehovah haat. Hoogmoed, verwaandheid, onsedelike gedrag en verdorwe spraak is ver verwyderd van hom. Sy haat vir wat sleg is, beskerm hom teen die verderflike invloed van mag. Hoe belangrik is dit tog vir diegene in verantwoordelike posisies in die Christengemeente, sowel as vir gesinshoofde, om wysheid te probeer verkry!
“Ek het raad en praktiese wysheid”, sê wysheid voorts. “Ek—begrip; ek het mag. Deur my bly konings regeer en hou hoë amptenare aan om regverdigheid te verorden. Deur my bly vorste as vorste heers en spreek edeles almal reg in regverdigheid” (Spreuke 8:14-16, NW). Die vrug van wysheid sluit insig, verstandigheid en mag in—hoedanighede wat heersers, hoë amptenare en edeles beslis nodig het. Wysheid is onontbeerlik vir diegene in gesagsposisies en vir diegene wat ander raad gee.
Ware wysheid is geredelik beskikbaar vir almal, maar nie almal vind dit nie. Party verwerp dit of vermy dit, selfs al is dit binne hulle bereik. “Dié wat my liefhet, het ek lief”, sê wysheid, “en dié wat my soek, vind my” (Spreuke 8:17, NW). Wysheid kan slegs verkry word deur mense wat in alle erns daarna soek.
Die weë van wysheid is reg en regverdig. Dit beloon dié wat daarna soek. Wysheid sê: “Rykdom en heerlikheid is by my, oorgeërfde waardes en regverdigheid. My vrug is beter as goud, ja, as gelouterde goud, en my opbrengs as uitgesoekte silwer. Ek wandel op die pad van regverdigheid, in die middel van die weë van die reg, om dié wat my liefhet besittings te laat verkry; en hulle skatkamers hou ek vol.”—Spreuke 8:18-21, NW.
Tesame met uitstekende eienskappe en karaktertrekke soos helder oordeel, denkvermoë, nederigheid, insig, praktiese wysheid en verstandigheid, sluit wysheid se gawes ook rykdom en eer in. ’n Wyse persoon verkry heel moontlik rykdom op regverdige maniere, en hy sal geestelik voorspoedig wees (3 Johannes 2). Wysheid bring ’n mens ook eer. Daarbenewens put hy bevrediging uit wat hy verwerf, en hy het gemoedsrus en ’n skoon gewete voor God. Ja, gelukkig is die mens wat wysheid gevind het. Die vrug van wysheid is inderdaad beter as gelouterde goud en uitgesoekte silwer.
Hoe gepas is hierdie raad tog vir ons, aangesien ons in ’n materialistiese wêreld lewe waar die klem geplaas word op die verkryging van rykdom ongeag op watter manier en tot watter prys! Mag ons nooit uit die oog verloor hoe kosbaar wysheid is of van onregverdige metodes gebruik maak om rykdom te verkry nie. Laat ons nooit die voorsienings verwaarloos wat ons wysheid gee—ons Christelike vergaderinge en ons persoonlike studie van die Bybel en die publikasies wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word—sodat ons bloot rykdom kan verkry nie.—Matteus 24:45-47.
“Van onbepaalde tyd af is ek bevestig”
Die verpersoonliking van wysheid wat in die 8ste hoofstuk van Spreuke gevind word, is nie bloot ’n middel om die karaktertrekke van ’n abstrakte eienskap te beskryf nie. Dit verwys ook simbolies na Jehovah se belangrikste skepping. Wysheid sê verder: “Jehovah het my voortgebring as die begin van sy weg, die vroegste van sy werke van lank gelede. Van onbepaalde tyd af is ek bevestig, van die begin af, van tye vroeër as die aarde af. Toe daar geen waterdieptes was nie, is ek asof met geboortepyne voortgebring, toe daar geen fonteine, swaar belaai met water, was nie. Voordat die berge gevestig is, vóór die heuwels, is ek asof met geboortepyne voortgebring, toe hy nog nie die aarde en die oop ruimtes en die eerste deel van die stofmassas van die vrugbare land gemaak het nie.”—Spreuke 8:22-26, NW.
Hoe goed pas hierdie beskrywing van verpersoonlikte wysheid tog by wat aangaande “die Woord” in die Skrif gesê word! “In die begin was die Woord”, het die apostel Johannes geskryf, “en die Woord was by God, en die Woord was ’n god” (Johannes 1:1). Verpersoonlikte wysheid stel figuurlik God se Seun, Jesus Christus, in sy voormenslike bestaan voor. b
Jesus Christus is “die eersgeborene van die hele skepping; want deur middel van hom is alle ander dinge in die hemele en op die aarde geskep, die sigbare dinge en die onsigbare dinge” (Kolossense 1:15, 16). “Toe hy [Jehovah] die hemele berei het, was ek daar”, sê verpersoonlikte wysheid verder, “toe hy ’n kring oor die oppervlak van die waterdiepte verorden het, toe hy die wolkmassas daar bo verstewig het, toe hy die fonteine van die waterdiepte sterk laat word het, toe hy vir die see sy verordening gestel het, dat die waters nie sy bevel sou oorskry nie, toe hy die fondamente van die aarde verorden het, toe het ek ’n meesterwerker naas hom geword, en ek het die een geword vir wie hy dag na dag besonder lief was, terwyl ek die hele tyd voor hom verheug was, verheug oor die vrugbare land van sy aarde, en die dinge waarvoor ek lief was, was by die mensekinders” (Spreuke 8:27-31, NW). Jehovah se eersgebore Seun was daar langs sy Vader, besig om saam met hom—die weergalose Skepper van die hemel en die aarde—te werk. Toe Jehovah God die eerste mens geskep het, was Sy Seun saam met hom in die projek as Meesterwerker (Genesis 1:26). Dit is geen wonder dat God se Seun soveel in die mensdom belangstel, selfs lief vir hulle is nie!
“Gelukkig is die mens wat na my luister”
As verpersoonlikte wysheid sê die Seun van God: “Nou, o seuns, luister na my; ja, gelukkig is dié wat my weë hou. Luister na dissipline en word wys, en moet dit nie verontagsaam nie. Gelukkig is die mens wat na my luister deur dag na dag by my deure wakker te bly, deur by die syposte van my ingange te waak. Want wie my vind, sal beslis die lewe vind en verkry welwillendheid van Jehovah. Maar wie my mis, doen sy siel geweld aan; almal wat my intens haat, het die dood lief.”—Spreuke 8:32-36, NW.
Jesus Christus is die absolute beliggaming van God se wysheid. “In hom is al die skatte van wysheid en van kennis sorgvuldig verborge” (Kolossense 2:3). Laat ons dan aandagtig na hom luister en sy voetstappe noukeurig volg (1 Petrus 2:21). As ons hom verwerp, doen ons ons siel geweld aan en het ons die dood lief, want “daar [is] geen redding in enigiemand anders nie” (Handelinge 4:12). Ja, laat ons Jesus aanneem as die een wat deur God voorsien is vir ons redding (Matteus 20:28; Johannes 3:16). Sodoende sal ons die geluk smaak wat die gevolg is wanneer ons ‘die lewe vind en Jehovah se welwillendheid verkry’.
[Voetnote]
a Die Hebreeuse woord vir “wysheid” kom in die vroulike genus voor. Daarom gebruik party vertalings vroulike voornaamwoorde wanneer hulle na wysheid verwys.
b Die feit dat die Hebreeuse woord vir “wysheid” altyd in die vroulike genus is, bots nie met die gebruik van wysheid om God se Seun voor te stel nie. Die Griekse woord vir “liefde” in die uitdrukking “God is liefde” is ook in die vroulike genus (1 Johannes 4:8). En tog word dit gebruik om na God te verwys.
[Prente op bladsy 26]
Wysheid is onontbeerlik vir diegene in verantwoordelike posisies
[Prente op bladsy 27]
Moenie die voorsienings verwaarloos wat ons wysheid gee nie