Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om menslike swakheid te oorwin

Hoe om menslike swakheid te oorwin

Hoe om menslike swakheid te oorwin

“Om die vlees te bedink, beteken die dood.”—ROMEINE 8:6.

1. Hoe beskou sommige die menseliggaam, en watter vraag verdien ons aandag?

 “EK SAL u prys, omdat ek op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak is” (Psalm 139:14, NW). Dít is wat die psalmis Dawid gesing het terwyl hy nagedink het oor een van Jehovah se skeppingswerke—die menseliggaam. In teenstelling met sulke gegronde lof is daar godsdiensleraars wat die liggaam as die skuilplek en instrument van sonde beskou. Die liggaam is al beskryf as “die omhulsel van onkunde, die grondslag van verdorwenheid, die kettings van korrupsie, die donker hok, die lewende dood, die bewuste lyk, die wandelende graf”. Die apostel Paulus het wel gesê: ‘In my vlees woon niks goeds nie’ (Romeine 7:18). Maar beteken dit dat ons hopeloos vasgekeer is in ’n sondige liggaam?

2. (a) Wat beteken dit “om die vlees te bedink”? (b) Watter stryd bestaan daar tussen die “vlees” en die “gees” in mense wat graag God wil behaag?

2 Die Skrif verwys soms na die menseliggaam as “vlees” (1 Konings 21:27, NW). Dit gebruik ook die woord “vlees” om na die mens in sy onvolmaakte toestand as ’n sondige nakomeling van die opstandige man Adam te verwys (Efesiërs 2:3; Psalm 51:7; Romeine 5:12). Wat ons van hom oorgeërf het, het ‘swakheid van die vlees’ meegebring (Romeine 6:19). En Paulus het gewaarsku: “Om die vlees te bedink, beteken die dood” (Romeine 8:6). “Om die vlees te bedink”, beteken om deur die begeertes van die gevalle vlees beheer en aangedryf te word (1 Johannes 2:16). As ons God dus probeer behaag, is daar voortdurend ’n stryd tussen ons geestelikheid en ons sondige natuur wat knaend druk op ons uitoefen om “die werke van die vlees” te doen (Galasiërs 5:17-23; 1 Petrus 2:11). Nadat Paulus hierdie pynlike konflik in sy binneste beskryf het, het hy uitgeroep: “Ellendige mens wat ek is! Wie sal my red van die liggaam wat hierdie dood ondergaan?” (Romeine 7:24). Was Paulus ’n weerlose slagoffer van versoeking? Die Bybel antwoord met ’n besliste nee!

Versoeking en sonde—’n werklikheid

3. Hoe beskou baie mense sonde en versoeking, maar hoe waarsku die Bybel ons teen so ’n gesindheid?

3 Vandag is sonde vir baie ’n onaanvaarbare konsep. Party gebruik “sonde” lighartig as ’n outydse woord om menslike foute te beskryf. Hulle besef nie dat “ons . . . almal voor die regterstoel van die Christus openbaar gemaak [moet] word, sodat elkeen kan kry wat hom toekom vir die dinge wat hy deur die liggaam gedoen het, ooreenkomstig die dinge wat hy beoefen het, hetsy dit goed of veragtelik is” nie (2 Korintiërs 5:10). Ander sê dalk: “Ek kan alles behalwe versoeking weerstaan!” Party mense lewe in ’n kultuur wat toegespits is op onmiddellike bevrediging, hetsy dit met kos, seks, pret of sukses te doen het. Hulle wil nie net alles hê nie, maar hulle wil dit nóú hê! (Lukas 15:12). Hulle kyk nie verder as die onmiddellike plesier na die toekomstige geluk van “die werklike lewe” nie (1 Timoteus 6:19). Die Bybel leer ons egter om sake goed te deurdink, om versiende te wees en alles te vermy wat ons geestelik of op ander maniere kan skaad. ’n Geïnspireerde spreuk sê: “Die skerpsinnige wat die rampspoed gesien het, het hom verberg; die onervarenes wat verder gegaan het, het die straf ondergaan.”—Spreuke 27:12NW.

4. Watter vermaning het Paulus in 1 Korintiërs 10:12, 13 gegee?

4 Toe Paulus geskryf het aan Christene in Korinte—’n stad wat bekend was vir sy sedelike verdorwenheid—het hy ’n realistiese waarskuwing teen versoeking en die krag van sonde gegee. Hy het gesê: “Hy wat dink dat hy staan, [moet] oppas dat hy nie val nie. Geen versoeking het oor julle gekom nie, behalwe wat eie is aan mense. Maar God is getrou, en hy sal nie toelaat dat julle versoek word bo wat julle kan verdra nie, maar saam met die versoeking sal hy ook die uitweg gee, sodat julle dit sal kan verduur” (1 Korintiërs 10:12, 13). Ons almal—oud en jonk, man en vrou—kom by die skool, by die werk en elders voor baie versoekings te staan. Kom ons ondersoek dus Paulus se woorde en sien watter betekenis dit vir ons het.

Moenie te veel selfvertroue hê nie

5. Waarom is te veel selfvertroue gevaarlik?

5 Paulus sê: “Hy wat dink dat hy staan, [moet] oppas dat hy nie val nie.” Te veel vertroue in ons sedelike krag is gevaarlik. Dit toon dat ons nie heeltemal verstaan hoe sonde werk en watter krag dit het nie. Kan ons, in die lig van die feit dat mense soos Moses, Dawid, Salomo en die apostel Petrus in sonde geval het, dink dat ons nie kwesbaar is nie? (Numeri 20:2-13; 2 Samuel 11:1-27; 1 Konings 11:1-6; Matteus 26:69-75). “Die wyse vrees en wyk af van die kwaad, maar die dwaas bruis op en is vol selfvertroue”, sê Spreuke 14:16. Verder het Jesus gesê: “Die gees is natuurlik gretig, maar die vlees is swak” (Matteus 26:41). Aangesien geen onvolmaakte mens immuun is teen verdorwe begeertes nie, moet ons Paulus se waarskuwing ernstig opneem en versoeking weerstaan, anders loop ons gevaar om te val.—Jeremia 17:9.

6. Wanneer en hoe moet ons ons op versoeking voorberei?

6 Dit is verstandig om ons op onverwagte moeilikhede voor te berei. Koning Asa het besef dat ’n tydperk van vrede die beste tyd vir hom was om sy verdediging op te bou (2 Kronieke 14:2, 6, 7). Hy het geweet dat dit te laat sou wees om voorbereidings te tref wanneer hy aangeval word. Net so sal dit die beste wees as ons vooraf, wanneer dinge rustig is en ons helder kan dink, besluit oor wat ons gaan doen wanneer ons voor versoekings te staan kom (Psalm 63:7). Daniël en sy godvresende vriende het besluit om getrou aan Jehovah se wet te bly voordat druk op hulle uitgeoefen is om van die koning se spyse te eet. Daarom het hulle nie geaarsel om by hulle oortuiging te bly en nie onrein voedsel te eet nie (Daniël 1:8). Laat ons ons voorneme versterk om sedelik rein te bly voordat situasies opduik wat ons in versoeking kan bring. Dan sal ons die krag hê om sonde te weerstaan.

7. Waarom is dit bemoedigend om te weet dat ander daarin geslaag het om versoeking te weerstaan?

7 Hoe bemoedigend is Paulus se woorde tog vir ons: “Geen versoeking het oor julle gekom nie, behalwe wat eie is aan mense”! (1 Korintiërs 10:13). Die apostel Petrus het geskryf: “Weerstaan [die Duiwel], vas in die geloof, in die wete dat dieselfde dinge in die vorm van lyding in die hele gemeenskap van julle broers in die wêreld veroorsaak word” (1 Petrus 5:9). Ja, ander het voor soortgelyke versoekings te staan gekom, en met God se hulp het hulle daarin geslaag om dit te weerstaan, en ons kan ook. Maar as ware Christene wat in ’n verdorwe wêreld lewe, kan almal van ons verwag om vroeër of later versoek te word. Hoe kan ons dan seker wees dat ons menslike swakheid en versoekings om te sondig, kan oorwin?

Ons kán versoeking weerstaan!

8. Wat is ’n basiese manier om versoeking te vermy?

8 ’n Basiese manier waarop ons kan ophou om “slawe van die sonde” te wees, is om versoeking te vermy wanneer moontlik (Romeine 6:6). Spreuke 4:14, 15 spoor ons aan: “Kom nie op die pad van die goddelose en betree die weg van die slegtes nie. Vermy dit, gaan nie daarop nie, wyk daarvan af en gaan verby.” Ons weet dikwels vooraf of ’n sekere situasie moontlik tot sonde sal lei. Dit sal dus logies vir Christene wees om eerder ‘verby te gaan’, dit wil sê weg te bly van enigiemand en enigiets en enige plek wat verkeerde begeertes en onrein hartstogte by ons kan aanwakker.

9. Hoe beklemtoon die Skrif die belangrikheid daarvan om van gevaarlike situasies te vlug?

9 Om te vlug van ’n situasie wat ons in versoeking kan lei, is nog ’n basiese stap om versoeking te oorwin. Paulus het dié raad gegee: “Vlug vir die hoerery” (1 Korintiërs 6:18). En hy het geskryf: “Vlug vir die afgodery” (1 Korintiërs 10:14). Die apostel het Timoteus ook gewaarsku om te vlug vir die oordrewe begeerte na materiële rykdom, sowel as “vir die begeertes wat eie is aan die jeug”.—2 Timoteus 2:22; 1 Timoteus 6:9-11.

10. Watter twee teenoorgestelde voorbeelde toon die waarde daarvan om vir versoeking te vlug?

10 Dink byvoorbeeld aan die geval van Israel se koning Dawid. Terwyl hy van sy paleisdak afgekyk het, het hy ’n pragtige vrou sien bad, en verkeerde begeertes het in sy hart posgevat. Hy moes daar padgegee het en vir die versoeking gevlug het. In plaas daarvan het hy navraag gedoen oor hierdie vrou—Batseba—en dit het rampspoedige gevolge gehad (2 Samuel 11:1–12:23). Hoe het Josef daarenteen opgetree toe sy heer se onsedelike vrou by hom aangedring het om met haar gemeenskap te hou? Die verslag sê vir ons: ‘Nadat sy met Josef dag ná dag gespreek het, wou hy na haar nie luister om by haar te lê om met haar gemeenskap te hou nie.’ Selfs sonder die gebooie van die Mosaïese Wet, wat toe nog nie gegee is nie, het Josef haar só geantwoord: “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?” Eendag het sy hom gegryp en gesê: “Kom hou gemeenskap met my.” Het Josef daar gebly en met haar probeer redeneer? Nee. Hy het “gevlug en na buite geloop”. Josef het seksuele versoeking nie die geringste kans gegee nie. Hy het gevlug!—Genesis 39:7-16.

11. Wat kan ons doen as ’n versoeking hom gereeld voordoen?

11 Om weg te hardloop, word soms as lafhartig beskou, maar dit is dikwels verstandig om onsself fisies uit ’n situasie te verwyder. Miskien is daar ’n versoeking wat hom gereeld voordoen by die werk. Hoewel ons dalk nie van werk kan verander nie, is daar moontlik ander maniere waarop ons ons kan verwyder uit die omstandighede wat ons in die versoeking kan bring. Ons moet vlug vir enigiets wat ons weet verkeerd is, en ons moet vasbeslote wees om slegs te doen wat reg is (Amos 5:15). Om vir versoeking te vlug, sal andersins ook vereis dat ons pornografiese webruimtes op die Internet en twyfelagtige vermaaklikheidsplekke vermy. Dit kan ook beteken dat ons ontslae sal moet raak van ’n tydskrif of dat ons nuwe vriende sal moet maak—persone wat God liefhet en wat ons sal kan help (Spreuke 13:20). Ons sal verstandig optree as ons enigiets wat ons in versoeking bring om te sondig, vasbeslote die rug toekeer.—Romeine 12:9.

Hoe gebed kan help

12. Wat vra ons God om te doen wanneer ons bid: “Bring ons nie in versoeking nie”?

12 Paulus gee hierdie aanmoedigende versekering: “God is getrou, en hy sal nie toelaat dat julle versoek word bo wat julle kan verdra nie, maar saam met die versoeking sal hy ook die uitweg gee, sodat julle dit sal kan verduur” (1 Korintiërs 10:13). Een manier waarop Jehovah ons bystaan, is deur ons gebede te verhoor wanneer ons sy hulp vra om versoekings te weerstaan. Jesus Christus het ons leer bid: “Bring ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose” (Matteus 6:13). Jehovah verhoor sulke opregte gebede deur ons nie aan versoeking oor te gee nie; hy sal ons verlos van Satan en sy listige dade (Efesiërs 6:11, voetnoot in naslaanuitgawe). Ons moet God vra om ons te help om versoekings raak te sien en die krag te hê om dit te weerstaan. As ons hom smeek om ons nie te laat swig wanneer ons versoek word nie, sal hy ons help sodat Satan, “die bose”, nie die oorhand oor ons kry nie.

13. Wat moet ons doen as ons met volgehoue versoeking te kampe het?

13 Ons moet veral ernstig bid wanneer ons deur volgehoue versoeking geteister word. Party versoekings kan ’n intense innerlike stryd veroorsaak, met gedagtes en gesindhede wat ons op kragtige wyse herinner aan hoe swak ons werklik is (Psalm 51:7). Wat kan ons byvoorbeeld doen as ons geteister word deur herinneringe aan die een of ander verdorwe gebruik wat ons in die verlede beoefen het? Sê nou ons kom in versoeking om dit weer te begin beoefen? In plaas van net sulke gevoelens te probeer onderdruk, moet ons eerder tot Jehovah bid oor die saak—herhaaldelik indien nodig (Psalm 55:23). Met die krag van sy Woord en heilige gees kan hy ons help om ons verstand van onrein neigings te reinig.—Psalm 19:9, 10.

14. Waarom is gebed noodsaaklik om menslike swakheid die hoof te bied?

14 Toe Jesus in die tuin van Getsemane opgemerk het dat sy apostels lomerig is, het hy hulle aangespoor: “Hou aan waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is natuurlik gretig, maar die vlees is swak” (Matteus 26:41). Een manier waarop ons versoeking kan weerstaan, is om wakker te wees vir die verskillende vorme wat versoeking kan aanneem en hoe subtiel dit kan wees. Dit is ook noodsaaklik dat ons sonder versuim oor die versoeking bid sodat ons geestelik toegerus kan wees om daarteen te stry. Omdat versoekings op ons swakhede gemik is, kan ons dit nie op ons eie weerstaan nie. Gebed is noodsaaklik omdat God se krag ons weerstand teen Satan kan versterk (Filippense 4:6, 7). Ons sal moontlik ook die geestelike bystand en gebede van “die ouer manne van die gemeente” nodig hê.—Jakobus 5:13-18.

Weerstaan versoeking met alle mag

15. Wat kan ons doen om versoeking te weerstaan?

15 Benewens die feit dat ons ’n versoeking moet vermy wanneer moontlik, moet ons dit met alle mag weerstaan totdat dit weggaan of totdat die situasie verander. Toe Jesus deur Satan versoek is, het hy hom weerstaan totdat die Duiwel weggegaan het (Matteus 4:1-11). Die dissipel Jakobus het geskryf: “Staan die Duiwel teë, en hy sal van julle wegvlug” (Jakobus 4:7). Weerstand begin wanneer ons ons verstand met God se Woord versterk en vasbeslote is om by sy standaarde te bly. Dit sal goed wees as ons sleuteltekste wat oor ons bepaalde swakheid handel, memoriseer en daaroor peins. Dit sal ook verstandig wees om ’n ryp Christen—moontlik ’n ouer man—te nader met wie ons oor ons bekommernisse kan gesels en wie se hulp ons kan inroep wanneer ons in versoeking kom.—Spreuke 22:17.

16. Hoe kan ons sedelik onberispelik bly?

16 Die Skrif spoor ons aan om ons met die nuwe persoonlikheid te beklee (Efesiërs 4:24). Dit beteken dat ons Jehovah toelaat om ons te vorm en te verander. Toe Paulus aan sy medewerker Timoteus geskryf het, het hy gesê: “Streef . . . na regverdigheid, godvrugtige toegewydheid, geloof, liefde, volharding, saggeaardheid. Stry die voortreflike stryd van die geloof, kry ’n stewige houvas op die ewige lewe waartoe jy geroep is” (1 Timoteus 6:11, 12). Ons kan ‘regverdigheid nastreef’ deur ywerig God se Woord te bestudeer sodat ons ’n diep kennis van sy persoonlikheid kan verkry, en dan moet ons volgens sy vereistes handel. ’n Vol program van Christelike bedrywighede, soos die verkondiging van die goeie nuus en vergaderingbywoning, is ook noodsaaklik. As ons nader aan God kom en sy geestelike voorsienings ten volle benut, sal dit ons help om geestelik te groei en sedelik onberispelik te bly.—Jakobus 4:8.

17. Hoe weet ons dat God ons nie gedurende versoeking sal verlaat nie?

17 Paulus verseker ons dat geen versoeking wat ons ondervind, ooit bo ons godgegewe vermoë om dit te weerstaan, sal wees nie. Jehovah sal ‘die uitweg gee, sodat ons dit sal kan verduur’ (1 Korintiërs 10:13). Om die waarheid te sê, God laat nie toe dat ’n versoeking so oorweldigend word dat ons nie genoeg geestelike krag het om ons onkreukbaarheid te handhaaf indien ons aanhou om op hom te vertrou nie. Hy wil graag hê dat ons die versoeking om te doen wat verkeerd is in sy oë, met alle mag moet weerstaan. Daarbenewens kan ons glo in sy belofte: “Ek sal jou hoegenaamd nie in die steek laat of jou ooit verlaat nie.”—Hebreërs 13:5.

18. Waarom kan ons seker wees dat ons menslike swakheid kan oorwin?

18 Paulus was nie onseker oor die afloop van sy persoonlike stryd teen menslike swakheid nie. Hy het homself nie beskou as ’n bejammerenswaardige en hulpelose pion van sy vleeslike begeertes nie. Hy het eerder gesê: “Die manier waarop ek hardloop[, is] nie onseker nie; die manier waarop ek my houe rig, is só dat ek nie in die lug slaan nie; maar ek kasty my liggaam en lei dit as ’n slaaf, sodat ek, nadat ek vir ander gepreek het, nie self op die een of ander wyse afgekeur sou word nie” (1 Korintiërs 9:26, 27). Ons kan ook ’n suksesvolle stryd teen die onvolmaakte vlees voer. Deur middel van die Skrif, Bybelpublikasies, Christelike vergaderinge en ryp mede-Christene gee ons liefdevolle hemelse Vader ons voortdurend herinneringe wat ons help om ’n onberispelike weg te volg. Met sy hulp kán ons menslike swakheid oorwin!

Onthou jy?

• Wat beteken dit “om die vlees te bedink”?

• Hoe kan ons ons op versoeking voorberei?

• Wat kan ons doen om versoeking te weerstaan?

• Watter rol speel gebed daarin om versoeking te weerstaan?

• Hoe weet ons dat dit moontlik is om menslike swakheid te oorwin?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 10]

Die Bybel leer nie dat ons hulpelose slagoffers van ons vleeslike begeertes is nie

[Prent op bladsy 12]

Om vir versoeking te vlug, is een van die basiese maniere om sonde te vermy