Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kan dit die beste loopbaan vir jou wees?

Kan dit die beste loopbaan vir jou wees?

Kan dit die beste loopbaan vir jou wees?

AS JY ’n gedoopte Christen is, beweeg liefde vir God jou ongetwyfeld om sy wil te doen. Daarbenewens is die bediening sekerlik die belangrikste werk vir jou. Jesus Christus het immers al sy volgelinge beveel om dissipelmakers te wees (Matteus 28:19, 20). Ja, jy het dalk op die oomblik ’n sekulêre werk om jouself te onderhou. Maar as ’n navolger van Jesus en een van Jehovah se Getuies is jy allereers ’n Christenbedienaar—een wat die Koninkrykspredikingswerk eerste in jou lewe stel.—Matteus 24:14.

Miskien is jy in jou laat tienerjare of vroeë twintigerjare. Jy het moontlik al baie nagedink oor watter loopbaan jy gaan volg. En terwyl jy dit oorweeg, sal jy waarskynlik wil seker maak dat jy persoonlike voldoening daaruit sal put.

Kyk byvoorbeeld wat Jørgen van Denemarke sê oor die keuse wat hy gemaak het. Jørgen beskryf dit as “’n ideale lewenswyse wat ’n mens in staat stel om jou op die heel belangrikste werk toe te spits”. Eva, ’n 31-jarige vrou van Griekeland, sê: “Wanneer ek my lewe met dié van my portuurs vergelyk, kom ek altyd tot die slotsom dat dit sinvoller, bevredigender en meer opwindend is.” Watter loopbaan verskaf sulke bevrediging? Hoe kan jy so ’n lewenswyse volg?

Toon God vir ons die weg?

Dit kan taamlik moeilik wees om ’n loopbaan te kies. Trouens, party wens dalk dat God presies vir hulle sal aandui wat hy wil hê hulle moet doen.

Toe Moses in Midian was, het Jehovah vir hom gesê om na Egipte terug te keer en die Israeliete uit slawerny uit te lei (Exodus 3:1-10). God se engel het verskyn aan Gideon, wat aangestel is om Israel van onderdrukking te bevry (Rigters 6:11-14). Dawid het skape opgepas toe God vir Samuel gesê het om hom as Israel se volgende koning te salf (1 Samuel 16:1-13). Ons word nie vandag so gelei nie. Ons moet eerder sake oorweeg en besluit hoe ons ons godgegewe vermoëns moet gebruik.

Jehovah het vandag vir jong Christene ‘’n groot deur oopgemaak wat tot bedrywigheid lei’ (1 Korintiërs 16:9). Hoe so? In die afgelope dekade het die getal Koninkryksverkondigers met meer as 2 125 000 vermeerder tot meer as 6 000 000 oor die hele aarde. Wie help om die miljoene Bybels, boeke, brosjures, tydskrifte en traktate te voorsien wat nodig is vir geestelike voeding en vir die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus? Lede van die wêreldwye Bethelgesin geniet hierdie geseënde voorreg.

’n Lonende lewe

Bethel beteken “Huis van God”, en Bethelhuise is die wonings van Christene wat vrywillig by die hoofkantoor en takkantore van die Wagtoringgenootskap dien (Genesis 28:19, voetnoot in NW). Hedendaagse Bethelgesinne kan vergelyk word met goed georganiseerde ‘huisgesinne wat deur wysheid opgebou is’ en op liefde vir Jehovah gegrondves is.—Spreuke 24:3NW.

Wat kan oor die gesinsatmosfeer by Bethel gesê word? Een 25-jarige lid van die Bethelgesin in Estland sê: “Dit is ’n lekker gevoel om heeltyd saam met Jehovah se vriende te wees. Dit is nog steeds vir my die kosbaarste faset van Bethel.”—Psalm 15:1, 2.

Regoor die wêreld geniet omtrent 19 500 persone tans die voorreg van Betheldiens (Psalm 110:3). In die Verenigde State is 46 persent van dié wat by Bethel dien, tussen die ouderdomme van 19 en 29. Hulle het soos Jesaja gesê: “Hier is ek, stuur my” (Jesaja 6:8). Jesaja—wat reeds aan Jehovah toegewy was—het hom vir ’n bykomende diensvoorreg aangebied. Dit het klaarblyklik beteken dat hy persoonlike opofferinge moes maak. Diegene in Betheldiens verlaat hulle huis en ’n bekende omgewing, sowel as moeders, vaders, broers, susters en vriende. Hierdie opofferinge word gewillig gemaak “ter wille van die goeie nuus”.—Markus 10:29, 30.

Maar aan die ander kant geniet ’n mens wel baie geestelike seëninge by Bethel! ’n Jong lid van die Bethelgesin in Rusland verduidelik: “Deur selfopofferend te wees, kan ons baie leer wat ons sal help om in die nuwe wêreld te lewe. Ek kan in my geval sê dat Jehovah se seëninge veel groter as my opofferinge is.”—Maleagi 3:10.

Die lewe by Bethel

Hoe is die lewe by Bethel? Lede van die Bethelgesin is dit eens dat dit heilsaam en bevredigend, selfs opwindend, is. Jens, wat 43 is, geniet Betheldiens. Waarom? Hy sê: “Omdat ’n mens voel dat jy ’n aandeel het aan ’n grootskaalse poging om ’n belangrike taak uit te voer. Ek kan die omvang en belangrikheid van Jehovah se werk aanvoel.”

Van Maandag tot Saterdag begin die dag by Bethel met oggendaanbidding. Dit is ’n bespreking van die Bybel, wat deur ’n ervare ouer man gelei word. Elke Maandagaand is daar ’n uur lange gesinstudie van die Bybel met behulp van Die Wagtoring, wat soms gevolg word deur ’n toespraak met ’n skriftuurlike tema wat spesiaal vir die Bethelgesin bedoel is.

Wat gebeur wanneer ’n nuweling by Bethel aankom? Om nuwe lede te help sodat hulle by Bethellewe kan inskakel, hou ryp broers van die gesin lesings wat oor verskillende fasette van Betheldiens handel. ’n Nuwe lid van die Bethelgesin sal ’n paar weke lank gedurende sy eerste jaar ’n uitstekende weeklikse skool bywoon wat bedoel is om sy of haar begrip van die Skrif te verbreed. Nuwe Betheliete volg ook ’n spesiale Bybelleesprogram. Gedurende hulle eerste jaar van Betheldiens moet nuwe lede van die gesin die hele Bybel deurlees.

Wat is die resultaat van al hierdie opleiding? Joshua, ’n 33-jarige lid van die Bethelgesin in Hongkong, antwoord: “Bethel het werklik my waardering vir Jehovah vergroot. Ek kan met talle ervare broers assosieer wat Jehovah gedurende die grootste gedeelte van hulle lewe gedien het. Ek geniet veral die geestelike programme, soos oggendaanbidding en die gesin se Wagtoring-studie. Verder hou ek van die ordelike en eenvoudige lewe. Dit bevry my van onnodige bekommernisse. Ek leer ook hoe om dinge op ’n Christelike manier te hanteer, en dit is altyd voordelig.”

Lede van die Bethelgesin bestee die meeste van hulle tyd en energie aan wat hulle vrywillig aangebied het om te doen. Dit wil sê, hulle gebruik hulle fisiese en verstandelike vermoëns hoofsaaklik om die werk te doen wat hulle by Bethel gekry het. ’n Groot verskeidenheid take moet verrig word. Party werk met die drukperse of in die bindery waar boeke gemaak word wat na baie gemeentes gestuur word. Ander werk in die kombuis, die eetsaal of die wassery. Werkstoewysings sluit skoonmaakwerk, plaaswerk, bouwerk, ensovoorts in. Party het die verantwoordelikheid om die toerusting in hierdie departemente in stand te hou. Ander voorsien gesondheidsorg of doen kantoorwerk. Alle Bethelwerkstoewysings bied ’n aangename uitdaging en is baie lonend. Die werk wat by Bethel gedoen word, is veral bevredigend omdat dit Koninkryksbelange bevorder en uit liefde vir God gedoen word.

Lede van die Bethelgesin word na gemeentes aangewys, waar hulle persoonlik die voordele van hulle werk smaak. Hulle geniet dit om gemeentelike vergaderinge by te woon en aan die predikingswerk deel te neem. Gevolglik het lede van die Bethelgesin hegte bande opgebou met hulle broers en susters in die plaaslike gemeentes.—Markus 10:29, 30.

Rita, ’n lid van die Bethelgesin in Brittanje, sê: “Ek is so dankbaar vir die gemeente! Wanneer ek by die vergaderinge en in die bediening is, versterk dit werklik my geloof om dierbare broers, susters, kinders en die ouer garde daar te sien! Maak nie saak wat gebeur nie, hulle is daar. Dit help my om yweriger in my Betheldiens te wees.”

Die lewe by Bethel bestaan nie net uit werk, vergaderinge, velddiens en studie nie. Die gesin geniet ook tye van ontspanning. Van tyd tot tyd is daar vermaaklike en geestelik verkwikkende “Gesinsaande”, wat die gesin die geleentheid bied om die talente van baie te geniet en aanmoedigende dinge uit te vind omtrent die lewe van ander wat by Bethel dien. Die gesin hou ook daarvan om by mekaar te kuier en heilsame en opbouende assosiasie te geniet. Ontspanningsfasiliteite word dalk voorsien, sowel as biblioteke waar ’n mens kan lees en navorsing doen. En dan is daar ook die aangename gesprekke aan tafel gedurende etenstye.

Tom, ’n lid van die Bethelgesin in Estland, sê: “Net ’n entjie van Bethel af is die see, en hier naby is ’n pragtige woud waar ek en my vrou graag gaan stap. Ek speel ook nou en dan gholf, hokkie en tennis saam met vriende in die gemeente en by Bethel. En wanneer die weer dit toelaat, gaan ry ons fiets.”

Wat kan jy doen om te kwalifiseer?

Bethel is natuurlik hoofsaaklik ’n plek waar ryp Christene heilige diens aan Jehovah verrig en in die belang van medegelowiges regoor die wêreld werk. Diegene wat lede van die Bethelgesin word, moet aan sekere vereistes voldoen. Wat kan jy doen om vir Betheldiens te kwalifiseer?

Soos Timoteus wat saam met die apostel Paulus gedien het, moet diegene wat vir Betheldiens aanvaar word, ’n goeie naam in die gemeente hê (1 Timoteus 1:1). Timoteus “is gunstig vermeld deur die broers in Listra en Ikonium” (Handelinge 16:2). Hoewel hy jonk was, het Timoteus die Skrif geken en was hy stewig gegrond in die waarheid (2 Timoteus 3:14, 15). Diegene wat vir Betheldiens aanvaar word, moet eweneens kennis van die Bybel hê.

Lede van die Bethelgesin moet ’n selfopofferende gees hê. Timoteus se selfopofferende gees en sy gewilligheid om Koninkryksbelange voor sy eie belange te stel, was so duidelik dat Paulus van hom kon sê: “Ek het niemand anders met ’n gesindheid soos syne wat opreg na die dinge in verband met julle sal omsien nie. Want al die ander soek hulle eie belange, nie dié van Christus Jesus nie. Maar julle weet watter bewys hy van homself gelewer het, dat hy, soos ’n kind saam met ’n vader, saam met my soos ’n slaaf gedien het ter bevordering van die goeie nuus.”—Filippense 2:20-22.

Betheldiens vereis geestelike mans en vroue. Reëlings vir Bethelgesinslede stel hulle in staat om geestelik te groei deur middel van Bybelstudie, gereelde bywoning van Christelike vergaderinge en gereelde deelname aan die veldbediening, asook omgang met ryp Christene. Diegene by Bethel word dus gehelp om Paulus se raad te volg: “[Gaan voort] om in eenheid met [Christus Jesus] te wandel, gewortel in hom en terwyl julle opgebou word in hom en standvastig gemaak word in die geloof, net soos julle geleer is, terwyl julle oorloop van geloof in danksegging.”—Kolossense 2:6, 7.

Weens die aard van die werk by Bethel, moet diegene wat vir hierdie diensvoorreg aanvaar word fisies sterk en gesond wees. As jy voldoen aan die vereistes wat genoem is en jy 19 jaar of ouer is en ten minste een jaar gedoop is, moedig ons jou aan om Betheldiens te oorweeg.

Ons lewer almal ’n bydrae

As Christene is dit beslis ons almal se begeerte om Koninkryksbelange eerste in ons lewe te stel en Jehovah met ons hele siel te dien (Matteus 6:33; Kolossense 3:23). Ons kan ook diegene wat by Bethel dien, aanspoor om aan te hou om heilige diens daar te verrig. En veral jong broers wat vir Betheldiens kwalifiseer, moet aangespoor word om hierdie geseënde voorreg na te streef.

Betheldiens is ’n geestelik bevredigende lewenswyse—inderdaad die beste loopbaan vir jou. Dit is vir Nick die geval, wat by Bethel begin dien het toe hy 20 was. Ná tien jaar van Betheldiens sê hy: “Ek bid dikwels tot Jehovah om hom te dank vir hierdie onverdiende goedhartigheid. Daar is niks wat my gelukkiger kan maak nie. Hier is ons tussen getroue Christene wat hulle bes doen om Jehovah te dien.”

[Venster/Prent op bladsy 22]

WAT KAN OUER MANNE EN OUERS DOEN?

Ouer manne en reisende opsieners in die besonder moet jong mans aanspoor om vir Bethel aansoek te doen. ’n Onlangse informele opname onder jong lede van die Bethelgesin het getoon dat 34 persent van hulle hoofsaaklik deur Christenopsieners aangemoedig is om Betheldiens as doelwit na te streef. Ja, hulle plaaslike gemeentes sal hulle dalk mis. Maar dit is goed om te onthou dat die ouer manne nie Timoteus afgeraai het om saam met Paulus te dien nie, al het hy ongetwyfeld ’n heilsame invloed op ander jongmense in Listra en Ikonium gehad. Hulle het nie geredeneer dat die verlies vir hulle gemeente te groot sou wees as Timoteus die apostel vergesel nie.—1 Timoteus 4:14.

In hierdie verband moet veral Christenouers probeer om ’n positiewe invloed op hulle kinders te hê. In die opname wat hierbo genoem is, het 40 persent van dié wat gevra is, gesê dat dit hoofsaaklik hulle ouers was wat hulle aangemoedig het om Betheldiens te betree. Een suster wat al ’n paar jaar by Bethel dien, het gesê: “My ouers se lewe in Jehovah se diens was ’n kragtige aansporing vir my om by Bethel te dien. Deur na hulle voorbeeld in die voltydse bediening te kyk, het ek geweet dat dit die beste en bevredigendste lewe sou wees om te kies.”

[Venster/Prent op bladsy 24]

HULLE WAARDEER BETHELDIENS

“My Betheldiens is kosbaar vir my. Dit voel goed om te weet dat ek Jehovah die hele dag gedien het en dat ek môre dieselfde sal doen, en oormôre, ensovoorts. Dit gee my ’n skoon gewete en vul my verstand met positiewe gedagtes.”

“Bethel is ’n plek waar ’n mens al jou tyd en energie aan die diens van Jehovah kan wy sonder afleidings. Dit bring innerlike vreugde mee. Maar jy kan ook Jehovah se organisasie uit ’n ander perspektief sien. ’n Mens voel baie nader aan die hart van hierdie organisasie, en dit maak dit baie opwindend.”

“Die beste ding wat nog met my gebeur het, was om Bethel toe te kom. Hier hou opleiding nooit op nie. En die opleiding hier is nie vir my persoonlike bevordering nie, maar dit is vir Jehovah. Hier sal my werk nooit tevergeefs wees nie.”

“Dit laat my tevrede voel en gee my gemoedsrus om my talente by Bethel te gebruik omdat dit vir Jehovah en vir die broers gebruik word.”

“Ek kon nie ware bevrediging en geluk in my vorige loopbaan vind nie. Ek het jare lank daarvan gedroom om saam met my broers en susters te werk en dit ten behoewe van hulle te doen. Dit is waarom ek Bethel toe gekom het. Dit laat my werklik tevrede voel om te weet dat al my werk ander geestelik sal baat en Jehovah sal verheerlik.”