Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moedige handhawers van onkreukbaarheid seëvier oor Nazi-vervolging

Moedige handhawers van onkreukbaarheid seëvier oor Nazi-vervolging

Staan in volkomenheid en met vaste oortuiging

Moedige handhawers van onkreukbaarheid seëvier oor Nazi-vervolging

“WEES wys, my seun, en verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee” (Spreuke 27:11). Hierdie hartlike versoek toon dat God se intelligente skepsele Jehovah se hart kan verbly as hulle getrou en lojaal aan hom is (Sefanja 3:17). Maar Satan, die smader, is vasbeslote om die onkreukbaarheid te ondermyn van diegene wat Jehovah dien.—Job 1:10, 11.

Veral sedert die vroeë deel van die 20ste eeu toe Satan uit die hemel na die omgewing van die aarde neergewerp is, het hy groot toorn teenoor Jehovah se volk geopenbaar (Openbaring 12:10, 12). Ware Christene het nietemin “in volkomenheid en met vaste oortuiging” gestaan en hulle onkreukbaarheid teenoor God gehandhaaf (Kolossense 4:12). Laat ons kortliks kyk na een uitstekende voorbeeld van handhawers van onkreukbaarheid—dié van Jehovah se Getuies in Duitsland voor en gedurende die Tweede Wêreldoorlog.

Ywerige bedrywigheid lei tot toetse van onkreukbaarheid

In die 1920’s en vroeë 1930’s het die Bibelforscher, soos Jehovah se Getuies destyds in Duitsland bekend gestaan het, baie Bybellektuur versprei. Tussen 1919 en 1933 het hulle gemiddeld agt boeke, boekies of tydskrifte by elke gesin in Duitsland gelaat.

Op daardie stadium was Duitsland een van die lande met die meeste gesalfde volgelinge van Christus. Trouens, van die 83 941 mense regoor die wêreld wat in 1933 die embleme by die Here se Aandmaal gebruik het, het byna 30 persent in Duitsland gewoon. Kort voor lank het hierdie Duitse Getuies kwaai toetse van onkreukbaarheid ondervind (Openbaring 12:17; 14:12). Dit het van afdankings, klopjagte op huise en skorsings uit skole vinnig vererger tot slae, arrestasies en tronkstraf (Foto 1). Gevolglik het Jehovah se Getuies in die jare voor die Tweede Wêreldoorlog 5 tot 10 persent uitgemaak van almal wat in die konsentrasiekampe aangehou is.

Waarom die Nazi’s die Getuies vervolg het

Maar waarom was Jehovah se Getuies die skyf van die Nazi-regime se woede? ’n Professor van geskiedenis, Ian Kershaw, sê in sy boek Hitler—1889-1936: Hubris dat die Getuies ’n skyf van vervolging geword het omdat hulle geweier het “om hulle ten volle aan die Nazi-staat te onderwerp”.

Die boek Betrayal—German Churches and the Holocaust, onder redaksie van Robert P. Ericksen, ’n professor van geskiedenis, en Susannah Heschel, ’n professor van Joodse studies, het verduidelik dat die Getuies “geweier het om deel te neem aan geweld of aan die gebruik van militêre mag. . . . Die Getuies het aan politieke neutraliteit geglo, wat beteken het dat hulle nie vir Hitler sou stem nie en ook nie die Hitler-saluut sou gee nie.” Dieselfde bron voeg by dat dít die toorn van die Nazi’s laat ontvlam en die Getuies in ’n gevaarlike posisie geplaas het omdat “Nasionale Sosialisme nie so ’n weiering sou duld nie”.

’n Wêreldwye protes en ’n volskaalse aanval

Deur middel van ’n spesiale boodskapper het Joseph F. Rutherford, wat op daardie stadium die leiding in die werk geneem het, op 9 Februarie 1934 ’n protesbrief aan Hitler gestuur in reaksie op Nazi-onverdraagsaamheid (Foto 2). Op 7 Oktober 1934 is Rutherford se brief gevolg deur sowat 20 000 protesbriewe en -telegramme wat deur Jehovah se Getuies in 50 lande, insluitende Duitsland, aan Hitler gestuur is.

Die Nazi’s se reaksie hierop was hewiger vervolging. Op 1 April 1935 is die werk van die Getuies landwyd verbied. En op 28 Augustus 1936 het die Gestapo ’n volskaalse aanval teen hulle geloods. Tog het die Getuies “aangehou om pamflette te versprei en om andersins hulle geloof te handhaaf”, sê Betrayal—German Churches and the Holocaust.

Vlak voor die neuse van die Gestapo het ongeveer 3 500 Getuies byvoorbeeld op 12 Desember 1936 tienduisende kopieë van ’n gedrukte resolusie versprei in verband met die mishandeling wat hulle ondervind het. Aangaande hierdie kampanje het Die Wagtoring gesê: “Dit was ’n groot oorwinning en vir die vyand ’n dolk deur die hart, wat die getroue werkers onbeskryflike vreugde verskaf het.”—Romeine 9:17.

Vervolging misluk!

Die Nazi’s se soektog na Jehovah se Getuies het voortgegaan. Teen 1939 is sesduisend van hulle in die gevangenis gegooi, en duisende is na die konsentrasiekampe gestuur (Foto 3). Wat was die situasie teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog? Nagenoeg 2 000 gevange Getuies het gesterf, meer as 250 deur teregstelling. Nietemin “het Jehovah se Getuies ondanks ontberings meestal aan hulle geloof vasgehou”, skryf professore Ericksen en Heschel. Gevolglik het meer as duisend Getuies seëvierend uit die kampe gekom toe Hitler se regime geval het.—Foto 4; Handelinge 5:38, 39; Romeine 8:35-37.

Wat het Jehovah se volk die krag gegee om vervolging te verduur? Adolphe Arnold, wat die konsentrasiekamp oorleef het, het verduidelik: “Selfs as jy op jou swakste is, sien Jehovah jou, weet hy wat jy deurmaak en sal hy jou die nodige krag gee om die situasie te bowe te kom en getrou te bly. Sy hand is nie te kort nie.”

Hoe toepaslik is die woorde van die profeet Sefanja tog op daardie getroue Christene! Hy het gesê: “Die HERE jou God is by jou, ’n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap” (Sefanja 3:17). Mag alle aanbidders van die ware God vandag die geloof navolg van daardie lojale Getuies wat ondanks Nazi-vervolging hulle onkreukbaarheid gehandhaaf het en sodoende Jehovah se hart verbly.—Filippense 1:12-14.

[Foto-erkenning op bladsy 8]

Państwowe Muzeum Oświȩcim-Brzezinka, courtesy of the USHMM Photo Archives