Paulus organiseer ’n noodlenigingsprogram vir die heiliges
Paulus organiseer ’n noodlenigingsprogram vir die heiliges
GEESTELIKE belange is vir ware Christene van die grootste belang. Nietemin is besorgdheid oor die fisiese welsyn van ander ook vir hulle belangrik. Hulle het al dikwels voorsien in die behoeftes van diegene wat teëspoed ondervind. Broederliefde beweeg Christene om behoeftige medegelowiges te help.—Johannes 13:34, 35.
Uit liefde vir sy geestelike broers en susters het die apostel Paulus georganiseer dat geld ingesamel word onder gemeentes in Agaje, Galasië, Masedonië en die landstreek Asië. Waarom was dit nodig? Hoe is die noodlenigingsprogram georganiseer? Wat was die reaksie? En waarom moet ons belangstel in wat gebeur het?
Die situasie van die gemeente in Jerusalem
Ná Pinkster 33 G.J. het Jode en proseliete wat van ander plekke gekom het en tydens Pinkster dissipels geword het, ’n tyd lank in Jerusalem gebly om meer aangaande die ware geloof te leer. Waar nodig het medeaanbidders met graagte gehelp om die las van die langer verblyf te dra (Handelinge 2:7-11, 41-44; 4:32-37). Burgerlike oproere het dalk tot verdere behoeftes gelei namate Joodse nasionaliste opstande en massageweld aangestook het. Om dus te verseker dat geen volgeling van Christus honger sou ly nie, is voedsel daagliks aan behoeftige weduwees uitgedeel (Handelinge 6:1-6). Herodes het hom daarop toegelê om die gemeente te vervolg, en in die middelveertigerjare van die eerste eeu G.J. het ’n hongersnood Judea geteister. Vir Jesus se volgelinge was dit alles dalk die gevolg van wat Paulus “lyding”, “verdrukkinge” en “die plundering van [hulle] besittings” genoem het.—Hebreërs 10:32-34; Handelinge 11:27–12:1.
Omstreeks 49 G.J. was die situasie nog steeds kritiek. Nadat daar ooreengekom is dat Paulus sy predikingswerk op die nie-Jode sou toespits, het Petrus, Jakobus en Johannes hom aangespoor ‘om die armes in gedagte te hou’. Dit is wat Paulus probeer doen het.—Galasiërs 2:7-10.
Hy organiseer die insameling
Paulus het ’n fonds vir arm Christene in Judea gereël. Omstreeks 55 G.J. het hy vir die Korintiërs gesê: “Wat die insameling betref wat vir die heiliges is, moet julle ook so doen soos ek aan die gemeentes van Galasië bevel gegee het. Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle by sy eie huis iets opsy sit en opspaar na gelang van sy voorspoed . . . [Dan] sal ek dié manne wat julle deur briewe goedkeur, stuur om julle liefdegawe na Jerusalem te neem” (1 Korintiërs 16:1-3). ’n Jaar later het Paulus gesê dat Masedonië en Agaje aan die insameling deelgeneem het. En toe die bydraes na Jerusalem gestuur is, was daar ook verteenwoordigers van die landstreek Asië, wat blykbaar toon dat gemeentes in daardie streek ook bydraes gegee het.—Handelinge 20:4; 2 Korintiërs 8:1-4; 9:1, 2.
Geen druk is op enigiemand uitgeoefen om meer te gee as wat hy kon bekostig nie. ’n Gelykmaking het eerder plaasgevind sodat enige oorvloed die tekort onder die heiliges in Jerusalem en Judea kon aanvul (2 Korintiërs 8:13-15). “Laat elkeen doen net soos hy hom in sy hart voorgeneem het”, het Paulus gesê, “nie teësinnig of onder dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief.”—2 Korintiërs 9:7.
Die apostel het die Korintiërs ’n goeie rede gegee om vrygewig te wees. Jesus ‘het om hulle onthalwe arm geword, sodat hulle ryk kon word’ in geestelike sin (2 Korintiërs 8:9). Hulle sou sekerlik sy mededeelsaamheid wou navolg. Daarbenewens was dit gepas dat hulle help om in die behoeftes van die heiliges te voorsien, aangesien God hulle “vir elke soort vrygewigheid” verryk het.—2 Korintiërs 9:10-12.
Die gesindheid van dié wat bygedra het
Ons kan baie omtrent vrywillige bydraes leer deur na die gesindheid te kyk van dié wat die eerste-eeuse noodlenigingsprogram vir die heiliges ondersteun het. Die insameling het meer behels as net besorgdheid oor arm medeaanbidders van Jehovah. Dit het geïmpliseer dat daar ’n hegte broederskap tussen Joodse en nie-Joodse Christene was. Die feit dat bydraes gegee en aanvaar is, het eenheid en vriendskap tussen hierdie nie-Jode en Jode aangedui. Hulle het op materiële sowel as op geestelike gebied gegee.—Romeine 15:26, 27.
Paulus het dalk aanvanklik nie die Masedoniese Christene gevra om by te dra nie—hulle was ook baie arm. Maar hulle het ‘bly smeek om die voorreg om te gee’. Hoewel hulle “’n groot beproewing onder verdrukking” verduur het, het hulle met blydskap “bo hulle ware vermoë” gegee! (2 Korintiërs 8:1-4). Hulle groot beproewing het klaarblyklik beskuldigings ingesluit dat hulle ’n godsdiens beoefen het wat vir Romeine ongeoorloof was. Dit is derhalwe te verstane dat hulle empatie sou hê vir hulle Judese broers, wat soortgelyke teëspoed verduur het.—Handelinge 16:20, 21; 17:5-9; 1 Tessalonisense 2:14.
Hoewel Paulus die Korintiërs se aanvanklike ywer om by te dra, gebruik het om die Masedoniërs aan te spoor, het die entoesiasme in Korinte afgeneem. Daarom het die apostel nou na die Masedoniërs se vrygewigheid verwys om die Korintiërs te motiveer. Hy het dit nodig geag om hulle daaraan te herinner dat dit tyd was om te voltooi wat hulle ’n jaar vroeër begin het. Wat het gebeur?—2 Korintiërs 8:10, 11; 9:1-5.
Titus het met die insameling in Korinte begin, maar probleme het ontstaan wat moontlik sy pogings in die wiele gery het. Nadat Titus sake met Paulus in Masedonië bespreek het, het Titus saam met twee ander teruggekeer om die gemeente in Korinte te versterk en die insameling te voltooi. Party het dalk geïnsinueer dat Paulus die Korintiërs probeer uitbuit het. Dit is waarskynlik waarom hy drie manne gestuur het om die insameling te voltooi en aanbevelings vir elkeen van hulle gegee het. “So voorkom ons dat enigiemand met ons kan foutvind in verband met hierdie milddadige bydrae waarvoor ons sorg moet dra”, 2 Korintiërs 8:6, 18-23; 12:18.
het Paulus gesê. “Want ons ‘maak eerlike voorsiening, nie net voor die aangesig van Jehovah nie, maar ook voor die aangesig van mense’.”—Die bydrae word afgelewer
Teen die lente van 56 G.J. kon die bydraes na Jerusalem geneem word. Paulus sou saam met die afvaardiging gaan wat deur die bydraers gekies is. Handelinge 20:4 sê: “Hy is vergesel van Sopater, die seun van Pirrus van Berea, Aristargus en Sekundus van die Tessalonisense, en Gajus van Derbe, en Timoteus, en Tigikus en Trofimus uit die landstreek Asië.” Lukas, wat moontlik die Christene in Filippi verteenwoordig het, was blykbaar ook onder hulle. Ten minste nege manne het dus op hierdie sending gegaan.
“Dit moes ’n aansienlike bedrag geld gewees het wat ingesamel is”, sê die geleerde Dieter Georgi, “want die finale pogings, waarby Paulus en soveel afgevaardigdes betrokke was, sou andersins nie die moeite en onkoste werd gewees het nie.” Die afvaardiging was nie net ’n veiligheidsmaatreël nie, maar het Paulus ook beskerm teen enige beskuldiging van oneerlikheid. Dié wat uitgestuur is, het die nie-Joodse gemeentes voor die heiliges in Jerusalem verteenwoordig.
Die afvaardiging het van Korinte na Sirië gevaar en sou Jerusalem teen die tyd van die Pasga bereik. Maar gerugte van ’n komplot om Paulus dood te maak, het hom van plan laat verander (Handelinge 20:3). Dalk was sy vyande van plan om hom op see dood te maak.
Paulus was ook oor iets anders besorg. Voordat hy vertrek het, het hy vir Christene in Rome geskryf om te bid dat hy ‘van die ongelowiges in Judea verlos sal word en dat sy bediening wat vir Jerusalem is, vir die heiliges aanneemlik sal wees’ (Romeine 15:30, 31). Hoewel die heiliges ongetwyfeld die bydraes met diepe waardering sou ontvang, was Paulus dalk besorg oor die probleme wat dit onder die Jode oor die algemeen kon veroorsaak as hy daar aankom.
Die apostel het beslis die armes in gedagte gehou. Hoewel die Skrif nie sê wanneer die bydraes oorhandig is nie, het die aflewering daarvan eenheid bevorder en nie-Joodse Christene in staat gestel om waardering aan hulle Judese medegelowiges te toon vir die geestelike rykdom wat hulle van die Judeërs ontvang het. Toe Paulus kort ná sy aankoms in Jerusalem in die tempel verskyn het, het dit tot ’n oproer en sy inhegtenisname gelei. Maar dit het hom uiteindelik geleenthede gegee om vir goewerneurs en konings te getuig.—Handelinge 9:15; 21:17-36; 23:11; 24:1–26:32.
Ons bydraes vandag
Sedert die eerste eeu het baie dinge verander—maar nie onderliggende beginsels nie. Christene word tereg ingelig oor finansiële behoeftes. Enige bydraes wat hulle vir behoeftiges gee, moet vrywillig gegee word, uit liefde vir God en hulle medemens.—Markus 12:28-31.
Die noodlenigingsmaatreëls wat ten behoewe van die heiliges in die eerste eeu geneem is, toon dat sulke bydraes op goed georganiseerde wyse en met stipte eerlikheid hanteer moet word. Jehovah God is natuurlik bewus van ons behoeftes, en hy voorsien vir sy knegte sodat hulle kan aanhou om die goeie nuus van die Koninkryk aan ander te verkondig ondanks teëspoed (Matteus 6:25-34). Maar ons almal kan ons deel bydra, ongeag wat ons ekonomiese posisie is. Sodoende sal ‘die een met baie nie te veel hê nie, en die een met min nie te min hê nie’.—2 Korintiërs 8:15.