Die ware Christelike geloof seëvier!
Die ware Christelike geloof seëvier!
“Die woord van Jehovah [het] op ’n magtige wyse bly groei en seëvier.”—HANDELINGE 19:20.
1. Beskryf hoe die Christelike geloof gedurende die eerste eeu gegroei het.
AANGEDRYF deur die krag van die heilige gees het die vroeë Christene God se woord verkondig met ’n ywer wat nie gedemp kon word nie. ’n Geskiedskrywer het geskryf: “Die Christelike geloof het teen ’n merkwaardige tempo deur die Romeinse wêreld versprei. Teen die jaar 100 het elke provinsie wat aan die Middellandse See gegrens het, waarskynlik ’n Christengemeenskap gehad.”
2. Hoe het Satan die goeie nuus probeer teëwerk, en hoe is dit voorspel?
2 Satan die Duiwel kon die vroeë Christene nie tot swye bring nie. Hy het eerder die trefkrag van die goeie nuus deur iets anders probeer teëwerk—afvalligheid. Jesus het hierdie verwikkeling in sy gelykenis van die koring en die onkruid voorspel (Matteus 13:24-30, 36-43). Die apostel Petrus het ook gewaarsku dat valse onderrigters in die gemeente sou opstaan en verderflike sektes sou invoer (2 Petrus 2:1-3). Die apostel Paulus het eweneens uitdruklik gewaarsku dat afvalligheid voor die dag van Jehovah sou ontstaan.—2 Tessalonisense 2:1-3.
3. Wat het ná die dood van die apostels gebeur?
3 Ná die dood van die apostels het heidense leerstellings en filosofieë die goeie nuus begin verdring. Soos voorspel is, het valse onderrigters die suiwer boodskap van waarheid verdraai en besoedel. Geleidelik is die ware Christelike geloof verdring deur ’n namaaksel, wat die Christendom genoem is. ’n Geestelikeklas het ontstaan wat die Bybel van die gewone mense probeer weghou het. Hoewel dié wat hulleself Christene genoem het in getalle gegroei het, was hulle aanbidding nie suiwer nie. Die Christendom het geografies gegroei en het ’n magtige instelling en ’n oorheersende invloed in Westerse kultuur geword, maar dit het nie God se seën of sy gees gehad nie.
4. Waarom het Satan se plan om God se voorneme te dwarsboom, misluk?
4 Satan se plan om Jehovah se voorneme te dwarsboom, was egter tot mislukking gedoem. Selfs gedurende die donkerste dae van afvalligheid was die ware Christelike geloof nog steeds onder party mense te vinde. Manne wat die Bybel oorgeskryf het, het hulle ingespan om dit akkuraat te doen. Die Bybel self het dus ongeskonde gebly, hoewel die boodskap daarvan verdraai is deur baie wat beweer het dat hulle die gesag het om dit aan ander te leer. Deur die eeue heen het geleerdes soos Hieronimus en Tyndale God se Woord moedig vertaal en versprei. Miljoene mense kon vertroud raak met die Bybel en met ’n vorm van die Christelike geloof, hoewel dit ’n namaaksel was.
5. Wat het die profeet Daniël aangaande “ware kennis” voorspel?
5 Uiteindelik het ‘die ware kennis oorvloedig geword’, soos daar in die boek Daniël voorspel is. Dit het in “die tyd van die einde” gebeur—die tyd waarin ons nou lewe (Daniël 12:4, NW). Heilige gees het liefhebbers van die waarheid regoor die wêreld tot ’n juiste kennis van die ware God en sy voorneme laat kom. Selfs ná eeue van afvallige leringe seëvier God se woord! Vandag word die goeie nuus oral verkondig en vestig dit mense se aandag op die hoop op ’n wonderlike nuwe wêreld (Psalm 37:11). Kom ons kyk nou hoe God se woord vandag gegroei het.
Hoe die woord vandag gegroei het
6. Watter waarhede het die Bybelstudente teen die jaar 1914 verstaan?
6 In die laat 19de eeu het Bybelwaarheid ’n klein groepie Bybelstudente, wat vandag as Jehovah se Getuies bekend is, tot aksie laat oorgaan. Teen 1914 het die Bybel vir hulle lewend geword. Hulle het wonderlike waarhede omtrent God se voorneme verstaan. Hulle is diep getref deur Jehovah se liefde wat hom beweeg het om sy Seun na die aarde te stuur, waardeur die weg tot die ewige lewe gebaan is. Hulle het ook God se naam en persoonlikheid leer ken en waardeer. Verder het hulle besef dat “die tye van die heidene” reeds geëindig het, ’n aanduiding dat die tyd op hande was vir God se Koninkryksregering om seëninge vir die mensdom te bring (Lukas 21:24, King James Version). Watter glorieryke goeie nuus! Hierdie dinamiese waarhede moes aan almal, oral, verkondig word. Lewens was op die spel!
7. Hoe het Bybelwaarheid in hedendaagse tye geseëvier?
7 Jehovah het daardie handjie vol geesgesalfde Christene geseën. Vandag is daar meer as sesmiljoen mense wat die ware Christelike geloof aangeneem het. Die woord van God het ook geografies versprei, want Jehovah se Getuies word in 235 lande gevind. Daarbenewens het Bybelwaarheid krag uitgeoefen en oor alle struikelblokke, van ’n godsdienstige en ander aard, geseëvier. Hierdie wêreldwye predikingswerk versterk die onweerlegbare bewys dat Jesus teenwoordig is in Koninkryksmag.—Matteus 24:3, 14.
8. Wat het party al oor die groei van Jehovah se Getuies gesê?
8 Net soos geskiedskrywers kommentaar gelewer het oor die verbasende groei van die Christelike geloof in die eerste eeu, het baie geleerdes hulle al uitgespreek oor die groei van Jehovah se volk in hedendaagse tye. In die Verenigde State het twee geleerdes gesamentlik geskryf: “Gedurende die afgelope 75 jaar het Jehovah se Getuies teen ’n buitengewone tempo bly groei . . . , en dit op ’n wêreldskaal.” ’n Tydskrif in Oos-Afrika verwys na die Getuies as “een van die wêreld se snelgroeiendste en hoogs gerespekteerde godsdienste, wat wêreldbekend is vir hulle volkome gehoorsaamheid aan Bybelse leringe”. En ’n konserwatiewe Katolieke tydskrif, wat in Europa uitgegee word, verwys na “die oorweldigende groei van Jehovah se Getuies”. Wat het tot hierdie groei bygedra?
Heilige gees vandag werksaam
9. (a) Wat is ’n vername rede waarom God se woord vandag seëvier? (b) Hoe trek Jehovah mense na hom toe?
9 ’n Vername rede waarom God se woord vandag seëvier, is omdat Jehovah se gees op kragtige wyse werksaam is, net soos dit in die eerste eeu was. Jesus het gesê: “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie” (Johannes 6:44). Hierdie woorde dui daarop dat God diegene met die regte gesindheid op ’n liefdevolle manier aantrek en hulle hart roer. Deur middel van die predikingswerk van sy Getuies trek Jehovah “die begeerlike dinge van al die nasies”—die sagmoedige, skaapgeaarde mense van die aarde—na hom toe vir sy diens.—Haggai 2:6, 7, NW.
10. Watter soort mense het op die woord van God gereageer?
10 God se heilige gees gee nie net sy volk die krag om die woord van God na die mees afgeleë deel van die aarde te neem nie; dit beweeg ook alle soorte mense om op die goeie nuus te reageer. Ja, diegene wat God se woord aangeneem het, kom beslis uit “elke stam en taal en volk en nasie” (Openbaring 5:9; 7:9, 10). Hulle word gevind onder die rykes en die armes, die hooggeleerdes en die ongeletterdes. Party het die woord aangeneem ondanks oorlogstoestande en wrede vervolging, terwyl ander dit gedurende tye van vrede en voorspoed gedoen het. Onder elke soort regering, in alle kulture, van konsentrasiekampe tot paleise, het mans en vroue gunstig op die goeie nuus gereageer.
11. Hoe is die heilige gees werksaam in die lewe van God se volk, en watter onderskeid is duidelik?
11 Ten spyte van die verbasende verskeidenheid mense waaruit God se volk bestaan, lewe hulle in eenheid met mekaar (Psalm 133:1-3). Dit gee verdere bewys dat die heilige gees werksaam is in die lewe van diegene wat God dien. Sy gees is ’n positiewe krag wat sy knegte in staat stel om liefde, vreugde, vrede, goedhartigheid en ander aantreklike eienskappe te openbaar (Galasiërs 5:22, 23). Vandag sien ons duidelik wat die profeet Maleagi lank gelede voorspel het: “Julle [sal] weer die onderskeid sien tussen die regverdige en die goddelose, tussen die wat God dien en die wat Hom nie dien nie.”—Maleagi 3:18.
God se woord seëvier in ywerige werkers
12. Hoe voel Jehovah se Getuies oor die evangelisasiewerk, en watter reaksie verwag hulle op hulle predikingswerk?
12 Getuies van Jehovah is nie passiewe kerkgangers nie. Hulle neem daadwerklik deel aan die evangelisasiewerk. Soos die vroeë Christene bied hulle hulle gewillig aan om God se wil te doen en probeer hulle ander help om van Jehovah se Koninkryksbeloftes te leer. Hulle is God se medewerkers wat, in ooreenstemming met sy heilige gees, ander help om Jehovah te dien. Sodoende weerspieël hulle Jehovah se barmhartigheid en liefde vir die ongelowige mensdom. En hulle doen dit ondanks die onverskilligheid, bespotting en vervolging waarmee hulle te kampe kry. Jesus het sy volgelinge daarop voorberei dat mense verskillend op die goeie nuus sou reageer. Hy het gesê: “’n Slaaf is nie groter as sy heer nie. As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg; as hulle my woord onderhou het, sal hulle julle s’n ook onderhou.”—Johannes 15:20.
13. Watter kenmerke wat by die Christendom kortkom, is oorvloedig onder Jehovah se Getuies?
13 Ons kan nie anders nie as om beïndruk te wees met die ooreenkoms tussen hedendaagse Getuies van Jehovah en diegene wat die ware Christelike geloof in die eerste eeu aangeneem het. Wat net so opvallend is, is die kontras tussen Jehovah se Getuies en die Christendom van vandag. Nadat ’n geleerde oor die evangelisasiegees van die vroeë Christene geskryf het, betreur hy dié feit: “Tensy daar ’n algehele verandering in die hedendaagse kerklewe plaasvind sodat die evangelisasiewerk weer eens beskou word as ’n plig van elke gedoopte Christen en dit gerugsteun word deur ’n lewensgehalte wat die beste poging van ongelowiges ver oortref, gaan ons nie ver kom nie.” Die kenmerke wat by die Christendom kortkom, is juis dié wat oorvloedig onder Jehovah se Getuies is! Hulle het ’n lewende geloof, ’n ware geloof en ’n geloof wat op Bybelwaarheid gegrond is, wat hulle voel hulle aan almal wat wil luister, moet verkondig.—1 Timoteus 2:3, 4.
14. Hoe het Jesus sy bediening beskou, en watter gesindheid openbaar sy dissipels vandag?
14 Jesus het sy bediening baie ernstig opgeneem en dit die belangrikste saak in sy lewe gemaak. Hy het vir Pilatus gesê: “Hiervoor is ek gebore, en hiervoor het ek in die wêreld ingekom, om van die waarheid te getuig” (Johannes 18:37). God se volk voel soos Jesus gevoel het. Met Bybelwaarheid in hulle hart probeer hulle maniere vind om dit aan soveel mense moontlik oor te dra. Party van hierdie maniere weerspieël merkwaardige vindingrykheid.
15. Hoe het party vindingrykheid in die verkondiging van die goeie nuus geopenbaar?
15 In een Suid-Amerikaanse land het die Getuies met ’n sytak van die Amasonerivier langs gevaar om mense met die waarheid te bereik. Maar toe burgerlike konflik in 1995 uitgebreek het, is burgerlikes nie meer toegelaat om met die rivier langs te reis nie. Die Getuies was egter vasbeslote om die belangstellendes nog steeds van Bybelpublikasies te voorsien en het besluit om die boodskap stroomaf te laat dryf. Hulle het briewe geskryf en dit saam met eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! in leë plastiekbottels gesit. Dan het hulle die bottels in die rivier gegooi. Hulle het dit vier en ’n half jaar lank gedoen totdat die rivier weer deur burgerlikes gebruik kon word. Oral langs die rivier het mense die Getuies bedank vir die lektuur. ’n Vrou wat ’n Bybelstudent was, het hulle met trane in haar oë omhels en gesê: “Ek het gedink ek sal julle nooit weer sien nie. Maar toe ek die lektuur in die bottels begin ontvang, het ek geweet dat julle my nie vergeet het nie!” Ander wat langs die rivier woon, het gesê dat hulle die tydskrifte oor en oor gelees het. Baie van die gemeenskappe het ’n “poskantoor” gehad—’n draaikolk waar alles wat dryf tydelik versamel het. Dit is waar belangstellendes gereeld gaan kyk het of enige “pos” stroomaf gedryf het.
16. Hoe word die weg soms gebaan om dissipels te maak wanneer ons ons beskikbaar stel?
16 Die verkondiging van die goeie nuus word deur Jehovah God en sy magtige engele gerig en ondersteun (Openbaring 14:6). As ons ons net beskikbaar stel, duik onverwagte geleenthede soms op om dissipels te maak. In Nairobi, Kenia, het twee Christenvroue velddiens gedoen en al die huise in hulle gebied besoek. ’n Jong vrou het skielik na hulle toe gekom en opgewonde gesê: “Ek het gebid om mense soos julle te ontmoet.” Sy het die Getuies gesmeek om onmiddellik na haar huis te kom vir ’n bespreking, en ’n Bybelstudie is daardie selfde dag nog met haar begin. Waarom het die vrou die twee Christene so dringend genader? Omtrent twee weke tevore het haar baba gesterf. Toe sy dus ’n seuntjie sien met die traktaat “Watter hoop vir afgestorwe dierbares?” in sy hand, wou sy dit baie graag hê en het hom gevra om dit vir haar te gee. Hy het geweier, maar het na die Getuies gewys wat hom die traktaat gegee het. Die vrou het spoedig geestelik vooruitgang gemaak en kon die pynlike verlies van haar kind beter verwerk.
God se liefde moet seëvier
17-19. Hoe het Jehovah liefde aan die mensdom betoon deur middel van die losprys?
17 Die groei van God se woord in die hele aarde hang ten nouste saam met die losprysofferande van Christus Jesus. Die predikingswerk is, soos die losprys, ’n blyk van Jehovah se liefde vir mense oor die hele aarde. Die apostel Johannes is geïnspireer om te skryf: “God het die wêreld [van mense] so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”—Johannes 3:16.
18 Dink aan die liefde wat Jehovah getoon het deur die losprys te voorsien. Tallose eeue lank het God ’n hegte verhouding geniet met sy geliefde, enigverwekte Seun, “die begin van die skepping deur God” (Openbaring 3:14). Jesus het sy Vader innig lief, en Jehovah het sy Seun “voor die grondlegging van die wêreld” liefgehad (Johannes 14:31; 17:24). Jehovah het toegelaat dat hierdie geliefde Seun sterf sodat mense die ewige lewe kan verkry. Wat ’n ontsagwekkende blyk van liefde vir die mensdom!
19 Johannes 3:17 sê: “God het sy Seun in die wêreld uitgestuur, nie sodat hy die wêreld moet oordeel nie, maar sodat die wêreld deur middel van hom gered kan word.” Jehovah het dus sy Seun op ’n liefdevolle sending van redding gestuur, nie een van oordeel of veroordeling nie. Dit stem ooreen met Petrus se woorde: “[Jehovah] wil [nie] hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom.”—2 Petrus 3:9.
20. Hoe hou redding verband met die verkondiging van die goeie nuus?
20 Aangesien Jehovah die wetlike grondslag vir redding voorsien het, hoewel dit ’n groot opoffering van hom geverg het, wil hy hê dat soveel moontlik daarby baat moet vind. Die apostel Paulus het geskryf: “‘Elkeen wat die naam van Jehovah aanroep, sal gered word’. Maar hoe sal hulle hom aanroep in wie hulle nie geloof gestel het nie? En hoe sal hulle geloof stel in hom van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe sal hulle hoor sonder dat iemand preek?”—Romeine 10:13, 14.
21. Hoe moet ons voel oor die geleentheid om aan die predikingswerk deel te neem?
21 Watter wonderlike voorreg is dit tog om aan hierdie wêreldwye predikings- en onderrigtingswerk deel te neem! Dit is nie ’n maklike werk nie, maar hoe bly maak dit Jehovah tog wanneer hy sien hoe sy volk getrou die waarheid uitleef en die goeie nuus aan ander verkondig! Wat jou omstandighede dus ook al is, laat God se gees en die liefde in jou hart jou beweeg om aan hierdie werk deel te neem. En onthou dat alles wat ons sien wat regoor die wêreld bereik word, oortuigende bewys lewer dat Jehovah God binnekort sy belofte sal vervul om die glorieryke “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” tot stand te bring waarin “regverdigheid [sal] woon”.—2 Petrus 3:13.
Onthou jy?
• Waarom kon afvalligheid nie die verkondigers van die goeie nuus tot swye bring nie?
• Hoe het die woord van God in ons dag geseëvier?
• Op watter maniere is God se gees vandag werksaam?
• Hoe hou die losprys verband met die verkondiging van die goeie nuus?
[Studievrae]
[Grafiek/Prent op bladsy 16]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Groei in die aantal Koninkryksverkondigers in die 20ste eeu
Gemiddelde aantal verkondigers (in miljoene)
6,0
5,5
5,0
4,5
4,0
3,5
3,0
2,5
2,0
1,5
1,0
0,5
1900 1910 1920 1930 1940 1950 1960 1970 1980 1990 2000
[Prente op bladsy 15]
HIERONIMUS
TYNDALE
GUTENBERG
HUS
[Erkenning]
Gutenberg en Hus: Uit die boek The Story of Liberty, 1878
[Prent op bladsy 15]
Bybelstudente verkondig die goeie nuus in die 1920’s
[Prente op bladsy 16, 17]
Regoor die wêreld reageer mense gunstig op die goeie nuus
[Prent op bladsy 18]
Die predikingswerk vergroot waardering vir God se liefde, soos die losprysofferande van Jesus Christus ook doen