Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gehoorsaamheid—’n Belangrike les as kind?

Gehoorsaamheid—’n Belangrike les as kind?

Gehoorsaamheid—’n Belangrike les as kind?

“OUERS wil individue hê, nie gehoorsame kinders nie.” So het ’n koerantopskrif gelui. Hierdie berig is gebaseer op die uitslag van ’n opname wat in Nieu-Seeland gedoen is, wat getoon het dat slegs “22 persent van die respondente gedink het dat kinders gehoorsaamheid by die huis geleer moet word”. Die opname het ook getoon dat ouers van vandag meen dat dit baie belangriker is om kinders dinge soos goeie maniere, onafhanklikheid en verantwoordelikheid te leer.

In hierdie eeu van individualisme en eiebelang is dit geen wonder dat die meeste mense maar skepties staan teenoor gehoorsaamheid en om dit vir kinders te leer nie. Maar moet gehoorsaamheid vir kinders bloot afgemaak word as outyds of verouderd? Of is dit onder die belangrike lesse wat kinders kan leer en waarby hulle baat kan vind? Nog belangriker, hoe beskou Jehovah God, die Insteller van die gesinsreëling, gehoorsaamheid aan ouers, en wat is van die voordele wat ’n mens uit sulke gehoorsaamheid kan trek?—Handelinge 17:28; Efesiërs 3:14, 15.

“Dít is regverdig”

Die apostel Paulus het aan die eerste-eeuse Christengemeente in Efese geskryf: “Kinders, wees gehoorsaam aan julle ouers in eenheid met die Here, want dít is regverdig” (Efesiërs 6:1). Die hoofrede vir sulke gehoorsaamheid is dus dat dit in ooreenstemming is met God se standaard van wat reg is. Soos Paulus dit gestel het, ‘is dít regverdig’.

In lyn hiermee merk ons op dat God se Woord liefdevolle ouerlike dissipline as ’n sieraad beskryf, “’n lieflike krans vir jou hoof en sierlike kettings vir jou hals” en as iets wat “welbehaaglik in die Here” is (Spreuke 1:8, 9; Kolossense 3:20). In lynregte teenstelling hiermee bring ongehoorsaamheid God se misnoeë mee.—Romeine 1:30, 32.

“Sodat dit met jou goed mag gaan”

Paulus het nog ’n voordeel van gehoorsaamheid genoem toe hy geskryf het: “‘Eer jou vader en jou moeder’; wat die eerste gebod met ’n belofte is: ‘Sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank op die aarde mag bly’” (Efesiërs 6:2, 3; Exodus 20:12). In watter opsigte kan gehoorsaamheid aan ouers ’n mens tot voordeel strek?

In die eerste plek, is dit nie waar dat ouers die voordeel het dat hulle ouer is en meer ondervinding het nie? Hoewel dit dalk nie lyk of hulle veel weet van rekenaars of die een of ander vak wat op skool geleer word nie, weet hulle baie van die lewe en hoe om lewensprobleme die hoof te bied. Daarenteen het jongmense nie die gebalanseerde denke wat met volwassenheid gepaardgaan nie. Hulle is gevolglik geneig om oorhaastig besluite te neem en dikwels aan negatiewe portuurdwang toe te gee—tot hulle groot nadeel. Die Bybel sê tereg dat “sotheid vassit in die hart van die seun”. Wat is die oplossing? “Die tugroede sal dit daaruit verwyder.”—Spreuke 22:15.

Die voordele van gehoorsaamheid strek baie verder as die ouer-kind-verhouding. Vir die mensegemeenskap om vlot en doeltreffend te funksioneer, moet daar samewerking wees, wat weer ’n mate van gehoorsaamheid vereis. Byvoorbeeld, in ’n huwelik sal dit eerder tot vrede, harmonie en geluk lei as huweliksmaats bereid is om toe te gee as wanneer hulle veeleisend en ongevoelig vir ander se regte en gevoelens is. By die werksplek is onderworpenheid van werknemers ’n vereiste om die sukses van enige onderneming of saak te verseker. Wat landswette en -regulasies betref, vrywaar gehoorsaamheid ’n mens nie net van straf nie, maar dit bring ook ten minste ’n mate van veiligheid en beskerming mee.—Romeine 13:1-7; Efesiërs 5:21-25; 6:5-8.

Jongmense wat ongehoorsaam aan gesag is, word dikwels wanaangepaste lede van die samelewing. Daarenteen kan ’n mens regdeur jou lewe baat vind by die les van gehoorsaamheid wat jy as kind geleer het. Hoe voordelig is dit tog om dit in jou kinderjare te leer!

Die wonderlike beloning vir gehoorsaamheid

Gehoorsaamheid bring nie net gelukkige gesinsverhoudinge en ander lewenslange voordele mee nie, maar voorsien ook die grondslag waarop die allerbelangrikste verhouding—dié tussen ’n persoon en sy Skepper—gebou kan word. As die “Grootse Skepper” by wie die “bron van die lewe” is, verdien Jehovah God tereg ons volkome gehoorsaamheid.— Prediker 12:1, NW; Psalm 36:9NW.

Die woord “gehoorsaam” verskyn meer as 160 keer in sy verskeie vorme in die Bybel. Daarbenewens is daar honderde verwysings na God se wette, bevele, gebooie, regterlike beslissings en voorskrifte, wat alles onderdanigheid vereis. Ons word in geen twyfel gelaat dat God gehoorsaamheid as ’n vereiste beskou om sy goedkeuring te geniet nie. Ja, gehoorsaamheid is ’n onontbeerlike bestanddeel om ’n verhouding met Jehovah op te bou (1 Samuel 15:22). Mense is ongelukkig van nature tot ongehoorsaamheid geneig, nie tot gehoorsaamheid nie. “Die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af” (Genesis 8:21). Daarom moet die les van gehoorsaamheid nie net as kind geleer word nie, maar regdeur die lewe. Dit bring ’n groot beloning mee.

Onthou dat die opdrag om aan ouers gehoorsaam te wees, soos die apostel Paulus dit gestel het, met ’n tweeledige belofte gepaardgaan, naamlik “sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank op die aarde mag bly”. Hierdie belofte word in Spreuke 3:1, 2 bevestig: “My seun, vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar; want dit sal lengte van dae en jare van lewe en vrede vir jou vermeerder.” Die groot beloning vir diegene wat gehoorsaam is, is om nou ’n persoonlike verhouding met Jehovah te geniet en in die toekoms die ewige lewe in ’n vreedsame nuwe wêreld.—Openbaring 21:3, 4.

[Prente op bladsy 30, 31]

Gehoorsaamheid lei tot gelukkige verhoudings in die gesin, by die werk en met Jehovah