Jy kan Koninkrykseëninge ontvang
Jy kan Koninkrykseëninge ontvang
DIE Christenapostel Paulus het sekere hooftale van sy dag vlot gepraat. Sy geleerdheid was gelykstaande aan ’n hedendaagse universiteitsopleiding. Hy het al die voordele en regte van ’n Romeinse burger geniet (Handelinge 21:37-40; 22:3, 28). Met sy agtergrond kon hy ryk en beroemd geword het. En tog het hy gesê: “Die dinge wat vir my gewin was, dié het ek weens die Christus as verlies beskou . . . en beskou ek dit as ’n klomp vullis, sodat ek Christus kan wen” (Filippense 3:7, 8). Waarom het Paulus so ’n stelling gemaak?
Paulus, wat voorheen bekend gestaan het as Saulus van Tarsus en as ’n vervolger van diegene “wat tot Die Weg behoort” het, het ’n gelowige geword nadat hy ’n visioen van die verrese en verheerlikte Jesus gegee is (Handelinge 9:1-19). Vir Paulus het hierdie ondervinding op die pad na Damaskus bo alle twyfel bewys dat Jesus die beloofde Messias, of Christus, is, die toekomstige heerser van die beloofde Koninkryk. Dit het ook ’n dramatiese verandering in Paulus se lewe teweeggebring, soos sy kragtige stelling hierbo toon. Met ander woorde, Paulus het berou getoon omdat hy eerlik en opreg van hart was.—Galasiërs 1:13-16.
In die Bybel word die werkwoord “berou toon” dikwels vertaal van ’n Griekse woord wat letterlik beteken “om ná die tyd te weet” teenoor “om vooraf te weet”. Om berou te toon, behels dus dat iemand sy denke, gesindheid of voorneme verander, dat hy sy vorige weë as onbevredigend verwerp (Handelinge 3:19; Openbaring 2:5). In Paulus se geval het hy nie toegelaat dat daardie belangrike gebeurtenis op die pad na Damaskus bloot ’n emosionele of selfs ’n sogenaamde sielservaring bly nie. Dit was vir hom ’n ontwaking tot die feit dat sy vorige lewenswyse, in onkunde omtrent Christus, sinloos was. Hy het ook besef dat hy iets moes doen om sy lewenswyse reg te stel sodat hy by sy nuutgevonde kennis aangaande die Christus baat kon vind.—Romeine 2:4; Efesiërs 4:24.
’n Verandering wat seëninge meegebring het
Paulus het voorheen sy kennis van God grotendeels van die sekte van die Fariseërs gekry, waarvan hy ’n lid was. Hulle opvattings het baie filosofieë en oorleweringe van mense ingesluit. Weens godsdiensvooroordele was Paulus se ywer en pogings misplaas. Hoewel hy gedink het dat hy God dien, het hy eintlik teen hom gestry.—Filippense 3:5, 6.
Nadat hy juiste kennis van die Christus en sy rol in God se voorneme opgedoen het, kon Paulus sien dat hy voor ’n keuse te staan gekom het: Moet hy ’n Fariseër bly en voortgaan om status en aansien te geniet, of moet hy sy lewenswyse verander en begin doen wat ook al nodig is om God se goedkeuring weg te dra? Gelukkig het Paulus die regte keuse gemaak, want hy het gesê: “Ek skaam my nie oor die goeie nuus nie; dit is trouens God se krag tot redding vir elkeen wat geloof het, eers vir die Jood, en ook vir die Griek” (Romeine 1:16). Paulus het ’n ywerige verkondiger van die goeie nuus oor die Christus en die Koninkryk geword.
Baie jare later het Paulus vir sy mede-Christene gesê: “Ek meen nog nie dat ek dit vasgegryp het nie; maar een ding staan vas: Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na die dinge wat voor is, en ek streef na die doel vir die prys van God se roeping na bo deur middel van Christus Jesus” (Filippense 3:13, 14). Paulus het baat gevind by die goeie nuus omdat hy die dinge wat hom van God af weggelei het, gewillig agtergelaat het en heelhartig doelwitte nagestreef het wat in ooreenstemming met God se voorneme was.
Wat sal jy doen?
Moontlik het jy eers onlangs die goeie nuus van die Koninkryk gehoor. Is die hoop op ewige lewe in ’n volmaakte paradys vir jou aanloklik? Dit behoort te wees, want ons almal het die aangebore begeerte om te lewe en om die lewe in vrede en veiligheid te geniet. Die Bybel sê dat God “onbepaalde tyd” in ons hart gesit het (Prediker 3:11, NW). Dit is dus vir ons natuurlik om te hoop op die tyd wanneer mense vir ewig in vrede en geluk kan lewe. En dit is wat die goeie nuus van die Koninkryk bied.
Maar om daardie hoop ’n werklikheid te maak, moet jy ondersoek instel en uitvind waaroor die goeie nuus gaan. Die apostel Paulus het gemaan: ‘Vergewis julle van die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God’ (Romeine 12:2). Nadat jy dus kennis en begrip verkry het, moet jy soos Paulus ’n keuse maak.
Aan die ander kant het jy dalk reeds sekere oortuigings aangaande jou toekoms. Onthou dat Saulus sy idees oor God se wil gehad het voordat hy die apostel Paulus geword het. Maar pleks van ’n wonderdadige openbaring van God af te verwag, kan jy gerus die saak objektief beskou. Vra jou af: ‘Weet ek werklik wat God se wil in verband met die mensdom en die aarde is? Watter bewyse het ek om my oortuigings te staaf? Sal my bewyse standhou wanneer dit in die lig van God se Woord, die Bybel, ondersoek word?’ Dit kan jou nie skade doen om jou godsdiensoortuiging op hierdie manier te ondersoek nie. Trouens, jy behoort dit te wil doen, want die Bybel spoor ons aan: “Maak seker van 1 Tessalonisense 5:21). Is dit per slot van rekening nie God se goedkeuring wat werklik saak maak nie?—Johannes 17:3; 1 Timoteus 2:3, 4.
alle dinge; hou vas aan wat voortreflik is” (Godsdiensleiers beloof ons dalk ’n ewige toekoms. Maar tensy daardie belofte op die leringe van die Bybel gegrond is, sal dit ons nie help om die seëninge van God se Koninkryk te verkry nie. In Jesus se bekende Bergpredikasie het hy dié kragtige waarskuwing gegee: “Nie elkeen wat vir my sê: ‘Here, Here’, sal in die koninkryk van die hemele ingaan nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.”—Matteus 7:21.
Let op die vereiste wat Jesus gestel het om die seëninge van God se Koninkryk te ontvang, naamlik dat ons die wil van sy Vader doen. Met ander woorde, wat dalk na godsvrug lyk, word nie noodwendig deur God goedgekeur nie. Trouens, Jesus het verder gesê: “Baie sal in daardie dag vir my sê: ‘Here, Here, het ons nie in u naam geprofeteer en in u naam demone uitgedryf en in u naam talle kragtige werke verrig nie?’ En tog sal ek dan openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie! Gaan weg van my, julle werkers van wetteloosheid” (Matteus 7:22, 23). Dit is beslis belangrik dat ons seker maak dat ons ’n juiste begrip het van wat die goeie nuus van die Koninkryk werklik is en dan in ooreenstemming daarmee lewe.—Matteus 7:24, 25.
Hulp is beskikbaar
Jehovah se Getuies verkondig nou al meer as 100 jaar lank die goeie nuus van God se Koninkryk. Deur middel van die gedrukte en die gesproke woord help hulle mense regoor die wêreld om juiste kennis op te doen van wat die Koninkryk is, watter seëninge dit sal meebring en wat ’n mens moet doen om hierdie seëninge te ontvang.
Ons spoor jou aan om te luister na die boodskap wat deur Jehovah se Getuies verkondig word. Deur die goeie nuus aan te neem en daarvolgens te lewe, kan jy wonderlike seëninge ontvang, nie net nou nie, maar ook in die toekoms wanneer God se Koninkryk oor die hele aarde regeer.—1 Timoteus 4:8.
Tree nóú op, want die seëninge van God se Koninkryk is op hande!
[Prente op bladsy 7]
Jehovah se Getuies verkondig die goeie nuus van God se Koninkryk deur middel van die gedrukte en die gesproke woord