Aanskou die een wat wonderlike dinge doen!
Aanskou die een wat wonderlike dinge doen!
“Staan stil en gee ag op die wonderlike werke van God.”—JOB 37:14, NW.
1, 2. Watter wonderlike ontdekking is in 1922 gedoen, en wat was die reaksie daarop?
DIE argeoloog en die Engelse lord het jare lank saam na die skat gesoek. Uiteindelik, op 26 November 1922, by die grafte van Egiptiese farao’s in die welbekende Vallei van die Konings, het die argeoloog Howard Carter en lord Carnarvon die skat ontdek—die grafkelder van farao Toetankamen. Toe hulle by ’n verseëlde deur kom, het hulle ’n gat daardeur geboor. Carter het ’n kers deur die opening gesteek en ingeloer.
2 Carter het later vertel: “Toe lord Carnarvon, wat die spanning nie langer kon verduur nie, opgewonde gevra het: ‘Kan jy iets sien?’ kon ek met moeite die woorde uitkry: ‘Ja, wonderlike dinge.’” Onder die duisende skatte in die grafkelder was ’n kis van egte goud. Jy het dalk al van hierdie “wonderlike dinge” op foto’s of in ’n museumuitstalling gesien. Maar al is daardie museumstukke baie wonderlik, hou hulle waarskynlik geen verband met jou lewe nie. Kom ons kyk dus na wonderlike dinge wat jou beslis raak en vir jou van waarde is.
3. Waar vind ons inligting oor wonderlike dinge wat vir ons van waarde kan wees?
3 Dink byvoorbeeld aan ’n man wat baie eeue gelede gelewe het, ’n man wat merkwaardiger as enige rolprentster, sportheld of lid van die koninklike familie was. Hy is die grootste van al die Oosterlinge genoem. Jy sal sy naam herken—Job. ’n Hele Bybelboek handel oor hom. En tog het een van Job se tydgenote, ’n jong man met die naam Elihu, verplig gevoel om hom tereg te wys. Elihu het as ’t ware gesê dat Job te veel aandag aan homself en aan diegene om hom gee. In Job hoofstuk 37 vind ons nog ander spesifieke en wyse raad wat vir elkeen van ons van groot waarde kan wees.—Job 1:1-3, NW; 32:1–33:12.
4. Wat het tot Elihu se vermaning in Job 37:14 aanleiding gegee?
4 Job se drie sogenaamde vriende het breedvoerig beskryf op watter gebiede hulle gedink het dat Job in denke of in daad gesondig het (Job 15:1-6, 16; 22:5-10). Elihu het geduldig gewag totdat die gesprek klaar was. Toe het hy met insig en wysheid gepraat. Hy het heelwat waardevolle punte genoem, maar let op hierdie hoofgedagte: “Luister tog hierna, o Job; staan stil en gee ag op die wonderlike werke van God.”—Job 37:14, NW.
Die Een wat die werke gedoen het
5. Wat sluit “die wonderlike werke van God” in waarna Elihu verwys het?
5 Let op dat Elihu nie gesê het dat Job ag moet gee op Job, op Elihu self of op ander mense nie. Elihu het Job—en ons—wyslik aangespoor om ag te gee op die wonderlike werke van Jehovah God. Wat dink jy sluit die frase “die wonderlike werke van God” in? En met die oog op al die bekommernisse wat jy dalk het oor gesondheid, finansies, die toekoms, jou gesin, werksmaats en bure, waarom moet jy ag gee op God se werke? Die wonderlike werke van Jehovah God sluit ongetwyfeld sy wysheid en sy gesag oor die fisiese skepping oral om ons in (Nehemia 9:6; Psalm 24:1; 104:24; 136:5, 6). Om dit toe te lig, let gerus op ’n gedagte in die boek Josua.
6, 7. (a) Watter wonderlike werke het Jehovah in die dae van Moses en Josua verrig? (b) Hoe sou jy gereageer het as jy een van daardie werke in Moses en Josua se tyd gesien het?
6 Jehovah het plae oor eertydse Egipte gebring en daarna die Rooi See verdeel sodat Moses die eertydse Israeliete na vryheid kon lei (Exodus 7:1–14:31; Psalm 106:7, 21, 22, NW). ’n Soortgelyke gebeurtenis is in Josua hoofstuk 3 opgeteken. Josua, Moses se opvolger, moes God se volk deur nog ’n watermassa na die Beloofde Land lei. Josua het gesê: “Heilig julle, want môre sal Jehovah wonderlike dinge onder julle doen” (Josua 3:5, NW). Watter wonderlike dinge?
7 Wel, die verslag toon dat Jehovah ’n waterversperring, die Jordaanrivier, geopen het sodat derduisende mans, vroue en kinders op droë grond kon deurgaan (Josua 3:7-17). As ons daar was en gesien het hoe die rivier oopgaan en al daardie mense veilig deurloop, sou hierdie wonderlike daad ’n baie diep indruk op ons gemaak het! Dit het God se mag oor die skepping getoon. En tog is daar nou—in ons leeftyd—dinge wat net so wonderlik is. Om te sien wat dit is en waarom ons daarop ag moet gee, moet ons na Job 37:5-7 (NW) kyk.
8, 9. Van watter wonderlike werke praat Job 37:5-7, maar waarom moet ons hieroor nadink?
8 Elihu het verklaar: “God donder met sy stem op ’n wonderbare wyse, terwyl hy groot dinge doen wat ons nie kan weet nie.” Wat het Elihu in gedagte gehad toe hy gesê het dat God dinge “op ’n wonderbare wyse” doen? Wel, hy noem sneeu en stortreën. Dit kan die werk van ’n boer op sy land tot stilstand laat kom en hom tyd en rede gee om op God se werke ag te gee. Ons is miskien nie plaasboere nie, maar ons word dalk deur reën of sneeu geraak. Na gelang van waar ons woon, kan sneeu en reën ook ons bedrywighede onderbreek. Neem ons die tyd om na te dink oor wie vir sulke wonders verantwoordelik is en wat dit beteken? Het jy dit al ooit gedoen?
9 Dit is interessant dat Jehovah God self volgens Job hoofstuk 38 ’n soortgelyke argument gebruik wanneer hy aan Job betekenisvolle vrae stel. Hoewel ons Skepper hierdie vrae aan Job gerig het, het dit ongetwyfeld betrekking op ons gesindheid, ons bestaan en ons toekoms. Laat ons dus kyk wat God gevra het, en laat ons nadink oor hoe dit ons raak, ja, laat ons doen wat Job 37:14 (NW) ons aanspoor om te doen.
10. Watter uitwerking behoort Job hoofstuk 38 op ons te hê, en watter vrae word daarin geopper?
10 Hoofstuk 38 begin as volg: “Jehovah het Job uit die windstorm geantwoord en gesê: ‘Wie is dit wat raad verduister deur woorde sonder kennis? Omgord asseblief jou lendene soos ’n man, en laat ek jou uitvra, en lig jy my in’” (Job 38:1-3, NW). Dit het die regte stemming geskep vir wat volg. Dit het Job gehelp om sy gedagtes in te stel op die feit dat hy voor die Skepper van die heelal staan en dat hy teenoor hom aanspreeklik is. Dit is ook goed as ons en mense van vandag dit kan doen. Daarna noem God soortgelyke dinge as wat Elihu genoem het. “Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het. Wie het sy afmetinge bepaal?—jy weet dit mos! Of wie het daaroor die meetsnoer gespan? Waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy hoeksteen gelê?”—Job 38:4-6.
11. Wat moet Job 38:4-6 ons laat besef?
11 Waar was Job—waar was enigeen van ons—toe die aarde geskep is? Was ons die argitekte wat ons aarde ontwerp het en daardie ontwerp gebruik het om die grootte daarvan af te meet? Natuurlik nie! Die mens het nog nie eers bestaan nie. God vergelyk as ’t ware ons aarde met ’n gebou en vra: “Wie het sy hoeksteen gelê?” Ons weet dat die aarde op presies die regte afstand van ons son is sodat ons kan lewe en die lewe kan geniet. En dit is ook die regte grootte. As die aarde baie groter was, sou waterstof nie uit ons atmosfeer ontsnap het nie, en ons planeet sou nie lewe kon onderhou nie. Dit is duidelik dat iemand “sy hoeksteen” op die regte plek gelê het. Het Job die eer hiervoor verdien? Verdien ons dit? Of verdien Jehovah God die eer hiervoor?—Spreuke 3:19; Jeremia 10:12.
Watter mens het die antwoorde?
12. Waaroor laat die vraag in Job 38:6 ons nadink?
12 God het ook gevra: “Waar is sy fondamentklippe op ingesink?” Is dit nie ’n goeie vraag nie? Ons ken waarskynlik ’n term wat Job nie geken het nie—swaartekrag. Die meeste van ons verstaan dat die swaartekrag wat deur die groot massa van die son uitgeoefen word, ons aarde in posisie hou, asof sy fondamentklippe ingesink is. Maar wie van ons verstaan swaartekrag ten volle?
13, 14. (a) Wat moet ons omtrent swaartekrag erken? (b) Hoe moet ons reageer op die situasie wat in Job 38:6 uiteengesit word?
13 ’n Boek wat onlangs verskyn het, met die titel The Universe Explained, erken dat ‘swaartekrag die bekendste van die natuurkragte is, en tog die een is wat die minste verstaan word’. Dit sê verder: “Swaartekrag beweeg blykbaar oombliklik deur die ruimte sonder dat dit duidelik is hoe dit gebeur. In onlangse jare het fisici egter begin spekuleer dat swaartekrag moontlik in golwe beweeg wat uit deeltjies bestaan wat gravitone genoem word . . . Maar niemand is heeltemal seker of hulle wel bestaan nie.” Dink aan wat dit beteken.
14 Die wetenskap het 3 000 jaar gevorder sedert Jehovah daardie vrae aan Job gestel het. Nogtans kan nie ons of ervare fisici ’n volle verduideliking gee van swaartekrag, wat ons aarde in die regte wentelbaan hou nie—presies in die posisie waar dit moet wees sodat ons die lewe hier kan geniet (Job 26:7; Jesaja 45:18). Dit beteken nie dat ons almal nou ’n diep studie van die geheime van swaartekrag moet maak nie. Maar dit behoort ’n mens se beskouing van God te beïnvloed as jy selfs net op hierdie een aspek van sy wonderlike werke ag gee. Vervul sy wysheid en kennis jou met ontsag, en kan jy sien waarom ons meer aangaande sy wil moet leer?
15-17. (a) Waarop het Job 38:8-11 die aandag gevestig, en tot watter vrae gee dit aanleiding? (b) Wat moet erken word aangaande kennis oor seebekkens en die verspreiding daarvan op die aarde?
15 Die Skepper gaan voort met sy vrae: “Wie het die see met deure afgesluit toe dit uitgebreek, uit die moederskoot voortgekom het? Toe Ek die wolk tot sy kleding gemaak het en die donkerheid tot sy windsel. Toe Ek my grens daarvoor uitgebreek en grendel en deure gemaak het; en gesê het: Tot hiertoe mag jy kom en nie verder nie; en hier word ’n grens gestel vir jou trotse golwe.”—Job 38:8-11.
16 Die afsluiting van die see sluit die vastelande, die oseane en die getye in. Hoe lank neem die mens dit al waar en bestudeer hy dit? Duisende jare lank—en baie intensief in die afgelope eeu. Jy sal dalk dink dat ons nou al omtrent alles behoort te weet wat daaroor uitgevind kan word. Maar wat sal jy in hierdie jaar 2001 vind as jy by groot biblioteke hierdie onderwerp deeglik ondersoek of die ontsaglike navorsingsfasiliteite van die Internet gebruik om die jongste feite op te spoor?
17 In een algemeen aanvaarde naslaanwerk sal jy hierdie erkenning vind: “Die verspreiding van die kontinentale platforms en seebekkens op die oppervlak van die aarde en die verspreiding van die groot terreinvorme is lank reeds van die raaiselagtigste probleme vir wetenskaplike ondersoek en bespiegeling.” Ná hierdie stelling gee die ensiklopedie wat hier aangehaal word, vier moontlike verduidelikings, maar sê dat dit bloot “’n paar van die talle hipoteses” is. ’n Hipotese, soos jy dalk weet, “impliseer onvoldoende bewyse om enigiets meer as ’n onsekere verduideliking te gee”.
18. Tot watter slotsom laat Job 38:8-11 jou kom?
18 Beklemtoon dit nie hoe tydig die vrae is wat ons in Job 38:8-11 lees nie? Ons kan beslis nie die eer vir al hierdie kenmerke van ons planeet kry nie. Dit was nie ons wat die maan so geplaas het dat sy aantrekkingskrag sou help om die getye voort te bring wat gewoonlik nie ons of ons strande oorweldig nie. Jy weet wie dit is, die Een wat wonderlike dinge doen.—Psalm 33:7; 89:10; Spreuke 8:29; Handelinge 4:24; Openbaring 14:7.
Gee aan Jehovah die eer wat hom toekom
19. Op watter fisiese kenmerke vestig die digterlike uitdrukkings in Job 38:12-14 ons aandag?
19 Mense kan nie die eer kry vir die aarde se rotasie, waarna Job 38:12-14 indirek verwys nie. Hierdie rotasie maak die sonsopkoms moontlik, wat dikwels asemrowend mooi is. Terwyl die son opkom, begin kenmerke van ons planeet duideliker word, soos klei wat onder ’n seël van vorm verander. Wanneer ons selfs net vlugtig op die aarde se beweging let, moet ons ons daaroor verwonder dat die aarde nie te vinnig draai nie, wat rampspoedig sou wees, soos ons maklik kan begryp. En dit draai ook nie so stadig dat dae en nagte, wat dan baie langer sou wees, uiterste hitte en koue veroorsaak wat menselewe onmoontlik sou maak nie. Om die waarheid te sê, ons behoort baie bly te wees dat die rotasiespoed deur God bepaal is, en nie deur ’n groep mense nie.—Psalm 148:1-5.
20. Hoe sou jy die vrae beantwoord wat in Job 38:16, 18 gestel is?
20 Stel jou nou voor dat God jou hierdie verdere vrae vra: “Het jy gekom tot by die bronne van die see? En het jy rondgewandel in die binneste diepte van die wêreldvloed?” Nie eers ’n oseanograaf kan dit ten volle beantwoord nie! “Omvat jou begrip die breedtes van die aarde? Gee te kenne as jy dit alles weet” (Job 38:16, 18). Het jy reeds ál die plekke op aarde besoek of selfs die meeste daarvan? Hoeveel leeftye sal dit in beslag neem om die pragtige plekke en wonders van ons aarde te ondersoek? En watter wonderlike leeftye sou dit tog wees!
21. (a) Tot watter wetenskaplike menings kan die vrae in Job 38:19 lei? (b) Wat moet die feite omtrent lig ons beweeg om te doen?
21 Kyk ook na die diep vrae in Job 38:19: “Waar is tog die weg na die woning van die lig? En die duisternis—waar is tog sy plek”? Jy weet miskien dat dit lank die algemene beskouing was dat lig soos ’n golf beweeg, soos die rimpels wat ons op ’n poel kan dophou. Toe het Albert Einstein in 1905 verduidelik dat lig soos pakkies, of deeltjies, energie reageer. Het dit die saak opgelos? Wel, ’n nuwe ensiklopedie vra: “Is lig ’n golf of ’n deeltjie?” Dit antwoord: “[Lig] kan blykbaar nie al twee wees nie, want die twee modelle [golwe en deeltjies] is so verskillend. Die beste antwoord is dat lig streng gesproke nie een van die twee is nie.” Nogtans word ons nog altyd (direk en indirek) deur sonlig warm gehou, al kan geen mens hierdie aspek van God se werke ten volle verduidelik nie. Ons neem voedsel en suurstof in wat vervaardig word omdat plante op lig reageer. Ons kan lees, die gesigte van ons geliefdes sien, na sonsondergange kyk, ensovoorts. Moet ons nie erkenning gee aan die wonderlike werke van God wanneer ons hierdie dinge doen nie?—Psalm 104:1, 2; 145:5, NW; Jesaja 45:7; Jeremia 31:35.
22. Hoe het Dawid van die ou tyd op God se wonderlike werke gereageer?
22 Moet ons bloot nadink oor Jehovah se wonderlike werke sodat ons beïndruk kan wees, asof dit alles ons betower of verstom? Beslis nie. Die eertydse psalmis het erken dat dit onmoontlik is om al God se werke te verstaan en te bespreek. Dawid het geskryf: “Baie dinge het u gedoen, o Jehovah my God, ja, u wonderlike werke . . . Sou ek geneig wees om dit te verkondig en daaroor te praat, het dit te talryk geword om te vertel” (Psalm 40:5, NW). Maar hy het beslis nie bedoel dat hy sou stilbly oor hierdie groot werke nie. Dawid het dit bewys deur in Psalm 9:1 (NW) sy vasbeslotenheid so uit te druk: “Ek sal u prys, o Jehovah, met my hele hart; ek sal al u wonderlike werke bekend maak.”
23. Wat is jou reaksie op God se wonderlike werke, en hoe kan jy ander help?
23 Moet dit ons nie ook so beweeg nie? Moet ons ontsag vir God se grootse werke ons nie beweeg om van hom te praat, van wat hy gedoen het en nog gaan doen nie? Die antwoord is voor die hand liggend—ons moet “onder die nasies sy heerlikheid bekend [maak], onder al die volke sy wonderlike werke” (Psalm 96:3-5, NW). Ja, ons kan ons nederige waardering vir die wonderlike werke van God toon deur met ander te praat oor die dinge wat ons omtrent hom geleer het. Al het hulle grootgeword in ’n samelewing wat nie die Skepper se bestaan erken nie, kan ons positiewe, leersame kommentare hulle help besef dat daar wel ’n God is. Bowendien kan dit hulle beweeg om die een wat “alles geskep” het, die Een wat wonderlike werke doen, Jehovah, te leer ken en te dien.—Openbaring 4:11.
Hoe sal jy antwoord?
• Oor watter werke van God laat die aansporing in Job 37:14 jou nadink?
• Wat is ’n paar van die dinge wat in Job hoofstukke 37 en 38 bespreek word wat die wetenskap nie ten volle kan verduidelik nie?
• Hoe voel jy oor die wonderlike werke van God, en wat beweeg dit jou om te doen?
[Studievrae]
[Prent op bladsy 7]
Wie het die see afgesluit en dit in sy posisie gehou?
[Prent op bladsy 7]
Wie het reeds ál die pragtige plekke op ons aarde besoek wat deur God geskep is?