Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die kerkvaders—Voorstanders van Bybelwaarheid?

Die kerkvaders—Voorstanders van Bybelwaarheid?

Die kerkvaders—Voorstanders van Bybelwaarheid?

Hetsy jy bely dat jy ’n Christen is of nie, jou beskouing van die God van die Bybel, van Jesus en van die Christelike geloof is heel moontlik deur hulle beïnvloed. Een van hulle is Goue mond genoem; ’n ander een, Groot. As ’n groep is hulle beskryf as “die grootste beliggaming van die lewe van Christus”. Wie is hulle? Hulle is die eertydse godsdiensdenkers, -skrywers, -teoloë en -filosowe wat vandag se “Christelike” denke in groot mate gevorm het—die Kerkvaders.

“DIE Bybel is nie die hele woord van God nie”, beweer Grieks-Ortodokse professor in die godsdienswetenskap Demetrios J. Constantelos. “Die Heilige Gees wat die woord van God openbaar, kan nie tot die bladsye van ’n boek beperk word nie.” Wat kan hoegenaamd nog ’n betroubare bron van Goddelike openbaring wees? Constantelos beweer in sy boek Understanding the Greek Orthodox Church: “Heilige Tradisie en die Heilige Skrif [word] as twee kante van dieselfde muntstuk beskou.”

Die wese van daardie “Heilige Tradisie” sluit die leringe en geskrifte van die Kerkvaders in. Hulle was vooraanstaande teoloë en “Christen”-filosowe wat tussen die tweede en vyfde eeu G.J. gelewe het. In watter mate het hulle hedendaagse “Christelike” denke beïnvloed? Het hulle in hulle leringe streng by die Bybel gebly? Wat behoort die stewige grondslag van Christelike waarheid vir ’n volgeling van Jesus Christus te wees?

Geskiedkundige agtergrond

In die middel van die tweede eeu G.J. het verklaarde Christene hulle geloof teen Romeinse vervolgers sowel as ketters verdedig. Dit was egter ’n era van te veel teologiese menings. Godsdiensdebatte oor die “godheid” van Jesus, asook die natuur en werkinge van die heilige gees, het meer as net intellektuele skeuringe veroorsaak. Hewige meningsverskille en onherstelbare verdeeldhede oor “Christelike” leerstellings het na politieke en kulturele kringe uitgebrei en soms tot oproere, rebellie, burgerlike konflikte en selfs oorlog gelei. Die geskiedskrywer Paul Johnson skryf: “Die [afvallige] Christelike godsdiens het met verwarring, twiste en skeuringe begin en so voortgegaan. . . . In die eerste en tweede eeu n.C. was daar ’n mag der menigte godsdiensidees in die sentrale en oostelike Mediterreense gebiede en het hulle hard probeer om steun vir hulleself te werf. . . . Van die begin af was daar dus tallose vorme van die Christelike geloof wat min in gemeen gehad het.”

Gedurende daardie tydperk het skrywers en denkers wat dit noodsaaklik geag het om “Christelike” leringe in filosofiese terme te vertolk, begin floreer. Om geleerde heidene tevrede te stel wat nuwe bekeerlinge tot “die Christelike geloof” was, het hierdie godsdiensskrywers grootliks op vroeëre Griekse en Joodse literatuur staatgemaak. Van Justinus die Martelaar af (ca. 100-165 G.J.), wat in Grieks geskryf het, het verklaarde Christene die filosofiese erfenis van die Griekse kultuur op ’n al hoe meer intellektuele manier opgeneem.

Hierdie neiging het tot rypheid gekom in die geskrifte van Origines (ca. 185-254 G.J.), ’n Griekse skrywer van Aleksandrië. Origines se verhandeling On First Principles was die eerste stelselmatige poging om die hoofleerstellings van “Christelike” teologie ooreenkomstig Griekse filosofie te verduidelik. Die Konsilie van Nicea (325 G.J.), wat probeer het om die “godheid” van Christus te verduidelik en te vestig, was die mylpaal wat opnuut momentum aan die vertolking van “Christelike” dogma gegee het. Daardie konsilie het die begin van ’n tydperk ingelui waartydens algemene kerkrade dogma al hoe noukeuriger probeer omskryf het.

Skrywers en redenaars

Eusebius van Sesarea, wat ten tye van die eerste Konsilie van Nicea geskryf het, het hom met keiser Konstantyn vereenselwig. Net bietjie meer as 100 jaar ná Nicea het teoloë, waarvan die meeste in Grieks geskryf het, in ’n lang en hewige debat ’n leerstelling ontwikkel wat die kenmerkende leerstelling van die Christendom sou word, die Drie-eenheid. Die vernaamste onder hulle was Atanasius, die selfversekerde biskop van Aleksandrië, en drie kerkleiers van Kappadosië, Klein-Asië—Basilius die Grote, sy broer Gregorius van Nyssa en hulle vriend Gregorius van Nazianze.

Skrywers en predikers het gedurende daardie tydperk hoë standaarde van welsprekendheid bereik. Gregorius van Nazianze en Johannes Chrysostomus (wat “Goue mond” beteken) sowel as Ambrosius van Milaan en Augustinus van Hippo was bedrewe redenaars in Grieks en Latyn onderskeidelik, meesters van die mees hoogaangeskrewe en gewildste kunsvorm van hulle tyd. Die invloedrykste skrywer van daardie tydperk was Augustinus. Sy teologiese verhandelinge het die “Christelike” denke van vandag op verreikende wyse gevorm. Hieronimus, die vernaamste letterkundige van die tyd, was hoofsaaklik verantwoordelik vir die Latynse Vulgaat-vertaling van die Bybel uit die oorspronklike tale.

Maar belangrike vrae is: Het daardie Kerkvaders streng by die Bybel gebly? Het hulle in hulle leringe aan die geïnspireerde Skrif vasgehou? Is hulle geskrifte ’n betroubare gids tot juiste kennis van God?

Leringe van God of leringe van mense?

Die Grieks-Ortodokse aartsbiskop Metodius van Pisidië het onlangs die boek The Hellenic Pedestal of Christiany geskryf om te bewys dat Griekse kultuur en filosofie die infrastruktuur van hedendaagse “Christelike” denke voorsien het. In hierdie boek erken hy onomwonde: “Byna al die vooraanstaande Kerkvaders het die Griekse elemente as uiters nuttig beskou, en hulle het dit van die Griekse klassieke Oudheid oorgeneem en dit gebruik as ’n middel om die Christelike waarhede te verstaan en korrek uit te druk.”

Neem byvoorbeeld die idee dat die Vader, die Seun en die heilige gees die Drie-eenheid vorm. Baie Kerkvaders het ná die Konsilie van Nicea stoere Trinitariërs geword. Hulle geskrifte en verklarings het ’n deurslaggewende rol daarin gespeel om die Drie-eenheid ’n vername leerstelling van die Christendom te maak. Maar word die Drie-eenheid in die Bybel gevind? Nee. Waar het die Kerkvaders dit dan gekry? Volgens A Dictionary of Religious Knowledge sê baie dat die Drie-eenheid “’n afwyking is wat van die heidense godsdienste oorgeneem en op die Christelike geloof geënt is”. En The Paganism in Our Christianity bevestig dit: “Die oorsprong van die [Drie-eenheid] is heeltemal heidens.” aJohannes 3:16; 14:28.

Of dink aan die leerstelling van die onsterflikheid van die siel, ’n oortuiging dat ’n deel van die mens ná die dood van die liggaam voortleef. Weer eens was dit die Kerkvaders wat gehelp het om hierdie opvatting aan ’n godsdiens bekend te stel wat geen leerstelling gehad het van ’n siel wat ná die dood voortleef nie. Die Bybel toon duidelik dat die siel kan sterf: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4). Wat was die grondslag van die Kerkvaders se geloof in ’n onsterflike siel? “Die Christelike begrip van ’n geestelike siel wat deur God geskep is en tydens bevrugting in die liggaam gesit word om die mens ’n lewende geheel te maak, is die produk van ’n lang ontwikkelingsproses in die Christelike filosofie. Dit was eers met Origines in die Ooste en St. Augustinus in die Weste dat die siel aanvaar is as iets geesteliks en dat daar ’n filosofiese begrip van die natuur daarvan gevorm is. . . . [Augustinus se leer] . . . (insluitende party tekortkominge) is grotendeels ’n uitvloeisel van Neo-Platonisme”, sê die New Catholic Encyclopedia. En die tydskrif Presbyterian Life sê: “Die onsterflikheid van die siel is ’n Griekse opvatting wat in antieke misteriekultusse ontstaan het en waarop die filosoof Plato uitgebou het.” b

Die stewige grondslag van Christelike waarheid

Ná selfs net hierdie kort ondersoek van die geskiedkundige agtergrond van die Kerkvaders, sowel as die oorsprong van hulle leringe, is dit gepas om te vra: Moet ’n opregte Christen sy of haar oortuigings op die leringe van die Kerkvaders baseer? Laat die Bybel antwoord.

In die eerste plek het Jesus Christus self die gebruik van die godsdienstitel “Vader” verwerp toe hy gesê het: “Moet niemand op aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, die Een in die hemel” (Matteus 23:9). Die gebruik van die term “Vader” om enige godsdiensfiguur te onderskei, is onchristelik en onskriftuurlik. Die geskrewe Woord van God is omstreeks 98 G.J. met die geskrifte van die apostel Johannes voltooi. Daarom hoef ware Christene nie op enige mens as die bron van geïnspireerde openbaring staat te maak nie. Hulle maak seker dat hulle nie ‘die woord van God kragteloos maak’ weens oorleweringe van mense nie. Dit is geestelik dodelik om toe te laat dat oorleweringe van mense die plek van God se Woord inneem. Jesus het gewaarsku: “As ’n blinde man . . . ’n blinde man lei, sal albei in ’n gat val.”—Matteus 15:6, 14.

Het ’n Christen enige openbaring nodig benewens die woord van God soos dit in die Bybel vervat is? Nee. Die boek Openbaring waarsku ons om nie iets by die geïnspireerde verslag te voeg nie: “As iemand ’n byvoeging by hierdie dinge maak, sal God vir hom die plae byvoeg wat in hierdie boekrol geskrywe staan.”—Openbaring 22:18.

Christelike waarheid word in die geskrewe Woord van God, die Bybel, gevind (Johannes 17:17; 2 Timoteus 3:16; 2 Johannes 1-4). Die juiste begrip daarvan hang nie af van sekulêre filosofie nie. Wat mense betref wat menslike wysheid probeer gebruik om Goddelike openbarings te verklaar, is dit gepas om die apostel Paulus se vrae te herhaal: “Waar is die wyse? Waar die skrifgeleerde? Waar die debatteerder van hierdie stelsel van dinge? Het God nie die wysheid van die wêreld dwaas gemaak nie?”—1 Korintiërs 1:20.

Daarbenewens is die ware Christengemeente “’n pilaar en stut van die waarheid” (1 Timoteus 3:15). Die opsieners daarvan maak seker dat hulle onderrigting in die gemeente suiwer is en voorkom dat enige leerstellige besmetting insypel (2 Timoteus 2:15-18, 25). Hulle hou ‘valse profete, valse leermeesters en verderflike sektes’ uit die gemeente (2 Petrus 2:1). Ná die dood van die apostels het die Kerkvaders toegelaat dat “misleidende geïnspireerde uitinge en leringe van demone” in die Christengemeente wortelskiet.—1 Timoteus 4:1.

Die gevolge van hierdie afvalligheid is vandag duidelik te sien in die Christendom. Die oortuigings en gebruike daarvan is ver verwyderd van Bybelwaarheid.

[Voetnote]

a ’n Breedvoerige bespreking van die leerstelling van die Drie-eenheid kan gevind word in die brosjure Moet jy aan die Drie-eenheid glo?, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word.

b Sien bladsye 84-91 en 374-9 van Redenering uit die Skrif, wat deur Jehovah se Getuies uitgegee word, vir ’n breedvoerige bespreking oor wat die Bybel aangaande die siel leer.

[Venster/Prent op bladsy 18]

DIE KAPPADOSIESE VADERS

“Die Ortodokse Kerk . . . het besondere agting vir die skrywers van die vierde eeu, en veral vir diegene wat hulle ‘die drie Groot Kerkhoofde’ noem, Gregorius van Nazianze, Basilius die Grote en Johannes Chrysostomus”, sê die skrywer Kallistos, wat ’n monnik is. Het hierdie Kerkvaders hulle leerstellings op die geïnspireerde Skrif gegrond? Die boek The Fathers of the Greek Church sê aangaande Basilius die Grote: “Sy geskrifte toon dat hy hom sy hele lewe lank grootliks vereenselwig het met Plato, Homerus en die geskiedskrywers en redenaars, en hulle het beslis sy styl beïnvloed. . . . Basilius het ’n ‘Griek’ gebly.” Dieselfde was waar van Gregorius van Nazianze. “Na sy mening sou die oorwinning en die voortreflikheid van die Kerk die duidelikste getoon word deur die tradisies van die klassieke kultuur in die geheel aan te neem.”

Professor Panagiotis K. Christou skryf oor hulle al drie: “Hoewel hulle nou en dan waarsku teen ‘filosofie en leë bedrog’ [Kolossense 2:8]—om in ooreenstemming met die gebod van die Nuwe Testament te wees—bestudeer hulle terselfdertyd ywerig die filosofie en die verwante studierigtings en raai hulle selfs ander aan om dit te bestudeer.” Sulke kerkleraars het blykbaar gedink dat die Bybel nie genoeg was om hulle idees te steun nie. Kan die feit dat hulle ander pilare van gesag gesoek het, beteken dat hulle leerstellings onbybels was? Die apostel Paulus het Hebreeuse Christene gewaarsku: “Moet julle nie deur verskillende en vreemde leringe laat meesleep nie.”—Hebreërs 13:9.

[Erkenning]

© Archivo Iconografico, S.A./CORBIS

[Venster/Prent op bladsy 20]

CYRILLUS VAN ALEKSANDRIË—’N OMSTREDE KERKVADER

Een van die mees omstrede figure onder die Kerkvaders is Cyrillus van Aleksandrië (ca. 375-444 G.J.). Die kerkgeskiedskrywer Hans von Campenhausen beskryf hom as “dogmaties, gewelddadig en geslepe, met ’n oordrewe bewustheid van die grootheid van sy roeping en die waardigheid van sy amp”, en voeg by dat “niks ooit in sy oë reg was nie, tensy dit vir hom nuttig was om sy mag en gesag uit te brei . . . Hy het nooit sleg gevoel oor sy wrede en gewetenlose metodes nie.” Terwyl hy die biskop van Aleksandrië was, het Cyrillus van omkopery, smaadskrifte en beswaddering gebruik gemaak om die biskop van Konstantinopel van sy amp onthef te kry. Hy word verantwoordelik gehou vir die wrede moord in 415 G.J op ’n bekende filosoof met die naam Hypatia. Campenhausen sê oor Cyrillus se teologiese geskrifte: “Hy het die gebruik begin om besluite oor kwessies van geloof nie geheel en al op die Bybel te grond nie, maar deur gepaste aanhalings en versamelings van aanhalings van erkende geleerdes te gebruik.”

[Prent op bladsy 19]

Hieronimus

[Erkenning]

Garo Nalbandian