Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om negatiewe gevoelens die hoof te bied

Hoe om negatiewe gevoelens die hoof te bied

Hoe om negatiewe gevoelens die hoof te bied

● Asaf het gekla: “Waarlik, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in onskuld gewas. Die hele dag tog is ek geslaan, en my tugtiging was daar elke môre.”—Psalm 73:13, 14.

● Barug het gesug en gesteun: “Wee my tog, want die HERE het kommer aan my smart toegevoeg; ek is moeg van my gesug en vind geen rus nie!”—Jeremia 45:3.

● Naomi het getreur: “Die Almagtige het my baie bitterheid aangedoen. Vol het ek weggetrek, maar leeg het die HERE my laat terugkom. Waarom sou julle my Naomi noem, terwyl die HERE teen my getuig het, en die Almagtige my kwaad aangedoen het?”—Rut 1:20, 21.

DIE Bybel bevat talle voorbeelde van getroue aanbidders van Jehovah wat soms deur ontmoediging oorweldig is. Feit is, as onvolmaakte mense ondervind ons almal van tyd tot tyd sulke gevoelens. Party van ons raak dalk makliker as ander ontmoedig—en voel miskien selfs ’n mate van selfbejammering—weens tragiese ondervindinge in die lewe.

Maar as ’n mens nie iets omtrent hierdie emosies doen nie, kan dit jou verhouding met ander en met Jehovah God skaad. ’n Christenvrou wat geneig is om haarself te bejammer, erken: “Ek het al baie uitnodigings na gesellighede van die hand gewys omdat ek voel dat ek nie waardig is om met diegene in die gemeente te assosieer nie.” Watter verwoestende uitwerking kan sulke gevoelens tog op ’n mens se lewe hê! Wat kan jy doen om dit teë te werk?

Kom na aan Jehovah

In Psalm 73 het Asaf openhartig oor sy verwarde toestand geskryf. Toe hy sy eie omstandighede met die voorspoedige lewe van die goddeloses vergelyk het, het hy afgunstig op hulle geword. Hy het gesien hoe die goddelose hoogmoedig en gewelddadig optree en blykbaar skotvry daarvan afkom. Asaf het toe twyfel uitgespreek oor die nut wat dit vir hom het om ’n regskape lewe te lei.—Psalm 73:3-9, 13, 14.

Het jy, soos Asaf, die oënskynlike sukses gesien van die goddeloses wat met hulle slegte dade spog? Hoe het Asaf sy negatiewe gevoelens te bowe gekom? Hy sê verder: “Ek [het] nagedink om dit te verstaan, maar dit was moeite in my oë, totdat ek in die heiligdomme van God ingegaan en op hulle einde gelet het” (Psalm 73:16, 17). Asaf het positiewe stappe gedoen deur Jehovah in gebed te nader. Om dit in die woorde te stel wat die apostel Paulus later gebruik het, het Asaf die “fisiese mens” onderdruk deur die “geestelike mens” in hom op te wek. Met hernieude geestelike insig het hy begryp dat Jehovah die kwaad haat en dat Hy die goddeloses op die bestemde tyd sal straf.—1 Korintiërs 2:14, 15.

Hoe noodsaaklik is dit tog dat jy toelaat dat die Bybel jou help om die werklikheid van die lewe raak te sien! Jehovah herinner ons aan die feit dat hy nie blind is vir wat goddelose mense doen nie. Die Bybel leer ons: “Moenie mislei word nie: God laat hom nie bespot nie. Want wat ’n mens ook al saai, dit sal hy ook maai . . . Laat ons derhalwe nie ophou om te doen wat voortreflik is nie” (Galasiërs 6:7-9). Jehovah sal die goddeloses “op gladde plekke” stel; hy sal hulle ‘in puin laat val’ (Psalm 73:18). Goddelike geregtigheid sal altyd op die ou end seëvier.

’n Konstante geestelike voedingsprogram by Jehovah se tafel en heilsame omgang met God se volk sal jou help om jou geloof te versterk en ontmoediging of ander negatiewe gevoelens te bowe te kom (Hebreërs 10:25). As jy soos Asaf na aan God bly, kan jy sy liefdevolle ondersteuning geniet. Asaf sê verder: “Ek [is] altyddeur by U; U het my regterhand gevat. U sal my lei deur u raad en my daarna in heerlikheid opneem” (Psalm 73:23, 24). ’n Christen wat as kind mishandel is, het die wysheid van hierdie woorde geleer. “Deur noue omgang met die gemeente te geniet”, sê sy, “het ek ’n ander kant van die lewe gesien. Ek het baie duidelik gesien dat die Christen- ouer manne liefdevol was, dat hulle nie polisiemanne was nie, maar herders.” Ja, medelydende Christen- ouer manne speel ’n baie belangrike rol daarin om skadelike emosies te verdryf.—Jesaja 32:1, 2; 1 Tessalonisense 2:7, 8.

Aanvaar Jehovah se raad

Barug, die sekretaris van die profeet Jeremia, het gesug en gesteun weens die emosionele druk van sy toewysing. Maar Jehovah het Barug se aandag liefdevol op die werklikheid gevestig. “Sou jy vir jou groot dinge soek? Soek dit nie; want kyk, Ek bring onheil oor alle vlees, spreek die HERE; maar Ek sal jou siel vir jou as buit gee in al die plekke waarheen jy sal gaan.”—Jeremia 45:2-5.

Jehovah het reguit vir Barug gesê dat sy eie selfsugtige strewes die bron van sy frustrasie was. Barug kon nie vreugde uit sy godgegewe toewysing put terwyl hy terselfdertyd groot dinge vir homself gesoek het nie. Jy sal dalk ook vind dat dit ’n mens werklik help om ontmoediging te bowe te kom as jy afleidings vermy en die gemoedsrus wat uit godvrugtige tevredenheid spruit, jou eie maak.—Filippense 4:6, 7.

As weduwee het Naomi nie toegelaat dat rampspoed haar onderkry toe haar man en twee seuns in Moab gesterf het nie. Maar dit wil tog voorkom of sy ’n tyd lank bitter gevoelens gehad het oor haarself en haar twee skoondogters. Toe sy hulle wou wegstuur, het Naomi gesê: “Weens julle is dit vir my baie bitter dat die hand van Jehovah teen my uitgegaan het.” En toe sy by Betlehem aankom, het sy weer eens nadruklik gesê: “Moet my nie Naomi [“My Welbehae”] noem nie. Noem my Mara [“Bitterheid”], want die Almagtige het dit vir my baie bitter gemaak.”—Rut 1:13, 20NW.

Naomi het haar egter nie heeltemal afgesonder van Jehovah en sy volk en heeltyd gerou nie. In Moab het sy gehoor dat ‘Jehovah op sy volk ag gegee het deur aan hulle brood te gee’ (Rut 1:6). Sy het besef dat die beste plek vir haar saam met Jehovah se volk was. Naomi het daarna saam met haar skoondogter Rut na Juda teruggekeer en Rut op bedrewe wyse gehelp om reg op te tree teenoor hulle naasbestaande Boas, haar losser.

Vandag kan lojale persone wat hulle huweliksmaat aan die dood afgestaan het, eweneens die emosionele spanning met welslae die hoof bied deur besig te bly in die Christengemeente. Soos Naomi lê hulle hulle voortdurend toe op geestelike dinge en lees hulle God se Woord daagliks.

Die voordele as Goddelike wysheid toegepas word

Hierdie Bybelverslae gee ons insig in hoe ’n mens die uitwerking van negatiewe gevoelens die hoof kan bied. Asaf het na Jehovah se heiligdom gegaan vir hulp en geduldig op Jehovah gewag. Barug het na raad geluister en materialistiese afleidings vermy. Naomi het besig gebly onder Jehovah se volk en die jong vrou Rut op haar voorregte in die aanbidding van die ware God voorberei.—1 Korintiërs 4:7; Galasiërs 5:26; 6:4.

Jy kan ontmoediging en ander negatiewe gevoelens te bowe kom deur gedurig na te dink oor die Goddelike oorwinnings wat Jehovah sy volk gegee het, as individue en as ’n groep. Peins oor Jehovah se allergrootste daad van liefde—die losprys wat hy vir jou voorsien het. Waardeer die ware liefde van die Christenbroederskap. Hou jou verstand gerig op jou lewe in God se nuwe wêreld wat so naby is. En mag jy soos Asaf reageer: “Wat my betref, dit is vir my goed om nader aan God te kom. In die Soewereine Heer Jehovah het ek my toevlug gestel, om al u werke bekend te maak.”—Psalm 73:28, NW.