Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jy kan welslae behaal ten spyte van jou agtergrond

Jy kan welslae behaal ten spyte van jou agtergrond

Jy kan welslae behaal ten spyte van jou agtergrond

NICOLAAS was van kleins af geneig om opstandig te wees. a Mettertyd het sy innerlike konflikte hom tot dwelmmisbruik en strawwe drinkery gedryf. Nicolaas verduidelik: “My pa was ’n alkoholis, en hy het my en my suster baie mishandel.”

Malinda se ouers was skynbaar gesiene kerkgangers in hulle gemeenskap. Maar hulle was ook diep betrokke by ’n kultus. “Tydens party van hulle kultusgebruike is ek misbruik, en dit het my gees as kind gebreek”, sê Malinda, wat nou in haar dertigerjare is. Sy sê voorts: “Vandat ek kan onthou, is die gevoel van wanhoop en die gevoel van nutteloosheid ’n deel van my.”

Wie van ons kan ontken dat die kinderjare van baie geskend is deur geweld, mishandeling, verwaarlosing deur ouers en ander negatiewe faktore? Die letsels van ongelukkige kinderjare kan diep wees. Maar moet sulke letsels ’n mens vir ewig verhinder om die waarheid van God se Woord aan te neem en werklik gelukkig te wees? Kan Nicolaas en Malinda daarin slaag om handhawers van onkreukbaarheid te wees ten spyte van hulle agtergrond? Kom ons kyk eers na die voorbeeld van die Judese koning Josia.

’n Skriftuurlike voorbeeld

Josia het 31 jaar oor Juda regeer in die sewende eeu v.G.J. (659-629 v.G.J.). Toe Josia ná die moord op sy vader op die troon geplaas is, was toestande in Juda baie sleg. Juda en Jerusalem was gevul met Baälaanbidders en diegene wat by die vernaamste Ammonitiese god, Milkom, gesweer het. Die Judese vorste was “brullende leeus”, en die regters “aandwolwe”, het Sefanja, wat destyds ’n profeet van God was, gesê. Gevolglik het geweld en bedrog oral in die land voorgekom. Baie het in hulle hart gesê: “Die HERE doen geen goed en Hy doen geen kwaad nie.”—Sefanja 1:3–2:3; 3:1-5.

Watter soort heerser was Josia? Die Bybelskrywer Esra skryf: “[Josia] het gedoen wat reg was in die oë van die HERE en gewandel in die weë van sy vader Dawid en nie regs of links afgewyk nie” (2 Kronieke 34:1, 2). Josia het blykbaar daarin geslaag om te doen wat reg was in God se oë. Maar watter soort familieagtergrond het hy gehad?

Aangename of moeilike kinderjare?

Toe Josia in 667 v.G.J. gebore is, was sy vader, Amon, maar net 16 jaar oud, en sy oupa Manasse het oor Juda regeer. Manasse was een van die goddeloosste konings wat nog oor Juda regeer het. Hy het altare vir Baäl opgerig en “op groot skaal gedoen wat sleg was in die oë van Jehovah”. Hy het sy seuns deur die vuur laat gaan, toorkuns beoefen, waarsêers geraadpleeg, spiritistiese gebruike bevorder en geweldig baie onskuldige bloed vergiet. Manasse het ook die gesnede beeld van die heilige paal wat hy gemaak het, in die huis van Jehovah gebring. Hy het Juda en Jerusalem verlei “om erger dinge te doen as die nasies wat Jehovah voor die kinders van Israel uit verdelg het”.—2 Kronieke 33:1-9NW.

Manasse was so sleg dat Jehovah hom met kettings laat boei en na Babilon, een van die Assiriese monarg se koninklike stede, laat neem het. Terwyl Manasse in gevangenskap was, het hy hom bekeer, hom verootmoedig en Jehovah om vergifnis gesmeek. God het sy versoek om guns aangehoor en hom as koning in Jerusalem herstel. Manasse het toe met ’n mate van welslae veranderinge aangebring.—2 Kronieke 33:10-17.

Watter uitwerking het Manasse se goddeloosheid en sy gevolglike berou op sy seun Amon gehad? Hy was ook baie goddeloos. Toe Manasse hom bekeer en ’n poging aangewend het om die nasie van die onreinhede te suiwer wat hy self ingestel het, het Amon nie daarop gereageer nie. Toe Amon die troon op 22-jarige ouderdom bestyg het, het hy “gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, soos sy vader Manasse gedoen het”. Pleks van hom voor Jehovah te verootmoedig, het Amon “die skuld vermeerder” (2 Kronieke 33:21-23). Josia was net ses jaar oud toe Amon die koning van Juda geword het. Hoe verskriklik moes Josia se kinderjare tog gewees het!

Amon se goddelose heerskappy het ná twee jaar geëindig toe sy knegte teen hom saamgesweer en hom doodgemaak het. Die volk van die land het egter Amon se samesweerders doodgemaak en sy seun, Josia, koning gemaak.—2 Kronieke 33:24, 25.

Ten spyte van die negatiewe omstandighede in sy vroeë kinderjare het Josia gedoen wat goed was in Jehovah se oë. Sy heerskappy was so suksesvol dat die Bybel sê: “Voor hom was daar geen koning soos hy nie wat hom tot die HERE bekeer het met sy hele hart en met sy hele siel en met al sy krag volgens die hele wet van Moses, en ná hom het nie een soos hy opgestaan nie.”—2 Konings 23:19-25.

Wat ’n aanmoedigende voorbeeld is Josia tog vir diegene wat as kind moontlik moeilike tye moes deurmaak! Wat kan ons uit sy voorbeeld leer? Wat het Josia gehelp om die regte weg te kies en daarop te bly?

Leer Jehovah ken

’n Positiewe invloed wat gedurende die vroeë jare van Josia se lewe bestaan het, was dié van sy berouvolle oupa, Manasse. Die Bybel sê nie hoeveel assosiasie die twee met mekaar gehad het en hoe oud Josia was toe Manasse hom van sy weë bekeer het nie. Maar aangesien Joodse families na aan mekaar was, het Manasse moontlik sy kleinseun probeer beskerm teen die verderflike invloede rondom hom deur in sy kleinseun se hart respek vir die ware God, Jehovah, en sy woord in te skerp. Enige saadjies van waarheid wat Manasse in Josia se hart kon plant, moontlik tesame met ander positiewe invloede, het uiteindelik vrugte afgewerp. In sy agtste jaar op die troon van Juda, het die 15-jarige Josia pogings aangewend om Jehovah se wil te leer ken en dit te doen.—2 Kronieke 34:1-3.

Soms is die enigste geestelike kontak wat party mense in hulle kinderjare gehad het, dié met ’n verlangse familielid, ’n vriend of ’n buurman. Maar as daar aandag aan hierdie saadjies gegee word, kan dit later goeie vrugte afwerp. Malinda, wat vroeër genoem is, het ’n vriendelike, bejaarde buurman gehad wat gereeld Die Wagtoring en Ontwaak! na haar huis toe gebring het. Sy dink met geneentheid aan hom terug en sê: “Wat my die meeste van my buurman beïndruk het, was dat hy nie feesdae gevier het nie. Dit was vir my belangrik, want Allerheiligeaand en van die ander feesdae was geleenthede vir ritualistiese gebruike in my ouers se aanbidding.” Toe ’n vriend Malinda ’n dekade later genooi het om ’n Christelike vergadering by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies by te woon, het sy aan hierdie buurman gedink en die uitnodiging gretig aanvaar. Dit het haar gehelp in haar soeke na die waarheid.

Wees nederig voor God

Josia se heerskappy is deur groot godsdienshervorming in die land Juda gekenmerk. Nadat Josia ses jaar lank ’n kampanje teen afgodediens gevoer en die land Juda gereinig het, het hy die huis van Jehovah begin herstel. Terwyl daardie werk aan die gang was, het die hoëpriester Hilkia ’n kosbare vonds ontdek. Hy het die oorspronklike kopie van “die boek van Jehovah se wet” gevind. Safan die sekretaris, aan wie Hilkia hierdie opwindende vonds toevertrou het, het aan die koning vertel wat gebeur het. Het hierdie prestasies die 25-jarige Josia trots laat word?—2 Kronieke 34:3-18, vgl. NW.

“Toe die koning die woorde van die wet hoor,” skryf Esra, “het hy sy klere geskeur.” Dit was ’n opregte blyk van berou omdat hy besef het dat hulle voorvaders nie al God se gebooie onderhou het nie. Inderdaad ’n teken van nederigheid! Die koning het dadelik vyf manne afgevaardig om Jehovah te raadpleeg deur middel van die profetes Hulda. Die afvaardiging het basies hierdie verslag teruggebring: ‘Onheil sal julle tref omdat julle Jehovah se Wet nie gehoorsaam het nie. Maar omdat jy, koning Josia, jou verneder het, sal jy met vrede in jou graf versamel word en die onheil nie sien nie’ (2 Kronieke 34:19-28). Josia se gesindheid het Jehovah behaag.

Ten spyte van ons agtergrond kan ons ons ook verneder voor die ware God, Jehovah, en ’n eerbiedige gesindheid teenoor hom en sy Woord, die Bybel, openbaar. Nicolaas, wat aan die begin genoem is, het dit gedoen. Hy sê: “Hoewel my lewe weens dwelmmisbruik en strawwe drinkery ’n mislukking was, het ek in die Bybel belanggestel en wou ek graag ’n doel in die lewe hê. Ek het uiteindelik met Jehovah se Getuies in aanraking gekom, my lewenswyse verander en die waarheid aangeneem.” Ja, ons kan ondanks ons milieu ’n eerbiedige gesindheid teenoor God en sy Woord hê.

Vind baat by Jehovah se reëling

Josia het ook groot respek vir Jehovah se profete gehad. Hy het nie net die profetes Hulda geraadpleeg nie, maar hy is ook grootliks beïnvloed deur ander profete van sy tyd. Jeremia sowel as Sefanja was byvoorbeeld besig om oordele te verkondig teen die afgodery wat in Juda beoefen is. Dink net hoe hulle boodskappe Josia tog moes aangevuur het terwyl hy sy kampanje teen valse aanbidding gevoer het!—Jeremia 1:1, 2; 3:6-10; Sefanja 1:1-6.

Die “heer”, Jesus Christus, het sy gesalfde volgelinge—“die getroue en verstandige slaaf”—as ’n groep aangestel om geestelike voedsel op die regte tyd te voorsien (Matteus 24:45-47). Deur middel van Bybelpublikasies en die gemeentelike reëling vestig die slaafklas die aandag op die voordele daarvan om Bybelraad te gehoorsaam en gee hulle ook praktiese wenke oor hoe ons dit in ons daaglikse lewe kan toepas. Hoe gepas is dit tog dat ons Jehovah se reëling gebruik om ons te help om van diepgewortelde, skadelike gesindhede ontslae te raak! Van kleins af het Nicolaas ’n sterk afkeer van gesag gehad. Selfs terwyl hy die waarheid van God se Woord geleer het, het hierdie swakheid gekeer dat hy Jehovah ten volle dien. Dit was ’n groot uitdaging vir hom om hierdie gesindheid te verander. Maar hy was mettertyd suksesvol. Hoe? “Met die hulp van twee simpatieke ouer manne”, verduidelik Nicolaas, “want ek het my probleem aan hulle verduidelik en hulle liefdevolle skriftuurlike raad begin toepas.” Hy sê voorts: “Hoewel ek soms ’n bietjie gegriefd raak, het ek nou my opstandige gesindheid onder beheer.”

Malinda vra ook die hulp van die ouer manne wanneer sy belangrike besluite in haar lewe moet neem. Sy vind veral die verskeidenheid artikels in Die Wagtoring en Ontwaak! van onskatbare waarde wanneer sy gevoelens van wanhoop en nutteloosheid wat uit haar kinderjare spruit, te bowe probeer kom. Sy sê: “Soms is daar net ’n paragraaf of ’n sin—net ’n ietsie—in ’n artikel wat my raak. Omtrent nege jaar gelede het ek hierdie artikels in ’n losbladaantekeningboek begin wegsit sodat ek dit weer maklik kan vind.” Vandag het sy drie aantekeningboeke met ongeveer 400 artikels daarin!

Nee, mense hoef nie permanente slagoffers van ’n slegte gesinslewe te wees nie. Met Jehovah se hulp kan hulle geestelik welslae behaal. Net soos ’n goeie agtergrond nie ’n mens se onkreukbaarheid waarborg nie, keer slegte kinderjare nie dat iemand godvresend word nie.

Nadat die Wetboek tydens die herstelwerk aan die tempel gevind is, het Josia ‘die verbond voor die aangesig van Jehovah gesluit om Jehovah te volg en hom met sy hele hart en met sy hele siel te gehoorsaam’ (2 Kronieke 34:31). En hy het tot sy dood nie van hierdie besluit afgesien nie. Malinda en Nicolaas is eweneens vasbeslote om lojaal teenoor Jehovah God te bly en hulle onkreukbaarheid te handhaaf. Mag jy ook vasbeslote wees om na aan God te bly en hom getrou te dien. Jy kan seker wees dat jy welslae sal behaal, want Jehovah belowe: “Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.”—Jesaja 41:10, 13.

[Voetnoot]

a Van die name is verander.

[Prente op bladsy 26]

Ten spyte van Josia se verskriklike kinderjare het hy hom beywer om Jehovah te leer ken en het hy welslae in sy lewe behaal

[Prent op bladsy 28]

Ouer manne kan jou help om van diepgewortelde eienskappe ontslae te raak

[Prent op bladsy 28]

“Die Wagtoring” en “Ontwaak!” kan jou help om jou onkreukbaarheid te handhaaf