Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Onthou jy?

Onthou jy?

Onthou jy?

Het jy dit geniet om die onlangse nommers van Die Wagtoring te lees? Wel, kyk of jy die volgende vrae kan beantwoord:

Waarom het die apostel Paulus in Romeine 5:3-5 hoop aan die einde van ’n reeks geplaas?

Paulus het ’n reeks dinge gemeld wat Christene ondervind—verdrukking, volharding, ’n goedgekeurde toestand en hoop. Hierdie “hoop” is nie die oorspronklike hoop wat ’n mens uit die Bybel opbou nie, maar dit is die versterkte, dieper, omvattender hoop wat ’n Christen mettertyd kan ontwikkel.—12/15, bladsye 22-3.

Waarom sal ’n Christen dalk vandag belangstel in die atletiekwedstryde wat in eertydse Griekeland gehou is?

’n Begrip van die aard en gebruike van daardie wedstryde kan lig werp op ’n hele aantal Bybelverse. Van hulle praat daarvan om ‘volgens die reëls mee te ding’, ‘elke gewig af te lê en die blik gerig te hou op die voorbeeld van Jesus’, ‘die wedloop enduit te hardloop’ en die kroon, of prys, te verwerf (2 Timoteus 2:5; 4:7, 8; Hebreërs 12:1, 2; 1 Korintiërs 9:24, 25; 1 Petrus 5:4).—1/1, bladsye 28-30.

Watter nuwe manier om die goeie nuus te verkondig, is in Januarie 1914 in gebruik geneem?

Die “Fotodrama van die Skepping” is toe vrygestel. Dit het uit vier dele bestaan wat rolprentvertonings en honderde gekleurde glasskyfies gekombineer het, waarvan baie met grammofoonopnames en verklarende toesprake gesinchroniseer is. Twintig stelle van hierdie Drama is voorberei en oral gebruik om aan mense die boodskap van die Bybel oor te dra.—1/15, bladsye 8-9.

Hoe verskil die Bestuursliggaam van ’n wetlike korporasie?

Terwyl direkteure van ’n wetlike korporasie deur die lede daarvan verkies word, word die Bestuursliggaam nie deur enige mens aangestel nie, maar deur Jesus Christus. Dit is nie nodig dat die direkteure van die verskillende korporasies wat deur Jehovah se Getuies gebruik word, lede van die Bestuursliggaam moet wees nie. By die onlangse jaarvergadering van die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania het lede van die Bestuursliggaam wat as direkteure en ampsdraers gedien het, vrywillig uit hulle posisies bedank. Hulle is deur ryp broers van die “ander skape” vervang (Johannes 10:16). Die Bestuursliggaam kan gevolglik meer tyd bestee aan die voorbereiding van geestelike voedsel en om andersins na die geestelike behoeftes van die wêreldwye broederskap om te sien.—1/15, bladsye 29, 31.

Na watter twee Bybelvoorbeelde kan ons kyk om te leer hoe om ontmoediging die hoof te bied?

Een voorbeeld is Hanna, die moeder van Samuel. Sy kon toegelaat het dat dit haar ontmoedig toe Eli, die hoëpriester van Israel, haar verkeerdelik veroordeel het. Sy het egter reguit, dog eerbiedig vir hom verduidelik wat werklik die situasie was. Verder het Hanna nie ’n wrok teen Eli gekoester nie. Die tweede voorbeeld is Markus, wat seker ontmoedig moes gewees het toe die apostel Paulus hom nie op ’n sendingreis wou saamneem nie. Hy was nie verpletter toe hy hierdie voorreg verloor het nie, maar het sy aktiewe diens voortgesit en saam met Barnabas gereis.—2/1, bladsye 20-2.

Waarom moet Christene versigtig wees wanneer hulle kopieë van rekenaarsagteware aan ander wil gee of dit van hulle wil neem?

Die meeste rekenaarprogramme (insluitende speletjies) het ’n lisensie wat die eienaar/gebruiker toelaat om die program slegs op een rekenaar te installeer. Dit is gewoonlik ’n skending van die kopieregwet om kopieë vir ander te maak, selfs al gee ons dit gratis weg. Christene wil die wet gehoorsaam en ‘aan Caesar terugbetaal wat aan Caesar behoort’ (Markus 12:17).—2/15, bladsye 28-9.

Wie was Cyrillus en Metodius, en watter bydrae het hulle tot Bybelstudie gelewer?

Hulle was twee broers wat in die negende eeu in Tessalonika, Griekeland, gebore is. Hulle het ’n geskrewe vorm van die Slawiese tale ontwikkel en ’n groot deel van die Bybel in Slawies vertaal.—3/1, bladsye 28-9.

Wat beteken die uitdrukking “om die gees te bedink”?—Romeine 8:6.

Dit beteken dat ons deur Jehovah se werkende krag beheer, oorheers en aangedryf word. Ons kan God se gees op ons laat inwerk deur die Bybel te lees en te bestudeer, God se wet heelhartig te gehoorsaam en vir God se gees te bid.—3/15, bladsy 15.

Wat kan ons doen as ons voel dat ander ons misverstaan?

Dit is belangrik dat ons die saak in ’n gees van liefde uitstryk. As dit lyk of dit nie werk nie, moet ons nie moed opgee nie. Ons kan Jehovah, die een wat ‘harte toets’, vra om ons insig te gee en ons te help (Spreuke 21:2; 1 Samuel 16:7).—4/1, bladsye 21-3.