Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“’n Verskuilde openbare gesondheidsgevaar”

“’n Verskuilde openbare gesondheidsgevaar”

“’n Verskuilde openbare gesondheidsgevaar”

’N VERSTOMMENDE derde van volwasse Internetgebruikers in die Verenigde State het al die een of ander seksuele webwerf besoek, het ’n onlangse opname oor Internetseks aan die lig gebring. Groot getalle mense gee nou toe aan hulle geslagsdrange deur middel van die Internet. “Dit is ’n verskuilde openbare gesondheidsgevaar wat vinnig aan die uitbrei is, deels omdat baie min mense dit as sodanig beskou of dit ernstig opneem”, sê dr. Al Cooper, die sielkundige wat die opname gedoen het.

Wie loop veral gevaar om voor hierdie kuberseks te swig? “Daardie gebruikers wie se seksualiteit dalk hulle hele lewe lank onderdruk en beperk is”, maar wat op die Internet “skielik ’n oneindige bron van seksuele geleenthede vind”, sê dr. Cooper.

Die meeste mense wat gereeld seksuele webwerwe besoek, beskou die gebruik egter as onskadelik. Is dit? Net soos ’n dwelmverslaafde weerstand opbou teen die dwelm waaraan hy verslaaf is, soek baie kuberseksverslaafdes ’n groter “dosis” seksualiteit op die Internet om hulle begeertes te bevredig. Trouens, hulle kan selfs hulle werk en hulle verhouding met hulle huweliksmaat in gevaar stel!

Diegene wat God wil behaag, het egter verdere rede om seksuele webwerwe op die Internet te vermy. God se Woord waarsku: “Maak dus julle liggaamsdele wat op die aarde is dood wat betref hoerery, onreinheid, geslagslus, skadelike begeertes en hebsug, wat afgodery is. Weens dié dinge kom die gramskap van God” (Kolossense 3:5, 6). Om ‘sy liggaamsdele dood te maak’ wat onrein geslagslus betref, moet iemand ’n innige liefde vir Jehovah God ontwikkel (Psalm 97:10). As hy vind dat hy aangetrek word deur die openbare gesondheidsgevaar van kuberseks, moet hy sy liefde vir Jehovah versterk deur God se Woord, die Bybel, te bestudeer. Heilsame assosiasie met Jehovah se Getuies by die plaaslike Koninkryksaal kan iemand baie help om meer vasbeslote te wees om God te behaag.