Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Wêreldwye gemeenskap wat vir mekaar omgee

’n Wêreldwye gemeenskap wat vir mekaar omgee

’n Wêreldwye gemeenskap wat vir mekaar omgee

SOVER as wat die oog kan sien, is daar mense. Baie is bejaard, en van hulle is so swak dat hulle skaars kan loop. Daar is swanger vroue en jong paartjies met ’n string klein kindertjies. Hulle is almal vlugtelinge—mans, vroue en kinders—wat deur burgeroorlog, natuurrampe of ander omstandighede gedwing is om uit hulle huise te vlug en in ’n buurland toevlug te soek. Sommige is herhaaldelik gedwing om hulle wonings te verlaat. Sodra daar tekens van burgerlike oproerigheid of ’n natuurramp is, gryp hulle ’n paar huishoudelike artikels, maak hulle hulle kinders bymekaar en vlug hulle na ’n veiliger plek. Dan, wanneer toestande weer normaal is, keer baie vlugtelinge terug om hulle huise te herbou en van voor af te begin.

Deur die jare heen het die Sentraal-Afrikaanse Republiek sy deure vir vlugtelinge uit etlike lande oopgemaak. Onlangs moes duisende mense, onder andere talle Getuies van Jehovah, uit die oorloggeteisterde Demokratiese Republiek van die Kongo vlug na die relatiewe veiligheid van die Sentraal-Afrikaanse Republiek.

Broers kom hulle te hulp

Getuies in die Sentraal-Afrikaanse Republiek het dit as ’n voorreg beskou om humanitêre hulp te organiseer. Huisvesting is gereël vir Christenbroers wat daar aangekom het. Aanvanklik is kamers in privaat huise gekry, maar namate die aantal vlugtelinge vermeerder het, het dit duidelik geword dat omvattender reëlings getref moes word. Sommige Koninkryksale is in slaapsale omskep. Plaaslike Getuies het aan die werk gespring en ekstra ligte geïnstalleer, waterpype aangelê en sementvloere ingesit vir die gerief van diegene wat daar gehuisves sou word. Die vlugtelinge het saam met die plaaslike broers gewerk om hierdie tydelike slaapsale in te rig. ’n Volledige program van Christelike vergaderinge is in die Lingala-taal gereël sodat die aankomelinge lewegewende geestelike voedsel sou hê. Die noue samewerking tussen plaaslike Getuies en hulle gaste het getoon dat ’n internasionale broederskap ’n werklikheid is.

Vlugtelinggesinne het nie altyd saam opgedaag nie. Soms is gesinslede wat van mekaar geskei is, by hulle bestemming herenig. By elke Koninkryksaal is ’n lys gehou van diegene wat veilig daar aangekom het. Reëlings is getref om diegene wat steeds vermis was, op te spoor. Die takkantoor wat die werk van Jehovah se Getuies in die land organiseer, het elke dag drie voertuie gestuur om Getuies te help wat nog op pad was en om na enigeen te soek wat dalk verdwaal het. Hierdie voertuie kon uitgeken word aan ’n groot teken: “WATCH TOWER—Jehovah se Getuies”.

Stel jou die vreugde voor toe ’n groep van sewe vlugtelingkinders wat van hulle ouers geskei is, ’n voertuig gesien het wat aan Jehovah se Getuies behoort. Hulle het onmiddellik na die voertuig toe gehardloop en hulleself as Getuies geïdentifiseer. Die broers het hulle in die voertuig ingehelp en hulle na ’n Koninkryksaal toe geneem, waar hulle later met hulle gesinne herenig is.

Wat het hierdie opregte Christene gehelp om sulke omstandighede nie net een keer nie, maar herhaaldelik die hoof te bied? Hulle is absoluut oortuig daarvan dat ons in die laaste dae lewe, soos in die Heilige Skrif voorspel is.—2 Timoteus 3:1-5; Openbaring 6:3-8.

Gevolglik weet hulle dat Jehovah God binnekort ’n einde gaan bring aan oorloë, haat, geweld en onenigheid. Die vlugtelingprobleem sal iets van die verlede wees. Intussen probeer Jehovah se Getuies, in ooreenstemming met die apostel Paulus se vermaning in 1 Korintiërs 12:14-26, om mekaar te help. Hoewel hulle deur riviere, grense, tale en groot afstande geskei word, is hulle besorg oor mekaar, en daarom tree hulle gou op wanneer iemand in nood verkeer.—Jakobus 1:22-27.

[Kaart op bladsy 30]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

AFRIKA

Sentraal-Afrikaanse Republiek

Demokratiese Republiek van die Kongo

[Erkenning]

Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

[Prente op bladsy 30]

Drie Koninkryksale is in ontvangsentrums omskep

[Prent op bladsy 31]

Kombuisgeriewe is onmiddellik ingerig

[Prent op bladsy 31]

Al hoe meer het opgedaag

[Prente op bladsy 31]

Pas gebore en reeds vlugtelinge